Slaan oor na inhoud

ART 122: 2019-11-29 Harry Knoessen van die National Christian Resistance Movement in hegtenis geneem.

2019/11/29

www.sienervanrensburg.com

F.H. Pretorius,
Swartruggens,
Noordwes Provinsie.

Eintlik moes die opskrif hierbo gelees het: The proof of the pudding lies in the eating…, want net skielik het ons by ‘n kruispad gekom waaroor hierdie skrywer al baie jare lank waarsku.

Ek het donker-vroeg vanoggend per SMS verneem dat bogenoemde persoon saam met ‘n paar lede van hierdie beweging in hegtenis geneem is.  Die inligting wat ek ontvang het dui daarop dat hulle ‘n militêre tipe aanval op sekere swart woongebiede vir vandag, 29 November 2019 beplan het.  Ek het verneem dat die BLF-organsisasie die klag by die SAPD gaan lê het wat tot die inhegtenisnames gelei het.

Op hierdie punt wil ek die leser dringend vra om kalm te bly!  Dit is kritiek-belangrik vir ons fisiese oorlewing om nie nou paniekerig te raak nie, want dit is presies wat ons vyande wil hê!  Dit is juis een van die doelwitte van die demoniese boosheid agter die plan om paniek te saai, want dan kan “hulle” die situasie uitbuit tot hul voordeel. Hierdie mense doen hul beplanning baie deeglik en sou voorsiening gemaak het vir die moontlikheid dat hul plan sou uitlek en Knoessen ek Kie gearresteer sal word.  Vir al wat ons weet was dit dan ook juis hulle wat die inligting van die beplande optrede aan die BLF gelek het.

Bly kalm, en moenie wil optree nie, u gáán seerkry en u gaan óók die mense rondom u in gevaar stel!

Ek wil, om die waarheid te sê, dit selfs stel dat die gebeure van gister tot vandag waarskynlik reeds beplan was toe die vals “visoen” van Die Nag Van Die Lang Messe sy kop destyds begin uitsteek het. Want hierdie stuk bedrog is die basis van al die “regse probleme” en rumoer wat ons weer al meer begin ondervind.  En ek plaas dit in aanhalingstekens omdat die geestelike dryfkrag agter dit alles behalwe “regs” is.  Dit bestaan uit ‘n ultra verlinkse groep wat die ultra-konserwatiewe se geestelike onsekerhede en angste vir ‘n swart gevaar  uitgebuit het en hulle op sleeptou geneem het daarmee.

Nou, die moontlikheid van hierdie soort optrede is nie iets nuut op hierdie blad nie, want ek waarsku al jare lank teen dit.  Elke keer wat ek oor die vals visioen van die Nag Van Die Lang Messe geskryf of gepraat het, het ek gewaarsku dat die doel daarmee is om ‘n rassekonflik in Suid- Afrika te ontketen en die opregte Boervolk te laat uitmoor.  Hierdie artikelblad het dan ook aangesluit by my eerste boek in 2004, en ook die tweede een in 2008, om die bose doelwitte agter die vals visioen van die Nag Van Die Lang Messe te ontbloot vir wat dit werklik is.  En net skielik het hierdie monster finaal voor ons deur kom staan.  Sommige lede van die sogenaamde Boeremag is beskuldig daarvan dat hulle pypbomme in Soweto gaan plant het, maar die skok daarvan het relatief gou oorgewaai. Dit is egter anders vandag, want die spanningslyn tussen die verskillende rassegroepe is intussen uiters gevaarlik hoog opgeblaas. Knoessen se poging kan dus nog steeds die vonk wees wat die land aan die brand steek, al word hy tans aangehou.

Maar ja, die leser kan gerus weer gaan lees wat hierdie blad pas nege maande gelede oor hierdie dreigende situasie gesê het, en die rol wat die Suidlanders daarin kan speel. (ART 119 2019-03-06 Snyman en SL se onttrekkingsplan t.o.v. NVDLM kán werk – teen ‘n afgryslike prys vir die res van die volk.)

Ek wil egter die volgende in daardie artikel hier aanhaal om die ontwikkelende drama rondom hierdie Harry Knoessen in die mees moontlike regte perspektief te kan plaas.

Stap 1:

Die eerste been is die werklike bose deel van hul plan, want dit is daarop gemik om die res van die volk, dit wil sê alle nie-SL lede, vir die swart massas te gooi om uitgemoor te word.  U sien daar is nie plek vir ons in die yahwistiese utopia wat hulle najaag nie, en hulle sal in hul oorywerigheid uit hul pad gaan om Yahweh so ‘n bietjie te “help” hiermee! 

Ek begin nou te verstaan dat hulle óf ‘n datum vir optrede sal bepaal as hulle beplan om die saak te inisieer, óf dat hulle vooraf kennis sal ontvang wanneer die een of ander swart groep beplan om ‘n staatsgreep of iets uit te voer. Dit sal hulle in albei gevalle instaat stel om hul gewone lede betyds te mobiliseer en op te roep om openlik, rustig, en in alle veiligheid tot by sekere versamelpunte te ry en daar bymekaar te kom (kleurkodes per SMS?).  Dit sal darem seker minstens twee tot drie dae moet wees voor die finale datum aanbreek om almal kans te gee om by die regte plekke te kan kom sodat Stap 2 in werking gestel kan word.

Mense soos die “profetes” Deborah Richter, en nou ook hierdie “generaal” Knoessen, is duidelik reeds besig met die vooraf opswepery wat tot hierdie optrede sal lei.  Maar nie net hierdie twee nie, daar is baie ander ook besig daarmee.  Elsa Muller se FB blad, Oom Siener van Rensburg – Boodskapper van God, wemel byvoorbeeld van hierdie SL agente.  Hulle is só arrogant dat een van hulle selfs haar FB blad onlangs openlik probeer gebruik het om boodskappe en kontakbesonderhede vir mekaar te stuur. Ek het haar gevra om nie teen hulle op te tree nie, want hulle gee darem ook inligting weg met hul onsinnige vrae en stories.  Ek is bly ek het dit gedoen, want nou sal almal van hulle tog ook hierdie boodskap te siene kan kry. (Die jongste hiervan is dat hulle sowaar op die blad onder mekaar bespreek dat hulle dalk eerder ‘n whatsapp goep moet stig waar hulle kan sê wat hulle wil en soos hulle.  Dit sal baie goed wees, dan word ons minstens verder hul vieslike taalgebruik gespaar, want dié kom in baie gevalle direk uit ‘n outydse riool-verteerput uit!  En ja, hulle eet sowaar met daardie monde óók…)

Stap 2:

Die tweede been sal moontlik ‘n poging wees om ‘n staatsgreep uit te voer, en dan baie spesifiek met die doel om die SAPD en die weermag vas te pen en te verlam.  Die ander moontlikheid is dat hulle op verskeie plekke op die swart groep sal aanval om gevoelens tot uitbarsting toe op te sweep.  En natuurlik om ook die Engelse militêre magte hierby in te trek.  Ons weet ook nou dat daar bes moontlik reeds ‘n groot klomp van hulle in Botswana gestasioneer is, juis hiervoor.

Ons weet nie wat volgende gaan kom nie, die regse leiers waarsku nou hul volgelinge om op gereedstaan te bly en hul motorkarre vol petrol te hou.  En dit klink nogal of hulle iets weet wat óns nie weet nie, want hulle bespreek dit net in die geheim met hul betalende volgelinge. (moet tog nie dink dat jy kosteloos en verniet aan so ‘n organisasie kan behoort nie!)

Die liewe Heer alleen weet waarheen hulle sal vlug as daar ‘n swart teenreaksie kom, maar dit is nou maar hul probleem, hierdie skrywer gaan nie verder daaroor kerm nie.  Die regse ouens, met hul geweldige intense openbare godsdienstigheid en al, glo nie eers Vader se beloftes van uitkoms aan ons nie, hoe sal hulle tog hierdie skrywer glo?   Los hulle dan maar, laat hulle gaan waar hul profeet Snyman hulle ookal heen wil neem.

Bly kalm en bly by u huis ás daar moeilikheid na ons woonbuurte toe kom.  Ek wil nie sinies klink nie, die hartseer oor die moontlike gevolge hiervan is te groot dáárvoor, maar die tuisblyers sal logieserwys veiliger wees as diegene wat wil vlug.  Laat hierdie tawwe ouens en die militantes mekaar dan maar op die oop pad uitsorteer, dit sal minstens die donderweer en weerlig van ons aflei.  Dit is verskriklik om so hieroor te dink, maar dan is dit ook so dat niemand sy probleme kan oplos deur weg te hardloop daarvan nie.  Wat hierdie gedagte regtig erg maak is dat die res van die volk ongevoelig en sielloos vir die wolwe gegooi word in hul selfdsugtige eiegeregtige optrede teen ons.

Bly kalm en bly veilig asseblief! En skep moed, hierdie dinge moét gebeur, want sonder dit kan Vader se Plan vir ons en ons geesgenote nie in werking kom nie.  Die verraaierselement gaan nog moeilike dae oor die gelowige deel van die volk bring, maar dit troos darem ‘n bietjie om te weet dat die grootste gros van hulle uiteindelik weer sal terugkeer en om vergifnis en aanvaarding sal kom vra.  Ons sal dan weer een volk wees, miskien selfs vir die eerste keer ooit, maar dit sál kom: Ons Vader het dit belowe, ons moet net kalm bly en die roete volg wat Hy deur Siener aan ons uitgestippel het!  Ons is veilig solank ons in hierdie Waarheid bly!

Groete,

FH Pretorius.

 

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: