Slaan oor na inhoud

ART 003: 2006-05-15 Die Vierkleur – ‘n Simbool vir vier groepe Boere in die visioenêre verhaal.

2013/03/19

http://www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Bloemfontein.

VRAAG: Walter
Het gister vir die eerste keer op BV die draad oor siener gelees, en besluit om hier te registreer as gebruiker sodat ek sommer maar hier vrae kan vra…
Jy sê ons eintlike vyand (die vyand van die Boerevolk neem ek aan) sit in Londen. Praat ons hier van ‘n individu, of is dit ‘n groepering?

ANTWOORD:

DEEL C – Vier groepe Boere/Afrikaners.

Die aanslag kom teen ons volk in sy geheel, en nie net ‘n kleiner deeltjie daarvan nie. Kyk, ek het baie bepaalde sieninge rondom hierdie saak, die verskil tussen Boer en Afrikaner, maar kom ons bly gebalanseerd-objektief en bepaal ons hier nét by wat die visioenêre verhaal daaroor te sê het.

Siener het in sy persoonlike hoedanigheid nooit enige noemenswaardige verskil tussen Boer en Afrikaner getref nie, en het inteendeel bloot van die ‘Afrikanersnasie’ gepraat. Adaan de la Rey het op ‘n keer vir hom gevra waarom hy na die Afrikanervolk as donkies verwys. Die strekking van Siener se antwoord was: Kyk hoeveel soorte rasegte perde kry jy, maar elke keer wat jy by ‘n donkie kom is hy 100% nét donkie’.

Ons kan egter wel aflei dat die verhaal baie spesifiek na die Boere van die voormalige ZAR en die Vrystaat verwys. Hierdie twee groepe was natuurlik ook die teiken van die grootste deel van die Afrikaners van die Kaap, want hulle is as ‘rebelle’ beskou. Die aanslag teen hierdie twee groepe Boere is vir alle praktiese doeleindes bloot ‘n voortsetting van die Tweede Vryheidsoorlog. Daar is meer hieroor in Wat kom ná Siener?, maar daar is wel ‘n geestelike, en daarom ‘toekomsverskil’ tussen die Boervolk en die Afrikanervolk. Die Gelofte van Bloedrivier maak hierdie verskil.]

Siener het wel ‘n verskil getref tussen Nasionalistiese Afrikaners en die verraaierselement. Hy het geen liefde vir laasgenoemde groep gehad nie, maar hy het darem ook op geen stadium hul afkoms betwyfel nie. So sien ons byvoorbeeld dat hy Jan Smuts as ‘n geel hond met ‘n wit halsband beskryf het. Hy het hiervan gesê dat die wit hals aandui dat hy ‘n Afrikaanse van het, d.w.s. dat hy ‘n Afrikaner is, maar dat die geel beteken dat hy huidjie en muidjie deel van die Engelse aanslag teen Afrikaner Nasionalisme geword het.

Wat die visioenêre verhaal as sulks betref sien ons weer die volgende fassinerende ontwikkeling:

U moet in die eerste plek verstaan dat die Boervolk nie net ‘n simbool vir die blanke in die algemeen is nie, maar in werklikheid vir die ganse mensdom. Ons sien verder ook dat daar vier soorte Boere/Afrikaners in die verhaal optree, en dat die ou Transvaalse Vierkleur die simbool is waarmee hulle aangedui word. Dit beteken dus dat die ander blanke rolspelers in die verhaal ook by een van hierdie soorte ingedeel kan word. (En die gang van die verhaal bewys dit inderdaad so). Ek moet ook hier noem dat die verhaal hoofsaaklik oor die Transvaal en die Vrystaat handel, en dat ‘n groep Afrikaners vanuit die Kaap trek om by hulle te kom aansluit. Ons sien selfs dat die nasionalistiese Boer/blankes in Duitswes ‘wakker word’. Ek weet nie hoekom dit so is nie, maar daar is geen verwysing na Natal se mense in die verhaal nie.

Die rooi baan verwys na die Sappe van Siener se tyd, dit is die verraaierselement van ons tyd. Ek het hierbo reeds in detail na hulle verwys, maar wil herhaal dat die Sappe van Siener se tyd in terme van politieke organisasie (partyskap) vergelykbaar is met vandag se DA.

Die blou en groen bane verwys na twee Transvaals-georiënteerde konserwatiewe politieke groepe, en u moet hier maar vir u self besluit wat is wat, en wie hoort waar. Die groen groep is die grootste van die twee. Hulle kom voor as die mees aggressiewe groep, en hul hoofkwartier is in die omgewing van Lichtenburg geleë. Die blou groep is kleiner, hulle kom voor as meer gematig, en hul hoofkwartier is weer in die omgewing van Potchefstroom geleë. Hierdie twee groepe is reeds in ‘n politieke koalisie met mekaar as die verhaal begin, en hierdie koalisie word deur die kleur bruin beskryf en aangedui. Die kleur bruin verwys dus na konserwatiewe (staats)politiek. Die lede van hierdie twee groepe, en dan baie bepaald dié van die groen groep, staan in die visioenêre opset bekend as Boere. Hierdie benaming word nêrens aan enige ander groep toegeken nie, en verwys daarom slegs na die konserwatiewe politieke ‘Transvalers’. Siener se Transvaal in die visioene is die gebied wat ons vandag as Noordwes Provinsie ken. (Die ander term waarmee nét hierdie mense aangedui word is Mofskape en Donkies. Hierdie diere is vaal van kleur, en dit koppel op sy beurt baie direk met die Duitse kleur Wit-skimmel, wat op sigselwers ‘n baie sterk konserwatiewe politieke konnotasie het. Ons sal dit vandag kan klassifiseer as Neo-Nazi in siening.) Ek het tot op ‘n stadium aanvaar dat die Vrystaters apart aangedui word, maar dit was nie korrek nie.

Ek wil dit beklemtoon dat hierdie blou en groen groepe die somtotaal van al ons huidige konserwatiewe groepe in die verhaal verteenwoordig. Daar is geen teken van enige optrede deur enige ander konserwatiewe groep of groepe nie.

Die wit baan verwys na ‘n groep Boere wat Koning Jesus se gesag in en oor ons lewens op ‘n praktiese manier uitleef. Dit is baie spesiale mense hierdie, want hulle leef in ‘n voortdurende staat van nederige ootmoed voor hul Heer en Meester, Jesus Christus. Hierdie groep speel ‘n baie stil rol in die verhaal, maar hulle, of dan liewer hul leier, beïnvloed die gang van die verhaal op ‘n vêrreikende wyse. Hul invloed en optrede bepaal om die waarheid te sê menslik gesproke die uiteindelike uitkoms van die verhaal. Die uitstaande kenmerk van hierdie groep is dat hulle nie net heeltemal a-polities ingestel is, maar ook dat hulle die suiwerste vorm van Afrikaner Nasionalisme in die verhaal verteenwoordig. Nou, die kleur wit is ook God Almagtig se kleur in die verhaal, en daarom is dit nie verbasend om te sien dat letterlik alles waarmee die wit groep se leiers te doene kry in God se kleur verander nie. Die stille invloed wat vanaf hierdie groep uitgaan verander byvoorbeeld selfs die Duitsers se nederlaag in Europa in ‘n klinkende oorwinning!

Nou goed dan, tot sovêr die basiese groepe wat in die verhaal optree, maar kom ons kyk nou baie kortliks wat van hulle word in die verhaal:

Die rooi groep word uiteindelik heeltemal vernietig in die oorlog. Daar is wel ‘n klein groepie van hulle wat betyds tot besinning kom en vanaf Bloemfontein na die bruines in die Transvaal oorloop. Die leier van hierdie groep sal ‘n baie senior militêre offisier wees, en dan waarskynlik minstens ‘n brigadier-generaal. Ek toon in my boeke aan dat hierdie offisier niemand minder is as die veelgeroemde ‘man in die bruin pak klere’. Die simboliek in die verhaal onderstreep dat hierdie veelbesproke persoon nie die leier kán wees wat sal kom nie, want daardie man dra wit klere in die verhaal. Die komende nasionale leier kan nie iets anders as wit klere dra nie, want dit is die kleur wat met God Almagtig geassosieer word, en dit is ook die kleur van die groep waaraan hy behoort. Hy word boonop ook baie duidelik as ‘n spierwit perd voorgestel, en nie as ‘n bruine nie. Bruin is ‘n konserwatiewe partypolitieke kleur en die leier wat kom het werklik niks daarmee te doen nie. Siener het hierdie laaste dan ook baie duidelik gestel. Ek dink dit is in elk geval gewoon verspot om hierdie leier nou al te probeer identifiseer en te ‘benoem’, want Siener het hom as ‘n ‘onbekende persoon’ beskryf.

Die groen groep word geweldige swaar verliese toegedien deur die vyand omdat hulle skynbaar heeltemal oorstelp word deur hul eieregtige kragdadigheid en selfaangestelde ‘leierskapsposisie’ in die konserwatiewe politieke toneel. Hulle vlug op ‘n stadium van die koppie noord van Lichtenburg af tot so vêr as Warmbad in Duitswes voordat die Duitsers (twee donkerblou skimmelperde) hul kastaiings vir hulle uit die vuur kom krap. Maar nie net dit nie, hulle vrouens en kinders word tussen Rustenburg, Lichtenburg en Wolmaransstad vasgekeer en skynbaar in groot getalle uitgemoor deur die vyand, omdat hulle verkies om eerder in ‘n gewapende leierskaptwis met die blou groep betrokke te raak as om hul vrouens en kinders te beskerm. Die vyand bestaan uit Boere verraaiers, Engelse- en Indiër soldate.

Die groen groep word deur die vyand se aanslag in twee groepe verdeel. Een hiervan vlug reguit van Lichtenburg af op die noordelike oewer van die Oranjerivier na Duitswes toe. Ek vermoed hulle sal poog om tot by Lüderitzbaai te vlug, maar ‘n baie groot klomp van hulle sneuwel in ‘n veldslag teen die Engelse by Warmbad in Duitswes. Die Engelse skep op ‘n stadium ‘n militêre basis daar en hierdie groep Boere loop hulself teen dit vas.

Die ander groepie vlug aan die suidekant van die Oranjerivier af tot by ‘n plek met die naam Noordoewer, wat wes van Upington geleë is. Die oorlewendes van die ander groep kom by Noordoewer oor die rivier en sluit by hulle aan. Daar is ‘n Britse ‘Lord General Somebody’ wat ons kom help, en hierdie Engelse Rebel (ook die mofbul, en ook die man in die grys pak klere) neem hulle onder sy vlerk.

Die mense, hoofsaaklik vroue (en kinders) wat in die moordkamp in Noordwes vasgekeer word dra almal wit klere dra as hulle by Wolmaransstad deur ‘n hek in ‘n draadheining na veiligheid ontsnap. (Die hek verwys na ‘n gaping wat in ‘n linie vyandelike soldate oop geskiet word, waar die linie vanaf Bloemhof tot ongeveer by Zeerust ontplooi sal word. Hierdie linie word doelbewus deur die vyand gevorm om alle vlugtelinge vanuit die ooste na Prieska af te sny en in ‘n moordkamp vas te keer.)

Die kleur van die klere in die visioene dui aan by watter ‘politieke groep’ ‘n persoon inskakel, want om gekleed te wees beteken

(a) Dat jy gewapen is, en
(b) Dat jy deel is van ‘n staatkundige entiteit, d.w.s. dat jy ‘n regering oor jou het. Om naak te wees dui die teenoorgestelde aan.

Die vrouens se wit klere dui dus aan dat hulle nou by die wit groep se ‘ideologie’ aangesluit het, wat ook beteken dat hulle die komende leier sal ondersteun. Hy sal ‘n heeltemal onbekende man wees wat vanuit die wit groep kom. Die smeltkroes, waardeur hierdie vrouens deur hul mans se selfsugtige kortsigtigheid gedwing word, leer hulle dus om die idee van ‘n komende Teokrasie te ondersteun, want dit is nie net die sentrale vertrekpunt van hierdie wit groep nie, dit is ook die basis van hul sienswyse en optrede – en ja, dit is nou al so.

Die oorblyfsels van die groen en blou groepe sal hul vrouens se voorbeeld volg, want die nuwe leier word skynbaar op algemene aandrang sonder enige teenstem aangestel. Die rede hiervoor is dat ons nêrens van ‘n verkiesing as sulks by Prieska lees nie. Daar vind wel twee verkiesings in die verloop van die verhaal plaas, maar nie een hiervan is by Prieska nie.

Groete.
Oupa Baard

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: