Slaan oor na inhoud

ART 007: 2007-03-27 Roep ‘n vasdag uit! – Joël 1:13-15.

2013/03/19

www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Bloemfontein.

Vandag se artikel is gebaseer op Joël 1:13-15.

Baie dankie aan diegene wat hierdie boek die afgelope twee-en-‘n-halwe jaar gelees het, of selfs net daarin belanggestel het. U sou in die boek gesien het, of dan minstens net daarvan gehoor het, dat dit op ‘n roeping uit die Skrif berus wat in 1994 na my gekom het. Hierdie was ‘n wonderlike avontuur wat uiteindelik ‘n hoogtepunt bereik het met die verskyning van die boek op 31 Mei 2004.

Maar die tydperk vanaf 1994 was ongelukkig nie nét vol hoogtepunte gewees nie, want dit is ongelukkig so dat sommige mense nie hierdie soort getuienis as waar en eg wil aanvaar nie. Daar is mense wat vasskop en net eenvoudig weier om te aanvaar dat die Heilige Gees deur ‘gewone mense’ kan spreek en werk. Dit blyk veral van toepassing te wees op mense wat nie aan hul vooropgesette idees en verwagtinge voldoen nie. Hierdie manier van doen staan in die algemeen bekend as etikettering, en dit val binne ‘n bepaalde kategorie waarna die Bybel óók verwys: ‘…hulle sal vir hulle ‘n menigte leraars versamel wat sê wat hulle graag wil hoor …’

Die seerste hiervan is egter nog steeds daardie mense wat so maklik die spot kan dryf met die blote gedagte dat die Heilige Gees op hierdie manier deur ‘n gewone gelowige soos die uwe kan praat. Hulle smaal behoorlik as hulle hiervan praat….

Dit is nie lekker om hierdie dinge te hoor nie, maar ek mag nogtans nie daaroor oordeel nie, want dit is per slot van sake nie my funksie nie. Die punt is net dat die aanvaarbaarheid van hierdie soort ‘esoteriese inligting’ te alle tye ‘n funksie van ‘n baie komplekse stel veranderlikes is. Ons kyk hier na werklikhede soos geestelike oortuigings, politieke verwagtinge, persoonlike vooroordele waarby ‘n mens verby moet kom, om dan maar net ‘n paar te noem.

Die kern van wat ek hier probeer sê is dat alle teenstand teen hierdie soort openbaringe in die praktyk altyd gekenmerk word deur eerstens doodgewone ongelowigheid, en tweedens daardie baie lelike begrip bekend as…. breinspoeling. Dit is iets wat natuurlik op alle terreine van die lewe plaasvind, en onder andere veral in ons kerke, politiek en skole. Ek wil nie hier uitbrei oor die politiek en die skoolstelsel nie, aangesien vandag se artikel op die geestelike sy van ons volkslewe wil fokus.

Wat dit betref sit ons ongelukkig met ‘n baie taai tameletjie opgeskeep. Ons het aan die eenkant die Bybel wat ‘n stel reëls neerlê waarvolgens die Christusgelowige sy of haar lewe moet inrig. Hierdie is Godgegewe reëls is al geskrewe voorbeeld wat ons het om gemaklik in Jesus se komende Koninkryk te kan inpas. En let asseblief daarop dat ek hier baie spesifiek van mense praat wat Jesus Christus reeds as persoonlike Verlosser aanvaar het. Die opregte Christusgelowige sal hier instinktief verstaan dat ons onmoontlik nie aan die volle eis van Sy reëls kan voldoen nie, maar dit is, Goddank daarvoor, juis hier waar Jesus se genade die hardste aan die werk is: dit is net hier waar ons gereeld gly en val, maar waar die Gees ons nogtans ondersteun en bemoedig.

Maar die ander sy hiervan is ongelukkig nét so waar, en dit is waar die breinspoeling inkom. Die moderne teologiese wetenskap het hierdie reëls erg verbuig om by bepaalde filosofies-gefundeerde teologiese denkrigtings aan te pas. En die kern hiervan, dit is van die sogenaamde ‘wysbegeerte’, is ongelukkig die liberalistiese uitgangspunte van die satanies-gedrewe internasionalisme. Die huidige debakel rondom gay-predikante en gay-huwelike is maar net een voorbeeld hiervan. Dit het ‘n Godgegewe reël op ‘n baie slinkse wyse verander in ‘n mensgemaakte en mensgerigte vrypas om maar te kan doen soos jy wil. Hoe kan mense dan nog verwag dat Jesus se genade nog steeds geredelik sal werk onder sulke mensgemaakte voorwaardes?

Maar hoe raak dit die saak wat ek in hierdie artikel wil aanraak? En hier wil ek ‘n paar baie ernstige vrae aan die leser voorlê. U hoef u natuurlik nie hieraan te steur nie en u kan dit selfs aflag as u wil, maar as dit wel iets iewers binne u raak moet u verseker kom deelneem. U sal dan ook nie anders kan as om die inligting in hierdie wekroep so gou as moontlik en so wyd as moontlik te versprei nie. Ek kan uit die aard van die saak nie enige ‘vergoeding’ hiervoor aanbied nie, maar ek kan wel die volgende vir u sê: U gaan deel word van ‘n groepie uitgesoekte mense wat die genoegdoening gaan smaak, die loutere plesier gaan ervaar om te sien hoe God Almagtig hierdie vertrapte volk uit die modder uitlig en van haar die sieraad maak wat sy veronderstel is om te wees.

Ek is ‘gemagtig’ om te verkondig dat Jesus die gelowige deel van Sy volk vergewe het, en dat Hy reeds Sy helpende Hand na ons begin uitstrek het. Maar hier moet ons nog vir ‘n rukkie geduldig wees. Die eerste paar treë op die fisiese oorwinnings pad begin nie by Hom nie, maar wel by die vyand wat reeds ‘n oorlog van finale uitwissings teen ons beplan het.  Die ‘demokratiese verkiesing’ van 1994 was die eerste praktiese treë wat hulle op hierdie pad gegee het.  Hulle gaan ons vorentoe onkant probeer vang, maar dan gaan slim sy eie arrogante en vermetele baas vang as ons Koning Sy skuiwe begin maak. En daarna kan ons, ons Verlosser as volksgenote loof en prys in volkome geregtigheid, vrede en vryheid!

Is u bereid om te aanvaar dat die Gees nog steeds deur gewone mense, soos onder andere hierdie skrywer, tot die groter groep wil spreek? Die argumente en feite wat in my boek verskyn dien dan ook as ‘n konkrete bewys dat die Gees inderdaad met my, en deur my, besig geraak het om ‘n uiters belangrike Goddelike boodskap aan my volk en anderstalige geesgenote oor te dra. Hoekom dit nou juis ek moes wees kan ek nie op antwoord nie, want ek weet nie.  Maar dit bly van kritieke belang dat die leser sal verstaan dat die navorsing wat ek oor Siener se visioene gepubliseer het nie op my persoonlike vermoëns berus nie, maar wel op die influisteringe van die Heilige Gees. U moet dus hier by my persoon verby kyk, want gegewe die besondere aard van my onderwerp, maak dit my nie meer belangrik as ander mense nie – want die Gees praat elke liewe dag op elke denkbare vlak van die lewe deur ander mense met Sy kinders ook.

Maar die werklike punt wat ek hier wil maak is dat die Gees nie opgehou het om deur my te werk nadat die boek klaar geskryf en gepubliseer was nie. Hy het my nie op pensioen gesit nie, en so het Sy influisteringe weer tot my gekom op 19 Maart 2007. Hy het my op hierdie dag heel onverwags gelei om na Joël 1:13 te gaan kyk, en op daardie punt het Hy my aandag vasgevang met verse 14 en 15 ook, want hierdie drie verse vorm ‘n aaneenlopende geheel. Hy het my deur hierdie stukkie Skrif baie duidelik laat verstaan dat gehoorsaamheid aan die opdragte wat daarin verskyn ‘n groot verskil vir ons in die toekoms gaan meebring.

Maar dit is nie net my gehoorsaamheid wat belangrik is hier nie, maar ook dié van u wat glo en wat bereid is om my getuienis op sigwaarde te aanvaar.

Ek is ‘n mens wat nog nooit veel erg gehad het aan bv. die baie argumente rondom die Grootdoop versus die Kleindoop nie. Hierdie is na my mening ‘n skoorsoek-argument wat al te geredelik opgehaal word om ‘n sekere geestelike snobisme te bewys. My argument is bloot dat die Here my sal opwek as Hy wil hê dat ek my moet laat doop, en dat dit verkeerd sou wees om deel van ‘n soort ‘doop-kultus’ te word net om deur ander mense gesien te word.  Hy het dit tot op datum nog nie gedoen nie, maar ek is heeltemal bereid om oop te bly vir Sy instruksies in hierdie verband. Maar intussen gaan ek baie beslis nie toelaat dat die een of ander drukgroep my dwing om ‘in pas te kom’ met hul sieninge nie, want aan die einde van my tyd op aarde is dit ek wat verantwoording moet gaan doen vir my lewe en nie een van hulle nie!

Ek het ook nog nooit in my lewe doelbewus gevas nie, want behalwe vir die ‘vreemdheid’ van die idee het ondervinding my geleer dat ook hierdie gebruik al te dikwels met bedekte bedoelinge toegepas word. Maar toe het die Gees Joël 1:13-15 op 19 Maart 2007 oor my pad gebring, en net skielik het Hy my ou wêreldjie wéér omgekeer, presies net soos in 1994

13 Omgord julle en klaag, o priesters! Huil, dienaars van die altaar! Kom, vernag in rouklere, dienaars van my God! Want die spysoffer en die drankoffer is geweer van die huis van julle God.
14 Heilig ‘n vasdag, roep ‘n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die HERE julle God, en roep tot die HERE.
15 Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos ‘n verwoesting van die Almagtige.

Hierdie drie verse bevat ‘n opdrag wat baie direk by my roeping van 1994 aansluit. Dit sê vir my dat ek weer ‘n boodskap aan die volk moet oordra, dat ‘n vasdag afgekondig moet word, en dat dit baie bepaald aan gebed om redding toegewy moet word.

Ek het toe by ‘n Bybelkenner wat ek ken en vertrou gaan lig opsteek om my te help met die dieper betekenisse agter hierdie saak. Hy is mnr. Willie van Wyk van Carolina, en hy was heeltemal bereid om te help.  Hy ontleed die Bybel onder andere aan die hand van die syferwaardes wat daarin voorkom, en het op hierdie manier ‘n formidabele kennis van, en insig in, die Bybel oor die afgelope meer as dertig jaar verwerf. Hy het my kortliks van die volgende inligting voorsien:

(a) Daar word altesaam tien soorte Pasga’s in die Bybel beskryf, en die een waarna Joël 1:14 verwys is een van die belangrikste hiervan. Die woord Pasga sê nie heeltemal dieselfde as ‘vasdag’ nie, want dit staan in werklikheid vir iets baie groter as bloot net om ‘n dag van gebed sonder kos deur te bring. Hierdie Pasga is ‘n oproep van Vader dat die volk na Hom sal terugkeer. Die geleentheid hiervoor vind kort na 1 Abib plaas, wat volgens die Mosaïese kalender na Nuwejaar verwys. Nuwejaar beteken natuurlik letterlik gesien ‘n ‘nuwe begin’. Ek dink dit is baie belangrik dat ek hierdie Skrif ontvang het ‘n dag voor die 1ste Abib, want dit laat geen twyfel oor die belangrikheid van God se tydsberekening nie. Dit is inderdaad baie kort kennisgewing hierdie, maar ek glo die rede daarvoor is om nét die werklike toegewyde gelowiges in te trek. Die res is sekerlik nie onbelangrik nie, maar hulle bepaal self hul toegewydheid, en dit kan noodwendig net deur aktiewe deelname bewys word. Maar dan asseblief in die binnekamer en aan die Here, en nie aan die wêreld daarbuite nie, want daar is net eenvoudig nie meer tyd of plek vir hierdie soort vertoon nie!

(b) Hierdie Pasga begin vanjaar met sonsondergang (18h00) op Saterdag 31 Maart 2007, en dit eindig met sonsondergang (18h00) op Dinsdag 3 Maart 2007. Dit kan nie ‘n dag vroeër of later wees nie, maar net op hierdie drie dae.

(c) Die Pasga gaan gepaard met ‘n ‘soliede vas’, dit wil sê sonder dat enige vaste spyse op enige stadium vir die volle tydperk van 72-uur ingeneem mag word. Die deelnemer mag net skoon water tydens die vas inneem (gesuiwerde water sal die beste werk). Daar is ‘n baie praktiese rede hiervoor, want die doel is om die liggaam te reinig saam met die siel en die gees.

(d) Die tyd word aan gebed en smeking toegewy. Nou, niemand kan aan u voorskryf hoe en wat om te bid nie, behalwe miskien die volle strekking van die boekie van Joël. Maar broer Willie het my by ‘n vroeëre geleentheid aan ‘n baie interessante manier van bid voorgestel. Hierdie man bid blykbaar nooit ‘uit sy kop uit’ nie. Hy het ‘n manier om stukke uit die Bybel, veral uit die Psalms, hardop aan die Here voor te lees. Dit maak baie sin, want dan bid jy nie jou eie gedagtes nie, maar bid jy saam met die Gees in die Woord se volle betekenis.

Die algemene tema van ons gebede tydens hierdie Pasga word vanuit vers 13 deur die res van Joël aangedui. Dit bestaan na my mening uit drie afdelings, naamlik:

(1) Gebed dat ons die voortdurende krisisse waarin ons verkeer sal oorleef.

(2) Dat die Gees sal ingryp en ons as volk weer in ‘n hegte eenheid sal herstel (geestelik weer gesond gemaak sal word).

(3) Dat die ‘dag van die Here’ spoedig sal aanbreek. Hierdie laaste, soos in vers 15 beskryf, is in elk geval vir my ‘n ‘persoonlike boodskap’ dat die tyd vir God se optrede teen Sy en ons vyande net skielik baie naby gekom het. Ons probeer so maklik om allerhande afleidinge vanuit ons onmiddellike omgewing te maak oor hoe ver hierdie dag nog moontlik kan wees, maar ons vergeet so gou om die allerbelangrikste deel van hierdie argument ook in ag te neem: God se tyd is God se tyd, en Hy sal besluit wanneer dit sal wees. Sy tydsbepaling is sekerlik nie op ons s’n afgestem nie, en die aanbreek daarvan is sekerlik nie van ons eise en verwagtinge afhanklik nie. Maar ek glo ons kan aanvaar dat Hy sal ingryp as dinge hande sou uitruk en ons die gevaar begin loop om heeltemal vernietig te word.

Hoe lyk dit, is u bereid om deel te neem aan hierdie Pasga en u deel by te dra om by Vader in te tree vir die welsyn van u volk? Want weet u, u bydrae gaan uiteindelik nie net tot die welsyn van ons volk strek nie, maar ook verder as die ganse Westerse Christelike beskawing. Weet u dan nie dat die die redding van die wêreld by ons volk begin nie? En dit is ‘n baie groot verantwoordelikheid.

Baie seën vir u,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: