Skip to content

Art 046: 2010-03-09 Waarmee is Engeland en El Kaeda in Suid-Afrika besig? – Uitbreiding.

2013/09/10

http://www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria.

Ons Koning en Losser praat al hoe duideliker met ons!

My vrou Ankie het my vroeër vandag omtrent uitgeboul met ‘n stukkie Skrif wat sy gisteraand ontvang het. Sy lees alles wat ek skryf voordat dit gepubliseer word sodat sy op datum kan bly met wat gebeur, en wat ek daaroor te sê het. En dit is nie die Skrif as sulks wat my onkant gevang het nie, want ek ken die voorkoms baie goed, maar wel die ongelooflike toepaslikheid daarvan en die snelheid waarteen sy ‘n antwoord op haar vrae ontvang het. Haar vrae is nie noodwendig altyd myne óók nie, maar haar vrae is natuurlik altyd ook die vrae van ons volk in die geheel.

Maar so het sy gisteraand my jongste artikel gelees met die titel, Waarmee is Engeland en El Kaeda besig in Suid-Afrika? Sy het lank gelees hieraan en ek het later agtergekom dat sy nogal baie tyd aan die navorsingstuk van prof. Hussein Solomon bestee het. (Ek wou aangaan op die rekenaar, maar sy hou net eenvoudig aan en aan om te lees, en ek moet maar wag!)

En toe kom sy vandag na my toe en sê dat sy baie nagedink het oor wat sy gelees het, en dat sy haarself baie ernstig afgevra het hoe ons uit die gemors rondom ons gaan uitkom en ontsnap.

Ons vat nog boeke ná aandete, en omdat ek baie selde dieselfde tyd as sy gaan lê het sy die gewoonte aangeleer om nog vêrder in haar Bybel te lees nadat sy in die bed geklim het. (Sy is baie lief vir die Psalms!) Maar so het sy ‘n ou Bybelse publikasie wat ons lankal nie meer gebruik nie, die Nuwe Testament en Psalms (Nuwe Vertaling) op haar bedtafeltjie, en so het sy gisteraand sommer oopgemaak by ‘n plek waar daar ‘n baie ou boekmerk in was.

Die plek waar sy begin lees het was by Ps. 85:10.

Nuwe Vertaling:
Ps. 85:10 Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien: Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar.

Ou Vertaling:
Ps. 85:9 (85:10) Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon.

Dit is, om die minste daarvan te sê, net eenvoudig wonderlik hoe die Gees ons soms tegemoet kom om ons te bemoedig en te versterk! Ek het daarom besluit om hierdie baie intiem-persoonlike saak vir almal wat hier lees oop te gooi. Hierdie is iets wat buite my beheer en invloedsfeer lê, want dit is die Koning wat die komende vryheid en vrede vir Sy volk deur my vrou op grond van my artikel aan die wêreld kom proklameer het. Die artikel as sulks berus volledig op inspirasie wat van Hom gekom het, en sy het hierdie Skrif sonder my wete ontvang nog voordat die artikel op die internet gepubliseer is!

En ja, ek kan wel hierdie dinge sê, want die verband tussen die inhoud van my artikel en die Skrif wat my vrou my kom gee het is net té duidelik om maar net te ignoreer. Vir sommige sal dit daarom seker tot oordeel wees terwyl dit vir andere weer tot versterking sal dien. Die toekoms behoort in elk geval net aan hulle wat opreg in Hom glo en wat bereid is om onvoorwaardelik op Hom te vertrou vir uitkoms en vrede. En soos ons almal hier kan sien het Hy sy antwoord hieroor duidelik en ondubbelsinnig deur my vrou Ankie kom gee!

Ons het ‘n kant om te bring, dit is so, maar dit begin op ons knieë voor Hom. Ons kan wel die wapen opneem daarna as dit moet, maar dit is waar ons oorlewing as volk werklik begin – op ons knieë in persoonlike verootmoediging voor Hom! Die sekulêre politieke mense daarbuite wil dit nie weet nie, maar Hy gaan dit op ‘n baie onverwagse en verstommende manier doen. En Hy gaan dit doen deúr en mét die mense wat bereid is om nou in gehoorsaamheid voor Hom te buig.

Lees maar en besluit vir uself wat u aan hierdie stukkie Skrif het, want dit is vir die hele volk bedoel!

Ek ken en verstaan Siener se verhaal baie goed, maar selfs ek kan nie sê presies wanneer die geweld in die komende gebeure gaan (begin) losbars nie. Ons moet daarom die heeltyd gereed staan vir hierdie beginpunte, en dit kan ons nét doen as ons rustig in ons Koning se Krag en skaduwee verkeer. Daar is nie plek in daardie Skaduwee vir die hardkoppige eie-krag sindroom van die sekulêre politiek nie! Die enigste manier om daar te kom (buite die ‘gemors’ waarna Ankie verwys het), en daar te bly, is om jouself toe te rus met kennis en dit aan die komende Koninkryk toe te wy.

Daar sal sommige van die hardhorendes wees wat net-betyds uitgered sal word, die visioenêre verhaal dui dit so aan, maar hulle gaan maar min wees. Die oorgrote meerderheid van die hardhorendes gaan dit ongelukkig nie maak nie! U sal moet begin kies waar u wil wees, want daar is nie plek in die toekoms vir die draadsitters nie!

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: