Slaan oor na inhoud

Art 074: 2014-12-03 Zuma se staatsgreep….

2014/12/03

http://www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria.

Nou ja, daar gebeur dit toe, né! My tydsberekening hiervoor, en die manier waarop dit gebeur het, was dalk nie so presies in die kol nie, maar maak dit in hierdie geval nog werklik soveel saak? Want wat wel belangrik is hier is dat ons politieke stelsel prakties so stilweg oorgegaan het na ‘n Zuma-magstaat, net soos ek dit in die vorige artikel voorsien het. Ek het hierdie opmerking gemaak tydens ‘n onderhoud met Radio Orania op 26 Desember 2013. (Is dit nie maar ’n kenmerk van die ANC dat hulle hul politieke bekooksels ‘so stilweg’ op ’n agteraf manier gaar maak nie?)

Die media en die politieke partye (in die parlement) is baie versigtig om nie die woord ‘staatsgreep’ te wil gebruik nie, maar wat was die gebeure van 13 November 2014 in ons parlement anders as nét dit? Die polisie se ingryping in die parlement, toe ‘n lid van die EFF deur hulle aangerand en ‘verwyder’ is, het effektief ‘n sigbare oorgang gebring vanaf ‘n gewaande ‘demokrasie’ na ‘n volwaardige ANC diktatorskap. Want dit is net ‘n kwessie van tyd voor dit weer gebeur, en wéér, totdat die skote in die parlement begin klap en ons onsself skielik binne ‘n volwaardige swart op swart revolusie bevind. (Daar was, volgens wat berig is, ook nog ander lede van die opposisie wat deur die SAP aangerand is tydens hierdie uiters onsmaaklike gebeure.)

Die gebeure by Marikana lê nou al ‘n rukkie terug in die verlede, maar die skokgolwe daarvan vibreer nog steeds. En JA! Malema het na die gebeure op 13 November baie seker gemaak dat daar vir altyd ‘n direkte lyn deurgetrek sal word van die polisie se optrede by Marikana tot by hul onlangse ondemokratiese fisiese ingryping in die parlement se werksaamhede!

Hierdie is natuurlik nie alles maar net politieke wind nie. Ons kan duidelik sien dat Zuma en die ANC die SAP doelbewus gebruik het om die eerste treë te neem om fisiese militêre beheer oor die parlement te verkry. Op die heel minste het die ANC hiermee ‘n meganisme in plek gekry om toekomstige teenstand in die parlement plat te druk, want Malema is reg as hy sê dat dit wéér gaan gebeur! Die vraag is net met hoeveel geweld dit ‘n volgende keer gepaard sal gaan: gaan die hele EFF parlementêre verteenwoordiging, soos die stakers by Marikana, ook sommer net daar doodgemaak word?

En dit op presies hierdie punt waar die storie baie interessant begin raak; want dit koppel al hoe vinniger met die toekomsblik wat Siener se visioene aan ons gegee het. Ek het in ‘n vorige artikel, kort nadat Malema prominent begin word het, gesê dat hy die potensiaal het om ‘n swart revolusie aan die gang te sit en Zuma en die ANC tot ‘n val te bring. Hy is in duidelik besig om dit reg te kry om ‘n magsbasis teen die ANC op te bou deur op die rug van die ANC se openlike korrupsie en onbeholpe politieke lompheid te ry. Die inherente brutaliteit en magswellus in Afrika-politiek kan egter nie hierdie soort weerstand verdra nie, en dit was bloot ‘n kwessie van tyd voor daar ‘n dramatiese brandpunt sou kom. En so het dit ook nou duidelik begin word dat die SAP se ingryping in die parlement eintlik doelbewus deur Malema en sy kollegas uitgelok is. En hierdie proses gaan ook nie hier stop nie, want dit kan nie meer nie, en so sal die een vlam op die ander een teer totdat daar net een reuse groot vuur is wat homself vernietig!

Malema het dan ook reeds gewaarsku dat die polisie [maklik] weer sal kan ingryp, en ek dink ons kan aanvaar dat hy sal sorg dat dit wél gebeur. Hy het dan ook reeds in die openbaar gesê dat hulle nie sal ophou met hul veldtog teen Zuma totdat hy hul vrae beantwoord het, en ook die geld wat hy skuld terugbetaal het nie….wat beslis óók nooit sal gebeur nie! Die twee groepe het dus standpunt teen mekaar ingeneem en die een gaan nie voor die ander buig nie, en in elk geval nie sonder ‘n groot geveg tot die dood toe nie!

En ek dink dit is op hierdie punt belangrik om ook weer na die groter toekomsprentjie te begin kyk. U sien, Zuma se subtiele staatsgreep is ‘n noodsaaklike volgende stap op ons pad na die werklike Godgegewe Nuwe Suid-Afrika (soos die visioenêre verhaal dit voorsien). Die EFF het nou duidelik gewys dat hulle die staatsgesag wil beheer, en hierdie magswellus, saam met die absoluut morele korrupte ANC, vorm op hierdie stadium die basis van Siener se boom wat so spontaan van bo af op homself ineenstort en in ‘n gat in die grond verdwyn. Hierdie gat verwys op die simboliese vlak na ‘n graf, en al wat ek nog hiervan wil sê is: RIP die ANC!

Ons het nou ‘n punt bereik waar ek kan herhaal wat ek reeds in 2004-2005 op Boerevryheid.co.za en ook hierdie artikelblad gesê het: ‘…soos die blankes gewoond moes raak aan ‘n post-NP tydperk, so sal die swartes ook gewoond moet raak daaraan dat daar ‘n post-ANC tydperk sal aanbreek…

Ek is destyds erg deur die ‘regse’ politieke mense uitgelag, en selfs beledig hieroor, maar nou het ons net skielik presies dáár aangekom. En NEE! dit is nie regtig ek wat so slim is nie, maar eerder dat ek Siener se visioenêre verhaal verstaan. As ‘n mens Siener verstaan word dit meteens ook makliker om die dinge rondom ons te kan plaas en te verstaan! Daardie ouens het kleigetrap omdat hulle Siener in ‘n politieke en/of in ‘n verfoeilike heidense Griekse filosofiese lig wil verstaan en verduidelik, en hulle doen dit nog steeds. Ek kan my egter ook nog steeds op geen manier met hul huidige ongemak hieroor verlustig nie. U sien, as dit net hul eie ondergang meegebring het sou dit dalk nie so sleg gewees het nie, maar nou gaan hierdie ‘slim’ mense ongelukkig ook duisende relatief onskuldige mense saam met hulle sleep … en dit is mense wat reggehelp kon gewees het!

Die ANC se optrede in die parlement het ons natuurlik ook ‘n stappie nader gebring aan die kruispad wat voor ons volk lê en wag. Nou, die ANC het niks met hierdie kruispad as sulks te doen nie, maar dit vorm nogtans ‘n belangrike vooraf-deel daarvan. Ek het in die vorige artikel onderneem om meer oor hierdie kruispad te sê, maar ek is tot op datum telkens op die een of ander manier gekeer om dit te doen. Ek het egter nou al geleer om geduldig te raak as hierdie soort ‘blok’ op my geplaas word, want dit help ook nie om iets te probeer sê as die tyd daarvoor nie ryp is nie. Hierdie situasie het skynbaar intussen begin verander, en een van die belangrikste dinge wat vir ons wag is juis hierdie kruispad waarvan ek praat.

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: