Slaan oor na inhoud

ART 139 2020-06-21 Beplande sluipmoord op Ramaphosa (?)

2020/06/21

http://www.sienervanrensburg.co.za
F.H. Pretorius,
Swartruggens,
Noordwes Provinsie.

Goeiedag,

My goeie vriend Daniel Bezuidenhout het die volgende e-pos vanoggend aan my gestuur en my reaksie daarop gevra.

Ramaphosa sluipmoord?

More Frik

Ek hoop dit gaan goed met jou.

Hier is ‘n Amerikaanse profeet wat die sluipmoord van Ramaphosa verklaar. Francois de Wet het ook gese dat daar sal voor [daar] totale chaos in SA uitbreek, ‘n swart leier gesluipmoord word, maar dit sal op die wit mense blameer word.


Wat dink jy hiervan?

Groete

Daniel
———————————————————————————————————————
Ek wil egter ook vir die doel met hierdie artikel hierdie YouTube video van die “profeet” Francois de Wet bysit. My goeie vriendin Annatjie Venter het my gebel net nadat ek Daniël se e-pos gelees het en ek het haar daarvan vertel. Sy het toe vir my hierdie YouTube adres gestuur in aansluiting by wat ek met haar bepraat het.

———————————————————————————————————————

Hallo Daniël,

Ek sal dit baie maklik kan glo, maar ek twyfel nogal baie sterk of dit so direk van die Here af kan kom. Ek dink hierdie is dalk eerder beplanning wat as “profesie” aangekondig word as wat die Here dit gespreek het. Ek ken hierdie Amerikaner glad nie, maar nie een van die ware en bewese profete wat ek van weet sou Ramaphosa so smalend gevloek het óók nie. Die Here vloek nêrens sy teenstaanders nie Daniël, Hy kondig bloot hul ondergang aan en los hulle dan dat die situasie hulle uithaal. As hierdie Amerikaner dit vanuit sy eie donker hart gedoen het is hy beslis nie ‘n profeet se dinges nie, want Vader verwag meer van sy profete as dit.

En ja, die sleutel tot die hele ding lê myns insiens in hierdie mnr Francois de Wet se “toevallige” teenwoordigheid. Mense wat my ken sal kan getuig dat ek lankal al sê dat ek geen erg aan sy “profesieë” het nie. Ek het agtergekom dat sy profesieë darem feitelik baie meer akkuraat is as die meer gewone soort Goddelike vooruitskouiing. Die basis daarvan is duidelik eerder op heersende werklikhede gebaseer as op esotoriese Goddelike toekoms-openbaring. Dit is, om die waarheid te sê, só akkuraat en op die punt af dat dit eintlik meer na verduidelikings van beplanning klink as enigiets anders. Dit reflekteer uiteindelik maar net sy/hul gebeurlikheidsbeplanning om die situasie rondom ons uit te buit vir eie gebruik.

Dit sal regtig nie die eerste keer in die geskiedenis wees dat God se Naam vir sekulêre propaganda-doeleindes gebruik word nie.

Wat hierdie inligting so baie interessant maak is dat hy en die Amerikaner, Nathan Humbyrd, dieselfde ding so ondersteunend dieselfde aanbied. Dit sê maar net vir my dat die organogram van hierdie spesifieke internasionale samewerking besig is om sigbare gesiggies te kry ook. Ek stel dit dan ook prontuit dat ek nou, nou dat die kolletjies tussen hom en die Amerikaner duideliker begin wys, nog minder vertroue in sy profetiese vermoëns het as vantevore. En hier is die antwoord as jy dink ek praat sommer maar net:

(11:36) it’s going to get back to the ears of
(11:38) mine and God spoke to me there’s one
(11:41) prophet there that knows the same thing
(11:43) as I do I haven’t met him and haven’t
(11:45) heard anything about him but he knows
(11:47) your assassination is nigh.

Mnr. Francois de Wet is die enigste Suid-Afrikaanse persoon wat ek van weet wat homself as ‘n profeet bemark en wat ook openlik van hierdie sluipmoord praat as ‘n Godgegewe feit. Dit kom baie duidelik deur in sy video wat ek hierby aanheg. Hy sê dan ook by 07:12 in sy video pertinent dat hy “die indruk gekry het” (by God natuurlik!) dat die geld vir die sluipmoord reeds betaal is, dat die datum daarvoor ook reeds bepaal is en dat daar geen omdraaikans meer is nie. Mnr. De Wet het die aankondiging in Januarie 2020 gedoen en hierdie Amerikaner bevestig dit “amptelik” op 17 Junie 2020.

Die Here se profete het darem regtig nooit in die verlede só nou met mekaar saamgewerk nie, want elkeen het sy eie deeltjie van ‘n spesifieke gebeurtenis heeltemal onafhanklik van ander profete geformuleer en uitgespreek. Dit pas in elk geval nie in by die toepaslike strekking van die Skrif wat die Amerikaner as basis van sy uitspraak aanhaal nie. Kyk, ek is baie beslis nie ‘n profeet nie, maar ek het darem ook al by baie geleenthede Skrif as ‘n gewone gelowige ontvang om iets aan my te verduidelik, en ek weet ‘n mens kan nie jou eie afleidings na willekeur daarin wil inlees nie.

Iets wat natuurlik absoluut vir my uitstaan, en verskriklik hinder, is dat daar niks van Siener in mnr. De Wet se “profetiese vooruitskouinge” voorkom nie. Sou dit beteken dat Vader God intussen van plan verander het en nou hierdie man stilweg aangestel het as sy amptelike profeet in die plek van Siener? En dat Hy ons waaragtig in die duister gehou het hieroor tot mnr. De Wet ons daarvan ingelig het en oor ons volk se toekoms begin profeteeer het?

Die enigste wat hy oor Siener te sê het, en dan ook sonder om eers direk na Siener te verwys, is terloopse verwysings na Snyman se bisarre stories oor die NVDLM. Hy verwys na dele daarvan asof dit waar en korrek is en dit dui vir my daarop dat ook mnr. De Wet eintlik deel van Snyman se liegbrigade is. En dáárvoor het ek absoluut geen tyd of geduld nie. Dit lyk vir my of hulle waaragtig ‘n situasie sal skep om die NVDLM “waar te laat word”!

In elk geval, die feit dat hierdie Amerikaner sy boodskap so smalend en prontuit in soveel detail stel sê dat die uitvoering daarvan ook baie naby is. Hierdie is nie meer ‘n waarskuwing of selfs net ‘n dreigement nie, maar duidelik ‘n verklaring van vaste voorneme. Dit gaan hul saak glad nie help om té lank uit te stel nie, want die sekuriteit rondom Ramaphosa sal na dese beslis opgeknap word. En dan is daar ook die kwessie van geloofwaardigheid wat op die spel kom hier.

So, dit klink of ons uiteindelik by die lang verwagte breekpunt gekom het wat die boom gaan laat pluiens! Weet verseker as hierdie ding gaan gebeur sal dit baie onverwags wees en dat dit ‘n groot lawaai gaan veroorsaak. Ek dink Adriaan Snyman hou sommer baie van die storie oor ‘n uitbarsting in Johannesburg se strate, maar darem seker ook nie te veel van die “De Wet visioenêre feit” dat dit swart op swart geweld gaan wees nie. Hy wou tog so graag hê dat dit blankes is wat in stukke gekap sal word, en nou is dit swartes wat aanmekaar sal spring, presies soos Oupa Baard jare gelede al gesê het. Maar nou ja, ‘n mens kan darem seker ook nie alles kry wat jy in hierdie lewe wil hê nie, kan jy?

My vriendin Annatjie Venter het ‘n groot, groot voorliefde vir Jesaja 26:20 en ek kan behoorlik hoor hoe sy nou vir my gaan sê, rondom mnr. De Wet se verwagte probleme van ‘n “dag of so” in Johannesburg en Pretoria:

Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan.

Maar ja, as die SP (Ramaphosa) uitgehaal word sal dit inderdaad groot chaos veroorsaak, maar dit het ek óók al lankal terug in een van my artikels gesê. Ek het op daardie stadium gesê dit kan met Zuma en/of Malema gebeur en dat ons die skuld daarvoor gaan kry. Mnr De Wet herhaal dit maar net in sy eie woorde in sy aanbiedinge. Ek het juis daardie artikel geskryf om ons volk se onskuld hierin voortydig in die openbaar te proklameer. En jy moet geen fout maak nie, ons oorlewing as volk lê juis opgesluit in ons naïewe onskuld in die komende tye!

En weet jy, soos ek ook in my artikels gesê het dink ek nogal die mense wat hierdie ding beplan ook sal regstaan met die Groot V vir die oomblik wanneer die massas na ons kant toe begin kyk. Om die waarheid te sê, die eerste visoen in die verhaal dui vir my aan dat die twee dinge saam sal gebeur ook, want die Engelse se einddoel is juis om die swart bevolking van Afrika uit te wis.

Ek sit net en wonder watter plaaslike “ver-leier” gaan die rol van die Leeu vir homself probeer opeis. As dit die verkeerde ou is, wat ek nogal verwag gaan gebeur, gaan hy ook op ‘n manier uitgehaal word. Ek kry hom/hulle jammer, want dit gaan uiteindelik in hul gesigte ontplof. En weet jy, ek dink hierdie Amerikaner verklap in werklikheid op simboliese vlak dat Engeland hierdie leeu sal wees, want die leeu is ook die amptelike simbool vir die Britse Ryk! Dit sal natuurlik perfek inpas by wat ek hier sê, want Siener se verhaal, wat in alle opsigte hier by ons begin, gaan ook die ondergang en einde van die Britse Ryk wees. God self vernietig hierdie stuk Satans-boosheid in hierdie tydvak van Sy wraak.

En hier is wat ek probeer sê in die Amerikaner se eie “profetiese” woorde:

(14:30) [there’s a] pride of lions that have spotted you.
(14:33) They’re moving in position right now. One
(14:37) of them’s gonna flush you out in the way
(14:40) and the other will assassinate you and
(14:44) stand by your body if you do not repent

Die fout wat hierdie Amerikaanse “profeet” en sy plaaslike vriende gemaak het is die verwysings na die trop leeus en die ander profeet in Suid-Afrika. Die Skrif wat hy as basis vir sy storie gebruik impliseer nie so iets nie, maar tog beklemtoon hy dit. Hoekom?

Dit is seker nie so moeilik om ‘n sluipmoord te reël as jy die regte organisasie en die geld daarvoor het nie. Maar wie is die organisasie wat militêr sterk genoeg is om die massas uitdagend suksesvol te beheer daar waar die lyk lê? Ek hoop regtig nie dit is die Boere Legioen nie, want moord is moord, maak nie saak wie doodgemaak word nie.

Ons Vader werk op ander maniere Dan, en wat Hy veral doen is om bepaalde situasies uit te buit om sy doelwitte te bereik. Dit is een reuse groot skaakspel op kosmiese vlak, maar daaroor het ek ook lank gelede geskryf. Jy en ek het in elk geval geen beheer dáároor nie! Sy doel, in hierdie geval soos dit die Amerikaner én mnr. De Wet raak sal wees om Siener se verhaal aan die gang te kry, en daar is geen rede vir (byvoorbeeld) BL om die Here op hierdie manier ‘n “bietjie te wil help” nie. Alles wat ek van die visioenêre verhaal weet sê dat Vader die Engelse gaan gebruik om uiteindelik sy teenstaander tot ‘n val te bring.

Ek kan hierdie “bietjie help” egter wel van van SL se leierselement dink, wat klaarblyklik ‘n invloedryke deel van ons Intelligensie gemeenskap insluit. Die vieslike stuk bedrog van die NVDLM, wat dekades lank so entoesiasties deur die skrywer Snyman gepromoveer is, het oorspronklik van die Britse owerhede gekom, en dit sê vir my dat SL en die Engelse kop in een mus is. BL se topleiding kom as baie hardekwas konserwatief voor, en dan dalk ook half desperaat so, maar hulle is darem nie noodwendig moordenaars óók nie. Dit is glad nie ‘n goeie fondasie om ‘n Godgelowige volk se toekoms op te wil bou nie en iets hierbinne in my glo en hoop baie ernstig dat hulle dit so sal verstaan ook.

Moedhou en veilig bly!

Groete,

Frik Pretorius.

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: