Skip to content

ART 083: 2015-12-10 Het die Derde Wêreldoorlog reeds begin?

2015/12/11

www.sienervanrensburg.co.za
FH Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria.

‘n Ou vriend van Bloemfontein het my op 7 Desember 2015 per e-pos gekontak met ‘n ietwat kriptiese, maar nogtans baie relevante vraag vir die tydstip waarin ons leef:

Het die derde wêreldoorlog reeds begin?

Ek het my antwoord aan hom sedertdien ‘n bietjie uitgebrei om sommer ook as ‘n artikel te kan dien.  Hierdie vraag het inderdaad ‘n baie relevante kwessie geword, en dan onder andere ook omdat dit wil voorkom asof sekere Bybelse profesieë dalk besig kan wees om saam met dit in vervulling te gaan.  Daar is, in hierdie opsig, sekerlik meer as genoeg spekulasie op die internet hieroor! En een van die meer luidkeelse uitsprake is verwysings na ‘profesieë’ dat Rusland Istanbul moét inneem sodat die profeet Daniël se Koning van die Noorde teen die Koning van die Suide kan begin optree.  Die idee is natuurlik dat Putin hierdie Koning van die Noorde sal wees en Turkye die Koning van die Suide.

Die internet loop eenvoudig oor van die huidige gebeure in Sirië en die feit dat Rusland aan daardie regering se kant betrokke geraak het in ‘n poging om ISIS uit te wis.  Dit is natuurlik vererger deur Turkye se uitlokkende houding toe hulle eers  ‘n Russiese vliegtuig afgeskiet het en toe ook nog een van die bemanningslede onder sy valskerm in die lug doodgeskiet het.

Die ietwat versteekte kern van hierdie nuus is natuurlik die feit dat ISIS deur die CIA geskep is en die (baie groot) moontlikheid dat Obama eintlik besig is om deur ISIS en Turkye met Rusland skoor te soek om ‘n rede te vind om hulle militêr aan te val.  En dit is nie asof hierdie maar net een van ‘daai soort’ riemtelegramme is nie, want Putin het die bewyse hiervoor in die openbaar uitgestal.  Obama het in hierdie verband ook reeds ernstige openbare probleme in Amerika begin ondervind oor die vergrype waaraan hy homself al meer skuldig maak.  Die probleem in Sirië is maar net deel van ‘n reeks van sulke vergrype.  ‘n Elite Amerikaanse militêre valskermgroepering soos die Green Berets is byvoorbeeld openlik in opstand teen wat hy besig is om aan te vang in die VSA!  Daardie saak het nou wel nie direk te make met wat in die Midde-Ooste gebeur nie, maar dit is ‘n aanduiding van hoe sterk die gety in Amerika besig is om teen hom te draai.  Hy het dus moontlik nie baie tyd oor om te doen wat hy glo hy moet doen nie.

Ons sien verder ook dat Sjina en Iran nou fisies openlik met Rusland wil saamwerk om ISIS uit te wis.  Selfs Irak het aan die VSA gesê om maar liewers weg te bly uit hul land, en het ook nou die Russe uitgenooi om teen ISIS in hul land te kom optree.  Irak was tot baie onlangs nog aan die VSA se kant in hierdie stryd…totdat Putin dit aan die wêreld uitgespel het hoe die CIA eintlik die argitekte was wat ISIS gestig het.  Dit het intussen dan ook aan die lig gekom dat die VSA lugmag nie regtig die ISIS terroriste bombardeer soos hulle veronderstel is om te doen nie,  maar dat hulle wel voorrade met valskerms vir hulle afgooi!  Dan is daar ook nog die probleem dat Rusland, sonder omhaal van woorde, Israel ernstig gewaarsku het om liewers uit Sirië weg te bly en nie daar betrokke te probeer raak nie!

En asof dit nie genoeg is nie is Duitsland ook besig om direk betrokke te raak by die konflik.  Ek sal hieronder uitbrei hieroor, want dit is die werklike motivering vir hierdie artikel, maar dit kom nou aan die lig dat niemand minder as juis baron Karl-Theodor zu Guttenberg ernstig besig is om hierdie oorlogsvure in Duitsland aan te blaas nie! Hy het naamlik op 4 Desember 2015  ‘n artikel hieroor geskryf in die baie invloedryke Handelsblatt, waarin o.a. die volgende gesê word:

‘…SYRIAN DILEMMA

‘…Pandering to voters’ fears isn’t going to solve the problems in the Middle East, Guttenberg says. Source: Patrick Pleul/DPA…’

En dan die inleiding tot sy artikel:

Welcome to Realpolitik

BY KARL-THEODOR ZU GUTTENBERG

It’s not perfect and voters won’t like it, but intervening in Syria is the right thing for Germany to do, says the country’s former defense minister. …’

Ek sal later in die artikel verder verwys na hierdie koerantartikel, want op hierdie punt wil ek eers oorgaan na die uitgebreide antwoord aan my vriend.

*************

 

My antwoord:

Hallo Ben,

Het die derde wêreldoorlog reeds begin?

Nee, ek glo darem nie….  Dit is dalk nog ‘n bietjie vroeg hiervoor, want as ek Siener se visioenêre verhaal reg verstaan is daar sommer nog baie dinge wat eers in plek moet kom voordat die Derde Wêreldoorlog kán uitbreek.  Hier is dit natuurlik van kritieke belang om te besluit wie ‘n mens wil glo, Siener of die baie self-aangestelde ‘kenners en profete’ op die internet!

Ek dink dit is dan veral ook belangrik om te verstaan dat die oorlog waarvan Siener gepraat het in Pole se suidwestelike deel, langs Duitsland, sal begin en nie in Sirië of Turkye nie!  ‘n Turk sal dit inderdaad begin, maar dan deur ‘n gepoogde aanval op Duitsland en nie op Rusland nie.  Die Turk, wat ‘n terroristeleier sal wees, se vennote sal ook nie die VSA se soldate op die grond wees nie, maar wel die Britse vorstehuis en ‘n deel van die Engelse militêre, Frankryk, België, en ook drie Indiër terroristegroepe.

Ek weet daar is nou baie stories in omloop dat Rusland die Turke moet aanval en inneem sodat hy kan kwalifiseer om Daniël se Koning van die noorde te word, ensovoorts.  Dit sou dan, volgens hulle, die begin van die Derde Wêreldoorlog wees.  Maar as ‘n mens prakties en logies na die saak kyk kom jy agter hoe erg hulle die profesieë verdraai om vir hulle te kan buikspreek.

Die probleem vir hierdie mense, dink ek,  is natuurlik dat Rusland in die (verste) Noorde van alle lande op die aardbol lê.  Rusland is letterlik in die verste noordelike uithoeke van die aarde geleë en dit skep sekere praktiese probleme vir hierdie ‘profete’.  Daniël se Koning van die Noorde trek op teen die Koning van die Suide, soos ‘n warrelwind en met baie manne en skepe, maar hy trek dan terug na sy eie gebied omdat hy allerhande slegte gerugte uit die noorde en die ooste hoor.  Ek dink dit is duidelik dat hierdie gerugte met teenstaanders van hom te doen sal hê en dat hulle militêr sterk genoeg sal wees om ‘n fisiese gevaar te skep vir hom én die gebied waar hy vandaan kom.

Nou, die kern van hierdie ‘kenners’ se aansprake is dat Rusland outomaties kwalifiseer as die Koning van die Noorde omdat Rusland (redelik direk) noord van Sirië en veral Turkye lê.  Hulle buig dan nog so ‘n bietjie aan die profesieë om te kan motiveer dat die sneller vir al hierdie dinge daarin lê dat Rusland Turkye nou (sal) moet platloop sodat die profesie waar kan word. En dan brei hulle uit oor die afskiet van die Russiese vegvliegtuig en hoe dit die sneller gáán trek wat die volgende oorlog aan die gang sál sit, ensovoorts, ensovoorts.  Hulle praat ook wyd oor die gerugte vanuit die ooste wat Rusland sal verontrus, en dan skep hulle die implikasie dat Sjina die skuldige sal wees.

Maar dit sou in die eerste plek op die praktiese vlak beteken dat daar nóg ‘n land noord van Rusland moet lê, want die Koning van die noorde raak onrustig as die gerugte uit die noorde en die ooste sy ore bereik.  En ek kan nie dink dat dit in die geval van Rusland prakties moontlik kan wees nie, want die droë land na die noorde eindig natuurlik by Rusland se noordelike grense!

Dit kan egter baie meer waar wees vir Duitsland, wat die Koning (leierland) van die EU is, en wat (ook) na die noord-weste van die Midde-Ooste geleë is.  Rusland se aandag is tans in absolute terme op ISIS gefokus, want dit is ‘n feit dat hul poging daarop gemik is om ISIS te vernietig sodat die Siriëse regering in die kussings kan bly.  Hul poging is dus NIE teen die Islam in die algemeen gemik nie, en dit word dan ook bewys deur die feit dat radikale Moslemlande soos Iran en Irak deel vorm van Rusland se poging om ISIS uit te haal.

Ons kan op geen manier dieselfde van Duitsland sê nie, want daardie land, saam met die res van die EU, word absoluut geteister deur Moslemvlugtelinge wat hul lande binnestroom en die normale gang van sake heeltemal omkrap.  Die Islam is in werklikheid besig om Europa sonder ‘n fisiese oorlog binne te val en oor te neem!  En dan moet ons natuurlik die groeiende Europese teenstand teen die Islam saamlees met zu Guttenberg se openlike afsku in hulle.  Ek dink daar is baie goeie redes om te kan aanvaar dat Duitsland eerder hierdie Koning van die Noorde sal wees as Rusland, want die teenwoordigheid van Islam in Europa skep ‘n baie groot probleem vir hulle, en hulle sal die slang daar in sy nes in Iran wil gaan doodslaan!

Die tweede rede wat ek hier wil aanvoer lê daarin dat die gerugte wat die Koning van die Noorde so sal onstel ook uit die ooste sal kom.  Die enigste land wat ernstig hiervoor kwalifiseer is Sjina, met Iran as ‘n effense tweede moontlikheid, en albei hierdie lande is openlike vennote van Rusland teen ‘n gesamentlike vyand.  Dit kan ook nie Indië wees nie, want daardie land is óók ‘n vennoot van Rusland én Sjina via die BRICS organsisasie van lande.

Ek dink dit is dus nader aan die waarheid dat die Koning van die Noorde na Duitsland verwys en die Koning van die Suide na Iran.  Iran voer o.a. terrorisme uit na Israel en ook Europa, en nou is dit ook so dat Rusland Israel in die openbaar gedreig het om nie in Sirië betrokke te raak nie, en, baie belangrik, dat Israel en Duitsland ook ‘n wedersydse beskermingsverdrag met mekaar het!  Die Pous het dit bewerkstellig omdat hy op ‘n latere stadium beheer oor Jerusalem wil hê en die Jode het só min vriende in daardie deel van die wêreld dat hulle hierdie ‘hulp’ gretig aanvaar het!  Enige konflik tussen Rusland en Israel sal dus ook oorspoel na die verhouding tussen Duitsland en Rusland.

Dit is so dat Duitsland en Rusland ook ‘n ooreenkoms met mekaar het, maar hierdie twee lande het ‘n geskiedenis dat sulke verdrae tussen hulle baie maklik verbreek word.  Trouens, daar word in diplomatieke kringe gesê, en selfs gespot, dat die geskiedenis bewys het dat die volgende stap nádat die twee lande so ‘n ooreenkoms gesluit het  telkens op ‘n geweldadige konflik uitloop.  As Duitsland dus ‘n aanval op Iran uitvoer sal dit waarskynlik ook tot ‘n konflik tussen die Duitsers en Russe lei.  Duitsland het in die onlangse verlede al sy ou militêre tenks opgeknap en opgegradeer om sy pantserkorps te versterk.  ‘n Mens wonder hoekom, en wáár hulle aangewend gaan word, want beide die woestynvlaktes van die Midde-Ooste én die steppe van Rusland is by uitstek tenk-wêreld!

Duitsland wil verder ook Iran se beheer oor die vloei van olie na die Weste sy eie maak, en die Duitse militêre magte het reeds verskeie basisse rondom Iran opgerig om juis dit te kan bewerkstellig. Waarom anders sou hulle die moeite gedoen en die koste hiervoor aangegaan het?  Alles is dus reeds in plek vir Duitsland om vinnig teen Iran te kan optree die oomblik as hulle dit wil doen!

Die punt is, as Duitsland die Koning van die Noorde is en teen Iran optree sal Rusland en Sjina vanuit die noorde en die ooste teen hom, en ook Europa, kan optree.  Hy sal dus waarskynlik vinnig op Iran toeslaan en sy vyand daar uitwis, en as Rusland en Sjina daaroor begin brom sal hy dadelik terugkeer om Europa teen ‘n aanslag te beskerm.  En in albei gevalle sal die teenstand teen hom vanuit die noorde en die ooste kom.

Ek persoonlik dink hierdie dinge rondom ISIS en Turkye is deur die VSA begin om die water te toets vir ‘n moontlike aanslag op Rusland.  Obama is so verword en onstabiel as wat ‘n mens maar kan wees, en ons kan enigiets van hom verwag.  Dit is natuuurlik ook ‘n ope vraag of Amerika se konserwatiewe en militêre hierargieë op hierdie stadium so vêr sal gaan, as hulle dit natuurlik hoegenaamd wil doen.  Ek sien juis hul Green Berets (elite valskerm-groep) het Obama klaar laat weet hulle gaan nie sy opdragte rondom ontwapening uitvoer nie.  Die Sherifs sê ook openlik dit gaan nie werk nie en hy kan ‘n revolusie verwag as hy hiermee voortgaan! Hy het ook vyf of ses top generaals die afgelope tyd afgedank omdat hulle weier om sy opdragte uit te voer. So, Obama het probleme en hy sal dit dalk moeilik vind om ‘n oorlog op hierdie vlak te kan afdwing.

Die Amerikaanse volk, wat natuurlik ook sy militêre voedingsbron is,  weet ook nou dat die CIA en Obama ISIS geskep het en hulle dan ook met Turkye as ‘n soort midddelman help en onderhou, en hy sal sy kaarte baie mooi en reg moet speel om ‘n oorlog teen Rusland aan die gang te kry.  Die probleem is dat hy die parlementêre stelsel in die VSA kan omseil deur bloot ‘n sogenaamde presidential directive uit te reik.  Hy sal wel iemand kry, of dalk kan aanstel om sy opdragte uit te voer om sodoende die wêreld in ‘n verskriklike oorlog te dompel.

Dit klink erg om dit so te moet stel, maar die enigste manier wat oorgebly het om Obama te stop is om hom permanent uit te haal.  En ek dink nogal die wetsgehoorsame generaals in Amerika het hierdie moontlikheid reeds klaar verreken, so ek dink nogal dat Obama in die afsienbare toekoms doodgeskiet kan word om te keer dat die hele Amerika deur Rusland doodgeskiet word!

Maar nou ja, die huidige gebeure in Duitsland is dalk ‘n veel beter aanwyser van wat om in die algemene opsig te verwag.  Frau Merkel staan reeds duidelik op die punt om uitgeskop te word as Kanselier van Duitsland a.g.v. die Moslem vlugtelinge wat sy so maklik en so hartlik ingenooi het.  Dit is volgens alle aanduidinge eintlik maar net ‘n kwessie van tyd voordat sy gevra sal word om te gaan!

Sy is nie regtig baie gewild nie en sy is ook maar net met die vorige verkiesing aangestel omdat sy die beste van die kandidate was.  Die teenstand teen haar word op hierdie stadium by die dag groter gemaak deur haar eie vennote, en dan veral deur Herr Horst Seehofer, wat die leier van die CSU in Bavaria is.  Sy party is die politieke sustersparty van Merkel se CDU, en haar Kanselierskap is tot ‘n baie groot mate moontlik gemaak deur Seehofer se ondersteuning. Maar dit is ook hierdie man wat in 2013 gevra het dat Zu Guttenberg moet terugkeer na Duitsland en die politiek toe.  Seehofer het gesê hy hoef nie eers aan die verkiesing te kom deelneem nie, want hulle sal vir hom ‘n pos skep in die Duitse kabinet! Al wat hy moet doen is om terug te kom van die VSA af en die pos te aanvaar…

Ek sien hierin dat die deure tans net al meer oopgemaak word vir Zu Guttenberg om by haar oor te neem as leier van Duitsland.

Maar selfs dit is dalk nie eers meer heeltemal nodig nie, want al wat moet gebeur is dat hy genooi sal word om ‘n senior kabinetspos in daardie regering op te neem.  Merkel sal beslis nie meer daar wees nie, en as ons eers dáár is word alles wat ek in my artikels gesê het van hom, die Antichris, Siener se Derde Wêreldoorlog, asook ons eie deel daaraan, skielik baie waar!  (Hoofsaaklik Artikels 065, 067, 068, 070, 071, 072, 079 en 081.)  Ek was, volgens alle aanduidinge, twee jaar te vroeg in 2013 met die Duitse verkiesing as aanvangspunt vir die Antichris se loopbaan, maar hierdie tydperk is bes moontlik nou reeds met ons. En ek sê weer dat ek wel nog foute kan maak met die tydsberekening, maar nie so maklik meer met die verloop van die gebeure nie.  Daar is net te veel dinge in Siener se verhaal wat met die praktiese toneel begin saamwerk om nog té vêr verkeerd te kan wees.  Ek dink regtig dat die huidige bestel stadig maar seker besig om uit te loop en tot ‘n einde te kom.

Maar daar is natuurlik ander dinge wat óók moet gebeur voor die Derde Wêreldoorlog kán uitbreek.  Een so ‘n aanwyser, en vir ons is dit ‘n baie belangrike een, is dat die huidige regeringsboom moet begin pluiens…en ek weet regtig nie wie of wat hulle nog in die kussings hou nie! ‘n Mens wonder wat moet Zuma nóg aanvang voordat die massas hom fisies gaan uithaal ook!  Ons moet seker maar moed hou en geduldig wees, want die ANC en hul regering het eintlik reeds tot ‘n val gekom.  En ek is van mening dat die ‘ou’ Broederbond reeds sedert 1994 gereed staan om die regeringsfunksie by hulle oor te neem sodra dit in die praktyk gebeur.

Ons moet hier ook in gedagte hou dat dit tyd sal neem om twee Volkstate uit die huidige landkaart te sny, en die regering wat na die ANC sal kom is nog nie eers in die posisie om dit te kán doen nie.  Dit kan eers begin gebeur nadat die ANC verdwyn het. En JA!, drie jaar (wat oorbly van die drie-en-‘n-halwe jare) is omtrent reg om Noordwes en Noord-Vrystaat as Volkstate te kan proklameer en uit die huidige landkaart te sny.  Ek het op goeie regsgesag verneem dat die begronding van die uitsny-aksie binne ‘n paar dae kan plaasvind as al die partye op al die punte saamstem.  Maar dit sal ‘n bietjie langer neem, dalk ook omtrent drie jaar, om die nuwe staatsverdrae en ander siviele kontrakte oor die nuwe grense heen op te stel en te bevestig.  En ek dink hier spesifiek aan Engeland se onwettige besit van die minerale regte in hierdie twee streke.  Paul Kruger en sy korrupte Volksraad, en toe later ook Genls. Louis Botha en Jan Smuts, het dit destyds op ‘n skinkbord vir hulle gegee, en moenie dink dat hul hedendaagse handperdjies in die ‘ou’ Broederbond dit van hulle sal vervreem en vir die Boervolk van Noordwes sal gee nie.  Ons sien dan ook dat die nuwe regering wat in Noordwes aangestel sal word onmiddellik alle nasionale bates sal nasionaliseer om ‘n herhaling van die ‘stemreg vir die uitlanders’ in die ZAR van die 1890’s te verhoed. (Of dalk juis om probleme aan te stig, want nie almal in die komende regering van Noordwes sal opregte Boere wees nie!)

Ek wil ook net kortliks hier ‘n punt maak wat dalk kan help om die groot stukke verraad van die verlede deur so baie van ons ‘leiers’ te verduidelik.

Die Broederbond is hoogs waarskynlik destyds deur die Vrymesselary as ‘n frontorganisasie geskep om hul (Engelse) betrokkenheid by die Boervolk se politiek te verdoesel.  Die probleem wat ek dink hieruit ontstaan het lê in die ‘formulier van getrouheid’ wat elke lid moet aflê om deel van hierdie organsiasies te kán word.  Die bietjie wat openbaar gemaak is hiervan, en dan minstens wat die Vrymesselaars betref, is dat die lede onfeilbare trou aan die monarg van Engeland moet sweer.  Die Afrikaanssprekende blankes wat DIT doen kan dus uit die aard van die saak nie meer vertrou word met enige demokratiese republikeinse strewe nie, want hulle sweer trou aan die staatshoof van Engeland!  Dit is waar hul trou en belange werklik lê, en dit is waarom hulle so maklik agteraf teen ons kan knoei en draai!

Ek sal nie regtig kan sê nie, maar hierdie prosedure kan dalk ‘n bietjie anders lyk in die Broederbond, waar die lede onfeilbare trou sweer aan die gekose (en aangestelde) staatshoof i.p.v. die Britse monarg.  So ‘n eed sou egter heeltemal nutteloos word as die aangestelde staatshoof ook ‘n Vrymesselaar is, want dan sal sy eed aan die monarg van Engeland uiteindelik die deurslaggewende een wees!

Nou, die Volkstaatgedagte is reeds in die Vredesverdrag van Vereeniging van 1902 ingeskryf en vasgelê, en dit is dan ook deur Vrymesselaars opgestel en op die voormalige Boererepublieke afgedwing.  Dit het tot op datum nooit gebeur nie, maar let asseblief daarop dat dit geen verskil aan die heersende situasie sou gemaak het as die beginsel van twee Volkstate destyds  geïmplementeer was nie, want Engeland sou nog steeds volle beheer oor die twee ‘Volkstate’ gehad het indien dit ooit geïmplementeer sou gewees het.  Die verskriklike ironie van die saak in ons tyd is dus dat die huidige voorstaanders van die Volkstaatgedagte nie kan verstaan dat die komende Volkstate in alle opsigte nog steeds absoluut onder die stille beheer van die regering van die RSA sal wees nie.  My goedbedoelde raad in hierdie opsig? Pasop vir die mense wat op hierdie stadium die Volkstaatgedagte so ernstig dryf.  Kyk waar hulle vandaan kom en wees baie, baie versigtig vir hulle…!  My vorige artikel, ART 082, handel juis hieroor.

Maar nou ja, die onmiddellike sleutels wat ons soek lê in wat besig is om in Sirië en die res van die Midde-Ooste te gebeur, en dit is dalk baie sinvol om veral Duitsland se skuiwe in hierdie opsig van nader te beskou.

Die berig in Handelsblatt stel dit prontuit dat baron Zu Guttenberg ‘n baie groot voorstaander daarvoor is dat Duitsland in Sirië moet gaan ingryp.  En ek glo nie ons moet sy invloed onderskat nie, want al is hy nie meer aktief deel van die Duitse politiek nie het hy intussen ‘n soort politieke kultusfiguur in daardie land geword.  Die Duitse volk het baie respek vir hom, hy is regtig BAIE gewild, en die militêre aanbid natuurlik die grond waarop hy loop. Hy is per slot van sake die persoon wat hul interne strukture en ook hul selfrespek eiehandig herstel het, en dan is dit natuurlik ook so dat hy die top-bevelvoerders self met die hand uitgesoek en aangestel het.  Hierdie mense eet letterlik uit sy hand uit en hulle sal doen wat hy vra!

Die Bundestag is verder ook NOU besig om toestemming deur te stoomroller dat Duitsland 1200 troepe , ‘n paar Tornado vliegtuie, minstens een fregat (met sy bemanning), asook ‘n ondersteuningsgroep na Sirië kan stuur. Hierdie getalle sal wel aangroei, of Zu Guttenberg Kanselier van Duitsland word of nie, maar ek dink as hy wel gevra word om hul leier te word sal die getalle die hoogte inskiet vir ‘n vinnige en kort veldtog teen die Islam!

Maar selfs dit gaan nog steeds nie die begin van WO3 wees nie, want ‘n Turkse terroris sal dit (eers) oor sowat drie jaar begin. Onthou dat dit op ‘n onmiddellike basis vir Duitsland daaroor gaan om die vlugteling-probleem vanuit die Moslemlande op te los, en NIE om ISIS en Turkye se gestoei teen Rusland te help uitsorteer nie.  Die Duitsers onder Zu Guttenberg sal waarskynlik enige geleentheid gebruik om op die Islam toe te kan slaan, maar Turkye is nie op hierdie stadium ‘n fokuspunt vir hulle nie.

Wie sê in elk geval dat so ‘n Duitse aanslag op Iran die beginpunt van WO3 sal wees?  Ons Siener het dit nie gesê nie en die Bybel doen dit definitief nie, so enige voorval van hierdie aard sal dus noodwendig as ‘plaaslike konflik’ beskou moet word. Dit kan dus hoogstens ‘n stap in daardie rigting wees, maar darem nog nie die finale treëtjie nie.

Kom ons kyk maar wat gebeur.

Groete,

Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: