Slaan oor na inhoud

ART 104: 2018-01-06 Suid-Afrika se eie (amperse) skaakmeester.

2018/01/06

www.sienervanrensburg.co.za
F.H. Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria
Lank terug het ek ‘n artikel geskryf wat gehandel het oor ‘n skildery waarin die skilder aandui dat die Satan die Here in ‘n skaakmatposisie vasgetrek het.  Maar dan sê ‘n erkende skaakmeester wat hierdie toneel staan en bestudeer: Nee, dit kán nie wees nie, want die Here het dan nog een skuif oor voordat Hy moét kapituleer. Ons sien die onderliggeende beginsel in hierdie tafereel al meer praktiese werklikheid word soos die aanloop tot Siener se verhaal ontwikkel.  Hierdie ANC-een is ‘n skildery van mense en optredes wat om mekaar draai en swaai, wat teen mekaar beplan en opweeg en wat heen en weer skuif en voortdurend verander, maar wat net nie tot ‘n finale katarsispunt wil kom nie.  Daar sal natuurlik so ‘n punt kom, maar ons sal maar net geduldig moet wag tot dit gebeur. Weet in elk geval dat al die dinge hieronder al meer besig is om die situasie in ons guns te swaai: ons Vader het inderdaad nog ‘n paar skuiwe oor, wat nog van net een of twee!
Sê dan ook wat u wil, dit bly verstommend interessant om te sit en kyk hoe die aanloop tot Siener se verhaal aanhoudend verander soos dit ontwikkel.  Die ANC se leiersberaad het byvoorbeeld gekom en gegaan en die land brand nog steeds nie. Wel, darem nog nie, né!   Dit beteken egter nie dat daar niks in die agtergrond aangaan nie, want Rome is per slot van sake nie in een dag gebou nie.  Ek verwag dus dat dit steeds ‘n groot moontlikheid sal bly, maar die uitslag van die verkiesing, plus Zuma se jongste skuif het hierdie spesifieke potjie dalk ‘n bietjie na die agterste klein plaat op die stoof oorgeskuif.  Daar is tans iets anders besig om (ook) te ontwikkel, iets wat dalk ‘n kortpad vir Zuma kan beteken, so kom ons kyk vlugtig na waar ons  onsself tans in hierdie situasie bevind.  Dit kan ons ‘n idee gee van wat moontlik volgende kan kom.
Ramaphosa is nou die nuwe president van die ANC, maar in ‘n sekere sin het hy dalk minder mag as wat hy tot nou toe gehad het.  Sy meerderheid is byvoorbeeld net-net te klein om gewig rond te kan gooi om die veranderinge wat hy wil hê deur te voer.  Zuma weet dit, maar hy weet insgelyks ook dat sy magsbasis te klein geword het om direkte en openlike teenstand te kan bied.  En nou, om alles vir Zuma te kroon, het die vorige sekretaris-generaal, Mantashe, óók nou in die openbaar daarop aangedring dat hy as regeringshoof moet bedank. Hulle was nooit werklik vriende nie, maar nou is die messe openlik teen Zuma uitgehaal. Knoop hierdie laaste twee opmerkings iewers vas, want dit is baie belangrik vir die algemene strekking van hierdie artikel.
Die eintlike persoon met die mag in die ANC is die sekretaris-generaal en op hierdie stadium is daar nog die kwessie van die 68 of so stembriewe wat ‘weggeraak’ het.  Ons weet nie of Zuma dit daardie dag fisies uit die stelsel gaan uithaal het sodat sy keuse kon wen nie, maar ons kan seker maar daarvan dink wat ons wil. Ek kan in elk geval nie dink dat hierdie saak nié in die hof gaan beland nie, want die pos is té belangrik om die verlies daaraan net maar weg te lag. Dit is veral nou belangrik dat die ‘regte’ persoon hierdie pos sal vul, want uiteindelik gaan hy die verskil maak in die ANC se oorlewing.  Ons sal maar moet wag en sien hoeveel wurms uit dáárdie blik gaan uitkom, maar dit het wel die potensiaal om die ANC nog verder in sy binneste binnekringe op te vreet en te vernietig!  Ramaphosa kan die situasie dalk smoor, en hy het dit inderdaad probeer doen, maar dit gaan dalk net méér wrewel kweek as wat dit kan oplos.  Dit skep ‘n moontlike kettingreaksie wat die ANC uiteindelik die doodskoot kan gee. Zuma kan natuurlik niks van enige van hierdie dinge bekostig nie, want sy uurglas is inderdaad besig om baie vinnig leeg te loop.  Hierdie kêrel sal nou moet begin beweeg, hóór!
Soveel spelers, soveel versteekte agenda’s, soveel hoofde, soveel sinne. En op hierdie punt raak dit al belangriker om te verstaan wie die mense is wat hierdie marionette so lekker laat dans.  Hulle sit langs dieselfde tafel in Londen en pas hul beplanning aan soos hierdie danza macabre ontwikkel, en ons kan aanvaar dat hulle die uitkoms gaan verkry wat hulle die beste pas.  En ja, die eerste ‘onmiddellike’ tekens daarvan het reeds na vore begin kom en die kern daarvan lyk min of meer sooos hieronder.  En miskien is die beste manier om dit te stel deur te sê: Hier dan is Zuma se jongste skuif om sy teenstaanders skaakmat te probeer sit. Kyk net hoe briljant speel hierdie mense se Britse hanteerders hulle teen mekaar af, want ons kan die verskillende rolspelers en onderstrominge duidelik onderskei hier.
Zuma het weereens gratis tersiêre onderwys belowe en dit het dan ook reeds allerhande luidkeelse reaksie van alle kante ontlok.  Ons moet dit teen die klimaat en agtergrond lees wat rééds rondom tersiêre onderrig bestaan…en Zuma het by nabetragting alles daarvan baie doelbewus om strategiese redes geskep.  Die tersiêre inrigtings het lankal terug reeds daarop geantwoord deur te sê dat hulle dit gewoon nie kan bekostig nie. Dit het die EFF laat besef dat hulle dalk ‘n paar stemme kan werf, en hulle het toe die tersiêre inrigtings die teiken gemaak van ‘n baie fisiese ‘protesaksie’ teen die stelsel.  Dit het gelei tot die aanranding van ‘n paar (veral blanke) studente, asook groot skade aan die infrastruktuur van die universiteite. En so is hierdie instellings uiteindelik gedwing om slegs inskrywings oor die internet te aanvaar om konfliksituasies te vermy.
Zuma het beslis aanvaar dat dit gaan kom, want dit is waarom hy die Suid-Afrikaanse Weermag op roep geplaas het, en waarskynlik ook reeds begin ontplooi het.  Hier moet ons in gedagte hou dat die universiteite tans besig is met die registrasieproses vir 2018.   Die feit dat hy die SAW feitlik onmiddellik na sy aankondiging op bystand geplaas het, en dan selfs ook nog vóór die registrasieproses by die universiteite begin het, is na my mening die bewys dat hy hierdie dinge met voorbedagte rade gedoen het.
Die rede waarom hy dit gedoen het is voor die hand liggend.  Vriende, ek sê wéér dat Zuma dit nie kan bekostig om sy magsgreep te verloor nie.  Maar hy kan ook nie meer so direk by ‘n staatsgreep betrokke raak soos ‘n paar weke gelede nie, want die magsbalans in die regeringskringe het op hierdie stadium dalk net té fyn geword daarvoor.  Mantashe is nou wel ‘n uitgetrede leiersfiguur, maar hy geniet nog steeds wye steun in die ANC en sy onlangse beroep op Zuma om te bedank het dalk net die balans heeltemal na Ramaphosa se kant toe geswaai.  Die generaals sal gaan waar die mag, die salaris en die medaljes is, en dit is skynbaar besig om al meer in Ramaphosa gevestig te raak.  Zuma het dus ‘n soort van ‘n wonderwerk nodig wat enige hofaksie rondom die 68 stemme kan voorspring en uitkanselleer, want die kanse is 100% dat dit hom gaan kelder. En weet u, ek glo nogal dat Ramaphosa hierdie moontlike hofaksie probeer smoor juis omdat sy hanteerders die jongste Zuma-poging wil hê.  Ek glo hulle het juis hierdie situasie in ‘n veragdering aanmekaar gesit, want dit sal die onstabiliteit bring wat hulle nodig het om die mag permanent te kan gryp.
Zuma moet dus ‘n ander plan maak om minstens sy opsies oop te hou, en daarvoor het sy hanteerders ‘n ‘valse vlag’ operasie geskep.  Hulle het verwagtinge by die jeug laat aanvuur wat die universiteite op geen manier kan of wil bevredig nie, en wat hierdie onstabiele klomp jeugdiges in massas by die EFF sal laat aansluit. Die gestamp en gestoei en vandalisme wat hieruit sal voortvloei kan dalk net genoeg wees om die afkondiging van ‘n noodtoestand haalbaar te maak.  En as hierdie dan nie ‘n volwaardige staatsgreep is nie kan dit natuurlik maklik in een verander.  Niemand sal ‘n woord teen Zuma kan sê nie, want dit is die EFF wat die situsaie sal skep en nie hy nie.  Niemand sal ook iets teen hom kan doen nie, want dit is sy mense wat die gewere sal vashou, nie waar nie?
Groete,
Frik Pretorius.
———————————————————————————————————————

 

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: