Slaan oor na inhoud

Art 036: 2009-10-29 Die Vatikaan brei sy aanslag teen Groot Brittanje verder uit.

2013/09/09

http://www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria.

Ek het by verskeie geleenthede in die verlede aangedui dat die vyandige visioenêre aanslag op Duitsland deel vorm van ‘n uitgebreide en baie agteraf komplot. Hierdie poging word gedryf deur ‘n bose faksie in die Britse adel en betrek die VVO in Europa, die Britse regering saam met ‘n paar Europese vennote, ‘n Turkse terroristegroep en ook drie (ander) Indiër terroriste groepe. Ons kan die beginpunte hiervan reeds duidelik begin onderskei, en die reeks gebeure wat in hierdie artikel beskryf word is die jongste bewyse daarvan.

Die komplot in Europa word deur twee bekende staatkundige entiteite teen Duitsland gevoer. Die samewerking tussen Engeland en twee van die Indiër terroriste groepe vorm die Britse Statebond in die versteekte visioenêre verhaal. Die ander been hiervan bestaan uit sekere elemente van die huidige Europa Regering. Ons kan hier minstens drie Europese lande onderskei wat saam met Engeland werk, naamlik Frankryk, België en Pole. Hierdie laaste land neem nie aktief aan die komende wêreldoorlog deel nie, maar stel wel hul grondgebied beskikbaar as afspringplek vir ‘n aanslag op die Duitse militêre magte.

Maar so het ek ook in vorige artikels aangedui hoe die Vatikaan sy invloed al hoe meer begin aanwend om Groot Brittanje staatkundig te isoleer en van Europa af te sny. Die prys waaroor hier baklei word is natuurlik die beheer oor Europa. Die ‘Protestantse’ Vrymesselaars van Groot Brittanje staan in die Pous se pad na oorheersing in Europa en hulle moet daarom uit die weg geruim word. En ja, die Verenigde Koninkryk is in die Europa Unie konteks reeds effektief deur die Vatikaan na die politieke kantlyn uitgerangeer. Die situasie het reeds ‘n punt bereik waar Groot Brittanje direk van die Europa Parlement moes hoor dat hulle glad nie meer welkom in die EU is nie.

Hul geldstelsel word as bankrot beskou en dit is nie aanvaarbaar vir die swaargewig lede van die EU nie (lees as: die Rooms Katolieke lede van die EU). Engeland word spottend beskryf as ‘n welsynstaat wat self ‘n welsyn geval geword het, en Europa sien nie kans daarvoor om vroedvrou vir die Engelse te speel nie. Die ironie van die saak is dat die Engelse die slagoffers geword het van presies dieselfde wapen en metode wat hulle oor die jare so suksesvol teen ons gebruik het. Die waarde van die Britse Pond word kunsmatig afgedruk deurdat die internasionale wisselkoers in die guns van die Euro Dollar gemanipuleer word. Hulle het presies dieselfde met die VSA$ gedoen ook.

Engeland het egter op (politieke) ‘morele gronde’ ook onaanvaarbaar vir Europa geword. Die huidige Britse regering het verlede jaar eensydig boedel oorgegee aan die EU ten spyte van die feit dat sowat 80% van die Britse kiesers al ‘n paar jaar lank nie meer deel van die EU wil wees nie. Die Britse Premier het byvoorbeeld geweier om die mening van die Engelse kiesers hieroor in ‘n referendum te toets. Hy het die besluit bloot deurgeforseer omdat hy reeds op daardie stadium geweet het dat die Britse publiek eenwording met Europa volledig verwerp het. Ons weet nog nie wat hiervan gaan word nie, want dit word verwag dat die huidige Britse regering uitgestem gaan word in volgende jaar se algemene verkiesing.

Die klemverskil tussen Brittanje en Europa lê in die filosofiese definisies wat die twee groepe aanhang en onderskryf. Ek wil nie op hierdie stadium te diep hierop ingaan nie, maar hierdie verskil lê in die basiese betekenis van die begrip ‘demokrasie’. Dit beteken heeltemal verskillende dinge vir die twee groepe. Baie kortliks gestel, soos ek dit verstaan, beteken dit vir die gemiddelde Britse burger dat die staat deur die kieser voorgeskryf word, terwyl dit net andersom werk vir die gemiddelde Europeër.

Die Britse burger beskou homself as net dit; ‘n Britse burger wat op ‘n nasionalistiese grondslag onderdanig aan sy eie staatshoof en politieke stelsel is. Hy vorm eers daarna, in ‘n afgeleide sin, deel van ‘n groter geheel, en dan ook maar net as dit sy eie land en vors kan bevoordeel. Die gemiddelde Brit is in hierdie sin ‘n baie sterker nasionalis as die gemiddelde Europeër. Hierdie siening het geweldig baie te doen met die destydse vorming en afskeiding van die Anglikaanse kerk deur koning Hendrik VIII. Hierdie uiters sterk uitdrukking van Britse nasionalisme is trouens juis deur die destydse skeuring met die Roomse kerk geskep en gevestig.

Die Europeër, daarenteen, beskou homself makliker as deel van ‘n groter staatkundige eenheid. Die gemene deler in hierdie verband is die Vatikaan, d.i. die Pous van Rome, wat verreweg die sterkste enkele meningsvormer in Europa is. Hierdie instelling het nog nooit vir enigiets anders as die totale beheer oor Europa (en daarna die res van die wêreld!) gestaan nie. Die amptenary van die Roomse kerk maak al eeue lank voorbrand vir ‘n politieke situasie waar nasionale leiers onderdanigheid aan ‘n enkele ‘nasionale’ Europese leierskap sal betoon. Ons ken dit as die ‘herrysenis’ van die voormalige Heilige Romeinse Ryk onder die leiding van ‘n Germaanse vors, wat met die samewerking van die Vatikaan oor Europa (en die wêreld) sal heers!

Een van die sterkste kandidate vir hierdie pos blyk ‘n jong Duitse adellike te wees, naamlik ene baron zu Guttenberg. Die kommentare wat ek gelees het sê hy het letterlik alles aan sy kant vir hierdie pos. Hy is reeds deel van een van die bekendste families van die Europese adel, hy het direkte familiebande met die Huis van Hapsburg én hy is ‘n toegewyde Rooms Katoliek. As ‘n politikus is hy baie meer gewild as mev. Merckel, en hy is pas op sy eie aandrang (nogal!) in haar kabinet aangestel as Duitsland se nuwe minister van verdediging. (Sien artikels by http://www.thetrumpet.com/ vir meer inligting.)

Die huidige Europa Regering is geskep met die doel om Europa in ‘n enkele politieke entiteit saam te smelt. Dit sal dan van ‘n sekere punt af gebruik word as afspringplek wat moet lei tot die vorming van hierdie (nuwe) super-super-wêreldmoondheid. Ons ken dit ook as die Ryk van die Antichris waarna die Bybelse profete en Apostels verwys het. Hierdie nuwe politieke krag in die wêreld moet egter nog in sy finale vorm gegiet en in sy plek gestel word. Dit is op hierdie stadium dus nog baie kwesbaar en die Vatikaan sal alles in sy vermoë doen om dit te beskerm en met die minimum teenkanting ingestel te kry. (Daar is byvoorbeeld tans 26-lande in die Europa Unie, en Italië het so ‘n maand of wat gelede gesê dat dit heeltemal te lomp is. Hulle, saam met die ander toonaangewende lande in Europa, wil die besluitnemingsmag eerder in ‘n kleiner groep leierlande sentraliseer. Ons kan verwag dat hierdie mag in die hande van die tien lande sal beland waaruit die destydse Romeinse Ryk bestaan het. Dit is baie interessant dat hierdie tien lande skynbaar óf reeds onder die Vatikaan se beheer is, óf voor in die ry staan om onder daardie beheer ingebring te word.)

Dit is baie belangrik om te verstaan dat die komende oorlog in Europa (maar ook hier en in Noord-Amerika) essensieel ‘n stryd tussen twee opponerende geestelike stelsels is. In Europa kan ons dit in praktiese terme ten beste beskryf as ‘n stryd tussen die Roomse Kerk en die (Protestantse) Engelse Anglikaanse staatskerk. Die Pous het onlangs ‘n paar onverwagse skuiwe gemaak om die tanende invloed van die Anglikaanse kerk in die VK finaal te vernietig. Die Anglikaanse kerk is oor ‘n baie lang tydperk deur die liberalisme binnegedring en van binne lam gelê. Die konserwatiewe Anglikane het hul uiteindelik begin versit teen dinge soos vrouens en homoseksuele leraars op die kansel, huwelike tussen lede van dieselfde geslag, sekere bisarre sieninge en verklarings rondom die Godheid, ensovoorts. Dit het uiteindelik tot ‘n onlangse skeuring in die Anglikaanse kerk gelei en ‘n mens kan net wonder hoeveel hiervan uit Rome gekom het.

En ja, kan ons werklik op so ‘n siniese wyse hierna kyk soos dit hier aangebied word? Ek glo ons kan, want die Pous het ‘n paar dae gelede heel onverwags die voorwaardes bekendgemaak waaronder ongelukkige konserwatiewe Anglikane weer deel van die Roomse kerk kan word. Hulle kan met die volle behoud van al hul Anglikaanse agtergrond en gebruike na die Roomse kerk oorstap. Wat meer is, die Vatikaan is selfs bereid om getroude Anglikaanse leraars as priesters te aanvaar sonder om hul huwelike in gevaar te stel. Ongetroude Anglikaanse leraars sal selfs toegelaat word om in die huwelik te tree as hulle dit so wil hê. (‘n Mens kan nie help om te wonder hoe dit die Roomse priester se regte gaan raak nie. Hulle mag nie in die huwelik uitgee nie, maar gaan hulle uiteindelik óók hierdie toegewing ontvang?)

Die Vatikaan sê openlik dat hulle besig is om minstens ‘n duisend Anglikaanse leraars na hulle te laat oorloop met hierdie jongste inisiatief van die Pous se kant af. Dit sluit in baie gevalle selfs die ‘oorname’ van hele gemeentes in wat saam met hul leraars weer deel van die Roomse kerk wil word. Die Pous het dus, deur sy persoonlike invloed en gesag te gebruik, letterlik ‘n Anglikaanse onderafdeling binne die Roomse kerk gestig.

Hierdie is egter meer as nét ‘n oorlogsverklaring teen die Britse staatskerk, dit is ook ‘n duidelike oorlogsverklaring teen Britse nasionalisme. Britse nasionalisme loop hand aan hand met die Protestantse Anglikaanse kerk, want die een word deur die ander gevoed. Die Pous voer dus tegelykertyd ook ‘n subtiele oorlog teen Britse Protestantse nasionalisme op die staatsvlak. En ja, hy kan op hierdie stadium nie anders as om te wen nie, want die oorblywende deel van die Anglikaanse kerk is heeltemal gediskrediteer deur die liberalisme wat dit van binne opgevreet het. Hierdie ‘kerk’ is skynbaar besig om al hoe vinniger inmekaar te stort en dit is blykbaar net ‘n kwessie van tyd voor die invloed daarvan heeltemal sal verdwyn ook.

Die verhaal wat die Heilige Gees so kunstig in Siener se visioene weggesteek het verduidelik op oorvloedige wyse wat die gevolge van hierdie stryd tussen die Rooms Katolisisme en die Britse Protestantisme in Europa gaan wees. Die leser moet baie goed verstaan dat ons hier eintlik na ‘n stryd kyk tussen twee ewe bose godsdienstige stelsels. Albei hiervan stry om die besit van die sekulêre politieke mag in Europa, met die doel om dit uiteindelik uit te brei om die hele wêreld in te sluit. Albei erken dieselfde god as koning en alleenheerser oor die wêreld, en die stryd tussen die twee groepe gaan bloot oor watter groep die Antichris gaan voortbring. Dit gaan dus vir hulle oor watter groep as die direkte ondergeskikte heersers onder die satan gaan dien. Die sterkste en/of slimste een sal uit die aard van die saak die stryd wen en daardie gesogte posisie bekom, en dit is iets wat baie duidelik na vore kom in die visioenêre verhaal. Die bose groep ‘Protestantse Engelse’ probeer die inisiatief gryp deur ‘n sluipaanval op Duitsland (en die Vatikaan) te loods. Albei hierdie groepe loop egter hul rieme styf teen die subtiele, maar onweerstaanbare ingrypende mag van Koning Jesus Christus! Die Duitse regering, wat tans deur die Vatikaan geborg word, word self baie gou na die uitbreek van die oorlog platgeloop. Dit is trouens een van die eerste werklike ‘groot dinge’ wat heel aan die begin van die verhaal gebeur. Die ondergang van die Protestantse Britse Vrymesselary vind eers hierna plaas, maar dit vind onafwendbaar plaas.

Ek weet nie hoeveel tyd ons oor het voor Siener se verhaal begin nie, maar ons is duidelik nog steeds stewig op pad daarheen.

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: