Slaan oor na inhoud

ART 128 2020-03-30 Is Covid-19 die ANC se Trojaanse Perd om die media te muilband?

2020/03/30

www.sienervanrensburg.com (Artikels)

F.H. Pretorius,
Swartruggens,
Noordwes Provinsie.

Ek sien die staat is baie ver gevorder met planne om totale beheer oor alle vorme van die media in te palm.  Die basis van hierdie “kaping” word stilweg ingesmokkel onder dekking van die stryd teen die Covid-19 virus, en is reeds in die Staatskoerant gepubliseer (Volume 657 van 26-03-2020 Nr. 43164 – Sien by:  http://www.griquas.com/isp.pdf).  Dit sal uit die aard van die saak ook elke geregistreerde .co.za webwerf insluit.

Hierdie manier van dekrete uitvaardig is die ekwivalent van die VSA se bekende “Executive Orders“, en die feit dat dit in die Staatskoerant gepubliseer is sê dat dit nou ‘n volwaardige wet is.  Dit het baie stilweg en agteraf gebeur, maar dit is nou gedoen.

Dit gaan op hierdie stadium (skynbaar) nog om die stryd teen die covid-19 virus, en dit laat die staat toe om alle media te kan verplig om die materiaal wat hulle hieroor (sal) voorsien in die amptelike tale te laat vertaal en te publiseer, en/of oor die lug te stuur, en/of op enige ander elektroniese manier te versend.  Die oënskynlike onskuldige verskoning hiervoor is om een enkele “betroubare” bron van nuus oor die virus te skep, en om enige “fake news” oor die virus as sulks uit te skakel.  Die definisies van enige sodanige “fake news” word natuurlik deur die staat neergelê.

Nou, dit as sulks is nie noodwendig ‘n slegte iets nie, ás dit kan werk natuurlik, want ons sal eintlik baie goed af wees sonder al die wilde bespiegelinge en nonsens op veral die internet.  Maar dit is net hier waar die “fake” in die ANC regering se poging duidelik sigbaar word.  Die wilde stories waaraan ons op die internet blootgestel word (oor enige onderwerp) verskyn hoofsaaklik op YouTube en sekere ander soorte webblaaie, en veral YouTube gaan maar net vir die ANC se poging lag.  Die ANC regering se gewaande mag en krag is bloot beperk tot co.za webblaaie, want oor die res het hulle absoluut geen sê nie.

Die belangrike punt hier is egter dat hierdie nuwe reëling nou op die wetboek is en dat dit ook in die algemeen in ander velde toegepas sal kan word soos hulle wil.  Hierdie is inderdaad ‘n versteekte muilband wat ons regtig nie ligtelik moet opneem nie.

Ek dink ons kan, om die waarheid te sê, nou begin totsiens sê aan alle oorblywende vorme van mediavryheid, ook wat die gewone man op straat se demokratiese regte in hierdie opsig betref.  Die nuwe wet sal uit die aard van die saak alle co.za webwerwe raak, waar hulle sulke huurders sal kan verplig om niks anti-staat of anti-ANC te sê nie.  Die doel is duidelik dat alles en almal uiteindelik verplig sal word om pappegaaie vir die ANC se sentralistiese staatsgedagte te word.  Hierdie is Stalinisme wat ou Stalin baie tevrede sal laat voel wáár hy homself ookal nou mag bevind.

Ek dink daarom dat dit dalk wys sal wees om alle co.za. webwerwe sommer dadelik as .com webblaaie te registreer en met mekaar te konnekteer óók.  Hierdie konneksie kan baie maklik weggeneem word as dit nodig word.  Dit is ‘n bietjie duurder as .co.za blaaie, maar dit verseker minstens dat so ‘n persoon nog steeds sy sê vrylik op die internet sal kan publiseer.  Die staat kan ons nie verplig om nét .co.za webblaaie te lees nie, wel, nie tensy hulle die hele land se toegang tot die internet afsny nie.  Dit kan hulle wel baie maklik doen, maar sal hulle die storm kan oorleef wat so iets sal ontketen?

Ek hoop hulle verstaan in hierdie opsig dat Suid-Afrika se algemene deelname aan die internet nie net tot individuele blankes beperk is nie.  En ook dat nie alles daarvan tot die publiek se ontspanning beperk is nie.  Ek dink ons sal verstom staan om te sien tot welke oorheersende mate die staatsadministrasie reeds via die internet bedryf word.  ‘n Mens dink hier aan voorbeelde soos die registrasie van motorvoertuie, FICA registrasies, SARS se insameling van fondse vir die voordeel van die kriminele element in die staatsbestel, SASSA se maatskaplike uitbetalings aan die massas, die uitruil van e-posse, ensovoorts, ensovoorts.  Hulle kan seker die internet afsny, dit is so, maar ek dink hulle gaan dalk meer administratewe probleme vir hulself skep as wat hulle sal kan hanteer.

Die punt is, hulle het geen beheer oor .com en YouTube webwerwe nie en hulle gaan dus geen invloed dáár kan uitoefen nie.  Hierdie organisasies sal beslis nie toelaat dat die ANC bewind aan hulle begin voorskryf wat mag en wat nie.

Soos dit is, is ek in 2019 deur omstandighede buite my beheer gedwing om my webblad as ‘n .com uitgawe te herregistreer.  Dit was hoekom ek nie my boeke vir ‘n paar maande lank op die internet kon adverteer nie.  Dit het later reggekom, maar ek is tans geregistreer as beide www.sienervanrensburg.co.za en www.sienervanrensburg.com, en dit hou inderdaad bepaalde voordele vir my in.  Wat meer is, ek het ook ‘n kontakpersoon oorsee wat dalk sal kan help om my poging lewend te hou.  Daardie persoon het albei my boeke in elektroniese vorm, plus ook al my artikels, en sal dit vanuit daardie land kan herpubliseer. (Op hierdie stadium begin ek juis al meer op die buiteland te fokus.)

In elk geval, die huidige bewind sal nie vryheid van spraak op sulke “buitelandse” .com blaaie kan inperk nie, anders as om Suid-Afrikaners openlik te begin arresteer ook.  Dit is outomaties ‘n bewys dat daardie mense reg in hul kritiek is en daarom as slagoffers behandel word.  En dit kan dalk repurkussies veroorsaak wat hulle óók nie nou graag sal wil hanteer nie.  Moody’s se finansiële graderings is maar net een van ‘n hele paar pyle in hul buitelandse teenstaanders se koker.  Die begrip “sanksies” dek ‘n baie wye veld en as dit staatsleiers soos Trump of Merkel pas, of selfs kweenie se regering, sal hulle dit wel teen die ANC begin toepas.  Kom ons hoop dit werk in die praktyk ook so.

Niemand van ons kan seker die ANC-staat afdreig met die krag en gesag van ander staatshoofde nie, u weet, soos in: … pasop, ek sal my ouboet op jou sit en hy sal jou dik tik ou perd!, maar kom ons hoop minstens dit gebeur op ander maniere.  Hierdie staatkundige gemors kan nie langer so aanhou nie, dit moet positief begin verander, en die enigste manier hoe DIT kan gebeur sal wees as dit heeltemal inmekaarsak sodat ons dit van vooraf kan oordoen.

Maar onthou hier dat die boom spontaan vanself begin pluiens sonder enige fisiese ingryping van ons kant af.  Modder het ‘n manier om te spat as dit gegooi word en ek kan nie dink dat die opregte Boervolk hulself op daardie manier sal wil besmeer nie. Staan maar eenkant toe, die huidige regering se inherente swakhede en verrotheid sal self sy eie ondergang veroorsaak; Covid-19 kan maar net help dat dit vinniger gebeur.  Oupa Baard se sin vir humor gaan draai partymaal ‘n bietjie ver na die pikswart donker kant toe, maar die afgryslike ironie hiervan is dat die ANC nogal deel vorm van BRICS, en nou is dit so dat hierdie virus juis vanuit Sjina gekom het.

Groete,

FH Pretorius

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: