Skip to content

ART 107 2018-04-24: So is Siener se visioenêre verhaal uitgesorteer.

2018/04/24

www.sienervanrensburg.co.za
F.H. Pretorius,
Garsfontein,
Pretoria

Ek het, in aansluiting by die vorige artikel 105, op ‘n vraag afgekom wat ek gevoel het die aandag moet ontvang wat dit verdien.  Een van die lede van Elsa Muller se FB blad, OOM SIENER VAN RENSBURG – PROFEET VAN GOD* vra die volgende baie belangrike vraag daar:

…Elsa Muller ek stem saam.  Ek het ook hierdie verandering waargeneem en gewonder daaroor. Hoe kan enigeen van ons sê wat Siener werklik gesien het en wat dit werklik beteken…”

Ek het hieroor gaan sit en dink en skielik besef dat daar sommer baie mense moet wees wat ook met hierdie vraag in die hart sit. Nou kyk, in terme van die geloofwaardigheid van my bydrae gesien is daar twee basiese groepe mense.  Een groep glo wat ek sê en die ander een nie, en ek dink een van die redes waarom dit so is word gevind in die gesegde “onbekend maak onbemind”.  In hierdie geval beteken dit vir my dat my werksmetode onbekend moet wees en dat hulle daarom op geen manier kan weet hoe ek Siener kon uitsorteer nie.  Dit is bes moontlik dan ook juis een van die redes waarom mense in die algemeen huiwerig is om boeke soos hierdie aan te koop.  Ek het derhalwe besluit om my volledige werkswyse vir openbare kennisname te publiseer sodat mense kan sien en verstaan hoe dit moontlik was om die visioenêre verhaal in soveeel detail te kon identifiseer. Die artikel hieronder is in werklikheid die hele hoofstuk 3 van Deel 2 in my eerste boek, Siener van Rensburg – profeet of waarsêer – Wat is die Waarheid?

[* https://www.facebook.com/groups/427103870673448/?ref=br_tf ]

———————————————————————————————————————————————–

DEEL 2 – HOOFSTUK 3: DIE WERKSMETODE.

Inleiding.

Die werksmetode wat ek ontwikkel het is ‘n sprekende voorbeeld van die wyse waarop die nodige insig en die deurbrake van Bo gekom het. Die leser moet hier baie goed verstaan dat die baie “ekke” in die verduideliking bloot vir gerief gebruik word, want ek het ook maar net as ‘n verwonderde tussenganger gedien. Ek het aanvanklik in die derde persoon probeer skryf, maar dit het geneig om in ‘n onaanvaarbare pretensieuse gemors te ontaard. Daar is ongelukkig nie ‘n ander manier om dit te doen nie, omdat my insig in die verhaal baie intiem aan my geloofstelsel, lewenservaring en algemene lewensbeskouing verbonde is. Die werklike insig kom egter van buite my af en ek was bloot net instrumenteel daarin. Ek is oneindig dankbaar vir hierdie voorreg, maar die eer daarvoor kom ons Vader toe.

Toe ek met hierdie werk begin het, het ek niks van die visioene af geweet nie. Die massas en massas deurmekaar inligting wat my gekonfronteer het, het my probleem ook nie makliker gemaak nie, want ek kon nie dink wat om met soveel chaos te doen nie. Maar meer as dit het ek selfs ook nie eers geweet presies wat van my verwag word nie. Hier is dit belangrik om te verstaan dat niemand, maar niemand my op enige wyse kon help nie. En tog het ek telkens, asof instinktief, die “regte dinge” gedoen om die algemene verhaal binne die relatiewe kort tydperk van ‘n paar jaar oop te breek. Ek het byvoorbeeld reeds aan die einde van 1998 ‘n baie goeie idee gehad van waaroor die verhaal gaan, en die oorwig van my navorsing daarna het daaroor gegaan om ‘n praktiese metode te ontwikkel om die bewyse daarvoor op papier voor te stel. Dit moet vergelyk word met die vrugtelose pogings van hoogs ontwikkelde mense die afgelope honderd jaar. Die leerproses het weliswaar sukkel-sukkel plaasgevind, en die nodige insig het maar stukkie vir stukkie gekom, maar dit het uiteindelik uitgekristaliseer in die inhoud van hierdie boek. Die werksmetode het op ‘n heel natuurlike wyse ontwikkel uit my aanvanklike pogings om die sleutel verder te ontwikkel. Ek het in hierdie verband heeltemal instinktief teruggegryp na sekere beginsels wat ons in die eskatologiese manier van doen aantref. Die onderliggende argument hier was: ás die Siener ‘n profeet was, en ás die visioene werklik van God af gekom het, dan behoort hulle mos ook dieselfde kenmerke en eienskappe te vertoon as die visioene in die Bybel. Die mees basiese grondbeginsel van die eskatologiese werkswyse sê dat ons die Bybel alleenlik vanuit die Bybel self mag verklaar, en ons mag nie ons eie verklarings daarvan deur middel van die menslike rede probeer saamstel nie. Dit beteken dat ‘n mens ‘n goeie en betroubare konkordansie met groot vrug kan aanwend om die Bybel te bestudeer. Dit impliseer natuurlik ook dat ons ‘n soortgelyke instrument benodig om die visioene te kan bestudeer. In hierdie opsig was ek aanvanklik op die indeks aangewese wat Raath met groot moeite met die hand saamgestel het en wat in Die Vierkleur Wapper Weer verskyn. Dit was egter nie heeltemal geskik vir my doeleindes nie, omdat ek so min van die visioene geweet het. My spesifieke behoefte was ‘n indeks wat al die simbole gelyktydig alfabeties kon lys, die visioen waarin dit voorkom kon aantoon, asook ‘n baie kort beskrywing van die simbool én die handeling wat dit uitvoer. Die idee was om die naslaanproses te vergemaklik, omdat al die tersaaklike inligting dan gelyktydig oop voor my kon lê. Hieruit het vier belangrike ontwikkelinge voortgevloei. Dit is belangrik om te weet wie of wat die ander simbool is wat met enige bepaalde simbool saamgaan, waarom die simbool en/of simbole op ‘n bepaalde manier optree, en ook waar en wanneer die optrede plaasvind. Dit het uiteindelik ‘n indeks opgelewer waarmee ek die opeenvolgende optredes van enige enkele simbool in ‘n logiese volgorde agtermekaar kon plaas. Dit het weer tot die identifisering van die verskillende verhaaltjies in die visioene gelei, en dit het my uiteindelik gebring waar ek die verhale bymekaar kon begin inpas om ‘n groot samehangende geheel te vorm.

(2.3.1.) Die indeks.

Die woordelys wat ek tans gebruik bestaan uit sowat ses-en-dertig duisend reëls en is die negende samestelling van sy soort wat ek oor die afgelope paar jaar gemaak het. Die indeks reflekteer verder ook meer as bloot net die feitelike kruisverwysings wat in elke visioenreël voorkom. Soos my insig ontwikkel en verdiep het, het dit al hoe meer nodig geword om ook die oorskakeling na ander simbole en/of verbande aan te toon. Dit sluit dan ook sommige van die koppelinge in wat tussen die verskillende verhale voorkom. Dit neem byvoorbeeld nie baie lank om agter te kom dat die noordweste van Europa en Duitsland dieselfde plek is nie. Maar dit raak nogal verwarrend as ‘n visioen bloot net na die noordweste verwys, want ‘n deel van die verhaal speel ook in die noordweste van die Unie af. Die verwarring word nóg groter as ons in ag neem dat dieselfde basiese gebeure in albei hierdie gebiede afspeel. (Die een verduidelik telkens die ander een omdat dit in werklikheid ‘n soort spieëlbeeld vorm van wat op die ander plek gebeur). Dit skep nogal ‘n probleem totdat jy uiteindelik agterkom dat hierdie aparte stelle gebeure deur ‘n enkele stel gemeenskaplike visioene beskryf word. Die indeks dui onder andere hierdie fyner verdeling aan. (Ons sal hierdie voorkoms later bespreek.). Die voorbeeld hieronder toon eers die oorspronklike visioen aan, dan my verwerking daarvan, en dan laastens die alfabetiese vorm waarin dit in die indeks verskyn.

(2.3.2.) Voorbeeld van die indeks.

Visioen [217] dien as voorbeeld van hoe die indeks lyk.

(2.3.2.1.) Die oorspronklike:

[217] 15 April 1916. Ons het nuwe hemde aan. Die grou kat het ‘n muis gevang. Die bekers is leeg en uitgewas.

(2.3.2.2.) My aanvanklike verwerking:

Ek het elke visioen in verbandhoudende reëls verdeel en aan elkeen ‘n unieke nommer toegeken sodat die rekenaar se sorteerfunksie elke reël as ‘n unieke eenheid kan herken.

[217.01 15/04/16] Ons het nuwe hemde aan.
[217.02] Die grou kat het ‘n muis gevang.
[217.03] Die bekers is leeg en uitgewas.

(2.3.2.3.) Die alfabetiese indeks:

Die sorteerfunksie het my in staat gestel om elke simbool soos hieronder te merk, en/of sy optrede en die plek waar dit gebeur in ‘n alfabetiese volgorde bymekaar te trek. Ek gee hier ook ‘n aanduiding van hoe die indeks gebruik word om groepe inligting aanmekaar te verbind. Die vetgedrukte woorde verwys na mekaar.  Die sleutelbegrip hier is dat Indië die Tier se natuurlike tuiste is, net soos vir Afrika en die leeu.  Daar is ook nie ander moontlikhede waar hierdie leidrade bymekaar kan pas soos hier nie.

BEKERS [217.03] Die bekers is leeg en uitgewas.
HEMDE NUWE [217.01 15/04/16] Ons het nuwe hemde aan.
INDIëR [147.03] Die Tijger leg voor die deer.
INDIëR [217.02] Die grou kat het ‘n muis gevang.
KAT [147.03] Die Tijger leg voor die deer.
KAT GROU [217.02] Die grou kat het ‘n muis gevang.
KINDERS [217.02] Die grou kat het ‘n muis gevang.
KLERE HEMDE [217.01 15/04/16] Ons het nuwe hemde aan.
MUIS [217.02] Die grou kat het ‘n muis gevang.
NUUT HEMDE [217.01 15/04/16] Ons het nuwe hemde aan.
PROOI [055.04] “Deze zyn het die hun leven tot een prooi gegeven het…
PROOI [217.02] Die grou kat het ‘n muis gevang.
PROOI [531.04] “Deze is het, die hun leven gegegen heb tot een prooi…
SKOON BEKERS [217.03] Die bekers is leeg en uitgewas.
TIER [147.03] Die Tijger leg voor die deer.
TIER [217.02] Die grou kat het ‘n muis gevang.

(2.3.3.) Praktiese toepassing van die indeks.

Die praktiese aanmekaarsit van ‘n verhaaltjie vereis dat ons letterlik ‘n stukkie inligting van híér en ‘n suggestie van dáár bymekaar moet voeg om ‘n samehangende geheel op te bou. Dit bly egter belangrik om ook te verstaan dat elkeen van hierdie flentertjies deel vorm van ‘n volledige en selfstandige visioen, wat ook ander verwysings na ander verhale bevat. Om te verhoed dat hierdie saamgebondelde inligting “verlore raak” het ek aanvanklik elke visioen gedupliseer gelyk aan die aantal reëls wat dit bevat. Dit beteken dat elke verwysing wat iewers in ‘n verhaal geplaas word óók die volledige visioen waarin dit voorkom saamdra. ‘n Visioen wat byvoorbeeld uit nege reëls bestaan sal dus minstens nege keer in die ontleding voorkom. Baie van hierdie reëls dien egter ook as vertakkingspunte na kleiner sub-verhale, wat beteken dat elkeen daarvan bykomend geplaas moet word om as ‘n vertrekpunt vir so ‘n vertakking te kan dien. Dit is baie lomp en langdradig, maar dit is ook die enigste waarborg wat ek gehad het dat geen inligting verlore sal gaan nie.

Die proses begin tipies by enige reël van ‘n visioen. Die kruisverwysings in so ‘n reël word gebruik as basis om alle ander visioenreëls wat daarmee koppel in ‘n saamgestelde verwysingspoel bymekaar te bring. Die posisie van die kruisverwysings kan na willekeur in die indeks in die rekenaar verander word deur bloot ‘n unieke kode (“vlaggie”) daaraan toe te ken. Dit kan dan met behulp van die sorteerfunksie van die rekenaar saam met al die ander kruisverwysings heen en weer geskuif word totdat jy die basiese feite van ‘n verhaal min of meer agtermekaar geplaas het. Dit lewer ‘n rou verhaal wat dan verder verfyn kan word. Dit word gedoen deur die inligting wat kortkom in die indeks te gaan soek, en hierby in te trek deur weereens ‘n vlaggie daarvoor te gebruik. Die verwysings wat met mekaar koppel word dan sover moontlik in ‘n logiese en verhalende volgorde agtermekaar geplaas. Enige skoolkind wat al ‘n begripstoets moes doen, of ‘n leesboek moes ontleed, sal verstaan hoe dit werk. Die werksmetode verhoed dat ons nie maar net ‘n storie kan saamflans soos ons wil nie. Daar is per slot van sake sekere opeenvolgende feite in enige verhaal, en dit moet minstens met mekaar en die ander inligting rondom dit balanseer.

Die volgende stap wat hieruit ontwikkel het was om die verskillende verhale met mekaar te sinchroniseer. Ek verstaan genoeg van die verhaal en die simboliek daarin om dit vrylik te kan verduidelik, maar dit is nogtans nie goed genoeg nie. Die ideaal is om die sinchronisasieproses op so ‘n wyse op papier voor te stel dat die verhaal deur ‘n objektiewe oudit as waar en eg bewys kan word. Die metode wat ek tans hiervoor gebruik het oor ‘n hele paar jaar vorm aangeneem en is die produk van verskeie pogings om veral die vierde dimensie, die tydsaspek, óók op papier voor te stel. Dit het die lompheid van die metode hierbo in ‘n baie korter en meer kompakte manier van doen verander. (Ek is nie van plan om die indeks te bemark nie, want in sy huidige vorm kan dit niemand help om die verhaal uit te pluis nie. Dit verteenwoordig eerder my persoonlike leerkurwe as wat dit ‘n onfeilbare indeks vir algemene gebruik is. ‘n Mens bereik in elk geval naderhand ‘n vlak van insig waar die indeks tot ‘n blote hulpmiddel reduseer om sekere visioene vinnig op te spoor. Dit beteken dat die aanmekaarsit van die verhaal eerder in jou kop plaasvind as op papier. As jy eers die verhaal verstaan volg die res baie maklik, veral as jy jou eie indeks opstel. Dit begin waar jy die visioene woord vir woord in jou rekenaar intik, want dit is die enigste manier om die visioene werklik in diepte te leer ken.)

(2.3.4.) Die sinchronisasieproses.

Baie van die gebeure vind gelyktydig op verskillende plekke plaas, maar is só uiteenlopend van aard dat ons dit nie as ‘n geïntegreerde geheel kan voorstel nie. Ons kan dit weens die vierdimensionele aard daarvan ook nie op enige wyse op papier voorstel nie. Die mees praktiese manier om die gebeure in die vorm van ‘n tydreeks voor te stel is om dit in kolomme langsmekaar te plaas. Die manier waarop ek die proses tans benader neem die vorm aan van ‘n gerekenariseerde spreistaat. Die breedte van die matriks word bepaal deur die aantal plekke en gebiede wat in die verhaal voorkom, terwyl die lengte ‘n funksie is van die aantal visioenreëls wat ons ontvang het. Die groot voordeel van ‘n gerekenariseerde spreistaat is dat ons die grense van die matriks kan rek of krimp soos dit ons pas.  Die grootte daarvan maak dit egter baie moeilik om gemaklik te kan lees.

(2.3.4.1.) Breedte.

Die ruimtelike dimensie word van links na regs aangetoon. Elke kolom verwys na ‘n plek of gebied wat in die visioene aangedui word. Die huidige tabel strek in my rekenaar oor 60-kolomme wat elk 6cm breed is.

(2.3.4.2.) Lengte.

Die lengte van die tabel word bepaal deur die sowat 3000(+/-) reëls in die aangetekende visioene wat ons ontvang het. Die leser moenie hierdie aantal as ‘n rigiede grens beskou nie. Die doel met so ‘n reël is om ‘n spesifieke gedagte-eenheid van die res van die visioen af te grens, wat meebring dat ‘n visioenreël soms uit meer as een sin bestaan. Visioen [007e] is ‘n voorbeeld hiervan. Dit kan dus rek of krimp soos die ontleding vorder en ‘n visioenreël se betekenis by ‘n gegewe situasie inpas.

(2.3.4.3.) Diepte.

Die handeling wat elke simbool op ‘n spesifieke plek en tydstip uitvoer gee die nodige diepte aan die verhaal. Dit word van links na regs in sowat 3,000 reëls in die sestig kolomme weergegee. Dit beteken egter ook dat meer as een visioenreël saam op so ‘n lyn kan lê, want sommer baie van die gebeure speel gelyktydig op verskillende plekke af.

(2.3.4.4.) Die vierde dimensie.

Die idee is dat al die gebeure wat gelyktydig afspeel langsmekaar op dieselfde lyn, maar elkeen in sy eie “plek-kolom” sal lê. Dit skep dus die moontlikheid dat die inligting in elke verhaal uiteindelik outomaties tot in die fynste besonderhede met al die ander gesinchroniseer kan word.

(2.3.5.) Die rol van suggestie.

Op hierdie punt moet ons ook kortliks kyk na die rol wat suggestie in die visioenêre verhaal speel. Dit kan ongelukkig op geen wyse as ‘n individuele onderwerp bespreek word nie, want dit werk soos ‘n suurdeeg en kom orals en op wyd uiteenlopende maniere na vore. Ons kan selfs sê dat dit die absolute tegniese basis van die verhaal vorm. Die voorkoms wissel van verwysings na die gebeure in ander verhale, tot by die meer komplekse wyse waarop dit die dieper betekenis van die simboliek vir ons ontsluit. Die leser moet egter nie die rol wat suggestie in die visioene speel verkeerd verstaan nie. Dit bestaan weliswaar uit verskillende dieptevlakke van begrip, maar tóg is daar werklik niks dubbelsinnig of selfs misterieus daaraan nie. Die toepassing daarvan is deurgaans baie prakties van aard, en die betekenisse wat dit na vore bring lê almal op die rasionele en logiese vlak. Ons sal die voorkoms kort-kort raakloop en dit sal pertinent aangetoon word waar dit ‘n bespreking regverdig.

Einde van hoofstuk en aanhaling daarvan

Groete,
Frik Pretorius.

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: