Skip to content

Art 016: 2008-09-24 Siener se drie blou briewe.

2013/08/31

http://www.sienervanrensburg.co.za
Garsfontein,
Pretoria.

Hierdie artikel gaan aan waar die vorige een opgehou het. Ek het dit so gedoen om nie twee verskillende onderwerpe gelyk te hanteer nie.

VRAAG 2:
Wat moet ons maak van onderstaande opmerkings en vrae? Dit het op AKSKA se gespreksforum verskyn en ek wil dit graag hanteer.
‘Ek het nog altyd gewonder wat beteken die blou briewe wat by die parlement inkom en dan spat die parlement uiteen. Die het nou met die afgelope gebeure van die laaste paar dae vir my duidelik geword. Ek wil graag vra, jare terug toe ek jonk was het ons, as ons ‘n meisie af sê ,gesê ons gee haar ‘n wat……? Ja dit is reg dit is die blou pas. Die ANC het Mbeki afgesê en dit is dan moontlik die blou brief wat Oom Siener gesien het, want een of ander tyd moet die parlement dan ontbind om vir ‘n nuwe administrasie plek te maak (Parlement spat uitmekaar? ) Sal die nuwe parlement dit hou, want daar gaan nou groot onderliggende struwelinge plaasvind in die ANC geledere wat dan moontlik ook kan veroorsaak dat die parlement vir ‘n tweede keer binne die bestek van ‘n kort tydjie , kan ontbind, wat dan moontlik die tweede blou brief van Oom Siener kan wees. Is dit vêrgesog of is dit dalk moontlik???’

ANTWOORD:
Ek het onlangs ‘n gesprek gevoer met ‘n ander vriend wat ook oor hierdie drie blou briewe gehandel het. Die redes daarvoor verskil so ‘n bietjie van die een op AKSKA wat jy aan my uitgewys het, maar die basiese agtergrond bly dieselfde. Hier is ‘n tipiese voorbeeld van wat ek al so baie probeer sê het – ek weet miskien meer as die gemiddelde man op straat van Siener se visioene af, maar ek weet darem nie alles nie, want ek leer klokslag-gereeld iets nuut by. Ek het hoendervleis gekry toe ek jou vriend Lukas se antwoord lees rondom die praktiese betekenis van die blou papier. Ek het nie hiervan geweet nie, maar die Duitsers se ingryping hier in Suid-Afrika spreek hard en duidelik van hul integriteit, want hulle kom help op grond van ooreenkomste en beloftes wat reeds in 1914 gemaak is! Die wonder hiervan is dat dit Abba Vader se integriteit bo alle twyfel bevestig, want dit is eintlik waaroor die sogenaamde ‘rebellie’ van 1914 regtig gegaan het. Dit kan op geen manier as ‘n bona fide rebellie beskryf word nie, en die enigste Goddelike doel daarmee was duidelik om juis hierdie ooreenkomste opgestel en geteken te kry. Die oomblik nadat die getekende ooreenkomste hardop aan die ‘rebelle’ voorgelees is, en hulle dit as bindend aanvaar het, het Siener woorde tot die effek gesê: Die rebellie is verby – ons werk (doel) is nou afgehandel en nou moet ons huis toe gaan.

Ek gee die volledige briefwisseling met die ander vriend sodat jy ‘n meer volledige agtergrond oor die onderwerp kan verkry.

DIE BEGINPUNT VAN DIE OORSPRONKLIKE BRIEFWISSELING MET MY ANDER VRIEND:
Die onderstaande (ietwat spekulatiewe) opmerking het op die gespreksforum http://www.boerevryheid.co.za verskyn, en is deur ‘n deelnemer daar aan my gestuur vir kommentaar. Dit het uiteindelik tot die onderstaande ontleding gelei.

Die Blauw Briewe sal in geheim gehou word net die parliment sal daarvan weet en na die derde brief spat hulle uitmekaar en dan sal `n staatsgreep plaasvind

Ek wil heel eerste ‘n baie bepaalde denkfout uitwys hier. Die persoon wat hierdie stelling gemaak het aanvaar duidelik dat die konserwatiewe (politieke) blanke groep ‘n staatsgreep saam met die Duitsers gaan uitvoer. Dit is egter nie waar nie, want daar is geen sprake van so iets in die verhaal nie. Daar is ‘n ‘Boere-rebellie’ in die verhaal, as ek dit so kan stel, maar dit word by twee geleenthede deur die liberalistiese groep (die Sappe ) teen die verkose en legitieme konserwatiewe regering in Noordwes uitgevoer. Hou hier in gedagte dat die visioenêre verhaal die Sappe ook as Boere beskou – hulle is inderdaad verdwaald, maar hul afkoms word darem ook nêrens ontken nie. Hulle word deur die Engelse gehelp om dit reg te kry, en die Duitsers kom die Boervolk van Noordwes teen hierdie aanslag help op grond van die Traktate van 1914. (Die interessantheid hiervan is dat dit net die ‘rebelle’ vanuit die Transvaal was wat uiteindelik in Duitswes uitgekom en die Traktate met die Duitsers gesluit het. Botha en Smuts se regeringstroepe het daarin geslaag om die Vrystaters te verhoed om deur te breek en na Duitswes te gaan, want behalwe vir die feit dat baie, baie van die Vrystaters doodgeskiet en/of gevangene geneem is, is ook Genl. De Wet gevang. Siener het hom natuurlik as die ‘vader’ van die nuwe komende republiek beskou. Die Vrystaters vorm dus volledig deel van die ooreenkomste wat destyds met die Duitsers gesluit is.

Maar nou goed, Boy Mussmann veral het skynbaar sekere persepsies rondom hierdie briewe gevestig wat reggestel moet word. Ek moet hier sê dat hy nie regtig foute gemaak het nie, hy het maar net nie behoorlik en volledig verduidelik nie. Sy woorde, en die konteks waarin dit deesdae aangebied word, leen hulself egter tot baie en ook bepaalde waninterpretasies. Dit kan veroorsaak dat ons die tekens van die (oorlogs) tyd verkeerd kan interpreteer en dan foute maak. Ek sê dit met my tong in die kies, maar die persoon hierbo sal byvoorbeeld te laat agterkom dat hy eintlik by die verkeerde groep is, en dit gaan hom beslis sy lewe kos! Maar dit is nogtans waar dat hierdie soort wanpersepsies ons uiteindelik baie duur kan kos in terme van onnodige lewensverlies.

Ons sal met Boy Mussmann begin, en dan sal ons vlugtig gaan kyk na die betekenis van ‘n paar verbandhoudende begrippe – soos dit deur die gang van die visioenêre verhaal verduidelik word. Sonder dit kan ons nie behoorlik verstaan waaroor die drie blou briewe gaan nie. Hierdie deel kom uit my nuwe boek, Wat kom ná Siener? Ek het ‘n hele afdeling in hierdie boek gewy aan die visioenêre betekenis van sommige van die simbole wat in die visioene voorkom. Dit is tog die enigste betekenis wat enige waarde kán dra! Dit neem die vorm aan van ‘n woordelys met die nodige verduidelikings daarby.

Kom ons begin by Boy Mussmann en dr. Rossouw se vertellinge om die nodige agtergrond te vestig:

Die aanhalings hieronder van wat Boy Musmann en dr. Rossouw oor hierdie drie blou briewe gesê het kom woord vir woord uit Siener van Rensburg en die Rebellie van A.W.G. Raath. Dit verskyn in my boek, Siener van Rensburg – profeet of waarsêer – Wat is die Waarheid? op bladsy 29.

(Dr. Rossouw:)
(1.2.5.) ‘Na daardie twee groot slaë gelewer is op die Westerfront kom vyf Duitse oorlogskepe na Duitswes en een vliegkampskip na Duits-Oos. Sodra die oorlogskepe land, sien ek die Engelse vlug weg uit Rhodesië en Kaapland. Ons Parlement sit daardie tyd. Dit het gereën en die gras word groen. Dan word die gras weer wit en droog en net sodra die gras weer mooi groen word vir die tweede maal, kom daar 3 blou briewe (blou is goeie nuus ver ons). As die derde brief in die Parlement kom, sien ek hulle spat uitmakaar, en vlug haastig weg uit die Kaap. (My beklemtoning vir jou doeleindes van hierdie verduideliking).

(Boy Mussmann:)
(1.2.13.) ‘Uit Rhodesië sien oom Niklaas ‘n slang. Hy seil plat op die grond en oom Klasie sien nie sy kop nie. (Dis Engelse wat vlug uit Rhodesië). As hy naby Mafeking kom dan draai hy en by Vereeniging gaan rol hy hom op. Uit Suid-Wes sien hy die springbokke gekoets-koets hardloop wanneer vyf Duitse skepe land by Lüderitzbaai. Die springbokke wat in Duits-Wes gekoets-koets hardloop in die lang gras, is troepe wat wegvlug in die Unie in. Voor oor Grootrivier is ‘n brug, daar trap die troepe mekaar dood soos hulle probeer vlug. Hulle vlug ook na Vereeniging. Dit gebeur wanneer 3 briewe in die Parlement inkom. Die drie briewe kom in een sessie in by die parlement.’ (My beklemtoning vir jou doeleindes van hierdie verduideliking).

(En ook:)
(1.2.28.) Siener sê: ‘Dit sal reën die gras sal groen word. Die reën sal wegbly die gras sal plekke witdroog word. Net soos dit dan weer reën, dat die gras groen en mooi is dan breek die oorlog uit. Die parlement sal in sessie wees. Die Duitsers sal met 5 oorlogskepe in Lüderitz land. Dan kom die blou briewe in die parlement in. Eerste blou brief dan begin die moframme (LV’s) rond woel. Tweede blou brief dan spring die moframme rond. Derde blou brief dan spring die moframme uitmekaar. Dan sien oom Klasie die LV’s kom as wilde makoue (haastig) huis toe. As die makoue hier kom sit, dan sit ons op die perde. Daar kom drie siwwe (entjies van mekaar) in die parlement in. As die derde sif verby is dan is daar nog kaf tussen die koring. (My beklemtoning vir jou doeleindes van hierdie verduideliking).
Einde van aanhalings.

Die betekenis van sekere verbandhoudende begrippe lyk so:
(Op bladsy 35 van Wat kom ná Siener?)

Brief, Briewe:
Koppel ook met ‘Letters’. Ons sien dat daar drie verskillende blou briewe van Europa af kom. Hierdie briewe het oënskynlik niks met die baie bekende drie blou kabelgramme te doen nie. Siener het gesê dat daar drie sulke kabelgramme [ultimatums] by die parlement in Kaapstad afgelewer sal word. Dit word egter nie so aangedui in die verhaal nie, maar neem eerder die vorm aan van drie siwwe wat in die Kaap te voorskyn kom [sien by Sif, siwwe]. Dit is egter so dat die briewe asook die drie siwwe in die verhaal almal met die Traktate van 1914 koppel. Die verskil is dat elkeen van hierdie simbole ‘n bepaalde deel van die verhaal op ‘n unieke manier oordra – elkeen beskryf dus dieselfde saak vanuit verskillende hoeke.

Een van die drie briewe is ‘n groen papier met letters op, wat dan verander in ‘n blou doek wat afhang. Die indruk wat ‘n mens kry is dat die hangende doek in die plek van die voordeur van die parlementsgebou in Rustenburg kom hang. Hierdie deur word met ‘n Engelse-Sap kanon uit sy skarniere uitgeskiet, en die blou doek kom hierheen om die gat te kom toemaak sodat die parlement darem nog kan funksioneer. Die doek verwys na mense met blou klere. Die aanvanklike groen kleur van die doek (papier) dui aan dat die Groen Groep iets met hul koms te doen kan hê. Dit koppel baie direk met die derde fase in die Duitse geestelike ontwikkeling, waar die Duitse kleur in suiwer blou verander. Die globale simbool vir die Duitse hulp wat hieruit voortspruit is ‘blou steentjies wat in mense verander’ en dan hierheen kom in die vorm van ‘n blou Duitse haelstorm.

Die tweede een word beskryf as ‘n ‘envelope wat hier uitkom’ en dit vorm deel van ‘n ‘pak papiere wat losgaan’ en dan kom die brief onder uit. Hierdie brief het te doen met ‘vier papierjes’ wat baie belangrik is, want Siener beskryf hulle as ‘besonders’ en dan sê hy ‘die papiertjies is by my’ (die volk). Hulle koppel baie direk met die Traktate van 1914, want die verband waarin hulle optree koppel ook met die Duitse haelstorm wat op pad is. In Europa word daar drie wit vlaggies, wat ook as drie wit papiertjies gesien kan word, by die Engelse garingboom ontplooi. Ons kan dus hieruit aflei dat die Duitse reserwemag in die vorm van vier generaals met hul geveggroep van Lüderitzbaai af na die Unie sal kom.

Die derde brief is ‘n papier wat ooprol en dan kom daar ‘n manspersoon uit. Die opgerolde toestand van die papier verwys na ‘n opgerolde blou vlag wat in Europa uitkom en hierheen mik. Die bron hiervan is ‘n rol ‘jaarterolle’ wat in ‘n leë huis (winkel) in Europa lê. Die manspersoon verwys na genl. Manie Maritz en die blou doek na die haelstorm wat ons vyande gaan tref. Hy was die man wat die Traktate in 1915 na Europa vir veilige bewaring weggebring het, en in die verhaal is hy die man wat die betekenis daarvan weer terugbring. Hier is ‘n lekker soetigheidjie vir die leser, want hierdie blou doek is sommer baie spesiaal. Ons sien dat iemand met ‘n ‘leningstoel’ (leunstoel, letterlik Boere-parlementstoel) aangehardloop kom. Siener (as ‘n deel van die volk) staan met die blou doek in sy hande en dan vlug die vyand kaal weg as gevolg van die Duitse haelstorm wat hulle tref. Hy drapeer dan die blou doek om die stoel, wat beteken dat hy Duitse heerskappy oor hom aanvaar. Ons sal by die drie siwwe hieronder sien dat hy op daardie punt ook Duitse skoene aantrek. Hier moet ons in gedagte hou dat die vyand in Europa verslaan is en dat Duitsland dus daar óók in beheer sal wees. Die lekker hiervan is dat hy op hierdie stadium ‘twee stukke van lint’ ontvang, wat elders in die visioene gedefinieer word as twee stukke bruin Duitse sis. Dit word gebruik om linte van te maak en linte verwys in die simboliek na kolonies. Dit beteken dat die nuwe oorhoofse Duitse regering die huidige RSA en die twee voormalige Duitse kolonies, Duitswes en Duitsoos, plus al die verowerde gebiede tussen-in, in een enkele land sal konsolideer. Hierdie gekonsolideerde Suider-Afrika word aan ons oorgedra. Ons word kort hierna, as die nuwe nasionale leier aangestel word ‘n onafhanklike republiek. Dit beteken dat ons grense alles van Kaappunt tot nét suid van die Soedan (oos en wes, van kus tot kus) sal insluit. Die leser sal nou miskien beter verstaan waarom ek later in die boek nie juis opgewonde kan raak oor ‘n ou klein Volkstaatjie nie. Maar nou ja, heeltemal ironies genoeg ten opsigte van my siening, dit is waar hierdie reuse groot land se beginpunt lê. En ja, ons het niks wat sê dat ons alleen daar gaan bly nie. Siener het inteendeel volgens ene Oupa Krause gesê dat ons en die swartes goeie bure sal word, want ‘ons gee regverdigheid [aan hulle]’ en ook ‘[omdat] die Engelsman nie meer daar is om hulle te verpes nie’. Almal van ons weet tog dat die swart militantheid waarmee ons so sukkel direk aan opswepery te wyte is. Die kanse is dus daar dat ons uiteindelik goeie bure kán word, want die gedwonge saamblyery sedert 1910 het uiteindelik toe ook nie gewerk nie.

Wat die konsolidasie van die gebiede tussen Duitsoos en die RSA betref is ‘n interessante ontwikkeling tans besig om plaas te vind. Dit kan dalk belangrik word ten opsigte van die uiteindelike konsolidasie van die nuwe Suid-Afrika en kan dalk selfs as ‘n soort voorteken van die oorlog dien ook. Ons weet dat die Afrikaleiers poog om ‘n Verenigde State van Afrika op te rig. Dit is een van die redes vir die voortdurende [kunsmatige] verswakking in die Rand se waarde. So ‘n unifikasie noodsaak ‘n eenvormige geldstelsel, maar nou is dit so dat die verskillende geldstelsels tans glad nie op dieselfde vlak is nie. Die probleem is dat geldstelsels met ‘n laer waarde nie summier kunsmatiglik ‘opgelig’ kan word nie. Die enigste manier waarop pariteit bereik kan word is dus om die sterker eenhede se waarde te laat daal tot op ‘n punt waar ‘n gelyke vlak gevind kan word. Die punt is net dat groter Afrika dalk reeds in ‘n staatkundige eenheid saamgevoeg sal wees as Siener se oorlog begin, wat beteken dat die konsolidering daarvan onder ‘Siener se vlag’ ‘n makliker moontlikheid word. [Die vlag wat hy beskryf het is die ou Republiekvlag sonder die klein vlaggies op die wit baan – dit sal dus ‘n suiwer oranje, wit en blou vlag wees.]

(Op bladsy 54 van Wat kom ná Siener?
Sif – Siwwe:
‘n Sif verwys na ‘n veldslag wat plaasvind en ons vind vier verwysings na so ‘n sif in die Unie verhaal. Twee hiervan sê bloot dat ‘n sif in Johannesburg en die Vrystaat na vore kom en dit verwys na twee veldslae waarin ‘n groep bruin karre (bruin basterskape) deur die eerste rooi Engelse bul verslaan word. Die eerste veldslag vind in Johannesburg plaas en die tweede net suid van Vereeniging in die Vrystaat. [Dit is miskien waar die duimsuig storie vandaan kom dat Siener na ‘n petrol fabriek by Sasolburg verwys het. Dit is egter nie waar nie, en SASOL se petrol fabriek by Sasolburg het in elk geval intussen toegemaak en verskuif.] Die derde een verwys na ‘n geel sif wat op ‘n Engelse vrou se kop ‘loop’. Dit is ‘n groep springbokke wat ‘n groepie mofskape (koring) agtervolg nadat die mofskape ‘n tak van die doringboom by Lichtenburg afgekap het. Hierdie groepie vlug al langs die Oranjerivier op tot in die woestyngebied wes van Upington. Hierdie drie verwysings word elders in hierdie boek in meer diepte bespreek en die vierde verwysing na ‘n sif verdien daarom ‘n bietjie meer aandag hier.

Die gang van die verhaal impliseer dat die Duitse vloot van Lüderitzbaai af na Kaapstad gaan nadat hulle die Duitse soldate en oorlogstoerusting afgelaai het, en dat die Duitsers ook daar aan wal gaan. Daar vind dan drie veldslae plaas, wat beskryf word as drie siwwe wat ‘klein entjies bo mekaar uitkom’. Die gebeure word fyner beskryf aan die hand van ‘n vark wat aan ‘n vlagpaal hang en met ‘n slagtersmes ‘gekloof en afgestuk’ word. Sy skoene kry dan nuwe blou oorlere op waarvan die vleiskant van die vel ‘kort uitgewerk’ is. Dit dui natuurlik daarop dat die aanvalle op die vyand in die Kaap baie gefokus en gekonsentreerd sal wees.

Die agtergrond hier is dat die eerste Sap-staatsgreep omgekeer word as twee blou Duitse skimmel perde kom help en die volk dan nuwe Boerevelskoene kry om aan te trek. Die vyand slaan egter wéér toe en dan val die spykertjies uit sy skoene uit en word dit ‘als gesmelte lood’ (smeltkroes). Dit beteken dus dat sool en oorleer geskei word en hy effektiewelik kaalvoet word. Hy word dan gedwing om rooi skoene aan te trek as die vyand hul rooi vlag in Noordwes kom optrek. Die derde golf Duitse hulp kom dan aan en die vark by die huidige nasionale parlement in Kaapstad word afgeslag. Die wit kleur van die vark verander dus na blou, en die stukke vel word dan as blou oorlere op die kaal sole vasgesit. Die volk se rooi skoene word dus vervang met Boerevelskoene wat blou oorlere op het. Dit sluit aan by die blou doek (Duitse haelstorm) wat oor die Boere-parlementstoel gedrapeer word en bevestig op ‘n onafhanklike manier dat die volk op hierdie stadium van die verhaal Duitse regering (heerskappy) oor hulle aanvaar. (Die simbool van ‘n sloop speel ‘n bepaalde rol in hierdie verhaaltjie. Ons sien in die verhaal dat die verweelbroeke by die parlementsgebou in Rustenburg se deur uitgaan op die punt waar die Engelse-Sap kanon op die huis lostrek. Die agterste verweelbroek het ‘n sloop in sy hand waarin twee ‘zwarte spijkers’ is. Die kanon se optrede vorm deel van die optrek van die rooi vlag in Noordwes, wat natuurlik die Boereregering tot niet laat gaan. Dit verwys na die [swart geroeste] skoenspykertjies wat hulle saam met hulle dra, en wat suggestief weer gebruik word om die blou oorlere op die skoensole vas te sit. Die Verweelbroeke verwys na die Sap-rebel se manne; dit is dus regeringsoldate wat tot inkeer kom en onder leiding van hul bevelvoerder by die Konserwatiewes gaan aansluit.)

Die vyand vlug na hierdie veldslae vanaf Kaapstad na Vereeniging in die vorm van geel karre wat deur ‘n hand aangestoot word (Gees van verskrikking) en ook as ‘n geel wiel wat tot op sy naaf in die grond weggesak is. Die Duitsers straf hulle dus baie swaar terwyl hulle vlug.

My korrespondent het soos volg op my antwoord gereageer:

12-05-2008.
Frik,

Ek het nou net vinnig hierdeur gegaan en nie aandagtig kon lees nie. Sal dit nog doen.

Wat my vir eers bekommer is dat die [gemiddelde] leser hier nie genoeg weet om dit te verstaan nie en dit gaan hulle deurmekaar maak en wegjaag.

Ek stel voor ons begin eers by die populêre weergawe soos vertel deur Mussman? en verduidelik waar dit vandaan kom, waar dit skeef loop en hoekom. Almal sien dit as fisiese boodskappe wat in die parlement aankom in die vorm van briewe van Duitsland, die laaste een dan ‘n ultimatum (my beklemtoning om die probleem onder bespreking uit te lig). Ons sal dit eers uit daardie hoek moet herhaal, (Mussman se vertelling) en dan verduidelik. Selfs ek is deurmekaar en weet nie hoeveel is duimsuig en hoeveel korrek nie. Hoop jy verstaan wat ek probeer sê.

Groete
Vriend.

Ek het hom soos volg geantwoord:

Bloemfontein,
12-05-2008.

Dagsê Vriend,

Die drie blou briewe.

Hier is die kern van wat jy vra.

Die drie blou briewe waarna Mussmann en Rossouw hierbo verwys lyk so ‘n bietjie anders in die verhaal, want dit manifesteer uiteindelik as drie siwwe wat in die Kaap optree ([428.02]). Daar is wel drie ‘blou briewe’ in die verhaal, maar dit is slegs die derde blou brief (derde golf Duitse hulp) wat enigiets met die drie siwwe in Kaapstad te doen het. Die briewe in die verhaal (‘golwe’) bestaan uit soldate en toerusting wat by drie verskillende en opeenvolgende geleenthede vanaf Europa na die Unie kom.

Die eerste twee blou briewe in die verhaal koppel nét met Lüderitzbaai en neem die vorm aan van:

(a) ‘n Wit skimmelperd wat vanaf die verre noord-ooste van Europa na die Unie kom. Hy kom help teen die oorname van die konserwatiewe regering tydens die eerste staatsgreep. Hierdie poging is nie suksesvol nie, en die Groen Groep spesifiek word tot in die verre weste verjaag. Hulle bestaan uit twee groepe, en een hiervan word omtrent heeltemal uitgewis deur ‘n vierkantige geel wiel tussen Lichtenburg, Upington en Warmbad in Namibië. Die ander groep kom weer redelik ongeskonde anderkant Upington uit.

(b) Genl. Manie Maritz wat die (betekenis van die ) traktate van 1914 na die Unie terugbring. Dit bestaan uit waens wat deur blou muile getrek word, en wat wapens en manne van Europa af terugbring. Die waens ‘trek’ deur die see en kom by Lüderitzbaai aan wal. Die muile verwys na die donkies wat na Europa gegaan het om daar te gaan help. Hierdie beeld loop skynbaar saam met ‘n groen papier wat blou word en as ‘n gordyndeur in die konserwatiewe parlement kom diens doen. Die voordeur van die parlement by Rustenburg word deur ‘n Sap-Engelse kanon uitgeskiet. Hierdie laaste beeld word aangevul deur mense wat blou klere dra.

(c) Die derde blou brief koppel met Lüderitzbaai en Kaapstad ook, en is ‘n blou doek wat onder andere in die verre weste in ‘n Duitse haelstorm verander. Dit is die Duitse reserwemag wat saam met die skepe na Lüderitzbaai kom. (Die drie siwwe vorm deel van hierdie spesifieke operasie, maar ons sal aanstons by die detail daarvan kom.)

Die visioen waarin die drie siwwe (julle drie blou briewe) voorkom lyk so – let op die gebeure in reëls 428.05 tot 428.07, want dit vind plaas in die omgewing van Rustenburg-Pretoria terwyl die drie Duitse siwwe reeds in Kaapstad begin optree het (en terwyl die Duitsers, in die vorm van vier papiertjies, ook vanaf Lüderitzbaai se kant af na Noordwes begin beweeg het). Daar gebeur baie dinge gelyktydig op ‘n hele paar plekke op hierdie stadium, en dit dra outomaties by tot die verwarring rondom die visioenêre verhaal.

[428.01 18/05/19] Die Engelse vlag kom my hoog in die gesicht als een zonneskerm.
[428.02 18/05/19] Toe raak die zonneskerm weg en die paal maar net pennen bly staan in die grond.
[428.03 18/05/19] In die Kaap is drie siwwe op mekaar (een eindje bo mekaar)
[428.05 18/05/19] Toe is aan die Noord Ooste kant een zak met koren, maar daar is nog kaf tussen in,
[428.06 18/05/19] en toe die koren weg raak is daar een hand en ek kyk in die holte van die hand.
[428.07 18/05/19] Toe die hand weg raak was dit net zo als een slag wat in my kop slaan. (van een geweer).

Agtergrond:
Die Duitse vloot wat Lüderitzbaai toe kom (die derde golf Duitse hulp) laai die blou haelstorm (blou doek) by Lüderitz af. Hierdie doek bestaan uit mannekrag en toerusting wat as vier papiertjies aangedui word. Die skepe vaar dan verder na Kaapstad, waar drie verdere militêre groepe aan wal gaan. Hierdie drie eenhede neem in die omgewing van Kaapstad aan drie opeenvolgende veldslae (siwwe) deel. Ek dink ons moet hier darem so ‘n bietjie wyer dink as nét Kaapstad se hawe – vir al wat ons weet kan die offensief dalk al iewers tussen Saldanha en Kaapstad begin. Hulle slag uiteindelik ‘n wit vark af tydens die derde sif se deurgang. Die wit vark, wat die kapitalis voorstel, maar ook ‘n simbool vir die Europa Regering en die Statebond is, hang daar aan ‘n (vlag) paal, en dit is hierdie spesifieke gebeure wat die parlement uiteindelik uitmekaar laat spat. Hulle vlug dan as geel karre tot by Vereeniging terwyl ‘n hand hulle aanstoot – dit is die Gees van verskrikking, oftewel die Duitsers, wat hulle agtervolg. Die wit vel van die vark verander dan suggestief in blou, omdat die Duitsers die vark oorwin. Die vleiskant van die vel word afgekloof en afgestuk, en die blou varkvel word dan gebruik om nuwe blou oorlere vir sy kaal skoensole te maak.

Die Sap-Engelse kanon wat die parlementsgebou in Rustenburg stukkend skiet veroorsaak dat die spykertjies uit sy Boerevelskoene uitval en die bolere daarvan ‘verdwyn’. Hy is dus kaalvoet (sonder regering) en hy word dan gedwing om rooi skoene aan te trek (smeltkroes, rooi vlag, tweede Sap-Engelse staatsgreep in Noordwes). Die nuwe blou oorlere wat in die Kaap ‘geproduseer’ word, word dan gebruik om nuwe skoene met die ou Boeresole te maak.

Die verhaaltjie van die nuwe blou skoene (Duitse regering oor ons volk) loop saam met die verhaaltjie van die derde blou brief (blou Duitse haelstorm). Hierdie brief is ‘n blou doek wat ‘n deel van die volk oor ‘n Boere-parlement soel (leierstoel) drapeer sodat die Duitse opperbevelvoerder suggestief as leier daarop kan gaan sit. Let mooi op hier: die nuwe blou Duitse skoene (regering) en die blou Duitse vlag (regering) oor die Boere-parlementstoel is gesamentlik die produk van die werkinge van die vier papiertjies in die noordweste, plus die optrede van drie ander Duitse militêre eenhede by Kaapstad. Hierdie sewe militêre eenhede IS die derde golf Duitse hulp wat hierheen kom – dit word bloot, oppervlakkig gesien, aangedui as ‘n blou doek wat met ‘n blou haelstorm koppel (boem, en klaar!). ‘n Mens onderskei eers die fyn detail van hierdie gebeure as jy die verskillende verhaaltjies uitgesorteer en langsmekaar geplaas het. Dit is byvoorbeeld belangrik om hier te verstaan dat die rooi staatsgreep albei die twee nuwe republieke wéér deel sal maak van die groter RSA. en enigiets wat daardie parlement beïnvloed sal die twee Volkstate dus ook intiem raak. Die Duitse offensief wat uiteindelik vir ons die finale en standhoudende vryheid bring kom van twee verskillende kante af – Lüderitzbaai én Kaapstad.

Die verhaal van die drie siwwe in sy visioenêre vorm:
[425.02 09/05/19] In die Kaap is een paal en een slachter mes kloof en stuk af.
[599×01 25/07/23] Hier kom ‘n onbekende papier uit so als ‘n envelope, die gaan oop en daar kom ‘n papier uit met letters daarop.
[599×02 25/07/23] Toe lê nuwe gesnyde oorlere op mekaar wat die vleiskant kort uitgewerk is.
[562.01 04/08/22] Ek staan en my velskoen kom ‘n nuwe oorleer oor en ek het ‘n baie mooi pak klere aan.
[118.02 10/12/15] Hij heeft zijn nuwe Duitse skoene aan.
[118.05 10/12/15] Een groot klomp vroumense wat zoo deur een groot hek kom by Wolmaransstad.
**Let hier fyn op hoe die verskillende stelle gebeure bymekaar kom: Die Duitse rooi-bles bul, wat ook saam met die skepe na Duitswes kom, het so pas die vyandelike draadheining by Wolmaransstad met ‘n silwer tang oopgeknip sodat die vrouens na Prieska kan ontsnap. (Silwer is die ‘kleur’ van weerlig, oftewel Goddelike ingryping in die verhaal. Hierdie kleur word baie direk nét met Duitsland geassosieer, en is ‘n uiters goeie en positiewe simbool vir ons.) Hierdie bul trek voor die ander Duitsers uit vanaf Lüderitzbaai na Kimberley. Die volk trek egter die Duitse skoene aan op ‘n ander plek – waarskynlik iewers tussen Lüderitzbaai en miskien Upington, maar dan nog steeds op dieselfde tydstip as wat die wit vark in Kaapstad afgeslag word. Die res van die volk stroom nog steeds na Prieska in hul nuwe wit klere (algemene verootmoediging en herlewing in volksverband).

Ek is mal oor Angus Buchan se werk, want dit IS die begin van ons volk se ware en werklike herlewing en ons kan net eenvoudig nie wen sonder dit nie. Die kerkgenootskappe probeer ook ‘n herlewing van die grond af kry, hulle probeer dit al vir dekades lank, maar daar is geen manier hoe die kerke enige standhoudende herlewing kán bewerkstellig nie. Daar is ongelukkig net té veel dogma en té veel geraamtes in die kas betrokke by hul onderskeie pogings. En gaan dink asseblief baie mooi oor wat ek nou net hier gesê het voordat jy reageer, want ek glo die absolute (huidige) kern van die Wit Groep is juis daardie mense wat nou by Buchan se byeenkomste uitslaan. Ek was by ‘n hele paar sulke ‘herlewingsreekse’ in my tyd gewees, en van al daardie mense wat met groot vertoon in die openbaar ’tot verootmoediging’ gekom het, het baie min oorgebly – Buchan se byeenkomste word daarenteen net al hoe groter!

Die uitkoms van die drie veldslae in Kaapstad:
[428.03 18/05/19] In die Kaap is drie siwwe op mekaar (een eindje bo mekaar)
(D.w.s. die aanslae volg kort opmekaar.)
[398.01 20/12/18] In die Kaap kolonie gaan die karre naar die Ooste en een hand die stoot hulle aan, ‘n ou geel wiel die rol op sy naaf achter hulle aan.
[BM05] Die wêreld hier by ons is omgeploeg. ‘n Slang lê oor die omgeploegde grond. Hy sien nie die slang se kop en ook nie sy stert nie. Die slang vlug uit Rhodesië, by Mafeking draai hy na Vereniging. By Vereniging rol hy hom op. Die plek waar die slang lê word hol soos ‘n put.
[BM06] In die Kaap begin ‘n ou wa wiel rol. Die wiel slinger eers, dan val daar ‘n ou velling en ‘n ou speek uit. Die wiel word nuut en rol reguit. Die wiel gaan lê by Vereniging by die slang.

Die tersaaklike visioene rondom die haelstorm lyk so:
Die oorspronklike leierstoel in die verhaal word eerste aangetoon:
[017.01 19/01/15] ‘n Man sit op ‘n geel stoel, om hom is ‘n bruin seil, langs hom lê ‘n Bybel.

Hierdie politieke groep mense kry ‘n lelike pak slae en hulle vlug met die stoel.
[171.04 16/02/16] Die een wat met die leuningstoel hardloop.

Die mense hieronder wat kaal wegvlug is die vyand wat voor die (Duitse) haelstorm probeer uithardloop.
[090.01 06/11/15] Ek sien ek het ‘n blou doek in my hande en toe vlug die mense kaal weg.
[089×02 04/11/15] Ek hang die doek oor die stoel.
[069.02 10/10/15] Die stoel met die blou doek om.
Die Boere-parlementstoel word dus met die Duitse vlag bedek, wat, saam met die blou Duitse skoene dit duidelik stel dat minstens ‘n deel van die volk (tydelike) Duitse regering oor hulle aanvaar.

Hoop dit help.
Groete,
Frik Pretorius.

Ek het bostaande nog dieselfde dag aangevul:

Bloemfontein,
12-05-2008.

Hallo Ou Maat,

Hierdie skrywe is aanvullend tot dit wat jy aangevra het.
(NOTA: ‘n Deel hiervan het telefonies geskied en kan dus nie woord vir woord hier herhaal word nie.)

Verdere opmerkings:
Kom ons kry sommer ook die horlosie reg hier en sinchroniseer die opeenvolgende groepe gebeure met mekaar. Dit is baie basies, maar dit kan dalk help. Plaas die verhaal eers vir jouself onder mekaar in vyf blokke. Die eerste blok handel oor die verkiesing. Die tweede blok gaan oor die eerste (swart) staatsgreep. Die derde blok beskryf die teenaanval wat die staatsgreep omkeer. Die vierde blok handel oor die tweede (rooi) staatsgreep, en die vyfde blok oor die Duitse hulp wat dan instroom en die vyand finaal vernietig. Die derde blou brief (Duitse golf) van die verhaal tree in die vyfde blok op, en bestaan uit vier papiertjies (vanaf Lüderitzbaai) en drie siwwe( vanaf Kaapstad).
Ek wil nie te ver afwyk nie, maar daar is veral een begrip hier wat ‘n verdere verduideliking vra:

‘… net sodra die gras weer mooi groen word vir die tweede maal, … ‘

Jy moet in die eerste plek verstaan dat die gras wat so droog word na die immer broeiende broedertwis tussen die konserwatiewe politieke faksies in Noordwes verwys. Hierdie twis strek wyer as bloot net wrywing tussen die Blou en Groen Groepe, want die Groen Groep bestaan op sigselwers uit minstens drie verskillende faksies (drie Boere op ‘n platform, waarvan een onder druk van die Duitsers as leier aangestel word). Die reën wat val verwys na die begrip ‘genade van Bowe’, en in die praktyk neem dit die vorm aan van Duitse hulp wat hierheen kom. Dit bring mee, en die Duitsers dwing hulle eintlik om dit so te doen, dat die interne probleme tydelik eenkant toe geskuif word. Dit is seker nie nou ter sprake nie, maar die Duitsers sorg in elk geval dat hul keuse tydens ‘n tussentydse verkiesing in die veld vir die leierskap aangestel word! Dit werk egter nie uit nie, en die onmin vlam weer op as hulle onder druk kom, en hulle skiet op ‘n stadium selfs op mekaar in ‘n diep kloof. Ons moet ook nie die listige werk van iemand soos genl. Louis Botha hier miskyk nie – hy tree volgens alle aanduidinge hier op as ‘n agent provocateur wat die Boere tot ‘n leierskaptwis aanspoor. Die twee konserwatiewe politieke groepe (Blou en Groen) gaan kort hierna heeltemal ten gronde, en die Wit Groep tree dan na vore as die rentmeesters en beërwers van die toekoms en die Nuwe (Godbedoelde) Suider-Afrika. Die baie stories oor die sogenaamde ‘nuwe Suid-Afrika’ wat ons ná 1994 gehoor het is soveel bog, want dit kom nie van God Almagtig af nie – dit was ‘n poging van die satan om sekere Bybelse profesieë vir sy eie doeleindes te skaak. Dank die liewe Heer dat interne politiek as ‘n verskynsel heeltemal uit ons volkslewe gaan verdwyn! Dank die liewe Heer verder ook dat die satan se ‘hijack-poging’ duidelik klaaglik misluk het – ons beleef juis die laaste stuiptrekkings daarvan in hierdie dae waarin ons leef.

Die gras wat in die aanhaling hierbo vir die ‘tweede maal’ groen word verwys na die tydperk tussen die twee Sap-Engelse staatsgrepe in Noordwes. Onthou hier dat die eerste staatsgreep direk na die verkiesing plaasvind en dat dit meebring dat hy swart skoene kry om aan te trek. Dit het niks met ‘n swart regering as sulks te doen nie, maar is verteenwoordigend van die dreigende en somber atmosfeer wat op daardie stadium heers. Die oorheersende kleur tydens hierdie fase is die kleur van sataniese swart en dit dui op agteraf optrede (onthou dat die verhaal ‘n komplot teen ons en Duitsland aan die lig bring). Alles is swart afgebrand in Europa én die Unie. Die wolke (eksterne bedreiging vir die sonlig van vryheid) is swart. Tot die vyand se klere en toerusting is óók swart, want die Sap-rebel ry byvoorbeeld op ‘n swart perd. Jan Smuts verander van ‘n wit perd na ‘n swart-bont perd, en so meer.

Die Duitsers kom help dan in die vorm van twee donkerblou-skimmel perde (ook wit sambreel) en die eerste staatsgreep word omvêr gewerp. Die volk in Noordwes kry dan nuwe Boerevelskoene om aan te trek. (Ek wil hier sommer ook die praktiese ‘redes’ verduidelik vir die blou Duitse skoene wat die volk later aantrek. Hulle aanvaar Duitse heerskappy oor hulle omdat die interne politieke proses nie die ding kon doen nie. So sien ons dat die leierskapstryd binne hierdie twee groepe die vryheid by twee geleenthede tot niet laat gaan. Die tweede rede hiervoor is dat daar op hierdie stadium in elk geval geen sprake van ‘interne politieke leierskap’ meer is nie. Die twee konserwatiewe politieke partye het reeds ten gronde gegaan, en almal dra op daardie stadium wit klere – tot die Duitse reserwemag is wit aangetrek. Die Wit Groep is op sigselwers op hierdie stadium nog geen georganiseerde groep nie, maar bestaan bloot uit die Christusgelowige blankes wat oorgebly het – ons kan hieraan dink in terme van mense wat van oraloor na Prieska stroom om die oorlogsgeweld te ontvlug. Hulle stel eers dan die nuwe nasionale leier daar aan, en dan verander hulle outomaties in ‘n georganiseerde volk. Die Jan Pretorius in die verhaal en die man in die bruin pak klere (die Sap-rebel in sy fluweelbaadjie) dien bloot as tussentydse ‘leiers’ wat die oorblywende deel van die volk (Wit Groep) na Prieska begelei. Hulle loop ‘weerskante’ van die volk, een aan die Johannesburg-Vrystaat kant en die ander een hoër op in die ou Transvaal. Hulle word op hierdie punt ook voorgestel as twee vosperde wat saam die ‘staatskar’ na die Weste trek. Die Wit Groep is dus per definisie nie regtig leierloos nie, maar hulle organiseer eers in ‘n staatkundige eenheid by Prieska nadat almal daar bymekaar gekom het.

Die eerste Sap-Engelse staatsgreep word baie vinnig opgevolg met ‘n tweede een. Hierdie word beskryf as die optrek van die rooi vlag (rooi regering) en die vervanging van sy Boerevelskoene met rooi skoene (regering). Die vyand word op hierdie stadium voorgestel as rooi bulle, rooi beeste en ‘n rooi koei. Hy verloor sy Boerevelskoene omdat die spykertjies uit die sole uitval en die bo-lere ‘verdwyn’. Die wrede werklikheid van die smeltkroes, wat in hierdie tydperk afspeel, word onder andere deur hierdie skoenspykertjies uitgebeeld:
[317×02 15/12/17] In die Noorde in die Unie is nieuw veld skoene die spykertjies val uit die veldskoene op ‘n hoop en toe is dit als gesmelte lood.

Die drie blou briewe, soos Boy Mussmann en dr. Rossouw daarna verwys, tree tydens hierdie stadium na vore. Ek wil op hierdie punt daarop wys dat daar nie werklik enige botsings in Mussmann en Rossouw se verduideliking en die verhaal plaasvind nie. Die probleem hier is eerder dat Siener (en daarom Mussmann-hulle ook) bloot oor groot stukke detail-inligting ‘gespring’ het – Siener het oor die algemeen maar net die hoogtepunte van ‘n lang reeks gebeure beskryf in sy vertellinge. Die verwarring oor die presiese betekenis hiervan vind plaas omdat ons mense nog nie die volle verhaal verstaan nie. Mussmann het egter wel ‘n fout gemaak met die presiese aard van die drie briewe, en juis dit is verantwoordelik vir die vreeslike verwarring rondom hierdie briewe. Ons kom maar eers later agter, nadat ons die verhaal in sy volle strekwydte en diepgang begin verstaan, dat die gang van die verhaal ‘n duidelike onderskeid tref tussen die verskillende simbole onder bespreking hier. Ons kan minstens vyf verhaaltjies onderskei waarin hierdie siwwe en briewe afsonderlik voorkom, maar waarin elkeen dan ook binne sy korrekte konteks geplaas word. Ek het reeds uitgewys dat daar vier papiertjies in die Noordweste optree in dieselfde tydgleuf as die drie siwwe in Kaapstad. ‘n Sif verwys na ‘n militêre veldslag, en daar sal dus drie Duitse militêre eenhede in volgorde na mekaar aan drie veldslae deelneem (ek het in die nuwe boek aangedui hoe groot die verskillende gevegsgroepe moontlik kan wees). Ek noem dit bloot ‘drie siwwe’ by gebrek aan ‘n alternatiewe beskrywende naam in die visioene. Die vyand in Kaapstad vlug dan voor hierdie spesifieke Duitse invalsmag uit na Vereeniging. Ek wil, net vir die interessantheid daarvan, aan jou uitwys waar die begrip ‘papiertjies’ sy herkoms vind. In Europa verwys so ‘n papiertjie na ‘n generaal met sy gevegsgroep, en ons kan hierdie betekenis net so oordra na die Unie verhaal toe. Die papiertjies is besonders as gevolg van die doel en funksie daarvan. Die drie Duitse gevegsgroepe in die Kaap word as siwwe aangedui om hul optrede van dié van die vier papiertjies in die Noordweste te onderskei. Hoe gaan ons anders weet presies watter van die twee groepe doen wat waar? (Jy verstaan natuurlik dat daar ook ‘n tweede Duitse vloot saam met die een by Lüderitzbaai en Kaapstad optree. Hierdie tweede een vaar óm die Kaap na Noord-Afrika, en die troepe op hierdie skepe gaan by die voormalige Duitsoos aan wal. Siener het toe nog nie geweet van die huidige Tanzanië nie – dit was nog bekend as Duitsoos). Die vyand in Duitsoos vlug dan na Johannesburg, en daarvandaan na Bloemfontein, in die vorm van wit beeste en wit bokke. Die wit beeste kom nie weer na vore nie, maar die wit bokke wel. ‘n Klomp van hulle loop vanaf Bloemfontein weg en gaan sluit as sybokke by ons mense aan op ‘die Marokkaanse Rante’ in die noordweste van die land. Ek weet nie presies waar dit is nie, maar ek vermoed dit moet in die omgewing van Vryburg wees. Maar dit net so terloops.)

Laat weet as jy nog probleme ondervind. En nee, jy en Israeliet is nie lastig nie! Ek wil baie, baie graag hê julle moet presies verstaan, want julle gaan hopelik met ander mense hieroor praat ook. Ek kan onmoontlik nie by almal in die land uitkom nie, maar as genoeg ander mense dieselfde as julle begin doen sal die Waarheid wel gou genoeg landwyd deursyfer. Dit is ongelukkig so dat die ‘politieke diere’, die hardekwas en keiharde beterweters regs én links, dit nie gaan maak nie – nie omdat hulle nié gehoor het nie, maar omdat hulle nie wóú hoor nie. Hulle wil nie eers stop en minstens luister ook nie. Dit is ongelukkig die prys wat ‘n mens vir dogmatiese hardkoppigheid moet betaal, en miskien is ons uiteindelik beter af sonder hulle. Ek was al in te veel vrugtelose debatte en argumente betrokke oor hierdie dinge om my nog verder daarmee te wil bemoei. Ek sal aanhou om met mense hieroor te praat, en dan met volle oorgawe ook, maar verdomp of ek verder gaan sukkel om enigiemand te oortuig van iets wat hy of sy telkens op ‘n minagtende wyse eenkant toe stoot. Genoeg is genoeg, want my Koning en Sy Gees, my Opdraggewer en direkte Baas, word erg beledig daardeur. Nou, ek hoef seker nie te probeer om Hom en Sy Eer teen ‘n klomp kleingelowige verloorders te wil beskerm nie, sjoe!, maar ek kan hierdie houding van hulle nie meer verwerk nie. Laat hulle dan maar hul eie koppe volg en aanhou om blindweg agter hul goedkoop leiertjies aan te verdwaal. Ons is regtig beter af sonder hulle.

Groete,
FH
—————————————————————————-
Van my korrespondent af – hy klankbord hier teen my, en ek sluit my antwoorde hierby in. Ek het sy e-pos gebruik om my kommentaar by te sit en vir hom terug te stuur. Hier was egter ‘n oorvleueling in terme van briewe gestuur en ontvang met telefoongesprekke tussen in, en dit kan daarom dalk as so effens deurmekaar voorkom.

14-05-2008,
Frik,
As dit jou plan is om my te forseer om vir myself te dink, dit werk. Ek het nou weer deur die twee mails gewerk om te probeer verstaan wat aangaan. Nie suksesvol nie, maar ek kom agter ek begin darem dink. En as mens begin dink, dan kom die vrae.
Ek gaan die vrae wat ek sovêr het hier lys met die antwoord wat ek vermoed. Jy kan my dan reghelp.

VRAAG 1.
Waarom verkompliseer Frik die blou briewe storie deur die siwwe in te bring in die antwoord?
Op ’n manier (wat ek nie verstaan nie) skep Mussmann die verkeerde indruk oor die blou briewe. Ek weet nie wat hierdie verkeerde indruk is nie. Wat ek aflei is dat die blou briewe nie die werk doen nie terwyl die indruk geskep word dat dit doen. Die siwwe doen die werk. Die blou briewe is slegs ‘n tyds aanduiding en is in die vorm van nuus. Nuus van Duitse magte wat in Lüderitz aankom. Die Duitsers kom in drie golwe. Vandaar die drie briewe. Die laaste golf is vyf skepe plus ‘n vliegkamp skip. Hoe lank is n ‘sessie’ of sitting van die parlement? Hierdie drie golwe Duitsers kom in een sessie. Weereens ‘n tyds aanduiding. So ons kan weet watter tyd van die jaar en oor hoe lang tydperk dit versprei is. (Ek ken nie die antwoord op beide) Dit is die drie siwwe wat op die drie briewe volg wat die parlement so laat skrik en uitmekaar laat spat. Elke brief word binne n kort rukkie opgevolg met n sif of veldslag in die Kaap.

ANTWOORD:
Stadig nou eers. Die drie briewe, soos julle dit verstaan, en die drie siwwe waarvan ek praat is glad nie dieselfde ding nie. Die drie blou briewe bestaan uit briewe (‘papiere’, ‘envelope’) wat blyk drie blou doeke (vlae) te wees, en hulle kom in opeenvolgende volgorde hierheen. Dit is drie baie groot strominge in die verhaal hierdie, want hulle koppel direk met die drie golwe Duitse hulp wat na mekaar hierheen kom.

(a) Die eerste golf kom feitlik onmiddellik nadat die Sappe die eerste staatsgreep probeer uitvoer. Die meer bekende simbool in my boeke hiervoor is ‘n wit skimmelperd wat na die suide ry. Hierdie simbool tree in die Unie op as twee mausers, en veral ook as ‘n Duitse motorkar waarmee die Groen Groep hul skerp handbyltjie na Lichtenburg vervoer. Hierdie poging misluk egter, en dan moet die Boere en Duitsers vlug. Hulle word in die baie verre Weste deur die twee blou skimmelperde ‘opgetel’ en bymekaargemaak.

(b) Die tweede golf bestaan uit twee donkerblou skimmelperde (wit sambreel). Hierdie twee generaals kom help om die EERSTE Sap-Engelse (swart) staatsgreep omvêr te werp en die konserwatiewe regering in Noordwes te herstel. Die wit sambreel verdryf die vyand na Pretoria, waar die VVO-vredesberaad dan plaasvind. Die vyand gebruik dit egter as ‘n rookskerm om onverwags toe te slaan en ‘n tweede (rooi) staatsgreep uit te voer. Die smeltkroes speel tydens hierdie gebeure af.

(c) Die derde papier (doek) bestaan uit die Duitse reserwemag. Dit is hulle wat aan die einde van die verhaal met die skepe na Lüderitzbaai kom, en wel in die vorm van vier papiertjies, oftewel militêre groeperinge, d.w.s. vier generaals met hul troepe. Die drie siwwe is drie verdere militêre groepe wat NIE by Lüderitzbaai aan wal gaan nie, maar wat saam met die Duitse skepe vanaf Lüderitz na Kaapstad gaan. Dit is hulle wat die wit vark in Kaapstad afslag. Hierdie DERDE blou golf keer die TWEEDE staatsgreep om en verpletter die vyand daarna by Vereeniging en uiteindelik Durban.

Hierdie derde golf kom gee aan ons die finale vryheid wat Vader aan ons belowe het – en dit kom ook in die fyn detail in die Bybelverhaal voor. (Moenie my nou vra om al die Skrifverwysings hiervoor aan te stuur nie, want ek het nie eers almal nie – dit is dinge wat ek maar so in die verbygaan opgetel het toe ek met die eerste boek besig was.)

VRAAG 2.
As die vyf plus een skepe dan die laaste golf is, in watter vorm kom die eerste twee?

ANTWOORD:
Die eerste is twee wit skimmelperde en die tweede is twee donkerblou skimmelperde.

VRAAG 3.
Dit is nie net die parlement wat die skrik op die lyf gejaag word deur die blou briewe of nuus en veldslae nie. Almal begin nou vlug. Die slang uit Rhodesië, die springbokke koets, koets uit SWA en iemand vlug uit Duits oos (Ek het al weer vergeet waar is Duits oos!) En almal kom in Vereeniging bymekaar.

ANTWOORD:
Ja, dit is reg, wat ook die feit bewys dat die vier papiertjies in die noordweste, die drie siwwe in die Kaap, asook die tweede Duitse vloot in Duitsoos almal in dieselfde tydgleuf saamwerk om die vyand plat te slaan. Almal van hulle kom uiteindelik by Vereeniging bymekaar. Duitsoos was waar Tanzanië vandag is. Dit lê direk suid van die Sudan, en ons grense skuif op tot daar, maar dwarsoor Afrika, van Ooskus tot Weskus.

VRAAG 4.
Ek verstaan nie die aksies van die Duitse vloot nie.
Klink of hulle stop by Lüderitz net om magte en toerusting af te laai. Maar nie alles nie. Hulle gaan dan om na Kaap punt en laai die res van magte en toerusting af, en bly dan daar. Dit is hierdie magte in die Kaap wat dan as die siwwe optree. Siwwe is nie eenhede nie, maar veldslae. Die veldslae is gesinchroniseer met die aankoms van die blou briewe en volg elke keer kort op n blou brief. (NEE, dit is nie noodwendig so nie. Die indruk wat ek het is dat hulle gelyk aan wal gaan, maar op drie verskillende plekke – hulle slaan gelyk toe op drie verkillende plekke aan die Kaap.)

Die veldslae is wat die parlement en ander so laat skrik en nie soseer die blou briewe nie. Ons het gesien die Duitsers kom in drie golwe. Stop by Lüderitz, doen hul ding, kom Kaap toe en stuur magte in wat n sif veroorsaak. Sien vraag 2.

ANTWOORD:
Jy is heeltemal reg, maar jy vergeet van die tweede vloot wat om die Kaap na Duitsoos opvaar. Daardie groep Duitsers gaan daar ook aan wal en die vyand daar vlug ook na Vereeniging. Maar hier is ook ‘n vangplek weggesteek. Die wit bokke vlug eers na Johannesburg, en daarvandaan na Bloemfontein – hulle word deur die optrede van die Engelse rebel by Johannesburg verjaag en vlug dan tot by die Sappe se HK in Bloemfontein. Die sybokke wat hierna by ons aansluit bestaan uit wit bokke wat tot inkeer kom en van Bloemfontein af wegloop om by ons te gaan aansluit.

VRAAG 5.
‘n Ander vraag, wat jy my gister bewus van gemaak het, is wie is die regering van die land en sit in die parlement. Ons het die twee volkstate, die huidige regering het inmekaar gesak. Wie bly oor?
Ek vermoed dit is n regering daargestel deur die ‘wêreld’ en bestaan uit manne soos FW en sy trawante. Maar die ‘wêreld’ is op daardie stadium in ‘n oorlog gewikkel, so dit moet Engeland en Frankryk wees wat die kitaar slaan en die ouens aan bewind van die res van SA sit.

ANTWOORD:
‘n Bietjie moeiliker om te antwoord sonder om ‘n geweegde mening te waag ook. Ek vermoed dit gaan nog steeds die ANC wees, maar darem met so ietwat van ‘n ander houding. Kyk, hulle is die nasionale regering en die kanse dat die party gaan verdwyn is sekerlik baie skraal. Die enigste twee praktiese maniere waarop dit kan gebeur is as al die swartes gelyk doodgaan, in welke geval die DA outomaties die nuwe nasionale regering sal vorm, óf as die DA of selfs die VF+ ‘n staatsgreep uitvoer. Ek kan nie dink dat enige van hierdie moontlikhede hoegenaamd moontlik is nie. Die vyand in Engeland, wat regtig die politieke toneel agter die skerms in hierdie land beheer, sal eerder die ANC gebruik om hul doelwitte te bereik. Die Mbeki-regering gaan beslis platval, en eintlik het dit reeds gebeur, maar daar is ‘n groot verskil in aanslag tussen hom en Zuma – wat die mees moontlike volgende nasionale leier sal wees. Die regeringsleier is eintlik niks meer as ‘n baie senior amptenaar in die ANC-koukus nie, want hy moet doen wat die ANC-hoofbestuur aan hom voorskryf. Dit is hoekom Mbeki so gou probleme met Cosatu opgetel het – sy GEAR-program het hulle sosialistiese idees gekompromitteer. Ek dink Engeland en die Broederbond sal egter hul vinger al hoe meer openlik in die pastei begin indruk, en uiteindelik sal die Volkstaat gedagte weer openlik na vore kom. Engeland se regering sal dit natuurlik ondersteun, en die basis hiervan sal waarskynlik via die internasionale ‘liberale-alliansie’ kom wat ek gister onder julle aandag gebring het. Onlangse koerantartikels wil dit in elk geval hê dat die skrif ook reeds vir Zuma aan die muur is, en dat hy ook nie lank sal hou as hy natuurlik hoegenaamd aan bewind gaan kom. Ek dink hy het reeds ‘n redelike pyn in die nek vir die ANC-koukus begin word, want hulle gaan nie hul sosiale doelwitte bereik solank hy in die prentjie is nie. Daar is net te veel onmin rondom hom en hy verdeel eerder as wat hy bymekaarbring. Politiek bly politiek, maak nie saak wie dit bedryf nie, en die praktiese werklikheid, soos ek dit sien, is dat die situasie uiteindelik die ANC se uitvoerende komitee gaan dwing om die ‘beste man’ aan te stel. En dit is, volgens ál die geloofwaardige kommentare, beslis nie Zuma op hierdie stadium nie.

VRAAG 6.
Vier papiertjies. Dit is Generaals met hul eenhede en tree op vanaf Lüderitz en jaag die springbokke op loop. Hoe werk hul sinchronisasie m.b.t. die blou briewe, drie golwe. Waarom is daar vier en nie drie nie? Of werk hulle as die siwwe in die Kaap?

ANTWOORD:
Die papiertjies verwys na militêre eenhede, en die grootte kan wissel van brigades tot en met divisies – ek weet net nie hoeveel manne jy gelyktydig op vyf vragskepe en ‘n vliegdekskip kan kry nie. Ek kan nogal dink dat dit minstens SEWE brigades plus hulptroepe kan wees. Die drie siwwe is streng gesproke óók papiertjies, maar die simboliek onderskei op hierdie manier tussen die eenhede wat vanaf Lüderitzbaai en Kaapstad optree. (Ons kan dit vergelyk met die feit dat die Bruin Groep uit twee groepe bestaan. Die Groen Groep word aangedui as Mofskape om hul optrede van dié van die Blou Groep te onderskei – die Blou Groep word as Bruin Baster (Mof)skape aangedui.)

VRAAG 7.
Twee skimmel blou perde kom gooi die eerste staatsgreep omvêr. Dit is dus die eerste Duitsers wat arriveer. Hulle kan nie deel wees van die drie golwe nie. So wanneer en hoe kom hulle hier aan? Dit moet lank voor die blou briewe wees?

ANTWOORD:
Nee. Die twee perde is die tweede golf wat hier aankom. Die drie blou briewe waarvan julle praat, wat die drie siwwe is waarvan ek praat, vorm deel van die DERDE GOLF Duitse hulp. Die eerste twee golwe is ‘los’ militêre eenhede wat hier kom optree, terwyl die derde golf heeltemal en uitsluitlik uit die Duitse reserwemag bestaan – dit is hul ekwivalent van ons eie ou NDP-stelsel, d.w.s. hul Burgermag komponent. Hierdie totale mag, soos hulle van Europa af vertrek, bestaan uit vier eenhede (papiertjies) wat in Lüderitz aan wal gaan, terwyl die drie oorblywende eenhede (siwwe) in Kaapstad afklim – sewe militêre eenhede dus. Ek verbeel my ek het iewers in Raath se werk gelees dat Siener na ‘n sekere aantal kanonne verwys het wat met die skepe hierheen sal kom. Ek kan ongelukkig nie onthou presies hoeveel dit was nie, maar dit is in beginsel dieselfde as die vier papiertjies wat by Lüderitzbaai ontskeep word.

Jy sien, die probleem is dat Siener nie die visioenêre verhaal in sy volledige strekwydte en sy volledige diepte aan ons verduidelik het nie. Hy het bloot die hoogtepunte daarvan oorvertel en dit laat ongelukkig baie ruimte vir allerhande waninterpretasies. Ek beskou myself as ‘n baie gelukkige en geseënde mens omdat ek toegelaat is om hierdie dieptes en die stringe verskuilde hoekies in die visioenêre verhaal te kon raaksien en uit te pluis. Ek weet nie hoekom juis ek nie, maar jy kan aanvaar dat ek Vader oneindig dankbaar is hiervoor.

Hoop dit help.

Groete,
Frik Pretorius.

Verdere korrespondensie:

Bloemfontein,
14-05-2008.

Hallo Maat,

Verder tot die drie blou briewe:

My antwoord was afgestem op die praktiese voorkomste in die visioenêre verhaal. Op grond hiervan het Boy Mussmann baie beslis ‘n fout gemaak hiermee. Dit kan wees omdat hy verkeerd gehoor en verstaan het, maar natuurlik ook omdat Siener sélf ‘n fout gemaak het. Ons moet sy menslikheid darem ook in ag neem hier, en ek het daarom op bladsy 40 van Wat is die Waarheid? ook na hierdie soort ding verwys.

Kom ons dink ‘n bietjie dieper hieroor. Prakties gesien kan dit nie die drie briewe wees wat by die parlement in Kaapstad ingaan nie, want die enigste direkte konneksie wat ons in die visioene hiermee het is die drie siwwe wat daar optree. ‘n Sif verwys uit en uit na ‘n militêre veldslag en ons kan dit tog nie summier wil gelykstel aan enige vorm van diplomatieke korrespondensie nie, of hoe? Ek dink egter ons kan aanvaar dat daar wel ‘n vooraf diplomatieke poging van die een of ander aard sal wees om ‘n oorlog te vermy vóórdat die Duitsers toeslaan. Daar sal noodwendig ‘n soort korrespondensie van die kant van die Duitsers af na die parlement in Kaapstad uitgaan, want dit werk maar so in die verhouding tussen state en/of kleiner groeperinge op enige ander vlak – ek meen, die bankbestuurder trek nie maar net jou krediet fasiliteite in nie, hy waarsku jou minstens eers dat hy dit gaan doen. Wat dit betref moet ons hier beslis ook in ag neem dat hierdie verhaal, presies net soos die een in die Bybel, in alle opsigte hoofsaaklik op die staatkunde afgestem is. Dit trek natuurlik onmiddellik enige en alle amptelike ooreenkomste tussen state, en selfs kleiner belangegroepe binne elke sodanige staat, in die prentjie in. Die Duitsers kom help omdat daar ‘n amptelike en erkende ooreenkoms tussen hulle en ons is. Daar sal insgelyks ‘n reeks ooreenkomste tussen die nasionale regering met ons huidige blanke politieke partye wees rondom die Volkstate, en hierdie ooreenkoms sal dan ook internasionaal erken moet word om algemeen aanvaarbaar te kan wees. Die verhaal dui egter aan hoe dit deur die eerste staatsgreep verbreek word, en dit sal ons belang vir Duitsland, in terme van die Traktate van 1914, óók in die gedrang bring. Ek dink die mees basiese ooreenkoms sal wees dat die nasionale regering ons vryheid sal erken en dit selfs sal waarborg – is dit nie maar waaroor wetgewing eintlik gaan nie? Die Sappe en Engelse verbreek dit egter en dan sal die kleiner interne ooreenkoms van 1914 tussen ons en Duitsland outomaties in werking tree. In terme van die internasionale reg moet Duitsland egter uiteraard eers die situasie op die diplomatieke vlak met die waarborggewer uitklaar voordat hulle klappe kan begin uitdeel. Dit is ‘n baie ou en uiters fyn spel hierdie, en ‘n man soos Otto von Bismarck het dit tot ‘n absolute kuns verfyn in sy veldtog om die Duitse state in die moderne Duitsland te verenig.

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: