Slaan oor na inhoud

Art 030: 2009-04-27 Verkiesings kom en gaan … maar hierdie een was tóg anders.

2013/09/07

http://www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria.

Ietwat weggesteek, maar tog anders as die normale.

Die algemene verkiesing van 22 April 2009 is nou verby en ek kan nie help om te wonder wat nou eintlik verander het nie. Die DA staan ‘n bietjie sterker en die nuwe party, COPE, het uiteindelik toe ook glad nie so sleg gevaar nie. Die ANC is ‘n baie klein bietjie swakker af as voorheen, maar hulle staan nog steeds sterk genoeg om die politieke toneel heeltemal te oorheers. Wat het dus nou eintlik in die breër verband verander?

Die kommentaar in die media wil dit so ‘n bietjie anders sien. Of, soos een wat ek gesien het lees: ‘… [dat daar] baie hoop vir die toekoms is …’. Die rede hiervoor is duidelik dat hulle vas oortuig is daarvan dat die eerste krake in die ANC se mondering nou onomkeerbaar duidelik uitstaan. En hierdie krake gaan volgens hulle die ANC die volgende verkiesing kos. Ek wil nie koue water op hulle opgewondenheid gooi nie, maar ek dink hulle is dalk ‘n bietjie haastig en hulle moet dalk weer ‘n slag prakties en nugter hieroor gaan dink. Die hele wêreld het ‘n wonderwerk verwag toe Morgan Tsvangirai die laaste verkiesing in Zimbabwe gewen het, maar kyk net wat is nog steeds besig om dáár te gebeur. Nóg vyf jaar van uiterste bestuursonbeholpenheid en ‘n voortsetting van regstellende aksie, saam met die aanpor van blanke haat, is meer as genoeg om ons land finaal oor die afgrond te stoot. Ons het eintlik reeds oor die randjie daarvan begin gly, en al wat keer dat ons heeltemal oorval is God Almagtig se hand wat ons styf aan die baadjie pante vashou.

Maar dit is nie waaroor hierdie artikel regtig wil handel nie. Ek het ‘n paar navrae ontvang wat my nogal tot dieper nadenke gestem het. Daar het iets met ons mense gebeur rondom die uitslag van die verkiesing wat my enersyds baie bekommerd maak, maar andersyds ook hoop gee vir die toekoms. En dit is juis daardie onsigbare Hand wat ons vashou wat my dring en toelaat om positief oor die toekoms te kan dink. Ek is nie soos so baie van ons mense gepla oor enige materiële voorspoed wat eendag vorentoe weer ons deel sal word nie. Die erwe van die vadere is lankal reeds opgevreet of vernietig en ons sal maar net weer van voor af moet begin bou daaraan. Vir my gaan dit om die vryheid van my volk eerste – vryheid om my God en Koning op my manier te kan dien, maar dan ook om my eiesoortige leiers te kan kies en oor my aan te stel – in ‘n soewereine land! Ons kan dit nie doen solank ons nie vry is nie, en solank die ANC of enige ander volksvreemde organisasie oor ons heers kán ons nie vry wees nie!

Een van my korrespondente het my baie hard met ‘n opmerking in haar brief geslaan. Maar sy maak darem ook sekere ander opmerkings wat my dadelik weer moed laat skep het. Ek het haar onmiddellik geskakel, dit was dáárdie soort brief, en kon gelukkig daarin slaag om haar te kalmeer en gerus te stel. Ek het nie haar toestemming gevra om haar hier so direk aan te haal nie, en ek hoop maar dat sy sal verstaan dat hierdie artikel moontlik op ‘n positiewe wyse tot ‘n hele paar mense kan spreek, en hulle weer moed sal gee. Ek glo in elk geval dat die meer naïewe soort Christusgelowige, soos hierdie dame en myself, wél uiteindelik sal aanpas en geestelik sal balanseer. Ek glo ons gaan uiteindelik sterker anderkant uitkom as wat ons vóór die pas afgelope verkiesing was.

Hierdie is maar een van baie min sulke briewe waarin ‘n negatiewe gemoed wat so openlik uitgestal word óók deur ‘n positiewe slotsom uitgekanselleer word. Die meeste mense is maar erg mismoedig oor die huidige situasie. Let op na die geestelike vertroebeling en effense vertwyfeling, amper selfs ‘n sekere verwardheid, wat in haar briefie deurskyn. Ek wens ek kon ons volledige telefoongesprek ook hier weergee, maar dit is iets wat natuurlik net tussen ons twee moet bly. Sy sê-vra in haar brief:

‘… Met die 2 derdes meerderheid wat die ANC nou weer gekry het, wonder mens net gaan GOD ooit vir ons uitkoms bring ? Mens raak soms maar net moedeloos. Ek self het ‘n groot verwagting vir ‘n nuwe regering.

Dink u dit kan wees dat God sy ‘idée’ rondom ons land verander het, gesien in die lig van bv. Angus se saamtrekke, dat soveel mense om hulp soek by Hom.

Ek het Woensdagoggend gebid en ‘n stukkie in Exodus gekry, wat eintlik maar gesê het dat ‘God ons gebring het tot hier, en dat ons Hom moet VERTROU, hy sal vêrder ook vir ons sorg’

Dit het my weereens baie bemoedig. My enigste Hoop is dit Hy ook Here is ook hierdie land…’

En ja, dit is die antwoord natuurlik! Hy is inderdaad die Here van hierdie land, maar Hy is ook die Eienaar van hierdie volk. En dié van ons wat Hom ken wéét dat sy juk sag is om te dra, want Hy dra aan die swaarste punt daarvan! Die ANC, daardie magtige groot kolos van ‘n revolusionêre politieke organisasie, tel nie eers in die berekening wat ons by hierdie antwoord uitbring nie!

Ek het op ‘n keer in 1996 ‘n stewige argument met ‘n gewese lid van MK by ‘n motorhawe in Reitz gehad. Of so het hy in elk geval gesê. Hy het naderhand baie aggressief geraak toe hy agterkom ek skrik nie vir hom nie, en toe het ek hom kortgeknip met die volgende woorde: Ons argumenteer nou oor dinge wat nie lank gaan bly nie. ‘n Duisend jaar van nou af sal ek en jy lankal dood en weg wees. Ons weet nie eers wie dan hier sal woon nie, maar dan sal die bome en die gras wat rondom ons staan nog steeds hier wees en welig groei. En weet jy wat? Modimo, Koning Jesus Christus, sal nog steeds die baas daarvan wees. Hy het my vir ‘n rukkie só gestaan en kyk en toe het hy stil omgedraai en weggestap.

Geagte leser, ek wonder of ons nie meer gewig en gesag aan die ANC toeken as wat dit regtig werd is en verdien nie. Hierdie organisasie stuit ons teen die bors omdat dit ‘n tipe is vir die Ryk van die Antichris. Dit bedreig die goed wat vir ons belangrik is, soos die volle uitlewing van ons geestelike oortuigings, dit bedreig ons taal en kultuur, en ja, ook ons fisiese oorlewing. Hulle staan nou sterk, maar is die amper 66% van sowat 17.6-miljoen kiesers wat vir hulle gestem het genoeg om die Here fisies te kan weerstaan en oorkom óók? Sal ons, wat sê dat ons in Hom glo, in elk geval ook sterk genoeg wees om terug te veg sónder Hom om ons te ondersteun en krag te gee? Asseblief, kom ons raak ‘n slaggie realisties oor ons en ander mense se gewaande en absoluut verïdealiseerde vermoëns!

Soos die meerderheid van my soort hou ek glad nie van hulle nie, maar siestog, ek kan darem nie help om hulle jammer te kry óók nie. Die Woord sê op ‘n plek dat daar ‘skielik skrik alom [sal wees]’ as die Almagtige onverwags toeslaan. En so gaan dit wees ook, en ons gaan dit sien, want die Bybelse profete het oor die ‘laaste dae’ geprofeteer en ons het nou reeds diep in daardie tydperk inbeweeg. Ons staan trouens aan die vooraand van ‘n onverwagse en geweldige groot ingryping van Bowe. En ja, dit gaan nie ‘n piekniek hier in Suid-Afrika wees nie, veral nié vir die ANC nie.

My korrespondent is natuurlik heeltemal reg rondom Angus Buchan óók. Ek ken die man glad nie en ek was nog nooit op enige byeenkoms van hom nie. Ek weet niks van hom af nie en ek weet nie eers of hy regtig eg is of nie. Maar een ding staan vir my soos ‘n paal bo water, en dit is dat ek oneindig baie respek het vir wat die Heilige Gees besig is om deur Angus Buchan in ons land te bereik! En weet u, hy is maar net een van vele mense wat tans deur die Gees ingespan en gebruik word om ‘n wonderlike iets op groot skaal in ons samelewing wakker te maak. Angus Buchan se ‘sukses’ is vir my ‘n baie duidelike teken dat ons volk en ander medegelowige vriende reeds op pad terug is na ons Heer en Meester toe, en niks kan op hierdie stadium beter vir ons wees as juis dit nie. U moet tog geen fout maak nie, dit is nie die prediker wat mense trek nie, maar die Gees wat iets in hulle opwek wat maak dat hulle uit eie beweging soontoe stroom. Mense soos Buchan is dus maar net deel van die simptoom en nie die onderliggende saak self nie.

En ja, dit was en is miskien nie deel van hul beplanning nie, maar hiervoor kan ons grotendeels juis dankie sê vir die bedreiging wat die ANC vir ons inhou. En dan kan ons hul werklik bedreiging sommer in sy regte perspektief plaas ook. Dit is amper iets soos die doef-doef musiek wat deel van ‘n dronkparty in die omgewing is – dit pla jou totdat dit iewers in die nag stil raak en sommer maar net vanself verdwyn.

Hou moed en hou die kop trots en fier regop, want ons Koning het sy teenoffensief by ons op voetsoolvlak begin en het reeds in die algemene situasie teen ons begin ingryp! Kyk maar net hoe dramaties die bywoningsyfers by Angus Buchan se byeenkoms by Greytown gegroei het: sê dit nie alles nie?

Ons moet nou nog net leer om op maatskaplike vlak saam te begin werk óók. Daar is gelukkig tekens dat ook dit besig is om te gebeur, want ‘n mens hoor al hoe meer van Afrikaner/Boere-organisasies wat besig is om mekaar die hand van vriendskap en eendragtigheid te reik. Die klem val al hoe minder op ‘saamstem’ en ‘eenstemmigheid’ en is vinnig besig om heeltemal oor te gaan na ‘n meer pragmatiese eendragtigheid. En daar is sommer ‘n baie groot verskil tussen die twee. Ons kan onmoontlik nie oor alles saamstem nie, maar ons kan nog steeds saamwerk as ons dieselfde einddoel nastreef, mits ons natuurlik bereid is om ‘groot genoeg’ te dink en ruimte te maak vir die verskille tussen ons. Die begrip ‘saamstem’ was natuurlik die ideale teelaarde vir die agente van satan om onmin en spanning tussen ons volksgenote aan te por. Die verandering in benadering is inderdaad wonderlik, want dit beteken ook dat die agent provocateurs, besig is om momentum te verloor en grond af te staan aan gebalanseerde en gesonde Christelike Nasionalisme. Ek hoop en bid net dat ek toegelaat sal word om met my eie oë te sien hoe hierdie agente deur God se Skrik Alom! oorval word. Ek kan miskien nog met die ANC saamleef, maar vir hierdie kanker binne ons groep het ek geen tyd of geduld nie.

Ek dink ons het oneindig baie om dankbaar voor te wees en nog meer om na uit te sien ook.

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: