Slaan oor na inhoud

ART 134 2020-05-06 Benodig CR ‘n noodtoestand en die SANW om polities te kan oorleef? (Is dit die skuiwergat vir die Engelse om betrokke te raak in die RSA?)

2020/05/06

http://www.sienervanrensburg.com
FH Pretorius,
Swartruggens.
Noordwes Provinsie.

Goeiedag,

Ek het Maandagoggend 3 Mei 2020 vroeg ‘n brief van my internet vriendin Elsa Muller ontvang wat my sommer vinnig regop laat sit het. Sy het hierdie brief reeds die Sondag teen middernag gestuur en dit het aanleiding gegee tot ‘n gesprek oor die onderwerp met haar en twee ander mense wat ek ook goed ken. Die rede hoekom ek dit so doen is omdat die briewe die agtergrond vir hierdie artikel presies opsom. Ek gaan die artikel dus bloot afsluit met wat ek dink mees moontlik hieruit kan voortvloei. Miskien is ek nie heeltemal reg nie, maar as ek reg is weet ons minstens wat om te verwag.

Ek wil ook op hierdie punt noem dat ek hieronder na my vorige artikel verwys wat ek Sondagaand so teen 21h00 op my artikelblad geplaas het [ART 133 2020-05-03 Moord bly moord, maak nie saak wie die slagoffers is nie]. As die inligting in hierdie briefwisseling waar is sluit hierdie artikel baie nou daarby aan. Ons begin dan met haar brief aan my.

Vriende,daar’s molle in die cANCer wat berig dat die NEC verlede week per videolink vergader het..en eenparig van Cyril ontslae geraak het. Daar’s berigte dat hy as VP waarneem totdat die Fase 3 lockdown intree en hulle openlik mag reis na Kaapstad waar die finale reëlings en stand van sake uitgeklaar sal word. Cyril kon nie die nodige steun werf om staande te bly teen N-Z en haar faksie nie..hy’t net vir Gordhan en Mboweni gehad,terwyl sy die hele Ace groep agter haar gehad het. Maroela Media beaam op n manier vandag hierdie mening deur hul berig dat daar groeiende kommer is oor Ramaphosa se sg. Bevelsraad, wat eintlik beteken dat feitlik al die Kommuniste en Sosialiste, maw COSATU en SAKP lede in die raad..hulle agter N-Z geskaar het..en ons dus na n toekomstige Kommunistiese bestel in Suid Afrika kyk!
Einde van die brief.

My antwoord aan haar op daardie stadium was:

Nee, ek weet nie hiervan nie, maar dit verbaas my glad nie. En weet jy, dit verklaar dalk waarom Malema sy deuntjie oor JZ so radikaal verander het ‘n paar dae voor die ‘lockdown’ begin het! Hy is ‘n uitgeslape kalant hê? Ek dink nogal Britse Mil Intel (of Renwick, dan) het hom vooraf gewaarsku om sy deuntjie te verander. Dit is al hoe hy gaan oorleef! Dit bevestig maar net vir my dat die Engelse inderdaad betrokke is hierby en die situasie vir hul eie voordeel gaan uitbuit! Al vraag wat nou nog oorbly is presies hoe hulle betrokke gaan raak, want ek dink die wanneer is tot ‘n groot mate nou ook beantwoord.

Die ANC tak-verteenwoordigers wat R ingestem het as SP sal uit die aard van die saak negatief reageer hierop, en ek kan nie dink dat hulle Sjina skielik bokant Engeland sal kies nie. (Veral nie as die ponde nog deurkom nie). Hulle vorm tegnies gesproke die meerderheid, wat beteken dat die kommuniste ook ‘n nie-geweldadige staatsgreep binne die parlement sal moet uitvoer om van R ontslae te raak. As hierdie inligting korrek is beteken dit daar klaar ‘n stille staatsgreep was (paleisrevolusie), maar dat die staatsgesag minstens in die publieke oog steeds in R se persoon gevestig is. Hulle sal dit in die openbaar moet verander ook, wat beteken hulle moet die meerderheid in die parlement ook agter hulle kry.

Drie van die moontlike maniere hiervoor is:
(a) om net geselekteerde LP’s in ‘n kworum by so ‘n stemming bymekaar te kry (dalk bietjie moeilik, maar kan seker gedoen word?),
(b) om genoeg LP’s op die een of ander manier af te dreig om saam te werk.
(c) en/of om genoeg LP’s om te koop daarvoor.

Daar is ‘n verdere (d) ook hierby, maar ek plaas dit om ooglopende redes ‘n bietjie eenkant, want dit is dalk waar die groot verandering sal inkom.
(d) ‘face the music’ as die poging verkeerd hanteer word of glad nie slaag nie, want dan gáán daar geskiet word! En dan sal die Engelse ingryp, want die “ooreenkoms” met die ANC verplig hulle om dit te doen as R daarvoor sou vra. En ek wil glo dit is reeds gedoen. Baie interessant hierdie diplomatieke voetwerk en prosesse…..

Maar dan is daar ook nog die massas op voetsoolvlak wat R ondersteun, en ek dink dit sal ‘n fout wees om hierdie getalle te wil onderskat. Minstens ‘n groot deel van hulle sal in opstand kom, veral as hulle opgestook word rondom sake soos voedselsekuriteit, lone en salarisse.

Hier kom ‘sports’ Elsa, en ek voel in my water dat die Groot Virus [kan] kom op die punt net voor die geweld regtig begin uitbars. En ek dink ons almal weet wie dit gaan gooi. Daar is broeders en brothers wat hul eie idee van brandende kole in ‘n kruik het, en ons gaan dit sien gebeur.
Einde van die brief.

Hierdie gesprek is daarna uitgebrei toe ek navraag van ‘n ander vriendin ontvang het, Desere Steenberg. Sy het dit aanvanklik aan Elsa gerig, wat dit aan my gestuur het, en toe het ek sommer altwee saam geantwoord.

Hallo Deseré,

[…] Daar is baie stories en ‘rumours’ wat nou rondhardloop, maar niks daarvan kan op hierdie stadium bewys word nie. Ek ken byvoorbeeld nie die mense wat hierdie dinge gesê het nie, en ek skryf nooit oor iets as ek dit nie eers vanuit my eie bronne bevestig het nie. […] Ons gaan baie verleë staan as ons saampraat, maar dan gebeur dit nie.

Ek is nie so baie gepla oor my reputasie nie, maar Elsa se blad moet ten alle koste beskerm word teen bespotting van buite. Ek dink daar is op hierdie stadium in elk geval genoeg in hierdie algemene rigting op haar FB blad, en ook in my artikels, gesê om te bewys dat ons […] dit verwag het.

Goed dan, die kanse is baie goed dat Ramaphosa gedwing is om te bedank, maar ek dink ons kan aanvaar dat daar wel ‘n uitbarsting kan kom, of hy bedank of nie. Die manier hoe Dlamini-Zuma sy gesag oor die sigarette-storie in die openbaar ondermyn het sê dit alles. Hierdie opmerking staan net so in my laaste artikel (ART133), wat ek Sondagaand gepubliseer het, so niemand kan sê dit is “agterna” vir die effek bygesê nie.

Net vir jul inligting om beter te verstaan hoekom sy dit gedoen het: Die ANC het destyds, voor 1994, ‘n landwye netwerk smokkelroetes oopgemaak vir allerhande “produkte”. Hulle het die inkomste nodig gehad. Hulle beheer die swartmark en voorsien die mark van goedere soos sigarette, drank, verdowingsmiddels, […ensovoorts]. Hierdie is ‘n baie winsgewende besigheid vir die ANC, en Dlamini-Zuma het bloot hul greep op die swartmark beskerm toe sy die SP se gesag omvergewerp het.

Dit klink dus of hy verstaan dat hy hiervandaan verder heeltemal ontman gaan wees, want D-Z en Ace M het nou “in die openbaar” oorgeneem, en selfs die parlement en grondwet kan hom nou nie meer beskerm nie. Streng gesproke moet die parlement hieroor debat voer (die ondermyning van sy gesag), maar as hy bedank is dit seker nie nodig nie. Iemand soos die Sekretaris-Genaraal van die ANC sal waarskynlik dan by hom oorneem totdat die verteenwoodigers ‘n nuwe leier kan aanwys. Dit is natuurlik Ace M, en ek dink ons kan aanvaar dat dit op sigselwers probleme gaan skep. Ek weet nie of hy dit in terme van die grondwet mag doen nie, maar hy kan die gesag dalk (minstens) tydelik aan Jacob Zuma oorhandig, en dit gaan groot, groot ‘sports’ veroorsaak!

Die ander sy hiervan is dat hierdie in werklikheid ‘n paleisrevolusie is, en ek sal baie graag wil sien hoe die Engelse owerhede hierdie saak gaan benader. Die ANC is tegnies nog steeds die regering, maar die belange het hier volledig oorgeskuif na Sjina toe, en hulle is Engeland se vyande! Die Engelse is selfs besig om oorlogskepe saam met Amerika en Australië teen Sjina in die Sjinese Suid-see te ontplooi!
Einde van die brief.

Die laaste stukie van die gesprek met Elsa Muller was op Dinsdag 5 Mei gewees:

Hierdie nuwe verwikkelinge ‘tickle’ my vreeslik. Ons weet nie hoeveel hiervan regtig waar is nie, maar die nuwe artikel (ART 133) wat ek Sondagaand opgelaai het sluit nogal hierby aan. Jy kan dalk selfs sê dat minstens ‘n deel daarvan “inleidend” tot die nuwe dinge in ons politiek kan wees.

Ek het met die vriend gepraat en hy het gesê hy sal ingaan op die saak om te kyk of hy meer inligting kan kry. Hy het intussen (gister) vir my hierdie link gestuur , en dit lyk of die oorspronklike inligting minstens elemente van waarheid bevat. Dit sal beteken dat die parlement kan vergader om óf CR, óf DZ en Ace uit te gooi. Albei hierdie moontlikhede besit die potensiaal om ‘n revolusie te veroorsaak. Soos dit is dink ek die nikotiengeveg gaan in elk geval óók ‘n lelike nasleep vir moontlik DZ hê, want R is en bly die SP in die massas se oë.

Tot sover die privaat agtergrond korrespondensie oor hierdie saak.

Ek sit vandag (Woensdag 6 Mei) nog heeldag en wonder wat uit die jongste gebeure gaan voortvloei. Die mees sinvolle scenario vir my is dat Ramaphosa nie anders kan as om sy minister van gesondheid in die openbaar te dissiplineer nie. Maar, gesien in die lig van die wrywing tussen die verkillende faksies is daar eintlik net een manier om die situasie te kan hanteer, en dit is: Dank hulle af en hanteer die geraas wat daaruit voortvloei met die instrumente wat die grondwet aan hom gee.

Die alternatief hiervoor, dat hy niks teen haar gaan doen en maar gedweë sal voortstrompel, gaan baie beslis later tot ‘n uitbarsting lei. Ek dink hy word erg onderskat en die enigste rede waarom hy mak en gedweë sal optree is omdat dit hom (en die Engelse) op hierdie stadium die beste sal pas. Pasop vir hierdie man, sy hoogs suksesvolle loopbaan by COSATU bewys dat jou onverhoeds gaan betrap!

Die minister word blykbaar deur Ace Magashule en sy mense ondersteun, en hy is op sy beurt ‘n vurige ondersteuner van oud-pres Jacob Zuma. Ek dink dit is billik om te aanvaar dat haar ware kleure dus ook nou na vore gekom het: sy was nog al die tyd daar “ter wille van Zuma” gewees. Kan dit beteken dat selfs die egskeiding destyds ‘n rookskermpie was om haar te kon plant vir presies hierdie situasie? Moenie die fout maak om te dink dat hierdie “sommer maar net toevallig” gebeur het nie! Ek dink daar steek meer hierin as wat ons dink, hierdie dinge is lankal voorsien in hul gebeurlikheidsbeplanning

Maar goed, ons sit nou met die situasie opgeskeep dat ‘n ondergeskikte minister die hoofleier van die land baie grof in die openbaar beledig het, en dat sy sy gesag openlik ondermyn het. Die effek hiervan, minstens op die simboliese vlak, is dat hy geen gesag meer het nie, sy het dit effektief oorgeneem. Ons weet nie hoeveel hiervan waar is nie, maar daar is dan ook inligting wat die rondte doen dat die D-Z en Ace Magashula groep die SP en sy (twee) ondersteuners uitgestem het in ‘n vergadering. Hierdie vergadering koppel direk met die twee teenstrydige toesprake, en dat hulle hom dus probeer dwing (het) om uit sy pos te bedank.

Nou, hierdie storie is baie kompleks van aard, maar tog ook baie eenvoudig om op te los. As dit so is dat daar ‘n poging van die kommunistiese deel van die kabinet is om die huidige SP uit sy pos te dwing verwag ek dat die volgende moontlik kan gebeur.

(a) Niemand raak op hierdie manier van die hoofleier van enige demokratiese land ontslae nie. Dit is iets wat net in ‘n diktatorskap kan werk en dit, dink ek, verduidelik presies waarheen hierdie groepie mik: ‘n diktatorskap vir die RSA geskoei op die Sjinese kommunistiese model. Ramaphosa het moontlik in die verlede met die kommunisme geheul, maar ek twyfel baie sterk of hy regtig een is.

(b) Ek kan nie sien dat die SP hierdie optrede “sommer maar net” kan laat verbygaan nie. Hy MOET hierdie dame en haar vriende dissiplineer, want dit wat hier gebeur het is ver meer as net ‘n belediging in die openbaar. Gesien in die lig van (a) hierbo is dit in werklikheid ‘n sluimerende bedreiging vir ons demokrasie. Die alternatief hiervoor, as hy dan nie die murg in sy pype het om haar af te dank nie, is om self te bedank en te loop. En ek kan nie sien dat dit sommer sal gebeur nie, want ek dink nogal dit verskaf die ideale geleentheid vir Engeland om stilweg betrokke te raak hier. Ek wil hier in alle eerlikheid sê dat hierdie saak só kompleks is dat dit selfs ook kan wees dat Dlamini-Zuma deel is van die Engelse se meesterplan om van hul teenstaanders ontslae te raak en self die beheer oor Suid-Afrika te neem. Enigiets is moontlik hier! Wat dit ookal is, as hy nie dadelik teen haar optree nie dink ek ons gaan sien hoe hy sluk en sluk … tot op ‘n punt, en dan gaan hy onverwags terugslaan.

(c) ‘n Ondergeskikte kabinetsminister kan nie die SP van ‘n land op enige manier afdank nie. Die parlement is sy “baas” en dit is dus ‘n proses wat nét die parlement kan hanteer. Die korrekte roete is die instel van ‘n amptelike mosie van wantroue teen hom in die parlement, wat dit dan daar in die openbaar sal hanteer.

(d) As ons vir ‘n oomblik kan aanvaar dat al hierdie dinge waar is bly sit ons egter met ‘n praktiese probleem opgeskeep. Die parlement kán nie nou vergader nie, want die beperkinge in fase 4 van COVID-19 maak dit onmoontlik vir die lede van die parlement om Kaapstad toe te kan reis. En dit is dalk die rede waarom daar so uit die bloute ook ‘n aankondiging gekom het dat fase 4 “spoedig” afgeskaal gaan word na fase 3 toe. En let asseblief daarop, as ons na die tydsaspek hier kyk, dat hierdie besluit baie waarskynlik reeds op dieselfde dag geneem is wat die onderonsie tussen die twee plaasgevind het. (Wat, he-he-he, op sigselwers beteken dat mense dan weer tabakprodiukte sal kan koop, né!) ‘n Ou Vriend het vir my hierdie inligting aangestuur na aanleiding van die brief wat hy oorspronklik aan Elsa Muller gestuur het.

https://www.sowetanlive.co.za/news/south-africa/2020-05-01-good-news-sa-could-move-swiftly-to-level-3-restrictions-parliament-told/
Good news – SA could move ‘swiftly’ to level 3 restrictions, parliament told
BY STAFF REPORTER – 01 May 2020 – 15:42

Die vraag ontstaan nou wat CR aan hierdie saak gaan doen. Ek glo nie hy hoef vir enigiets bang te wees nie, want Engeland beskerm sy rug. Toegegee, die ooreenkoms wat Engeland met die regering gesluit het was met die ANC as ‘n party gewees, en nie soseer met die leier van die party nie. Maar nou moet ons in ag begin neem dat CR baie waarskynlik die Engelse se man is, en ons moet verder ook hierdie COVID-19 situasie by die gesprek intrek.

Ek het in die vorige artikel 133 gesê dat hierdie COVID-19 krisis ‘n absolute klug is wat daarop gemik is om Amerika se ekonomiese mag te breek. Dit is in werklikheid ‘n desperate poging om dit te doen, want Trump se suksesse op ekonomiese gebied het al hul planne in die wiele gery. Hierdie is dan ook na my mening weerwraak teen Trump omdat hy dit vir Brittanje moontlik gemaak het om van die EU weg te kan breek. Dit het die vorm aangeneem van ‘n reuse groot handelsooreenkoms wat groot voorspoed vir die Britte sal bring. Maar dit het Trump én Brittanje die vyande van die EU-Sjina-Demokratiese Party gemaak, en dit kom onder andere na vore in die feit dat Engeland ook nou twee oorlogskepe saam met die VSA en Australië teen Sjina ontplooi het in die Sjinese Suid-see. Die dreigende oorlog dáár kan dalk tot ‘n groot mate ‘n bepalende invloed uitoefen op die stryd tussen die twee groepe om wêreldoorheersing.

En dit is net hier waar Siener se visoenêre verhaal die gang van die geskiedenis gaan verander, want Engeland het óók planne om die koning van die wêreld op te lewer. Maar nou weet ons darem ook wat die uitslag hiervan gaan wees. Daar gaan dus, na my mening, ‘n kinkel in al hierdie groepe se kabels kom en die gebeure gaan uitspeel in ons guns, presies soos ons Vader dit beplan en belowe het. Dit is ‘n groot skaakspel hierdie, en Hy sit stilweg en kyk wat die vyand doen, en dan, nes hulle dit nie verwag nie … whammy!

Ek wil ten slotte sê dat die logiese uitvloeisel van hierdie dinge inhou dat daar geweldadige moeilikheid in Suid-Afrika gáán wees, maak nie saak wat CR doen nie. As hy stilbly gaan sy ondersteuners amok begin maak, omdat hy dan effektief op ‘n uiters ondemokratiese wyse uitgedwing word. En as hy teen die D-Z faksie optree en hulle afdank (en dalk vervolg ook), soos wat van hom verwag behoort te word, gaan dit beslis grootskaalse geweld van die kommuniste se kant uitlok. Dit kan hom dalk selfs dwing om ‘n noodtoestand af te kondig. Daar is natuurliik ook nog die verdere moontlikheid dat ‘n versteekte “iets” in hierdie saak ‘n groot rassekonflik kan veroorsaak waar sommige van ons mense na die wapen gaan gryp. Ons weet net eenvoudig nie, en al wat ons regtig het om aan vas te hou is ons geloof in ons Vader en die wil om te oorleef!

Maar ja, geen staatshoof sal ‘n noodtoestand uitroep as hy nie die rugsteun van sy land se nasionale weermag het nie, so is dit dalk die werklike rede waarom die 73,000 bykomende soldate opgeroep is? En weet u, miskien het ek dit gemis, maar daar is nooit enige redes gegee waarom so baie soldate opgeroep is nie! Dit word dan ook skielik meer verstaanbaar waarom daar so baie beddens en veldhospitale so vinnig ingerig is vir ‘n “siekte situasie” wat nie regtig bestaan nie. En sommer ook waarom die klomp Kubaanse dokters ingebring is, want hulle sal beslis nie aan ons wil erken dat hulle baie groot ongevalle verwag in die gevegte wat kan/gaan uitbreek nie. Ek meen, enige blanke mediese dokter sal onmiddellik vir jou kan sê dat die ou in die bed nie siek is nie, maar dat hy wel met ‘n vuurwapen raakgeskiet is. Ek dink hulle verwag ‘n baie groot slagting, en alles in ag genome het dit duidelik niks met COVID-19 te doen nie. (En sal hulle die moeite doen met die dokters en die baie beddens as ons die teiken is? Wat weet hulle wat selfs ons nie weet nie?)

Ek kan, soos altyd, eerlikwaar nie sê dat ek 100% reg is met my afleidings nie, maar waarom dan so geheimsinnig optree? Is hulle bang dat die blanke dokters die blanke groep sal waarsku as die waarheid aan die lig kom? Maar dan weer, hulle weet natuurlik nie wat die heel eerste visioen in die visioenêre verhaal impliseer nie. Ek gaan dit ook nie weer hier verduidelik nie, maar dit is dalk op hierdie punt waar die Groot V sy verskyning gaan maak, wat dan ookal tussen Ramaphosa en D-Z mag gebeur. Die tyd sal maar leer wat dit sal wees, maar ek dink dit gaan baie interessant wees om te sien hoe dit ontwikkel: gevaarlike tye, ja, maar darem ook baie interessant.

Groete,

Frik Pretorius.

NS: Ek het so pas berig ontvang dat die SP groot waardering vir D-Z se “lockdown leadership” uitgespreek het. Is dit nou ‘n voorbeeld van ‘n klou van staal in ‘n fluweelhandskoen? As ek D-Z was sou ek dit glad nie vertrou het nie, want sy gaan tweede kom as sy doen: hy het nie in sy jonger jare die hoof van COSATU geword omdat hy ‘n vriendelike en gedienstige soort onderdaan is nie! Pasop!
——————————————————————————————————————

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: