Slaan oor na inhoud

Art 021: 2008-11-24 Opsomming van die visioenêre verhaal in Suid-Afrika (Die Unieverhaal).

2013/09/01

http://www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Garsfontein
Pretoria.

Die onderstaande is ‘n opsomming van die visioenêre verhaal soos dit in Suid-Afrika afspeel. Daar is baie mense wat graag wil weet waaroor Siener se visioene gaan, maar wat nie noodwendig toegang daartoe het nie. Hierdie opsomming word gratis geplaas met die hoop dat dit sal help om kennis van die visioene uit te bou, maar ook dat dit sal help om die baie angste daarbuite te besweer. Die leser kan hierdie artikel, soos al die ander, vrylik kopieer en versprei mits u darem ook die bron daarvan sal aandui as http://www.sienervanrensburg.co.za Kopiereg van al hierdie artikels bly gevestig in die naam van F.H. Pretorius, Garsfontein, Pretoria.

DEEL C: Opsomming van die Unie verhaal uit Wat kom ná Siener?

DEEL 1: Agtergrond tot hierdie boek.
Hoofstuk 4: Opsomming van die Unie verhaal.

Die profetiese aankondiging van die “amptelike” beginpunt van die Unie verhaal is deur ene Jan-Petrus opgeteken. Dit vind neerslag daarin dat die verhaal in die Unie met ‘n blanke algemene verkiesing in Noordwes Provinsie sal begin.

[J-P(b)] De siener gewaar ‘n groot boom in ons land en die begin somaar van bo af weg te krummel of te ‘pluiens’ so’s hy self dit noem, en te vergaan, sodat daar ‘n gat in die grond blij, waar die boom gestaan het. Daarna siet hij in die Vrijstaat en Transvaal elk ‘n pragtige bloue boom verrijs en die dra pragtige druiwe korrels, ongeveer so groot als ‘n fatsoenlike perske. ‘En wat beteken dit? Vraag die toehoorder, helemaal verbijsterd. ‘Die antwoord is: ‘Wel, dis ons Regering wat tot niet gaat en twee ander Regerings wat opkom in Vrijstaat en Transvaal.

Die visioenêre verhaal bestaan uit twee bene, een wat in Europa afspeel en een hier by ons. Die gang van die verhaal lê sekere rigiede grense neer waarbinne dit kan begin. Dit geld uit die aard van die saak ook vir die aanloop tot die verhaal. Die visioenêre verhaal kan nie op ‘n ander manier begin en ontwikkel nie, want die gang daarvan word deurgaans deur die beginsel van oorsaak en gevolg bepaal. Dit kom nie net op die praktiese vlak na vore nie, maar manifesteer ook in die geestelike sy daarvan. Die lang manier om dit te verduidelik is dat die huidige situasie die gevolg is van dinge wat in die verlede gebeur het. Die hede sal op sy beurt weer die oorsaak wees van die eindpunt waarheen die huidige situasie besig is om te ontwikkel. Dit moet dus noodwendig voortvloei uit die praktiese situasie waarin ons tans staan, maar dit moet ook die mees logiese rigting waarin dit kán ontwikkel reflekteer – die verhaal moet met ander woorde geloofwaardig wees. [Die leser sal presies dieselfde situasie later in die boek raakloop waar ons na een of twee antieke legendes sal kyk en sal naspeur hoe dit in ons tydgleuf op die praktiese vlak manifesteer.] Dit is moontlik dat ek hieronder moontlik van spekulasie beskuldig kan word, maar as dit dan so is sal dit minstens op ‘n geweegde basis wees. Ek glo dat die beginstadiums van die verhaal besig is om voor ons oë vorm aan te neem.

Hier by ons [Maart 2008] sal die huidige probleme rondom die wanbestuur van die land en die politieke getwis binne en rondom die ANC al hoe groter word. Dit kan nie anders as om te groei totdat dit in grootskaalse swart onrus uitbars nie. Ons kyk later in die boek weer hierna, maar ons sien reeds op hierdie stadium dat invloedryke [swart] stemme al hoe dringender begin opgaan vir ‘n heeltemal nuwe politieke model. Hulle sê dat die grootskaalse korrupsie en die misdaadgolf te wyte is aan ‘n gebrek aan morele waardes by die hoofleiers van die ANC en die regering. Hierdie situasie, volgens hulle, is juis deur die huidige politieke model in die hand gewerk en word in werklikheid daardeur aangemoedig. Ek dink ons kan verwag dat hierdie klagte al hoe sterker sal word solank die ANC se huidige uitvoerende komitee op die verhoog is. Dit is die mense wat die Skerpioene wil ontbind en die skadu wat oor hul morele waardes in hierdie opsig hang, saam met die kleinlike binnegevegte rondom hulle, is die sweer wat na die kern van die probleem heenwys. Een van die joernaliste het byvoorbeeld baie reguit gesê dat presies dieselfde ding onder Mandela sou gebeur het as hy maar net lank genoeg in beheer was. Mense kan sê wat hulle wil, maar die huidige bewind het reeds aan die einde van 1994 uitmekaar begin val. Daar is lankal nie meer sprake van regering in hierdie land nie, wat nog van goeie regering. Dit is nou die jaar 2008 en die boom pluiens al hoe vinniger van binne en van bo af. Ek glo dit is nog net ‘n kwessie van tyd voordat dit op homself inplof en heeltemal verdwyn. Die leser sal verder aan in die boek sien dat die prikkel hiervoor nie van binne sal kom nie, maar eerder van buite.

Die huidige onmin en die logiese gevolge daarvan impliseer ‘n onafwendbare algemene gesprek rondom die oprigting en implementering van ‘n nuwe politieke model wat “almal kan akkommodeer en tevrede stel”. So ‘n gesprek kan nie anders as om die regte van minderheidsgroepe na vore te bring nie, want dit is noodwendig die hoeksteen van enige model waarop besluit kan word. Die huidige stelsel moét reggestel word, want die huidige een kan nog net ontwikkel tot een waarin groepsregte al hoe meer onderdruk sal word. Dit kan op die lang duur net tot ‘n revolusie lei. Die praktiese probleem is dat die stryd om beheer van die ANC (regeringsmag) al hoe meer tussen die twee grootste volke binne die RSA gaan, naamlik die Zoeloes en die Xhosas. Dit lei daartoe dat die kleiner groepe hoe langer hoe meer tussen die twee grotes fyngemaal word. Dit is ‘n ope vraag hoe lank dit nog kan voortduur voordat die pot begin oorkook. Ons is ooglopend op dieselfde pad as Zimbabwe, maar ek kan nie sien dat ons by dieselfde punt gaan uitkom nie. Daar is net té veel diversiteit en balanserende kragte vaardig hier om dit toe te laat. Ons kyk later weer na hierdie onderwerp, maar ek dink ons kan aanvaar dat die blanke groep se aandrang op ‘n Volkstaat óók op die agenda sal kom. Dit vorm trouens geruime tyd reeds eensydig deel van die algemene gesprek. Ek glo ons kan verwag dat die oorhoofse prentjie logieserwys soos hieronder sal ontwikkel.

Die eerste tekens van ‘n komende Derde Wêreldoorlog bestaan uit grootskaalse swart onrus in Suid-Afrika, indien nie ‘n volskaalse swart burgeroorlog nie. Regerings val nie uitmekaar en verdwyn in ‘n gat (graf) in die grond vanweë interne korrupsie en wanbestuur alleen nie. Dit kan alleenlik met die grote ANC-kolos gebeur as die swart regering se ondersteuningsbasis, die kieserskorps, dit met geweld omvêrwerp en vernietig. Kom ons hoop maar dat ons eerder ‘n openbare gesprek sal sien wat sal poog om staatkundige rus en vrede aan almal te verskaf. Ons sal nie gespaar bly as daar so ‘n burgeroorlog ontstaan nie. Hierdie gesprek rondom ‘n beter politieke model, soos hierbo aangetoon, is reeds aan die gang. Dit sal uiteindelik meebring dat twee gebiede as Volkstate aan die konserwatiewe blanke groep toegeken word. Die aandrang op so ‘n blanke gebied is óók reeds deel van die algemene gesprek. Een van hierdie twee sal die gebied bekend as die Noord-Vrystaat wees, terwyl die huidige Noordwes Provinsie as die ander een aangewys sal word. In die Noord-Vrystaat word die nuwe blanke regering skynbaar sonder teenstem ingestel, maar in Noordwes sal die kiesers moet besluit wie oor hulle sal regeer. Daar sal dus ‘n amptelike aankondiging rondom ‘n datum vir so ‘n verkiesing in Noordwes wees.

Die oorlog in Europa bars uit as gevolg van die optrede van ‘n Turkse terroriste groep. Dit sal baie kort voor die dag van die verkiesing in Noordwes plaasvind. Siener het hiervan gesê dat die oorlog in Europa vêr gevorder sal wees voordat ons daarvan hoor. Dit is so, want ons hoor eers daarvan as Tant Nonnie haar op die Traktate van 1914 beroep en ons vra om haar te kom help. Dit kan eers gebeur nadat die eerste reeks veldslae in Europa reeds verby is. Dit klink moeilik om te glo in hierdie dae van onmiddellike wêreldwye kommunikasie, maar dit onderstreep ook die ongelooflike vinnige pas waarteen die verhaal ontwikkel. Hierdie soort inligting sal ook aanvanklik gesmoor word om te keer dat die vyand se planne hier uitlek, maar dit is iets wat hoogstens vir ‘n paar dae suksesvol volgehou kan word. Die vyand maak in absolute terme staat op verrassing en spoed van optrede en hulle sal dit nie wil kompromitteer nie. Hierdie boek is dus baie slegte nuus vir hulle, want dit openbaar hul agteraf beplanning in baie detail en in geen onsekere terme nie. Dit is dan ook die doel met hierdie boek, want die roeping wat ek in 1994 vanuit Es. 33: 7 ontvang het is om die basuin van waarskuwing hard en duidelik te blaas. Ek moet egter ook terselfdertyd my volk bemoedig met ‘n boodskap van hoop, en dit kom ook baie duidelik na vore in hierdie boek. Daar wag ‘n wonderlike mooi toekoms vir diegene wat bereid is om hulself betyds te laat waarsku en positief daarop te reageer.

Die leser moet verder ook verstaan dat die oorlog nie naastenby dieselfde vorm sal aanneem as die twee vorige wêreldoorloë nie. Die tipe vir Siener se oorlog was die Tweede Vryheidsoorlog gewees, waar die Boeremagte van guerilla-taktiek gebruik gemaak het. Die kenmerk hiervan was dat die militêre eenhede as aanvallende gevegsgroepe aangewend is. Hulle was baie mobiel en het op ‘n plek toegeslaan en padgegee tot ‘n volgende keer. Daar was relatief gesproke maar baie min statiese situasies gewees, selfs al tel ons die verskillende belegte hier by. Die moderne neiging het tot ‘n groot mate teruggekeer na hierdie manier van doen, met dié verskil dat mobiliteit en slaankrag geweldig toegeneem het. Die militêre magte het nie destyds valskermsoldate, viertrek pantser voertuie en supersoniese bomwerpers tot hul beskikking gehad nie.

Die volgende ding wat hierna gebeur is dat ‘n baie groot Engelse militêre mag in Pretoria en Johannesburg aankom. Die mees logiese rookskerm hiervoor is dat hulle as ‘n soort vredestaakmag hierheen sal kom om wrywing en konflik tydens die verkiesing te voorkom. Die konsep van blanke selfbestuur binne die huidige staatkundige opset in Suid-Afrika is ‘n hoogs omstrede saak en ons kan verwag dat emosies daaroor baie maklik kan oorkook. Die idee van ‘n vredestaakmag sluit in elk geval aan by die rol wat Engeland saam met Duitsland en Italië oënskynlik aan die begin van die oorlog in Europa vervul. Dit word dan gevolg deur die verkiesing in Noordwes as sulks, en dan neem die oorlog in Suid-Afrika óók ‘n aanvang.

‘n Baie kort opsomming van die Unie verhaal lyk soos volg:

Ek wil sommer aan die begin hiervan baie sterk aanbeveel dat die leser die opsomming hieronder met ‘n landkaart langs hom sal deurgaan. ‘n Gewone padkaart is heeltemal goed genoeg hiervoor, solank dit darem ook die dorpe en provinsiale grense in die land aantoon. Al wat miskien hier kan bykom is dat die leser ‘n gangbare idee moet hê van waar die provinsiale grenslyne in die ou bedeling geloop het, die relatiewe rigting waarin Buluwayo in Zimbabwe tot Upington en Mafeking-Zeerust lê, en ook moet weet dat die spoorverbinding met Zimbabwe vanaf Zeerust in die noordweste van Noordwes deur Botswana na daardie land loop.

Die verhaal begin met ‘n algemene verkiesing in Noordwes, wat deur die konserwatiewes gewen word. Op hierdie stadium is daar reeds ‘n groot klomp jong Engelse troepe in Pretoria teenwoordig (populierbome). Die Sappe in Noordwes begin onmiddellik moeilikheid te maak en poog om die mag te gryp, maar die konserwatiewe groep slaag daarin om die poging af te slaan. Die donkies (Boere soldate) wat na Europa gaan vertrek op hierdie stadium. In Pretoria vind daar op hierdie punt ‘n “amptelike” samesmelting tussen die Sappe en die Engelse plaas. Dit maak die pad vir die Engelse oop om die Sappe te gaan help. Ons sien egter ook dat ‘n hooggeplaaste Sap-offisier in Johannesburg tot inkeer kom, en dat hy dan na die konserwatiewe groep toe oorloop. Sy toetrede tot die stryd het vêrreikende gevolge op die res van die verhaal.

In Noordwes lei die gevegte tussen die konserwatiewes en die liberaliste daartoe dat ‘n groot groep Sap-liberaliste na Johannesburg padgee. Ons sien later dat hulle daar bymekaarkom as swart-baster mofskape in ‘n kraal wat in ‘n miswerf verander. Hulle pak ‘n hoop mis aan om ‘n vuur te maak. Hulle kry koud omdat hulle nakend is, dit wil sê, hulle het hul regering verloor.

Die Engelse tree onmiddellik tot die probleme in Noordwes toe. Daar vind egter ‘n voorval net voor dit plaas waarna ons eers kortliks moet kyk. Ek het op hierdie stadium nie vreeslik baie inligting hieroor bymekaar nie, maar dit blyk dat daar ‘n onderonsie tussen ‘n groep manne vanuit die Vrystaat en die populierbome by Pretoria plaasvind. Hierdie bome kom natuurlik saam met die eerste rooi Engelse bul hierheen. Ons sien in hierdie verband dat ‘n klein sagie oor Siener se linkerskouer saag en ons kom later agter dat dit ‘n populierhout in twee gesaag het. Daar kom dan ‘n klompie perskebome in Pretoria tot stand. Die Sappe smelt op hierdie punt met die Engelse saam en hulle verdryf die perskebome, wat dan suggestief na die verre Weste uitwyk. Die populierbome word dan deur jong doringbome vervang (samesmelting met die Sappe). Hierdie gebeure lei daartoe dat ‘n groot klomp vrouens en kinders van Pretoria af na Lichtenburg toe vlug. Hulle is egter nie baie lank daar nie voordat die vyand vanaf Pretoria op daardie gebied toeslaan.

Die Engelse en Sappe trek teen die konserwatiewes in Noordwes op in die vorm van verskillende simbole. Die aanvalsmag bestaan uit osse en ploeë wat die wêreld daar gaan omploeg, ‘n trein wat die regering (parlement) as sulks wil plattrap, springbokke wat teen die plaaslike bevolking optree, ‘n kanon wat die mense uitmekaarskiet en ook ‘n afdeling soldate wat ‘n deel van die “volk” gevangene neem en hulle na ‘n soort tronk naby [miskien] Johannesburg aanjaag. Die konserwatiewe regering word as ‘n waterpomp voorgestel wat aan die trein vassit as gevolg van die onderonsie.

Die Sap-rebel tree op hierdie stadium tot die gebeure toe. Hy en sy manne speel skynbaar ‘n rol daarin dat die Engelse trein in die Vaalrivier gegooi word en by implikasie in die water versuip word. Die simboliek neem hierdie beeld ‘n stappie verder deur te verduidelik dat die Sap-rebel se manne die regering hierna “red” deur die pomp met grawe uit die [rivier] sand uit te grawe. Dit word ook op ‘n redelike suggestiewe wyse voorgestel dat hulle ‘n klomp bont perde verjaag wat die konserwatiewes se bruin perde (mofskape) by Lichtenburg-Zeerust na die suide laat vlug het. Die bont perde trek dan terug na Pretoria se kant toe en die Sap-rebel word deur die Boere in Noordwes as leier aanvaar. Een van die meer praktiese redes hiervoor is dat die Bruin Groep se [twee] hoofleiers uit die aard van die saak afwesig is, want hulle vlug saam met die skape af na die suide van Noordwes. Die Groen Groep se leier word in elk geval deur ‘n ander leier vervang tydens ‘n verkiesing in die veld in die Kolonie.

Die Engelse aanslag bring mee dat die konserwatiewe militêre magte van Noordwes na die suide verdryf word. Dit word voorgestel as ‘n trop skape wat in die suide bymekaarkom, maar dan in twee groepe (troppe) verdeel. Een hiervan trek na die westekant toe, maar hulle neem hul handbyltjie, wat by die parlementsgebou lê, met hulle saam. Die verhaal beskryf hulle as mofskape wat na die aangrensende Kolonie beweeg. Op hierdie stadium vind daar egter ‘n baie belangrike verwikkeling plaas. Ons sien in hierdie verband dat daar ‘n klompie geel bokke tussen die trop mofskape se leiers is en dat hulle in die Kolonie ook in skape verander. Die mofskape hou ‘n verkiesing op hierdie punt, waartydens ‘n nuwe leier aangestel word. Die visioene beskryf hier ‘n man wat op sy rug in die mielieblare in die Kolonie bly lê. Dit verwys na die leier wat tydens die aanvanklike aanslag op ‘n geel parlementstoel sit. Hy het ‘n bruin seil om hom en langs hom lê ‘n Bybel.

Die teenwoordigheid van die geel bokke kan op een van twee dinge dui. Daar is óf ‘n baie aggressiewe groepie leiers wat die mag vir selfsugtige eie doeleindes oorneem, óf daar is van meet af aan ‘n verraaierselement tussen die leiers van die konserwatiewe mofskape teenwoordig. Ek is geneig om te aanvaar dat dit so ‘n bietjie van albei sal wees. Ons sien dat iemand soos genl. Louis Botha op hierdie stadium van Europa kom en op ‘n implisiete wyse een van die bokke word. Die visioene beskryf dit as ‘n klein swart seuntjie, wat ‘n simbool vir ‘n slegte saak is, wat uit ‘n moddersloot in Europa uitkom en hierheen kom. Die kleur van die modder is swart en dit is die resultaat van swart steenkoolas wat deur geel vloedwater meegesleur word. Hierdie beelde skep ‘n algemene atmosfeer van absolute sataniese boosheid wat teen Noordwes gemik word. Die mofskape bevind hulself in ‘n kamp in die Kolonie en ons sien in ‘n verwante verhaaltjie dat hulle aangedui word as ‘n vrou met ‘n bruin rok wat op haar sy op ‘n bed in hierdie kamp lê [Groen Groep]. Die ander groep, [Blou Groep] wat as bruin basterskape beskryf word, trek op hul beurt na die oostekant toe. Ons sien later dat hulle tot in die omgewing van Vereeniging beweeg, maar dan aan die Vrystaat kant van die Vaalrivier. Hulle word ook beskryf as bruin karre en halfryp [groen] druiwe.

Die [eerste] vyandelike staatsgreep word dus uiteindelik suksesvol uitgevoer en die volk in Noordwes kry swart skoene om aan te trek. Ek wil op hierdie punt weereens beklemtoon dat die swart skoene absoluut niks met die huidige swart regering te doen het nie. Die kleur van die skoene dui op die boosheid van die gees waarin die staatsgreep plaasvind, want dit is die “atmosfeer” wat op daardie stadium in die verhaal heers – alles is donker en swart. Die swart skoene (regering) in die verhaal moet in elk geval nog kom, terwyl die huidige swart regering tog al van 1994 af bestaan. Die Sap-regering wat deur die staatsgreep aan bewind kom word ook op ‘n terugskouende wyse beskryf as ‘n doringboom wat daar tot stand kom.

Op hierdie punt van die verhaal kom daar egter ‘n verdere verwikkeling na vore, naamlik die aankoms van die eerste van drie golwe Duitse hulp. Hulle word aangedui as twee mausers, ‘n stroompie vaal water en ook as ‘n motor [sonder ‘n tent]. Die Sappe wat aan die begin van die verhaal na Johannesburg gevlug het, tree op hierdie punt in die verhaal op. Ek gaan hulle optrede egter eers so ‘n bietjie terughou om die sinchronisasie in die verduideliking reg te kry. Ons moet eers ‘n duidelike prentjie kry van wat met die vrou in die bruin rok gebeur. Dit lei tot die toetrede van die twee donkerblou-skimmel perde (wit sambreel), wat lei tot die VVO se beraad in Pretoria. Ons moet ook eers verstaan wat dáár gebeur voordat ons hierdie Sappe weer van nader kan beskou. Die Sappe in Johannesburg se optrede begin op die punt waar die twee Duitse mausers sigbaar word in die Unie. Dit gebeur in die Kolonie, dit wil sê in die kamp waar die vrou met die bruin rok is. Dit betrek op sy beurt weer die eerste rooi Engelse bul en die groep Boere wat hulself naby Vereeniging bevind, maar ons sal ook later by hierdie verwikkelinge kom.

Die vrou met die bruin rok word skynbaar deur die nuwe leier asook die slegte saak vanuit Europa aangepor om die vyand by Lichtenburg te gaan aanval. Sy gebruik die Duitse motor as voertuig om dit te doen en vorder tot by die kalkagtige omgewing by die koppie noord van Lichtenburg. Sy slaag egter net daarin om ‘n tak van die Sap-doringboom af te kap. ‘n Ander deel van die verhaal dui op ‘n implisiete wyse aan dat hulle ‘n klomp jong doringbome op die berge afkap. Hulle word egter deur ‘n Engelse teenaanval gedwing om in twee kleiner groepe na die verre weste te vlug. Een van hierdie groepe word deur ‘n vierkantige geel wiel agtervolg en platgetrap en baie van hulle sterf in die proses. Die ander groep vlug aan die suidekant van die Oranjerivier op tot in die woestyngebied wes van Upington. Hulle kom darem so ‘n bietjie beter daarvan af, want hulle word deur ‘n geel sif agtervolg. Die indruk wat dit skep is dat die geel sif met die sif in Amos 9:9 korrespondeer, terwyl die vierkantige geel wiel meer met die aard van die hamer in Jer. 50:23 ooreenstem.

Die twee Duitse blou-skimmel perde en die Engelse rebel, wat die tweede golf Duitse hulp verteenwoordig, tree op hierdie punt tot die verhaal toe. Dit blyk dat hulle hierheen kom om twee doelwitte te bereik. Die eerste is suiwer militêr van aard en dit is om die vyand terug te druk. Die doel hiermee, in die tweede plek, is om ‘n VVO vredesberaad by Pretoria af te dwing. Hulle maak die oorblywende konserwatiewe manne bymekaar tussen Warmbad en Noordoewer, wes van Upington, en trek dan op na die Unie. Ons vind egter dat hulle in twee afsonderlike groepe optree. Die twee Duitse perde, wat saam met vier bruin perde (Boereleiers) optree, verdryf die vyand oor Lichtenburg en Rustenburg tot in Pretoria. Dit word ook voorgestel as kinderwaentjies wat na die oostekant opruk. Die Boere-komponent van die aanvalsmag ry met hierdie waentjies tot by Rustenburg. Die Engelse rebel, en die Boere by hom, loods op dieselfde tydstip ‘n aanval op Johannesburg met hul haelgewere. Die alternatiewe verhaal hiervoor is ‘n drie-skaar ploeg wat die wêreld omploeg tot by Johannesburg. Ons het nie vreeslik baie detail oor die militêre sy van hierdie aanval nie, maar die Engelse rebel slaag wel daarin om die “bandiete” uit die tronk te ontset. Ons moet hierdie gebeure egter op hierdie punt van die opsomming ook eers ‘n bietjie vashou. Ek moet eers die agtergrond wat uit die vredesberaad voortspruit verduidelik, want die res van die verhaal speel teen dit af. Ons moet ook eers baie kortliks na die Indiërs kyk, want hulle maak hul verskyning op hierdie stadium van die verhaal.

Die Indiërs wat na die Unie kom tree in twee groepe op, maar kom ons handel hulle sommer in een asem af. Die eerste groep kom in die noorde van Noordwes te voorskyn, en die gang van die verhaal wys hier na Zeerust, of moontlik selfs Rustenburg, as ‘n moontlike afspringplek. Die ander groep tree in die Noordoos-Vrystaat op en wel in die omgewing van Vereeniging. Ons gaan nie hier in detail na hulle kyk nie, maar hulle word deur die Amerikaners in Suider-Afrika vasgetrap. Amerika bedryf al baie jare lank ‘n groot lugmagbasis in die suide van Botswana. Die Amerikaanse lugmag (groot voël met effe gryserige vere bo op) speel ‘n sleutelrol in hierdie gebeure. Die Amerikaners word hierin bygestaan deur ‘n groep mense wat van die Kaap af na Noordwes trek, want een van die simbole wat hier gebruik word is ‘n mes met ‘n bruin handvatsel. Die Indiërs vlug uiteindelik na Johannesburg as die druk op hulle té groot word. Ons sal weer na hulle kyk aan die einde van die opsomming.

Die twee Duitse donkerblou-skimmel perde word ook deur ‘n alternatiewe simbool aangedui, naamlik ‘n wit sambreel. Hierdie Duitse simbool vorm skynbaar die dryfkrag agter die VVO vredesberaad in Europa en dit kom ook hierheen om die vrede hier deur gesprek te herstel. Dit beteken dat die beraad hier by ons min of meer met die een in Europa sal saamval. Maar, soos in Europa, sien ons dat die vyand die geleentheid vir hul eie doeleindes misbruik. Ons sien in hierdie verband dat die tweede rooi Engelse bul intussen vanuit Europa in die Unie aangekom het, want dit is hierdie bul wat met die Duitsers betrokke raak in ‘n gesprek om vrede by Pretoria. Ons kan egter duidelik aflei dat hy hierheen kom met ‘n versteekte agenda, want hy word kort voor sy vertrek uit Europa in visioen [343.01] voorgestel as: “In Europa staat een kanon en die bek wys Transvaal toe.” Die visioene verwys bloot na sy aankoms as, “Die Blou Boek en die Rooi Doek kom na Pretoria”. Die twee Duitse blou-skimmel perde staan op hierdie stadium gekniehalter, terwyl die onthoringde Engelse bul vasgemaak staan by Johannesburg. Ons kan aflei dat die Engelse rebel se aanslag op Johannesburg ook op hierdie punt tot stilstand kom. Dit dui maar op die normale staking van vyandelikhede terwyl so ‘n beraad aan die gang is.

Die strydende Boere faksies gebruik hierdie geleentheid om ‘n geskrewe vredesooreenkoms by die Boere parlement in Rustenburg op te stel. Dit word aangetoon as ‘n boekie met blink letters en ook as ‘n geel papier met Siener (volk) se naam onderaan. Ons sien egter op hierdie vergadering dat die vyand bloot die geleentheid gebruik om te herorganiseer en hul komplot te finaliseer. Dit kom na vore in die feit dat een van die Sappe aan ‘n rooi hout [lepel] sit en kerf. Die doel met so ‘n lepel is om kos te roer terwyl dit in ‘n pot gaar word. Die verkryging van die vryheid word voorgestel as ‘n feesmaal, waar die voorbereiding van die ete bestaan uit ‘n poging om ‘n “gesamentlike ideologie” tussen hulle in ‘n pot gaar te maak. Dit is ‘n belangrike begrip hierdie, want die potjie waarin die kos tydens die vredesberaad gaargemaak word brand aan omdat die konserwatiewes halwe werk doen. Visioen [139×02] 05/01/16 sê in hierdie verband: “Die kok loop daar onder in die dorp rond.” Die potjie brand aan op die warm vuur onder dit, want die kok pas dit nie op nie. Die vuur onder die pot verwys na die tweede rooi Engelse bul. Die aangebrande potjie word dan daarna “blink skoon” gekrap deur ‘n [Engelse] messie met ‘n geel handvatsel [Sappe]. Dit is een van die maniere waarop die smeltkroes voorgestel word. Die feesmaal bestaan in hierdie geval uit pap [en wit-vark wors], waar die pap met ‘n lepel geroer word om dit deeglik te meng terwyl dit gaar word. Nou, die lepel wat hiervoor gebruik word behoort uit die aard van die saak ook ‘n “gesamentlike lepel” te wees, maar ons sien hier dat die Sappe hul eie lepel regsny vir die proses. Die kleur van die lepel en die feit dat dit so stilweg “reg gesny word” dui dus daarop dat die Sappe die voorbereiding vir die feesmaal op ‘n agteraf wyse tot hul voordeel wil beïnvloed. Die beeld word versterk deur die feit dat die kok se aandag nie by sy werk is nie, want hy los die potjie alleen op ‘n vuur “wat nie doodgaan nie” en die pap in die pot brand dan aan.

Maar nie net dit nie, ons sien ook dat Jan Smuts en die Engelse op hierdie punt agteraf by Pretoria saamsmelt om ‘n volgende aanslag van stapel te stuur. Hy word in hierdie verband voorgestel as ‘n wit steen wat in ‘n groter wit steen indraai om ‘n groot nuwe steen te vorm. Ons sien later dat die twee stene in ‘n wa se voorstel verander het en dat die beeld in werklikheid na ‘n kanon op ‘n kanonwa verwys. Die Sappe word dus die wa se voorstel wat die Engelse kanon in [343.01] hier in die Unie vervoer.

Op hierdie punt moet ek die leser eers terugneem na die Sappe wat aan die begin van die verhaal na Johannesburg gevlug het – hulle beurt om op te tree kom op hierdie stadium na vore. Die visioene dui aan dat daar ‘n “pot vol onluste” ontstaan op die punt waar die twee mausers sigbaar raak in die Unie. Ons sien dat die Sappe met onluste in Johannesburg se strate begin en dit as ‘n rookskerm gebruik om die vasgemaakte eerste rooi Engelse bul onverwags los te maak. Die bul se horings word dan “half lank”, en hy word gevaarlik. Hierdie optrede word aangevul deur dié van ‘n groep Sappe in Bloemfontein, waar die Sappe ‘n hoofkwartier het. Hulle trek stilletjies na Noordwes om ‘n heining te gaan oprig tussen Bloemhof in die suide en Zeerust in die noorde. Die gang van die verhaal dui aan dat die vyand op hierdie wyse gereedmaak om die konserwatiewes in Noordwes vas te keer om met volle geweld op hulle toe te slaan.

Ons moet nou ook eers weer terugkeer na die bruin-baster skape wat tot naby Vereeniging beweeg het. Ons sien op hierdie punt dat die twee blou Duitse skimmel perde skynbaar agterkom wat in Pretoria agter die skerms aan die gang is. Hulle breek dan los en hardloop tot by die groep konserwatiewes by Vereeniging en organiseer ‘n blitsaanval op die vyand in Johannesburg. Hierdie aanslag word egter afgeweer en die Engelse bul verdryf die konserwatiewe groep terug na die suide. Die simboliek stel dit op ‘n implisiete wyse voor as ‘n dam waarvan die wal oopgebreek word en dan kom die Vaalrivier in vloed af as die water skielik uit die dam ontsnap. ‘n Rivier in vloed verwys natuurlik na ‘n groot en onbeheersde vlugtog van verslane soldate. Hierdie vloed kom uiteindelik tot rus in ‘n groot pan, wat logieserwys iewers tussen Warrenton en Postmasburg behoort te lê. Riviere wat afkom vat nie die draaie nie en as die dam groot genoeg is loop die vloedwater reguit oor alles tot waar die momentum daarvan ophou.

Die eerste rooi Engelse bul en Jan Smuts (Sappe) agtervolg hulle deur die Noord-Vrystaat, maar draai op ‘n punt weer terug in Noordwes in. Die Vrystaatse vrouens en kinders wat in die noordooste van die Vrystaat voor die rooi bul uitvlug ontsnap op daardie punt na veiligheid, want net soos die vloedwater in die Vaalrivier hou hulle óók reguit aan. Siener sê in ‘n visioen dat hulle tot in die suidweste vlug, maar “naby” [aan Wolmaransstad]. Die konserwatiewes wat op daardie stadium nog in Noordwes is word in ‘n kampgebied tussen Bloemhof, Zeerust, Rustenburg en moontlik Klerksdorp vasgekeer. Die Engelse kom vanaf Pretoria en Vereeniging aan, en die draadheining wat die Bloemfonteinse Sappe tussen Bloemhof en Zeerust gespan het maak dit onmoontlik vir hulle [die konserwatiewes] om verder na die westekant toe te kan vlug.

Maar dit is nie net die eerste rooi Engelse bul wat teen die konserwatiewe groep by Johannesburg en Vereeniging optree nie. Die kanonwa, oftewel die tweede rooi Engelse bul en die Sappe by Pretoria, trek nét so onverwags teen die Boere by Rustenburg los en skiet die voordeur en die sinkdak van die parlementsgebou se verandah (stoep) stukkend. Almal in die hoër oostelike deel van Noordwes vlug dan in ‘n suidwestelike rigting na Wolmaransstad. Die mense in die omgewing van Lichtenburg vlug op hierdie stadium ook na die suide, wat hulle tot in die omgewing van Wolmaransstad bring. Ons sal aanstons weer by die “bandiete” kom, maar hulle vlug op hierdie stadium óók na die westekant toe. U het hierbo gesien dat die Engelse rebel hulle uit die tronk ontset het. Ons moet hulle egter ook eers ‘n bietjie eenkant toe skuif om die sinchronisasie in die gebeure reg te kry. Daar is bepaalde faktore aan die werk op hierdie stadium wat dit vir hulle moontlik maak om in relatiewe veilige omstandighede weg te kom.

Ons sien op ‘n stadium in die Europa verhaal dat die rooi Engelse koei gereedmaak om na die Unie te kom om die vrouens te kom seermaak. Sy word dan deur die Duitse rooi-bles bul agtervolg. Die visioene verwoord dit [op ‘n saamgestelde wyse] soos volg:
[006b01 01/08/14] Die wiel staan maar die as is uit. Die rooi kielhouer moet kom.
[613×05 28/06/24] ‘n Rooi koei hardloop en staan naar die Suide (bees wat gevaar het. Dit is vroumense wat gevaar gaan kry).
[614.01 01/07/24] ‘n rooi bul gaan dieselfde koers.
[001i02 /10/13] Strome waters wat hierheen kom en ek staan in hulle.
[001i03 /10/13] My vrou kry twee stukke van lint.
[001i04 /10/13] Die Rooi bles bul wat so afkom hierheen.

Ons sien in die eerste plek hier die aankondiging van die smeltkroes (kielhouer) waarna Siener verwys het. Die kern hiervan is die rooi koei, maar haar poging word ondersteun deur die optrede van die twee rooi Engelse bulle hierbo, die Sappe, maar dan ook die twee groepe Indiërs wat hier kom optree. Maar so sien ons in die aanhalings hierbo dat die rooi koei deur die Duitse rooi [bles] bul agtervolg word, want die koei is sy natuurlike teenstander in die verhaal. Ons gaan nie op hierdie stadium na die twee linte kyk wat Siener se vrou (volk) ontvang nie, maar dit verwys baie kortliks na die voormalige twee Duitse kolonies, Duitswes en Duitsoos, wat by ons grondgebied ingelyf sal word. Die strome waters in [001i02] is egter wél belangrik, want dit verwys na die aanvanklike optrede van die Duitse rooi-bles bul in die Unie. Hy word op hierdie punt van die verhaal voorgestel as ‘n silwer tang, en ons sien dat klein Niklaas in hierdie waterstroom staan en die Sap-draadheining in die omgewing van Wolmaransstad met die tang losmaak. Hy versimboliseer die konserwatiewe jongmanne wat aan hierdie operasie sal deelneem. Die Duitser breek dus deur die vyand se linie in die moordkamp in en die vrouens en ander mense wat deur die [Bloemfonteinse] Sap-heining vasgekeer word kan na die westekant toe ontsnap. Die vyand vlug op hierdie stadium terug na Pretoria en Johannesburg om daar te gaan konsolideer.

Die leser moet hier ook kennis neem dat die Duitse reserwemag en die rooi-bles bul op dieselfde stadium in Lüderitzbaai aankom. Hy kan egter voor hulle daar vertrek, want hulle moet nog eers hul toerusting ontskeep en hulself organiseer. Hy trek bloot met ‘n gevegsgroep na Kimberley se kant toe. Die Duitse vloot vaar daarvandaan verder tot by Kaapstad, waar die soldate óók aan wal gaan. Daar vind drie veldslae (siwwe) plaas in die Kaap en die vyand daar word gedwing om na Vereeniging te vlug. Dit is net logies dat die Duitsers in die Kaap agter hulle sal aantrek na die noorde toe. Ek dink ons kan aanvaar dat hulle oor Kimberley én oor Bloemfontein sal optrek en sal skoonmaak so vêr hulle gaan.

Maar kom ons gaan nou weer terug na die bandiete wat uit die tronk loskom as gevolg van die Engelse rebel se aanslag op Johannesburg. Hulle word uit die tronk ontset kort voor die rooi Engelse bul in Johannesburg losgemaak word en die kanon op Rustenburg losbrand. Die verhaal dui aan dat hierdie mense dit selfs sien gebeur terwyl hulle aan die trek is. Die eerste rooi Engelse bul, die een wat in Johannesburg losgemaak word, speel ‘n rol in hierdie gebeure. Kom ons kyk vlugtig hoe die bandiete uit die gevaar uitgelei word.

Die rooi bul tree in twee opeenvolgende stadiums teen die bruin karre vanuit die Vrystaat op. Hy oorwin hulle in Johannesburg en hulle vlug terug na Vereeniging toe, waar ‘n tweede groot veldslag plaasvind. Die bruin basterskape vlug dan al langs die Vaalrivier af na die weste. Hulle word gevolg deur die Vrystaatse vrouens en die rooi bul verskuif sy aandag na hulle toe. Die vrouens vlug egter reguit agter die vlugtende Boere aan, en die rooi bul draai op ‘n punt weg van hulle af in Noordwes in. Die vrygelate bandiete trek weer kort agter die rooi Engelse bul en Jan Smuts naby Potchefstroom deur na die westekant toe. Dit gebeur op ‘n punt waar die pad (Vaalrivier) ‘n draai [na die oostekant] het, en hierdie punt lê langs die Vaalrivier regoor Potchefstroom. Die visioene dui aan dat hulle ongehinderd op ‘n stofgetrapte pad na die weste gaan. Ons kan op ‘n implisiete wyse aflei dat die draadheining betyds oopgeknip word sodat ook hulle in veiligheid kan verbygaan. Dit mag dalk “net té goed en betyds” vir die ongelowige soort mens klink om te glo, maar ons sal later in die boek na ‘n soortgelyke historiese voorval kyk wat hierdie Goddelike soort uitkoms in sy regte perspektief sal plaas.

Die Duitse rooi-bles bul beweeg deur die “draadhek” tot by die koppie noord van Lichtenburg, waar die konserwatiewe troepe herorganiseer word. Die verweelbroeke, wat op daardie stadium die enigste georganiseerde groep Boere is, sluit op hierdie punt by die Duitsers aan om in die vorm van ‘n trein na Bulawayo te gaan. Hulle gaan daarheen om ‘n groep Engelse soldate uit te rook en die Engelse vlug daarvandaan oor Mafeking na Vereeniging in die vorm van ‘n geelslang.

Die volk van Noordwes word hierna deur een van die leiers onder Duitse bevel ingebind. Ons weet nie wie dit sal wees nie, maar ek kan nogal dink dat dit die leier van die Wit Groep sal wees. Hy is die enigste persoon wat redelikerwys hiervoor kwalifiseer. Die gesamentlike mag verdeel hierna in twee gevegsgroepe by die koppie noord van Lichtenburg. Die Transvalers trek saam met die Duitsers oor Rustenburg na Pretoria en hulle verdryf die vyand daarvandaan na Johannesburg. Die Indiërs in Johannesburg word die teiken van die Engelse rebel en die Vrystaters. Hulle beweeg deur die Noord-Vrystaat in die vorm van klein vaal sprinkane wat Johannesburg vanuit die suidweste aanval. Die res van die volk kom op hierdie stadium by Prieska bymekaar. So bereik ons uiteindelik ‘n punt waar die vyand in Johannesburg vasgedruk word tussen ons magte in die noorde en suidweste. Hulle spring dan daar uit en vlug na Vereeniging, waar hulle weereens van noord en suid vasgedruk word. Die vyand bars uiteindelik daar uit en vlug na Durban. Die visioenêre verhaal eindig op hierdie punt.

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: