Slaan oor na inhoud

ART 137 2020-05-31 Koeberg – sal dit ontplof soos beweer word?

2020/05/31

http://www.sienervanrensburg.com
F.H. Pretorius,
Swartruggens,
Noordwes Provinsie.

Ek blaai vanoggend op Elsa Muller se FB blad rond en kom so op die soveelste stelling af dat Koeberg se kernkragstasie gaan ontplof. (Niklaas Siener van Rensburg – Profeet van God https://www.facebook.com/groups/427103870673448/)

Die leser kan seker maar glo wat hy of sy wil, maar hierdie storie is nét so onwaar en vals soos die een oor die geelperskereën, of die een oor die ys wat smelt, die NVDLM, ensovoorts. Ons mense weet dit maar net nie, en baie van hulle wil ook nie, maar hulle is vir ‘n “ride gevat” wat vir niks terugstaan nie!

Maar in elk geval, ek gaan hierdie keer nie name noem nie, maar hier is wat ek raakgesien het vanoggend.

“… Ons sal uit die stad moet kom. Prieska toe; Siener het gese hy sien wit tente van Kaapstad tot in Prieska. My worries is oor Koeberg. En as die krag probleme begin, dan skuif ek. Wil nie hier wees as daai plek ontplof nie. …”

Nou, ek wil nie weer kommentaar lewer oor die mistastings rondom enige (SL) “onttrekkingsplanne” nie, en ook nie oor die spesifieke ligging van die wit tente nie. Dit gaan vir my eerder spesifiek oor die heeltemal onnodige vrese dat Koeberg sal ontplof.

Ek het ‘n baie goeie en dierbare vriend gehad met die naam Beyers van Niekerk (saliger). Hy was ‘n finansiële bemarkingspersoon wat uiteindelik na geologie oorgeslaan het, en wat ook later in sy lewe ‘n meestergraad in hierdie rigting aangepak het. Hy het dit voltooi en het my toe gevra om sy verhandeling na te sien vir taalkundige foute en dit voor te berei om gedruk te kan word.

Hy het egter baie siek geword en is ongelukkig oorlede voor ek hierdie projek kon voltooi en ek weet nie wat verder daarvan geword het nie. Soos dit gebeur het, het sy vriendin die geologiese kaarte waarop hierdie navorsing gebaseer is eenkant gehou en ek moet aanvaar dat sy die saak verder geneem het. Ek het in elk geval verstaan dat sy promoter die navorsing reeds op daardie stadium goedgekeur en aanvaar het.

My eie omstandighede het egter ten tyde van sy afsterwe ook heeltemal deurmekaar geloop en ek het in die proses kontak met die vriendin verloor. Sy het nie net verhuis nie, maar sy was self reeds besig om ernstig siek te word toe ek haar die laaste keer gesien het. Ek wou daarom nog heeltyd by UP gaan uitvind of hulle my kan sê wat hiervan geword het, want dit is vir my belangrik dat my vriend die volle krediet sal ontvang vir sy werk.

Wat vir my baie interessant is hier is dat ‘n boek van die bekende predikant, wyle dr. Willie Marais, duidelik ‘n baie groot rol in Beyers se oortuigings en motivering vir hierdie studie gespeel het. Ek het dikwels gewonder of dit nie selfs die werklike beginpunt van sy navorsing was nie. Hy het hierdie boek letterlik tydig en ontydig aan my voorgehou as die geestelike bewys vir sy fisiese geologiese aannames en bewyse.

Die titel van die boek is, ‘n Man van God Gestuur, en in hoofstuk 89 van die boek het dr. Marais ‘n visoen beskryf waarin hy gesien het dat Kaapstad onder die water verdwyn en Tafelberg ‘n eiland word. Hy het by navraag gesê dat dit as gevolg van ‘n geweldige sterk aardbewing sal gebeur. Die krisis sou egter afgeweer kan word as die mense van Kaapstad tot berou en inkeer kom. Die sleutel tot oorlewing vir ons volk en anderstalige vriende is dus nog steeds opregte verootmoediging voor ons Vader!

Die kern van Beyers se navorsing het spesifiek gehandel oor die voorkoms van interkontinentale breuke in die aardkors rondom Suid-Afrika en hoe dit ons kan raak as daar ‘n groot aardbewing sou kom. En volgens hom sal daar wel ‘n baie sterk aardbewing op die een of ander stadium hier voorkom. Die verwagte sterkte daarvan sal in die omgewing van M8.5 tot M9.0 wees!

Maar so loop daar ‘n baie groot breuk van Groenland af verby Ierland, deur die bog bo in Wes-Afrika en dan al langs die weskus af en uiteindelik draai dit in Koeberg se omgewing ooswaarts tot by DF Malan lughawe. Daar kom ‘n paar breuke op daardie punt bymekaar, waaronder ‘n (tweede) baie groot een van die suidpunt van Argentinië af. As daar ‘n groot genoeg aardbewing kom sal die skiereiland waarskynlik onder die water verdwyn en sal Tafelberg ‘n eiland word.

Beyers het selfs gepraat van ‘n tsunami van tot 200 meter hoog wat Kaapstad vanuit die suide sal tref as die verwagte groot aardbewing toeslaan. Dit skokgolwe langs die breuk vanaf Suid-Amerika af sal dit veroorsaak. ‘n Baie groot deel van die Boland sal dan waarskynlik ook onder die water wegraak. (Hierdie grootte aardbewings kom volgens hom in siklusse van 500 jaar voor, maar omdat ons nie weet wanneer dit laas gebeur het nie kan dit natuurlik enige tyd plaasvind.)

Tot sover dan die agtergrond van hierdie artikel soos dit Koeberg raak.

Die eerste belangrike punt hier is dat die voormalige NP regering besluit het dat die breuk van die noorde af ver genoeg aan die westekant van Koeberg verbyloop om die kernkragstasie veilig daar te kan bou. Die navorsing hieroor was egter baie swak en heeltemal oorhaastig gedoen. Die beplanners het geglo dat die naaste grens van die breuk aan Koeberg ongeveer 8 myl (13 km) wes van Koeberg in die see gelê het. Dit was egter ‘n fout, want ek haal aan wat wyle Beyers hieroor uitgesorteer het:

“… terwyl die heel westelike grens van hierdie seismiese verskuiwing slegs 4 km ter see geleë is. Dié groot skok kom as besef word dat die noordelike asook oostelike grense van hierdie seismiese gebied tot 11 km binnelands geleë is, en nie op see nie! …”

Dit beteken dus dat Koeberg kragsentrale amper in die middel van ‘n uiters onstabiele stuk aarde gebou is! ‘n Mens wonder hoe so iets so maklik verby ministeriële toestemming kon gekom het om gebou te kan word. Of hoef ons regtig te wonder hoe?

Die tweede punt is dat die kragstasie nie sal ontplof nie. Dit kán nie omdat dit nie ‘n kernbom is nie en die ergste wat kan gebeur is dat dit bloot onder die water sal verdwyn. Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n kernbom en ‘n kernkragstasie en die twee is nie eers naastenby dieselfde ding nie. Die kernbrandstof wat die kragsentrale gebruik is nie naastenby sterk genoeg verryk om ‘n bom daarvan te kán maak nie. Daar is internasionale kernverdrae wat hierdie maatreël baie streng toepas, juis om te keer dat dit vir sulke doeleindes gebruik kan word.

Die derde punt is dat dit wel geweldige kern-besoedeling in die seewater sal veroorsaak, en dit wil ons natuurlik glad nie hê nie. Die stasie sal dus na ‘n veiliger staanplek verskuif moet word.

Moenie dat Snyman se ‘horror-stories‘ oor Siener se visioene u nog steeds bang maak nie! Ek sê weer: u hoef my seker nie te glo nie, maar weet in elk geval dat alles daarvan duimsuigstories is. Wat my wel verskriklik verontrus is dat alles hiervan net té perfek inpas by wat die NWO vir ons beplan om spontaan toevallig te kán wees!

Hou moed, ons sal veilig by Prieska uitkom, ten spyte van die mense en doemprofete wat die idee op allerhande maniere probeer besmet, of selfs vernietig.

Groete,

Frik Pretorius

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: