Slaan oor na inhoud

ART 120: 2019-08-06 Die moontlike plek en rol van BREXIT in Siener se visoenêre verhaal.

2019/08/06

http://www.sienervanrensburg.com
F.H. Pretorius,
Swartruggens,
Noordwes Provinsie.

My goeie vriend Dawie Wiesner het ‘n manier om soms vrae te vra wat my dwing om mooi te dink voor ek antwoord.  Hy het my dan dan ook vroeër vanmiddag weereens betrek met so ‘n “moeilike” vraag, maar soos die ander voor dit óók ‘n baie interessante een.  En iets waarvoor sy vraag my oë ook weereens laat oopgaan het, is die absolute dodelike logika waarmee die Gees die verhaal saamgestel het.  Iets wat my ook baie bly maak hier is dat hierdie vraag en antwoord ook weereens meehelp om die subjektiewe manier van ontleding te openbaar vir wat dit werklik is.  Dit is blote duimsuig om ons volk op sleeptou te neem om ‘n uiters bose versteekte agenda te bevredig.

My vriend wou weet wat se rol BREXIT kan speel ten opsigte van die oorlog wat op pad is.  Hy het my tydens die gesprek onder andere daarop gewys dat die reëls van die Europa Unie die lidlande verbied om teen mekaar oorlog te verklaar, so hoe is hierdie oorlog moontlik? Ek het dadelik gesnap wat sy probleem is, maar dan ook wat regtig agter die skerms aan die werk is hier.  Die punt is dat ek om bepaalde redes nie genoeg aandag daaraan kon gee in my boeke nie, maar so het hierdie nuwe insig deur die Genade darem óók aan die lig gekom.  Die tyd sal natuurlik moet leer hoe naby aan reg ek gekom het.

Ek wil dit dan ook op hierdie punt stel dat my jongste afleiding rondom die moontlike begindatum van Siener se Derde Wêreldoorlog nie noodwendig absoluut korrek is nie.  Ek wil egter saam met dit sê dat hierdie afleiding baie stewig op praktiese feite in die verhaal én huidige internasionale tendense gegrond is, en dat dit wel ‘n sterk moontlikheid kán wees.  Dit is nie evangelie nie, maar ek glo nie ons moet dit heeltemal geringskat nie!

Ek wil begin glo dat die visioenêre Derde Wêreldoorlog dalk prakties kan manifesteer tussen nou en die voorlopige dtaum waarop BREXIT in werking sal tree.  Sover ek kon vasstel sal dit op 21 November 2019 plaasvind, en die Turk kan dalk net sy kop naby aan hierdie datum uitsteek.  Niemand sal dit verwag nie, behalwe miskien die militêre inligtingsdienste wat NAVO bedien, en hul inligting sal bloot dui op terroriste wat begin saamkom om ‘n militêre groep om die een of ander rede te vorm.

Maar, soos dit is het ek vir Dawie gesê: Hokaai, gee my ‘n kans dat ek eers ‘n bietjie kan dink hieroor, kom ons redeneer eers hieroor, want dit is inderdaad nie so eenvoudig as wat dit dalk lyk nie. Vir my is dit maklik genoeg, want ek werk per slot van sake heeltyd met die hele geheel voor my geestesoog, maar vir die leser wat nog besig is om hierdie legkaart stukkie vir stukkie aanmekaar te sit kán dit ‘n probleem skep.  Kom ons kyk dan eers na die visioenêre beginpunte van die verhaal soos dit in Europa afspeel.

Ons weet vanuit Siener se mond dat die oorlog by ‘n Turk se optrede in Europa sal begin.  My ontleding van die visioenêre verhaal bevestig dit nie net nie, maar bring ook ander belangrike versteekte aspekte van die gebeure aan die lig.  Die belangrikste hiervan is:

(a) Die verhaal begin op ‘n punt waar verskillende lande in Wes-Europa besig is om daardie gebied intensief met militêre voertuie te patrolleer.  Ons sien in die toepaslike visoen dat die pad eintlik stofgetrap is soos die voertuie heen en weer daarop ry.  Dit beteken in die praktyk dat die lede van NAVO bewus word van ‘n dreigende terroriste aanslag, en dat hulle daadwerklik besig is om na die terroriste te soek.  Dit gee ons in elk geval ‘n idee van hoe groot en ernstig hierdie gevaar werklik sal wees.  (Dit word bevestig deur die visioenêre inligting in die verhaal, want die Turk se groep is groot genoeg om Duitsland se leërmag uit hul land weg te lok!)

[464.01 01/12/19] In die Weste van Europa is ‘n stof gerijde pad en daar in gaan ‘n kar met vier perde, en die hot voor perd is zo ‘n ou vaale, [464.02] hij steek vas en kruip achter uit en uit, uit die tuig uit is hij en weg draf hy als ‘n vet blauw perd. [464.03] Toe kom bulle uit en kijk naar die Weste, en tussen hulle is ‘n vet groot rooi bul. Toe word hy maar en klein en raak weg.

(b)  Ons vind in die verhaal dat die Turk nie na die land Turkye verwys nie, maar eerder na ‘n persoon wat vir Siener soos ‘n Turk gelyk het.  Sy manskappe het vir Siener soos Boesmans gelyk, dit wil sê mense van Mongoolse afkoms.

(c) Die Turk werk egter nie alleen nie, hy word ondersteun deur drie ander Indiër-terroristegroepe wat in die oostelike deel van Sentraal-Europa wegkruip.  Ons sien later daar is een teenwoordig in die oostelike deel van Pole, nog een na die suide van hom, en dan ‘n derde een wat in ‘n driehoek na die westekant van die eerste twee gestasioneer is.  Hierdie drie groepe lê egter doodstil en wag vir die Turk se aanvanklike optrede om sy gang te gaan.

(d)  Ons het nie baie visioenêre inligting hieroor nie, maar die Turk loods volgens alle aanduidinge ‘n aanval op ‘n teiken in die suid-oostelike tot oostelike deel van Duitsland.  Ek het ‘n baie sterk vermoede dat dit dalk die Duitse parlement in Berlyn sal wees.  Die teiken is in elk geval belangrik en “groot” genoeg om die Duitsers te dwing om hul hele parate militêre mag teen die Turk te gebruik.  Paraat beteken almal wat op daardie stadium in uniform is en/of met opleiding besig is.

Dit gee ons egter ook ‘n idee van hoe groot die terroristegroepe kán wees.  As die minimum ideale verhouding drie soldate teen een terroris is beteken dit dat die Turk sowat een derde van die Duitsers se parate leërmag sal wees.  Die Duitsers se stelsel en behoeftes het intussen verander, maar die laaste wat ek kon uitsorteer was dat dit uit sowat 185,000 man bestaan het.  Die Turk se mag kan dus maklik uit 60,000 plus manskappe bestaan, en hy is maar net een van vier sulke groepe wat aktief optree in die verhaal!

(e) Ons sien ook dat ‘n Indiërleier vanuit “Indië se koers” die Duitsers kom waarsku teen so ‘n militante Islamitiese militêre aanslag. Hy bring selfs sy land se militêre vermoë met hom saam om Duitsland te kom help.  (Ek vermoed dat hy ‘n Hindu sal wees.)  Die inligting wat hy bring dui aan dat Engeland die Turk en drie ander Indiër-groepe gewerf het as ‘n front om hulle te help om Duitsland in ‘n hinderlaag in Pole te vernietig.  Dit is hoekom die Turk die Duitse leër moet weglok na Pole se suid-oostelike deel toe.

(f) Ons weet nog nie hoe die Engelse dit gaan bewimpel nie, maar hulle vestig ‘n baie groot militêre steunpunt in die suid-oostelike deel van Pole. Hierdie militêre mag word aan drie kante beskerm deur drie Britse gevegsgroepe, en die drie groepe Indiër-terroriste is elk by so ‘n Britse gevegsgroep gestasioneer. Die verhaal dui aan dat dit die hinderlaag is waarin die Turk die Duitsers moet inlok.

(g) Die Duitsers dra hierdie inligting oor aan die Amerikaanse generaals in die oostelike deel van Sentraal- Europa, wat uit die aard van die saak deel vorm van NAVO, en die twee lande sluit ‘n militêre ooreenkoms met mekaar.  Hulle loods dan ‘n aanval op die Brits-Indiër magte in Pole, en dan is Siener se verhaal meteens aan die gang.

Nou, hoe raak Dawie Wiesner se vraag hierdie gebeure.  Die eenvoudige antwoord is dat die visioenêre verhaal nié kan begin (soos dit doen in die visioene) as BREXIT reeds plaasgevind het en Engeland uit is nie!

Ek het ‘n hele paar kere vandat my eerste boek in 2004 verskyn het gesê dat die Turk bloot ‘n front is wat die Engelse sal gebruik om Duitsland in ‘n hinderlaag in te lok.  En, soos ek saam met dit gesê het, die Britse troonopvolger sal in beheer van die terroriste wees. Ons het nog nie daardie tyd van ‘n “amptelike” Europa Regering geweet nie, en dus ook nie van dinge soos BREXIT nie, so Dawie se vraag sou dus ook nie na vore kon kom nie.

Die Engelse loods ‘n agteraf staatsgreep-poging teen die Europa Regering, en dit is “tegnies” slégs moontlik solank Engeland nog deel van die Europa Unie is.  As die aanslag eers suksesvol uitgevoer is sal daar niemand wees wat vrae kán vra nie, want dan sal Engeland se Charles stewig op die wêreldtroon sit as Koning van die Wêreld, oftewel die Antichris soos ons dit ken.

Met ander woorde, as BREXIT eers plaasgevind het sal Engeland Duitsland direk moet aanval, maar daar is nie ‘n manier hoe hulle daarmee sal kan slaag nie.  Die Engelse kan alleenlik met agteraf lis daarin slaag om ‘n suksesvolle staatsgreep op die Europa Regering uit te voer.  Dit is in elk geval hoe hulle nog al hulle oorloë gevoer en gewen het tot op hierdie stadium.

Nou, dit laat ons miskien met meer vrae as antwoorde, maar minstens wil dit lyk of die komende gebeure al hoe meer sigbaar begin word.  Hou moed, want of ek reg of verkeerd is met wat ek sê, ons weet minstens dat die Boervolk en ons oorsese familie veilig anderkant sal uitkom.

Groete,

Frik Pretorius

 

Advertisements

From → Uncategorized

Die kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: