Slaan oor na inhoud

Art 015: 2008-09-24 ‘n Vrou as president?

2013/08/31

http://www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria.

Ek het Maandag hierdie week twee vrae ontvang wat m.i. onder die openbare aandag behoort te kom. Ek is gevra om kommentaar daarop te lewer en ek kan dadelik antwoord omdat ek ‘n soortgelyke vraag so drie maande gelede van iemand anders ontvang het.

Dié twee vrae het my egter laat besef dat albei hiervan op hierdie stadium dalk redelik wyd onder bespreking kan wees. Ek dink dit is kritiek belangrik dat veral die eerste vraag hieronder duidelik geantwoord moet word. Ek het besluit om die vrae in twee afsonderlike artikels te beantwoord.

En ja, my nuwe adres hierbo is wel korrek – ons het op 08-08-2008 heeltemal onverwags (en sommer baie skielik) na Pretoria verhuis.

VRAAG 1:
Is dit waar dat Siener gesê het dat
(a) die tweede swart president nie sy ampstermyn sal voltooi nie,
(b) dat hy vir ses maande deur ‘n vrou opgevolg sal word.
(c) dat die ‘groot drama’ aan die einde van daardie ses maande sal begin.

ANTWOORD:
Ek wil dit sommer dadelik baie duidelik stel dat Siener nêrens, of ooit, van ‘n vrou as president gepraat het nie. Hy het in werklikheid nooit eers van ‘n Mbeki of ‘n Zuma of selfs net van ‘n swart staatspresident gepraat nie. Siener het bloot ‘n visioen beskryf waarin die regeringsboom (van die tyd) van bo af inmekaar geval het. Die volledige visioen waarin hierdie inligting voorkom, wat sowat twee dae voordat die Rebellie van 1914 begin het deur ene Jan-Petrus aangeteken is, lyk soos volg:

De siener gewaar ‘n groot boom in ons land en die begin somaar van bo af weg te krummel of te ‘pluiens’ so’s hy self dit noem, en te vergaan, sodat daar ‘n gat in die grond blij, waar die boom gestaan het. Daarna siet hij in die Vrijstaat en Transvaal elk ‘n pragtige bloue boom verrijs en die dra pragtige druiwe korrels, ongeveer so groot als ‘n fatsoenlike perske. ‘En wat beteken dit? Vraag die toehoorder, helemaal verbijsterd. ‘Die antwoord is: ‘Wel, dis ons Regering wat tot niet gaat en twee ander Regerings wat opkom in Vrijstaat en Transvaal.

Die volgende onderwerp in die visioene ná hierdie visioenêre gebeure is die verkiesing in Noordwes. Dit impliseer natuurlik ‘n sekere stel tussengebeure wat ons noodwendig in die algemene politieke gebeure van ons tyd moet gaan soek. Die inmekaarstort van ‘n nasionale regering lê baie beslis in die politieke arena, so waarom moet ons op allerhande ander plekke gaan rondkrap om dit te verstaan? Waarom al die ongebreidelde spekulasie daaroor? Maar ons moet nie net hier in ons eie land rondsoek nie, ‘n mens moet na die groter prentjie van die wêreldpolitiek kyk ook – ‘n mens moet ook die doelwitte van die bose geheime organisasies (in terme van die Bybelverhaal) in berekening bring by die ontleding. Die baie duimsuigstories rondom Siener vorm, na my mening, volledig deel van hierdie mense se versteekte planne vir die Christusgelowige Boervolk. Die doel is om te verwar en bang te praat, maar dan ook om op te sweep en mense langs verkeerde weë te lei. Die dag as die stamp kom gaan dit van heel die verkeerde kant af kom en gaan ons mense heeltemal onverhoeds betrap word. Ons word deur hierdie soort retoriek gebreinspoel om ons blind te staar teen die sogenaamde ‘swart gevaar’ rondom ons. Die fokus val absoluut op ‘swart haat’, en in die proses word ons aandag afgetrek van die werklike groot vyande – die swart gevaar is maar ‘n vulletjie teen die vyand wat reeds gereedstaan om op ons toe te slaan!

Hierdie jongste gerugte oor ‘n vroue-president, ens, ens, is na my mening bloot opportunisties van aard en daarop gemik om ‘n sekere legitimiteit aan al die ander duimsuig- en bedrogstories rondom Siener te verleen. Dit is interessant dat hierdie nuwe storie eers sy verskyning gemaak het nadat dit duidelik begin word het dat óf die adjunk-president, óf die Speaker, wat albei vrouens is, moontlik by Mbeki sal oorneem as hy voor sy tyd afgaan. Dit was nog nooit voorheen bekend nie, en vorm dus deel van die ‘geheime streepsak vol voorheen onbekende visioene’ waarna ek al so baie verwys het. Dit vorm dan ook na my mening deel van die onheilige program om die volk rondom Siener se werklike profesieë te verwar. Ek noem dit selfvervullende profesie, want gerugte soos hierdie word baie doelbewus geskep om ‘n bepaalde vooruitbeplande en versteekte agenda te bevredig. Die onmiddellike doel met hierdie jongste storie is duidelik om voort te borduur op die afgryslike leuen en bedrog rondom die sogenaamde ‘nag van die lang messe’.

Siener het nie hierdie ‘visioene’ gesien nie, en hy het nooit sulke nonsens gepraat nie. Ek wil daarom ‘n vraag wat ek op bladsy 81 in Wat kom ná Siener? gevra het baie dringend herhaal hier:

Wanneer, o wanneer gaan ons mense dan die vreemde en ‘toevallige’ verband tussen hierdie soort vervolging en die emosioneel-opruiende ‘regse’ stories oor Siener en sy visioene begin raaksien? Hoeveel Boeremag-verhore gaan dit nóg kos voordat die politieke regse groep se oë begin oopgaan vir die agteraf wyse waarop hulle geïnfiltreer, geïdentifiseer en uitmekaar gejaag word ….. en hulle begin terugkeer na Mat. 5 toe?

Boervolk, o Boervolk, word tog net wakker en begin vir uself te dink … en gebruik die Bybel saam met u gesonde verstand daarvoor! As u dit nie doen nie gaan die vyand dit heeltemal onverwags vir u doen, en dan gaan daar, soos die Woord dan ook waarsku, ‘Skrik rondom wees’!

Die ander deel van hierdie groepie vrae word in die volgende pos behandel.

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: