Slaan oor na inhoud

Art 014: 2008-08-13 Mis ons dalk iets in die interpretasie van die Bybel?

2013/08/31

http://www.sienervanrensburg.co.za
F.H. Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria.

Dit het dalk tyd geword dat ons die Bybel ook vanuit sy ander hoek, en myns insiens sy meer korrekte een, van nader begin bekyk. Ek glo ons het rede om te aanvaar dat ons aandag baie doelbewus deur die liberale teologie weggelei word van hierdie kritiek-belangrike aspek van die Bybel! Daar is ‘n baie goeie rede hiervoor, want die bose, wat die kerk ongesiens binnegesypel het, gebruik die Bybel teen ons om ‘n bepaalde staatkundige situasie tot hul voordeel tot stand te bring. Die Bybel staan uiteindelik duidelik vir iets heel anders as waarvoor dit op so ‘n hoogdrawende en siellose wyse deur die georganiseerde teologie gebruik word, maar dan moet ons dit begin raaksien ook.

Die oorgrote meerderheid Christene, van watter aard en inslag ookal, word teen ‘n agtergrond groot wat as ‘Christelik georiënteerd’ beskryf kan word. Maar nou gaan dit nie in hierdie artikel oor die diepgang van die volgende persoon se geloofservaring nie, maar wel oor die fondament, die kennis-onderbou daarvan. Die verskillende kerke, soos beliggaam in die ampte, gaan van die veronderstelling uit dat almal wat nie presies volgens hul bepaalde dogma glo nie outomaties verlore sal gaan. Dit is waarom die een geloofsverband so dikwels so smalend na die ander kan verwys as ‘verkeerd’. Ek, as gewone en normale Christusgelowige, aanvaar egter weer dat ek nie die reg het om oor die diepte en kwaliteit van die volgende persoon se verhouding met ons God en Koning te oordeel nie. Dit is per slot van sake die voorskrif wat die Woord self aan ons gee om na te volg. Dit gaan dus nie hier vir my of die leser ‘gered’ is of nie, want dit is nie werklik my probleem nie, maar of hy verstaan waaroor dit regtig gaan – of liewer dan, die meer dringende vraag is eerder vir my hoeveel waarde die dinge dra wat ons as vanselfsprekend aanvaar én vir onsself toeëien as ons dit teen die Bybel in sy geheel begin meet.

Daar is ‘n baie groot swak plek in ons geestelike mondering wat die vyand toelaat om ons telkens te oorrompel, en tot tyd en wyl ons hierdie ding leer ken en verstaan sal hy dit elke keer regkry om ons van balans af te hou. En solank as ons van balans af is kan die vyand ons slaan soos hy wil – want ons is tot ‘n baie groot mate heeltemal weerloos teen sy aanslag, omdat ons nie ‘weet’ nie. Ons gaan dus nog steeds verlore weens ‘n gebrek aan basiese kennis. En nou kan ons nie nét die teologie hiervoor blameer nie, ons moet na binne kyk ook. Mense wat te lui is om vir hulself te begin dink en die dominee toelaat om dit vir hulle te doen moet mos maar tevrede wees met wat hulle uiteindelik kry. Hierdie argument geld net so vir die politiek, want eintlik is dit maar dieselfde ding met ‘n ander baadjie aan.

Ek glo hierdie aanslag, hierdie misleiding wat ons so erg verwar en ontsenu, is meer staatkundig gerig as wat dit met ons geestelike lewens as sulks te doen het. Die geestelike sy van die saak was nog nooit meer as net ‘n rookskerm om ons aandag elders gevange te hou nie. Ons mag nie verder as net dit dink nie, want dan gaan hul plannetjies ontbloot word vir wat dit regtig is – om die Ryk van Satan in sy finale praktiese en konkrete vorm op te rig!

Ons leer van kleins af dat Jesus Christus gekom het om vir ons sondes te sterf, en as ons in Hom glo sal Hy ons verlos en red – en dit is dit, daar is niks meer verby hierdie punt nie. En dit bly interessant om te sien hoe hulle ons daar hou. Die Leviete en die Priesters het destyds ‘n groot menigte by-wette ontwikkel wat hulle eers op ou-Israel, en later op Juda en Benjamin afgedwing het. Daar het regtig niks in hierdie situasie verander nie, want ons staan nog steeds onder dieselfde juk – dit is miskien ander begrippe en woorde as destyds, maar nogtans presies dieselfde pakke wat op ons skouers gelaai word. Die enigste verskil, en dit is juis hierin waar die groot probleem en gevaar geleë is, is dat die moderne teologie hul uitgangspunte op die emosionele lees geskoei het. Hulle gooi ons nie meer met klippe dood nie, hulle haal jou op ‘n meer verfynde manier uit, maar hulle haal jou nogtans uit. Die ‘troos’ wat hulle jou aanbied is ten volle op die emosionele geskoei, en die beste wat hulle hier kan doen is om jou te hand en mond te belowe dat jy ‘eendag Hemel toe sal gaan’ as jy mooi soet lewe – soos hulle dit definieer. Hierdie is niks meer as die spreekwoordelike wortel voor die neus om jou op die regte koers te hou nie …weg van die waarheid af. Daar is nie fout te vind met ‘n skoon morele lewensstrewe nie, maar dan moet daar minstens ‘n doel daarmee wees. Jy moet skoon wil wees omdat dit goed en belonend is, en nie omdat jy deur vrees en angs daartoe gedwing word nie.

Ag, as hulle maar net getrou gebly het en die praktiese en haalbare aspekte van die Bybelverhaal aan ons voorgehou het sou ons geestelik dalk baie sterker gestaan het as wat tans die geval is. Hulle belowe jou die ‘ewige lewe in die Hemel’, maar daar is nou regtig geen troos hierin vir enige mens in ‘n moeilike situasie nie, want dit is dalk net ‘n bietjie té vaag om enige standhoudende waarde te kan dra. Maar nou ja, dit is min of meer die somtotaal van die troos wat die kerk ons kan aanbied. Die res bestaan uit allerhande dreigemente dat jy hel toe sal gaan as jy nie dit of dat aan die hand van veral die Heidelbergse Kategismus of die Twaalf Artikels doen nie – wat op sigselwers ook maar net menslike afleidinge van die Skrif is. Hoekom dan nie maar net direk uit die Skrif leer en klaarkry nie? Dit sou soveel makliker gewees het om mense tot oorgawe te begelei as hulle geleer het waaroor die Bybelverhaal werklik gaan, en presies waar die mens en sy hartseer oomblikke daarin pas. Dit sou nog beter gewees het as hulle ons geleer het waar die mens by God Almagtig se Raadsplan inpas, want dan sou ons werklik vaste grond vir ons geloof gehad het. Dan sou ons dalk die nodige geestelike krag kon vind om (min of meer na Verwoerd se dood) nog steeds aan die ankers van geskiedenis, opvoeding, taal en kultuur vas te hou, want hierdie dinge was volledig deel van ons volkservaring gewees. En ons was tot op daardie stadium ‘n pragtige en sterk volk gewees – ‘n sieraad in Jesus se Kroon. Ons het egter weggedwaal agter valse leraars en leiers aan en het in die proses in die hande van die wolf geval – en die ergste van alles is dat ons ons identiteit as unieke en besonder sterk volk verloor het. Ons het nie werklik op hierdie stadium ‘n toekoms om na uit te sien nie, want ons weet nie meer waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is nie. Daar is tekens dat ‘n deel van die volk besig is om sy wortels en identiteit te herontdek, maar dit gaan nog te stadig op hierdie stadium.

Die teologiese wetenskap weet dit, en daarom het hulle die geestelike pakket wat hulle aan die benoude mensdom probeer verkoop so ‘n bietjie aangepas. Hulle het trouens die aanslag teen ons waardesisteem aangevoor en gelei om ons te kry waar ons vandag is. Die humanistiese teologie het gekom en eers die belangrikste stemme in die Bybel doodgeswyg, dit is die profete, en het toe die klein bietjie wat oorgebly het só dik met wysbegeertelike suiker en ander soetsappige snert besmeer dat die Christendom uiteindelik heeltemal verswelg is daardeur. Alles in die moderne uitgangspunt draai om die mens – die koms van die Seun na die wêreld, Sy kruisiging, Sy opstanding uit die dood, die wederkoms, ensovoorts – alles is tot voordeel van die mens as middelpunt verdraai. En uiteindelik is die spilpunt van al hierdie dinge, die ‘bottom line’ van hul argumente, dat Hy opgevaar het na die Hemel om vir die mens ‘n spesiale plekkie ‘in die Hemel’ te gaan reserveer. Dit is die ‘beloning’ wat hulle aanbied vir diegene wat doen soos hulle voorsê.

Maar wat sê die Bybel hiervan? Hoeveel mense doen die moeite om net te gaan sit en te begin wonder waaroor die Bybel regtig gaan? Die Bybel vertel ‘n aaneenlopende verhaal wat by die Skeppingsdaad begin en by die aankoms van die Nuwe Jerusalem eindig. Die feite in die Bybelverhaal noop my om te sê dat dit met die mens as sulks nie regtig veel te doen het nie. Daar is oomblikke in hierdie verhaal waar God se liefde vir die mens sterk en baie duidelik na vore kom, dit is waar, maar dit is nie die fokuspunt van die Bybelverhaal nie. Nee, die mens se ‘redding’ is bloot ‘n sydelingse voordeel wat vanuit ‘n ander doelwit voortspruit.

Daar is in elk geval nie regtig ‘n plek soos ‘in die hemel’ nie, want anders sou die mens, nét soos Koning Jesus Christus, eerder daarheen ‘opgevaar’ het en sou die Nuwe Jerusalem nie na die aarde neergedaal het nie. Ons gaan dus nie regtig hemel toe nie, dit is gewoon ‘n fyn stukkie geestelike bedrog, maar ‘die Hemel’ kom hierheen! En as dit eers eenmaal hier is bly dit hier, want ons het niks wat sê dat dit weer opvaar en ‘tussen die sterre wegraak nie’. Ons Vader en Opperkoning kom in werklikheid in twee onderskeibare stappe na ons toe. Hy stuur eers die Seun om die pad te kom oopmaak vir die Nuwe Jerusalem, waar(in) Vader self hierheen kom. God Almagtig gaan inderdaad met ons wees, en Hy kom om hier te bly, maar dan onder Sy bepaalde voorwaardes en nié die teologie s’n nie! Een van die voorvereistes hiervoor is dat daar ‘n gelowige groep mense op die aarde moet wees dié dag as die wederkoms plaasvind. As dit nie so was nie sou die Bybel nie ‘n begrip soos Immanuel kón gebruik nie. Dit verwys wel na die eerste koms van die Messias, maar sonder dit is die wederkoms natuurlik ook heeltemal onmoontlik. Die feit van die saak is dat Koning Jesus Christus gaan terugkom om ‘n nuwe staatsbestel op te rig, en NIE om ‘n ewigdurende piekniek aan te lê vir die mense wat in Hom glo nie. En eintlik moet ons hier van die Koninkryk praat wat Hy kom her-oprig, want dit het vroeër bestaan, maar is deur die Satan in ‘n baie geslepe poging geskaak en ‘oorgeneem’. Ons hoor nooit van die kansel af wat Koning Jesus Christus oor hierdie deel van die wederkoms gesê het nie, want dit pas nie by die teologie se verskuilde agenda in nie.

Ek wil daarom hier herhaal wat ek vantevore op ‘n ander plek gesê het, en dit is dat ons die hele Bybelverhaal in drie of vier kort sinne kan opsom. Dit is belangrik om hier te verstaan dat die groot probleem ontstaan het met die teologie se Gnostiese, oftewel vergeestelikende gevroetel aan die Bybel. Daar word in absolute terme op die Bybel as basis vir godsdiens gefokus, terwyl die Bybelverhaal in sy geheel eerder op die staatkunde afgestem is – die godsdienstige sy daarvan kom eers daarna aan die beurt. Dit is so dat ons die ‘godsdienstige’ deel van die Bybel nie mag verwaarloos nie, maar die hele kwessie bestaan uit twee afsonderlike bene – Hy is nie nét Hoëpriester volgens die Orde van Melgisedek nie, Hy is Koning volgens die opdrag van Vader óók, en hierdie twee funksies sal op Sy Troon in ‘n eenheid bymekaar kom. Ek het ‘n baie groot probleem met die eensydige en misleidende beklemtoning van die godsdienstige. Alles, letterlik alles wat vir ons belangrik kan wees rondom die wederkoms begin by die militêre, oftewel staatkundige oorwinning oor Sy vyande. En ja, letterlik alles daarna draai ook rondom hierdie gedagte – ons veiligheid, ons vrede, ons geborgenheid en selfs ons verlossing van die bose. Ons sal verder in hierdie verband in elk geval eers ‘verlos’ wees die dag as die Satan ook heeltemal uit die pad is. Dit hou ‘n sekere geestelike betekenis in wat eers bevredig kan word as die praktiese werk wat daartoe aanleiding gee voltooi is. Ek dink dit is baie veelseggend en belangrik dat ‘n Skrifgedeelte soos Sag 6:13 die Koningskap baie duidelik eerste stel, en eers daarna na die Priesterskap verwys. Waarom steek die teologie hierdie praktiese aspekte van die Bybelverhaal vir ons weg?

Sag. 6:13.
Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.

Die Bybelverhaal kan na my mening baie kortliks soos volg opgesom word:
(1) Daar was hierdie wonderlike Koninkryk met ‘n Wonderlike Koning, en alles was goed en reg – reg en geregtigheid was die basis waarop alle verhoudinge en verbande berus het.
(2) Maar toe kom ‘n rebel en hy gryp die mag met leuens, bedrog, lis, opstokery en geweld.
(3) Toe stel die wonderlike Koning Iemand aan om die rebel te hanteer en die wonder in die Koninkryk te herstel.
(4) Sy plan om dit te doen, berus op twee groot aanslae – die eerste se naam is die Slag van Armageddon en die tweede die Oorlog van Gog en Magog. As dit verby is sal Hy die Kroon aan die Vader oorhandig, en dan sal reg en geregtigheid weer heers, óf soos die Woord dit stel: Dit sal weer soos in die voortyd wees!
(5) En, Amen! – dit is waaroor die Bybelverhaal in die geheel gaan.

Dit is die mees sentrale vertrekpunt in die Bybel – dit is dus ‘n boek wat in die eerste plek eerder oor die staatkunde handel as oor godsdiens as sulks. Die teologie het gekom en allerhande soetsappige storietjies en stertjies daaraan vasgeplak. Wil u weet waar hierdie dinge vandaan kom? Gaan trek gerus die boek The Two Babylons van Alexander Hislop verniet van die internet af, en lees dit vir uself – terwyl u in gedagte hou dat daar nie dogters kan wees sonder ‘n moeder nie, en dat moeder en dogters in wese altyd dieselfde basiese eienskappe vertoon.

U sien, as u nie van hierdie dinge weet nie sal u ook nie die vreemde, en soms bisarre gebeurtenisse in die politiek, plaaslik sowel as internasionaal, verstaan nie. En as u dit nie verstaan nie gaan u onverhoeds betrap word die dag as die Antichris toeslaan om die Satan se Een-Wêreld Regering op te rig. Ek weet daar word baie agter die hand geglimlag oor my stellings in hierdie verband, maar dit is presies waarteen die versteekte visioenêre verhaal in oorvloedige detail waarsku. Ons het onlangs beleef dat ons staatspresident (baie letterlik) weens onbevoegdheid ‘gefire’ is. Logika sê vir my dat hy na regte heeltemal van die toneel af behoort te verdwyn, maar dit is nie wat gebeur het nie. Geagte leser, hy is nie werklik afgedank nie, u is maar net gelei om so te glo. Dit was maar net ‘n ornate rookskerm om hom na ‘n ander werkgebied te kon oorplaas, want hy is bloot verskuif om daarop te fokus om die SADEC-lande in ‘n staatkundige eenheid saam te snoer. Hierdie gebied sal dan met die oorblywende state in ‘n eenheid saamgebind word – hy is die man wat die sogenaamde Verenigde State van Afrika moet oprig. (Die interessantheid hiervan is dat dit die gebied vanaf Kaappunt tot en met die suidelike grens van die Soedan insluit, oos en wes oor Afrika, en dit is ook die gebied waar ons grondgebied uiteindelik gaan wees volgens Siener se verhaal). Die doel hiermee is om die pad vir die Antichris voor te berei om die hele sub-Sahara Afrika meteens in sy beoogde bestel te kan inbind. Dit is waaroor die verraad van 1994 werklik gegaan het, want dit was die amptelike afskop punt van hierdie strewe. Diegene wat my eerste boek, Wat is die Waarheid? gelees het sou gesien het dat ek daarin sê dat hierdie volk in 1994 op ‘n skinkbord aan die Antichris oorhandig is. Diegene wat my tweede boek, Wat kom ná Siener? gelees het sou gesien het dat die hoeksteen hiervan reeds in 1902 by die Vrede van Vereeniging in ons toekoms ingebou is. Die kern van die saak is dat dit vir beide Koning Jesus Christus én die magte van die Satan ten eerste om grondgebied gaan. Jy kan onmoontlik nie ‘n Koninkryk hê sonder ‘n konkrete en afgebakende grondgebied ook nie. Die Bybel is ook glad nie dubbelsinnig in hierdie opsig nie, want dit gee tot die plekname in hierdie gebied aan ons – daar is dus nie ‘n manier om dit weg te kan vergeestelik nie! Die geestelike toekoms van die mense wat hierdie grondgebied beset kom eers later aan die beurt. Ons volk se ondervinding hiervan is egter so ‘n bietjie anders as die normale, want die groot strooptog op ons gaan aan die einde van die dag om grondgebied. Ons land is in 1994 voortydig weggegee, en dit was die afspringplek vir die bose om ons uit die pad te kry. Op hierdie stadium word daar wette geformuleer om blanke privaat besit van grond te beëindig, en ons staan magteloos teenoor dit, want die verraad tussen 1994 en nou het ons tot so ‘n mate ontman dat ons niks meer daaraan kan verander nie. Maar waar dit in die (menslike) geskiedenis telkens om klein stukkies grondgebied gegaan het, sal dit in die toekoms om die hele aardbol gaan. Dit is die groot prys waaroor die Slag van Armageddon en die Oorlog van Gog en Magog werklik sal gaan.

Die gelowige deel van die Boervolk moet ten alle koste deur die bose uitgeroei word, en as ons eerlik wil wees lyk hierdie mense se planne op hierdie stadium glad nie goed vir ons nie. Maar as hulle die Bybelverhaal verstaan het sou hulle ook geweet het dat dit nie sommer maar net so maklik gaan wees nie. Hulle is besig om hulself te verswelg in ‘n reuse partytjie oor die ‘oorwinning’ wat hulle behaal het, maar wat gebeur more of oormôre as ons Koning besluit dat dit tyd geword het om in te gryp? Hulle hou nie rekening met ons Koning se beplanning nie, en hulle gaan die verrassing van hul lewens kry. En let wel, ek sê dit nie hier om hulle te verkleineer of selfs te dreig nie, maar wel om my eie mense en medegelowiges te bemoedig. Hou moed, ons Koning is nog steeds in beheer! Hou vas aan Hom en die wonderlike beloftes wat Hy nog steeds aan ons gee, want Hy is werklik die enigste hoop wat ons het om te kan oorleef. Nog steeds vir ons gee? Ja, inderdaad nog steeds. Ek sal op ‘n latere stadium dalk meer hieroor sê, maar ons is nog steeds vas op koers na die wonderlike dinge wat die Gees deur Siener van Rensburg aan ons openbaar het. Hierdie verhaal, wat uiteindelik so direk by die Bybelverhaal aansluit, handel in alle opsigte net oor die staatkunde. En ja, ek kan u verseker baie hiervan vertel, behalwe natuurlik die wanneer – dit weet niemand van ons nie, behalwe dat dit baie skielik en baie onverwags gaan kom. Maar dit is juis waarom ons altyd reg moet wees, presies net soos die vyf wyse maagde.

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: