Slaan oor na inhoud

Art 066: 2012-09-23 ‘n Vuur tussen Rustenburg en Pretoria

2013/12/18

www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius
Garsfontein,
Pretoria.
 
Ek het onderstaande skrywe op 18 September 2012 ontvang.
 
On 2012/09/18 02:20 PM, L.S. wrote:
 
….. Ek het ‘n dringende vraag wat ek hoop u kan beantwoord rakende die mynstakings.  Gaan daar ‘n landswye staking wees van al die myne in SA volgens Siener? Ek onthou só iets van oom Niklaas wat gesê het dat hy sien al die myne staan stil en hy praat ook van stakings.
U sien, dit raak ons regstreeks.  My man werk vir ‘n konstruksie maatskappy wat op die myn werk.  Hulle werk vir Goldfields, en as die myners die 27ste Sep begin staak soos wat hul glo beplan, dan gaan my man dalk binnekort sonder ‘n werk sit. Ons wonder net of hy dalk sal moet begin planne maak vir ander werk?…..
Lorraine
 
My Antwoord:
 
Hallo Lorraine,
 
Miskien moet ek begin by jul werksituasie.  Dit is baie moeilik om te sê presies wát om te doen omdat die situasie so vloeibaar en tog ook so persoonlik van aard vir julle is.  Ek kan dit ongelukkig alleenlik antwoord aan die hand van wat ek sélf sou gedoen het.
 
My raad aan jou, en ek het darem ook al heelwat van die lewe gesien, is om nie te gou te skrik en oorhaastig te wil raak nie.  Die ou Trekkers het ‘n spreekwoord gehad wat gesê het: Bid, maar hou jou kruit droog óók!!   Wag en sien maar eers wat gebeur voordat julle besluite begin neem wat julle later kan berou.  Kyk solank uit vir ander werk as julle wil, daar is niks fout daarmee nie, maar hou darem jul huidige werkgewer dop óók.  Stakings kom en gaan, en as dit uiteindelik verby is, is daar altyd ook groot agterstande in die werk wat nog steeds gedoen moet word!  En dit beteken natuurlik dat daar wéér werksgeleenthede in daardie sektor sal oopgaan.  Hou moed en moenie dat hierdie ding julle onderkry nie!
 
Ek sou in elk geval op hierdie punt probeer sorg dat daar genoeg kruideniersware in die kas is om vir minstens een maand te kan oorleef.  Ek glo, en hierdie is maar net my mening, dat die slegte situasie rondom ons sy finale rigting sal begin kry nog voor hierdie maand verby is.  Julle sal wel teen die 27e beter weet wat om fisies te verwag, want op hierdie stadium is omtrent alles daarvan blote spekulasie.  Die lewe het my geleer dat die dinge waarvoor ons só bang is gewoonlik nie gebeur nie, en as dit wel gebeur is dit meeste van die tyd nie so erg as wat ons verwag het nie!  ‘n Mens moet ‘n situasie maar lééf soos hy kom Lorraine, al is jou voorbereiding dan ook hoé goed en hoé betyds gedoen.
 
Maar, wat die onmiddellike toekoms betref dink ek nogal ons gaan in die dae wat kom nog baie vonke sien spat in swart geledere, en dit sal uit die aard van die saak al hoe groter beroeringe dwarsoor die ekonomie veroorsaak.  Daar is ook geen salf meer hieraan te smeer nie, want ek twyfel of daar hoegenaamd nog versoening binne die swart geledere kán wees.  Die verskillende partye staan té oop en bloot kop teen kop om dit nog moontlik te kan maak.  Dit is dalk nie so goed vir die algemene sekuriteit en die ekonomie nie, maar dit sal uiteindelik darem help om ‘n groot klomp onsekerheid uit die weg te ruim: ons sal al hoe beter definitiewe antwoorde op spesifieke vrae soos joune kan begin uitken.  Die huidige reeks leierskapverkiesings in die swart vakbondwese én in regeringsgeledere is dalk net té belangrik om enige sodanige versoening haalbaar te kan maak.  Versoening suggereer toegewings, wat in die swartes se lewensbeskouing swakheid en agteruitgang impliseer, en die verskillende faksies sal uit die aard van die saak elkeen eerder voluit vir ‘n volledige oorwinning wil gaan.  Niemand van hulle sal bereid wil wees om die magsposisie te deel nie, want elkeen wil alles daarvan net vir homself hê!
 
Ons weet nou al dat hierdie mense net een taal verstaan en daarom net een roete tot ‘oorwinning’ kán volg, en dit is die geweldspad.  Ons Koning het by geleentheid gesê dat enige huis wat teen homself verdeeld is nie kan bly staan nie, en hierdie geweldsroete waarborg die uiteindelike ondergang van die ANC.  Hulle gaan hul eie regering sélf tot ‘n val bring!  Siener het die [regerings-] boom sien pluiens.  Die woord beteken verslete klere, en in hierdie geval is die takke van die boom só verslete dat die ondergang van die ANC-regering spontaan van binne gebeur [en dan waarskynlik van bo af ook]!  Hierdie boom verdwyn in ‘n gat in die grond, wat op die visioenêre simboliese vlak na ‘n graf verwys!  Kan ek meer hieroor sê wat ek nie reeds elders op my artikelblad gesê het nie?
 
Ek kan onderlangs so lag kry vir die ‘geleerde swart menere’ met wie ek soms in die verbygaan te doen kry.  Hierdie is professionele mense by ‘n instansie waar ek nogal gereeld kom [tandartse en mediese dokters], en ek sien maar hulle staan so kop bymekaar in klein groepies en gesels.  Hulle het nogal die manier om die gange vol te staan, en belangrik te probeer lyk, sodat die pasiënte wat in die gange beweeg eintlik teen hulle moet verbyskuur. En weet jy, die driftige dringendheid in hul lyftaal wys dat hulle nogal bekommerd kan wees oor iets, en die name wat ‘n mens hulle soms hoor noem is nogal veelseggend in hierdie verband.  En dan wil ek só graag die duiwel se advokaat speel en vir hulle gaan sê: Sorry menere, maak maar julle planne as julle moet, maar julle is heeltemal reg, die ANC se son is besig om al hoe vinniger onder te gaan….!
 
Die Bybel stel hierdie saak so beskrywend mooi waar dit in Op. 18:21 sê:  ‘….En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie….’
 
Ek dink wat egter baie belangrik is om in hierdie opsig te verstaan, en dit het inderdaad betrekking op jou vraag, is om die datum van 24 September in sy korrekte perspektief te sien.  Ek het in my vorige artikel gesê dat hierdie datum van besondere belang vir ons behoort te wees, en ek wil graag hierdie keer die korrekte perspektief betyds, vóór die dag van die datum kom, weereens ‘n bietjie van nader probeer verduidelik. Die vorige artikel het oor my baie vreemde droom van einde Februarie hierdie jaar gehandel.  Ek het in daardie artikel selfs hardop gewonder of dit nie dalk op die val van die ANC regering kan dui nie.  Daar het sedertdien snydende kritiek van sekere mense gekom hieroor, maar ongelukkig was dit heeltemal misplaas omdat die mense minstens daardie deel van die artikel duidelik bevooroordeeld gelees het.
 
Die kritiek was werklik heeltemal van die kol af, want hulle was uiters selektief en het nie alles in ag geneem wat ek daar gesê het nie; hulle het maar net nét gebruik wat hulle gepas het.  Soos dit is het ek in die artikel, rondom die datum van 24 September, die klem daarop laat val dat iets waarskynlik op hierdie datum gaan gebeur wat die staatsregtelike prosedure aan die gang sal sit wat uiteindelik tot ons vryheid sal lei.  Daar sal, en ek sê dit nou wéér ‘n keer baie duidelik, waarskynlik nie kanonne wees wat mense uitmekaar sal skiet en vliegtuie wat bomme op betogende mynstakers sal gooi nie en daar sal dus nie noodwendig bloed en derms teen sonsondergang op die strate rondlê nie.  Maar iets belangriks gaan beslis gebeur en dit gaan vêrreikende gevolge vir ons inhou op staatkundige gebied.  As dit so gebeur dat die geweldsopsie in die komende dae seëvier sal dit natuurlik ‘n absolute bonus vir my wees – en miskien sal die beste deel daarvan wees dat die kritici daarna eerder die gras sal gaan sny as om alewig hare te wil kloof en te wil kibbel oor nonsens!
 
Dieselfde mense wys daarop dat ek vroeër gesê het dat die huidige regering op 31 Augustus 2011 tot ‘n val sou gekom het.  Hoekom lees hulle egter nie alles daar staan nie, want dit is nie ál wat ek daar gesê het nie!  En ja, daar het inderdaad iets baie belangrik gebeur op 31-08-2011, maar die kritici het dit gemis omdat hulle tipies nie verder kan dink en kyk as wat hul neuse lank is nie.  Dit was die dag waarop Malema se interne verhoor voor die ANC se strafkommissie begin het. Hierdie verhoor was eers aan en toe weer af, en wéér aan, dit sou op ‘n stadium na ‘n veiliger plek verskuif gewees het, ensovoorts.  Daar is destyds baie gesê oor hierdie verhoor, byvoorbeeld dat Malema sy ‘vyftien minute van glorie gehad het, maar nou van die toneel sal verdwyn’, ensovoorts.  Die verhoor het egter uiteindelik op hierdie datum by die ANC se hoofkwartier begin en hy is as gevolg daarvan uit al die liggame van die ANC geskors.
 
Hierdie skorsing, meer as enigiets anders dalk, het direk aanleiding gegee tot die probleme waarmee die ANC tans rondom Malema te doen het.  Marikana van Augustus en September 2012 is maar net die puntjie van ‘n ysberg wat ‘amptelik’ begin het by Malema se verhoor op 31 Augustus 2011.  En ja, ek weet nie hoeveel van hierdie stil en half verskuilde inligting daar nóg kan wees nie, want hierdie is maar net ‘n deel daarvan wat opsigtelik onder my aandag gekom het.  ‘n Vriend het dit onder my aandag gebring.  Hy sê onder andere [verder] op 22 September die volgende in ‘n baie interessante brief:
 
…Die HAT se verklaring van ‘pluiens’ is verslete, soos wanneer ‘n kledingstuk verslete raak. Ek het ‘n ou baadjie wat ek gedra het tot op ‘n punt verby verslete. Wat my fassineer van myself is hoe lank dit my geneem het om te besef dit ís verslete. Ek kan nie glo dat ek aangehou het om dit te dra tot op so punt nie…
 
…Ek verwag nog heeltyd dat die boom op ‘n dag, binne ‘n dag se tyd, gaan pluiens van bo af na onder sodat daar niks oor is nie. Tog verwys die woord pluiens, as na die HAT se verklaring gekyk word, na ‘n proses en nié ‘n gebeurtenis nie. Wanneer mens dit in dié lig oorweeg is dit duidelik dat die boom al lankal blaar vir blaar en tak vir tak verslete begin raak het en reeds aan die pluiens is. Selfs van die groter takke het nou al begin val. Een van die groter takke wat besig is om te val is die beheer wat die regering oor die werkersmag deur Cosatu en NUM verloor het, soos by Marikana rugbaar geraak het. Terselfdertyd bedreig die president [volgens] wat by Marikana gestel is die welsyn van die mynbedryf, die ekonomie en die regering se belasting inkomste…
 
…Die proses van pluiens lyk of dit wil begin eskaleer. Ek dink heelwat aan die datum 31 Augustus wat Oom laasjaar oor Skrif gekry het. Hoe meer ek dit as ‘n proses begin sien hoe meer besef ek die belang van die datum 31 Augustus 2011 waarop Malema se verhoor uiteindelik afgeskop het. So verwag ek nie dat die boom op die 24ste September volledig gaan pluiens nie. Tog kyk ek uit vir ‘n sleutel tak wat gewig dra in die boom om op die datum geaffekteer te word…
 
…Die lasbrief vir Malema is interessant. Hulle behoort eintlik al baie lankal genoeg inligting te hê om hom weg te sit. Ek is bevrees dit gaan nie die beste ding vir die regering wees nie. Hulle is nou letterlik gesnoeker. In die geval van Tony Yengeni, Shabir Shaik en Allan Boesak wat van soortgelyke goed aangekla is, is hulle eers opgesluit nadat hulle veroordeel is. Met Malema is die motief natuurlik om hom van die straat af te kry. Of hy tydens sy verhoor op vrye voet gaan wees of nie gaan dit in altwee gevalle geweldige momentum aan die aanslag op die houvas van die regering veroorsaak…
 
Vir al wat ons weet was daar nóg sulke belangrike gebeurtenisse op 31 Augustus 2011 gewees waarvan ons miskien eers eendag in die geskiedenisboeke sal lees.  Maar nou ja, vóór ek dalk van hoogverraad, sedisie, selfs vrywillige ondergeskiktheid aan die gesag van Koning Jesus Christus, en wat ookal nóg aangekla word wil ek darem een punt baie duidelik en deeglik onderstreep:  Ek staan die geweldsopsie glád nie voor nie en daar is nie ‘n manier waarop ek op enige wyse hoegenaamd by enige rebellie betrokke sal raak, óf dit sal probeer bevorder nie.  Die Skrif verbied dit en die visioenêre verhaal spel dit uit dat ons nie hoéf te rebelleer nie, want ons gaan dit langs ‘n ander weg ontvang wat niks met die ANC te doen het nie.  Maar ek sal darem glad nie omgee as Malema voorspoed beleef in sy optrede nie hoor, want behalwe vir die staatkundige verligting wat dit sal bring sal dit ook die eerste groot ‘plaaslike’ teken wees dat die visioenêre verhaal op koers is.
 
Klere is natuurlik op sigselwers ‘n simbool vir regering in die visioenêre verhaal.  ‘n Nakende mens is letterlik regeringloos, en as die boom so begin pluiens beteken dit dus dat die swart groep regeringloos gaan word – en ek glo die ondergrondse Broederbond gaan dán toeslaan en weer die beheer oorneem.  Die blote feit dat die regeringsboom so absoluut spontaan en so totaal en al ‘suksesvol’ pluiens sê in elk geval op ‘n unieke wyse dat die ANC-regering heeltemal tot in sy kern verrot moét wees!  En ja, die kleur van die klere dui ook die ideologiese grondslag van die regering aan.  Bruin verwys na die komende nasionalistiese regering in Noordwes (en die Noord-Vrystaat).  Die begrip ‘nasionalistiese regering’ moet in die politieke konteks van die visioenêre verhaal dalk eerder verstaan word as ‘n ‘regse regering’.  Swart klere verwys na ‘n bose regering [Engeland, ons groep verraaiers, en ‘n sekere groep Indiërs, die Turk, ensovoorts.]  Geel klere verwys na die EU, waarvan Engeland die leierselement is, ensovoorts.  Wit is God Almagtig se kleur in die verhaal, en dit spreek boekdele dat die mense wat uiteindelik vry word, Duitsers ingesluit, almal wit klere dra.  Op daardie stadium is daar absoluut geen teken meer van die ‘regses’ se wonderlike en geliefde kleur Bruin te siene nie.  Dit word heeltemal verdring deur die kleur Wit!
 
Lorraine, ek gesels graag met my mense oor Siener, maar julle moet asseblief baie mooi verstaan dat ek geen politiek in my hart het nie: ek is nóg regs, nóg liberaal.  ‘n Mens kan egter nie regtig neutraal staan teenoor die politieke onderstrominge binne ons volk nie, want dit vorm tog die wêreld waarin ons leef.  Maar soos dit is, keur ek alle vorme van die politiek heeltemal af.  Politiek bring bitterheid en dit verdeel eerder as om saam te voeg, en ons kan die luukse van verbitterde verdeeldheid nie verder bekostig nie!  Ek mag in elk geval nie daaraan deelneem nie, want ek mag nie kant kies of diegene wat daaraan deelneem wil oordeel nie.  Dit is een van die redes waarom ek aan geen organisasie van enige aard behoort nie.  Jy sal verstaan dat so iets my poging om my volk met my bepaalde boodskap te bereik heeltemal sou uitkanselleer, en ek moet tog heeltemal onbevange met die volgende persoon kan praat soos ek nou met jou praat – reguit, eerlik en polities heeltemal objektief.
 
Ek moet dan ook in hierdie gees aan jou uitwys dat jou vraag in sy diepste betekenis van iets spreek wat jy dalk sélf nie tot op hierdie punt bewustelik uitgesorteer het nie.   Die baie praatjies dat Siener se visioene na die huidige vuur by Marikana verwys is ‘n uiters opportunistiese poging om mense te beïnvloed en hul angstig te maak, sodat hulle kan vlug as dit lyk of die ‘nag van die lang messe’ aangebreek het.  Ek het hierdie leuen al op so baie plekke ontbloot vir die walglike vervalsing en bedrog wat dit werklik is, en het dan ook aangetoon dat die oënskynlik doel dáármee net één ding uitwys, en dit is dat hierdie storie daarop gemik is om tienduisende blankes langs die snelweë en paaie hierbo in die Noorde dood te maak.  En Lorraine, as ek dit sê moet jy verstaan dat ek nie soseer luister na wat mense sê om hulle te kan uitsorteer en plaas nie, ek kyk eerder na wat die moontlike gevolge kan wees van wat hulle doén.  Hierdie mense is besig om ‘n doodslokval vir my volk voor te berei met hul vlug-praatjies!  Al wat ek nog hiervan kan sê is dat ek sedert 1994 hieroor probeer waarsku het, maar dat almal ongelukkig nie wou luister nie!
 
Ek moet dan weereens waarsku dat die politieke ‘regse’ groep, volgens die visioenêre verhaal, duisende manne EN vrouens en kinders aan die dood gaan afstaan as gevolg van die regse groep se baie bekende beheptheid met politieke ‘baasskap’ oor die land, maar ook hul onverdraagsaamheid met mense wat nie met hulle saamstem nie.  Die basis van hierdie grootskaalse moordaanslag op ons volk is die begeerte van die liberalisme om die Ryk van Satan in ons land te help oprig.  Ons volk, en trouens die hele Christusgelowige groep mense wêreldwyd, word fyngemaal in hierdie stryd tussen die liberalisme versus die fundamentalisme, wat in elk geval presies nét so boos is!  Jy kan gerus die moeite doen om ‘n boek van Karen Armstrong te lees wat oor die kwessie van fundamentalisme (oftewel ‘regsheid’) in die Christendom, die Judaïsme en die Islam handel.  Sy bewys baie duidelik dat dit elke keer dieselfde bose politieke monster is wat binne een van hierdie drie godsdienstige baadjies wegkruip!  Die titel van die boek is: The Battle For God.
 
En weet jy, ons sal seker nooit die volle waarheid hiervan weet nie, maar dit is juis die myne se eienaars, liberaliste by uitstek!, wat oorsee sit, wat die werkers so erg laat prikkel het dat dit besig is om in ‘n revolusie te ontwikkel.  Miskien nie nou dadelik nie, maar darem ook nie te vêr in die toekoms in nie.  Dit is juis hierdie soort mense wat die sneller gaan trek wat die revolusie aan die gang sal sit.
 
Die regse manne in die verhaal, wat oënskynlik die VF+ in die praktyk is,  raak betrokke by ‘n kinderagtige, maar tipiese magsbehepte leierskapstryd en skep sodoende ‘n geleentheid vir die Engelse, die verraaiers en ‘n groep Indiërs om die onbeskermde vroue en kinders by te kom.  [‘Boere loop met geweers … hulle veg in ‘n diep kloof …‘] [‘mofskaap ooie en lammers staan hier by ons in die lang gras …‘]  Daardie gras [mense] raak aan die brand [‘oorlog’] en die weerlose ooie en lammers brand dan dood.  In ‘n ander beeldgroep verwys die Gees, wat deur hierdie visioene profeteer, eerstens na hoenders [vroue] wat ylings onder die draad deur in ‘n kamp invlug om beskerming by die ‘dapper’ en ‘sterk’ konserwatiewe manne te gaan soek.  Hierdie beeld gaan dan oor na ‘n voorstelling waarin ‘n houtvuur bo op ‘n nes met eiers aan die brand gesteek word.  ‘n Houtvuur verwys na ‘n interne twis wat uitbars in gewapende geweld [burgeroorlog].  Is dit nodig om te sê dat die eiers in die nes [kindertjies!] verbrand van die hitte van die vuur.  Kan dit wees dat sommige van ons manne groter belangstelling in hul politieke partye vertoon, en meer liefde vir hul leiers het as vir hul eie gesinne?  Liewe aarde! …. dan verdien hulle dit mos om self uitgeroei te word in die oorlog wat op pad is!  Ag, as ons Koning dan maar net hul onskuldige vroue en kinders betyds uit die gevaar kan wegkry.  En wie weet, miskien is hierdie antwoord aan jou die beginpunt van ‘n nuwe bewussyn wat juis dít sal probeer bewerkstellig!
 
Ek wil in hierdie verband beklemtoon dat die VF+ in die beginstadium van die visioenêre verhaal goeie werk doen, maar dat dit ongelukkig baie gou op allerhande kronkelpaadjies afdwaal.  Ek is daarom heeltemal bereid om in die nuwe konserwatiewe weermag te gaan dien, want die vyand se eerste poging om ‘n staatsgreep uit te voer moét beveg word.  Ons deel gelukkig in ‘n eiendomsbelang net buite Rustenburg, en dit sal vir ons glad nie moeilik wees om onmiddellik as burgers te kan registreer nie.  Die gebeure bereik egter ‘n punt waar ek op ‘n beginselbasis nie verder sal kan deelneem nie, want alles daarvan geskied vanuit eie menslike krag, en dan aan alle politieke en militêre  bedrywighede sal onttrek. Ek sê dit voor die tyd sodat niemand my later van lafhartigheid kan beskuldig nie.
 
Maar kom ons stap nou vanaf hierdie algemene agtergrond oor na jou spesifieke probleem en vrae.  Die huidige gebeure by Marikana kan dalk ‘n profetiese voorteken wees van hierdie dinge, ek weet nie regtig só nie, maar die verwysing na die visioene [soos dit voorgestel word] koppel egter beslis met iets heel anders.  Ek dink die saak waaroor jy vra word maar net op ‘n uiters opportunistiese wyse ‘vir eie voordeel’ uitgebuit, want Siener se visioene het glad nie op enige plek van die huidige ou vuurtjie tussen Rustenburg en Pretoria gepraat nie!  Dit het ook op geen stadium van ‘mynstakings’ gepraat nie.  Die sowat 676 visioene vertel saam ‘n klompie verhale wat ineenvleg om ‘n baie groot geheel te vorm, en die vuur anderkant die bult tussen Rustenburg en Pretoria vorm deel van so ‘n verhaaltjie en speel so halfpad deur die visioenêre verhaal af.  Dit moet dus nog kom, en kán daarom nie na die Marikana van vandag verwys nie.
 
Die basiese strekking van hierdie deel van die verhaal dui aan dat die Engelse en Sappe [liberaliste; verraaiers] in ‘n gewapende stryd teruggedryf word van Lichtenburg se kant af, via Rustenburg, na Pretoria toe.  Die oorlog in Suid-Afrika neem die vorm aan van ‘n burgeroorlog tussen vier opponerende groepe Boere wat binne ‘n internasionale konflik tussen Duitsland en Engeland plaasvind.  Die vuur ‘anderkant die bult’ verwys na die Engelse waens wat omval en aan die brand geskiet word as die Duitsers en Boere die vyand vanaf Rustenburg terugjaag Pretoria toe.  En ja, ek dink nogal daar gaan heelwat meer Engelse soldate doodgeskiet word in die omgewing van Marikana as nét die huidige 46 mense wat ons van weet!
 
Die bult [probleem] verwys na die konserwatiewe parlementsgebou in Rustenburg.  Siener ‘kyk’ na hierdie toneeltjie vanaf sy huis in Wolmaransstad, daarom sê hy: ‘anderkant die bult …’  Ons vyande beset hierdie gebou op ‘n stadium, maar hulle word baie hardhandig verdryf.  Die verhaal verdeel op hierdie punt in twee kleiner verhaaltjies.  In een hiervan vlug die liberaliste na Johannesburg in die simboliese vorm van mofskape met swart koppe, oftewel swart baster mofskape, en ook mense met swart jasse aan.  In die ander verhaaltjie vlug die Engelse in die vorm van [geel militêre] waens met geel wiele na Pretoria.  Hulle word op ‘n implisiete wyse agtervolg deur die Duitsers en die simboliek dui dan aan dat een van hierdie geel wiele omval ‘anderkant die bult’.  Dit is dus ‘n groot veldslag wat simbolies aangedui word as ‘n vuur wat ‘anderkant die bult’ [tussen Rustenburg en Pretoria] sal brand.
 
Dit is ‘n lang en ingewikkelde storie om so kortliks hier te probeer vertel, maar hierdie beeld loop uiteindelik uit op ‘n vredesberaad tussen die Duitsers en Engelse in Pretoria, en ook een tussen die vier faksies Boere by die parlementsgebou in Rustenburg.  Dit lei weer tot ‘n rooi komplot, wat nogal op die vredesberade téén die konserwatiewe groep en die Duitsers gesmee word.  Dit lei op sý beurt daartoe dat die rooi vlag deur die verraaiers opgetrek word, en dit word weer gevolg deur die smeltkroes waarvan Siener gepraat het.
 
En nou kan ek eers die eintlike vraag wat jy gevra het op ‘n realistiese wyse begin antwoord.  Die staking waarna jy verwys het absoluut niks te doen met Siener se visioene nie, dit word maar net op ‘n uiters opportunistiese en sluwe manier só aan die regse groep voorgehou.  Die doel hiermee is om te verwar, te mislei, en ja, ook om te verlei en uit te lok … om uiteindelik aangekla te word van hoogverraad!  Die lede van die sogenaamde ‘Boeremag’ is dan presies op hierdie agteraf wyse in hul spesifieke lokval ingelei!  En sowaar, ons regse mense wil nie hierteen gewaarsku wees nie, hulle vloek en skel my eerder!  Ek sukkel soms om te glo wat ek hoor en sien gebeur!
 
Die staking in die visioenêre opset koppel inderwaarheid met ‘n tweede rebellie wat die volksverraaiers met die hulp van Engeland sal uitvoer om die mag van die konserwatiewe regering in Noordwes weg te neem.  Noordwes word ‘n Volkstaat en die VF+ wen die verkiesing wat daaruit voortspruit.  Dit is hierdie tweede poging tot ‘n staatsgreep waarna ek hierbo verwys het as ‘n ‘rooi komplot’, en hierdie komplot is in werklikheid die ‘staking’ waaroor jy navraag doen.  Die visioenêre verhaal koppel dit aan ‘n ‘klein potjie’ wat gebruik word om ‘n maaltyd van wit mieliepap gaar te maak.  Die simboliek sê dat ons eenmaal by ‘n vredesmaaltyd sal aansit sodra ons die vryheid uit God se Hand verkry het.  Daar is ‘n paar sulke pogings om die feesmaal aan te lê, maar die vyand dwarsboom dit elke keer.  Visioen 002b verwys op ‘n baie eksplisiete wyse na hierdie potjie, en lê die verband tussen die pot en ‘n staking op ‘n heeltemal ondubbelsinnige wyse neer. [002b03 06/03/1914 Die klein potjie (staking).]  Ons vind egter in die gang van die verhaal dat die staking niks met ‘n [myn] staking te doen het soos ons dit ken nie, en dat dit daarom op geen manier na die huidige gebeure by Marikana kan verwys nie.  Dit verwys in werklikheid na ‘n rebellie wat deur die verraaierselement in die Boervolk uitgevoer word.
 
Die begrip ‘klein’ is belangrik hier, want ‘n ‘klein oorlog’ verwys na ‘n burgeroorlog, wat natuurlik kleiner as ‘n internasionale oorlog is.  Die visioenêre verhaal sê byvoorbeeld dat ‘n Duitse vloot met kanonne aan boord na Lüderitzbaai sal kom om die Engelse vyand hier te kom beveg.  Dit vorm deel van die internasionale konflik in die verhaal.  Daar kom egter nog vóór dit ‘n skuit met twee mausers aan wal in Duitswes. Die skuit is ‘n kleiner weergawe van die groot skepe en die mausers is bloot kleiner weergawes van die kanonne wat hierheen gebring word.  Die verskil is dat die skuit en die mausers [ook twee wit skimmelperde] nét betrokke raak by die burgeroorlog-deel van die Suid-Afrikaanse deel van die visioenêre verhaal.  Die skepe bring Duitse soldate en wapentuig om die Engelse en die Indiërs te oorwin en te verjaag.  Die relatiewe grootte van die potjie dui dus aan dat dit deur die leierselemente van die Boervolk gebruik word om ‘n gesamentlike ete, ‘n vredesmaaltyd vir ons volk voor te berei.  Dit ontaard egter in ‘n skokkende stuk verraad wat direk tot die smeltkroes lei waarna Siener verwys het.
 
Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: