Slaan oor na inhoud

ART 151 2021-03-31 Broei daar ‘n nuwe godsdiensoorlog in Nederland en hoe raak dit ons volk?

2021/03/31

http://www.sienervanrensburg.co.za

F.H. Pretorius,

Swartruggens,

Noordwes Provinsie.

[Hierdie artikel verskyn ook op die FB blad van Elsa Muller – NIKLAAS SIENER VAN RENSBURG- BOODSKAPPER VAN GOD. https://www.facebook.com/groups/427103870673448/ Sluit gerus hier aan en kom help om die Waarheid in Siener se visioene te laat seëvier! Alle verdere besprekings van my artikels en ook Siener se visioene vind met my medewerking op daardie blad plaas as u daarin sou belangstel.]

——————————————————————————————————

Ek het op 21 Maart 2021 op my FB blad gewonder of die huidige opstandigheid in Nederland ‘n hervatting van die tagtigjarige oorlog weerspieël?  Daardie oorlog het in sy diepste wese gegaan oor ‘n stryd tussen die Calvinisme vs die Rooms Katolisisme …. ‘n stryd om godsdiensvryheid dus. 

Maar dit was dieselfde rede waarom die Groot trek hier in Suid-Afrika plaasgevind het!  Daardie beweging het NIE gegaan oor die vrystelling van slawe nie, maar wel oor doelbewuste swart op wit moorde (soos nou weer), maar dan veral ook ‘n strewe na godsdiensvryheid.  Die slawe-deel hiervan is uitgedink deur ons volk se vyande om ons, die nasate van die Trekkers, in die beskuldigdebank van die wêreldpolitiek te kon plaas.  

Die afgryslike verskrikking hiervan was dat sommige van ons mees gesiene en stoere Afrikaner akademici hiervoor verantwoordelik was, want dit was wat ek in die vroeë 1960’s persoonlik op skool geleer het in die geskiedenisklas! Hoe ver terug kom hierdie bedrog teen ons volk nie! Die verraaierselement is baie dieper weggesteek as wat ons dalk kan dink.  Genl CR de Wet het in hierdie verband op ‘n keer by ‘n vergadering op Treurfontein (Coligny) gesê dat die verraad só erg is dat hy nie eers meer sy eie baadjie aan sy lyf vertrou nie!

Daar is nou wel nog nie op hierdie stadium ‘n uitdelgingsaanslag teen blanke Nederlanders aan die gang nie, maar met die Rutte-regering se liefdevolle omhelsing van die Islam migrante kan mens nooit sê nie.  Die gevaar van konflik sal nie verdwyn so lank die migrante teenwoordig is nie en daardie regering wil hulle duidelik graag daar hê! Die gemoedere hieroor loop hoër as wat die media berig, maar daar is wel groeiende onmin teenoor die migrante in die hele Europa! En dit word erger, want Denemarke is byvoorbeeld reeds op amptelike vlak besig om die migrante terug te druk na waar hulle vandaan gekom het.

Die moontlikheid van fisiese rassekonflik in Europa is glad nie so klein as wat ons dalk mag dink nie!

Rutte word deur die meer konserwatiewe groepe in Nederland in dieselfde klas geplaas as ons eie volksverraaier FW de Klerk.  Die grootste deel van die blanke kiesers het hom beskou as ‘n konserwatiewe nasionalis en betroubare leier, net soos Ruttte in Nederland.  Maar voor ons ons kon kry het hy ons toe al die tyd agteraf reeds uitverkoop aan die Brits-Marxistiese Sosialisme.  Die absoluut skelm manier waarop hy dit gedoen en die proses ook afgehandel het wys duidelik dat hy toe al die tyd volledig deel van hulle was en dat sy “konserwatisme” nooit meer as net ‘n gerieflike misleidende masker was nie.  Die bewys hiervoor was juis die generaals wat hy afgedank het om moontlike blanke teenstand voortydig stop te sit.  Die generaals het agterna gesê dat daar nie sulke planne in die lug was nie!

Die vraag is of Nederland gaan toelaat dat hulle die slagoffers van dieselfde stomme soort naïwiteit as ons gaan word.  Ek het nogal gedink ons volk gaan nie sommer weer vir soveel leuens en bedrog val nie, maar die stigting van organisasies soos Afriforum en ook die Suidlanderbeweging het my absoluut verkeerd bewys.  Maar nou ja, hierdie mistastinge en die oorgawe om die leuen te WIL glo sal maar net die natuurlike pad moet loop totdat ook dit in die hitte van Siener se komende smeltkroes sal verdwyn.  Of dan, soos ek in ‘n vorige artikel gesê het, “Los hulle dat hulle dan maar hul koppe stamp as hulle so wil, dit is al manier hoe hulle gaan leer.”  Dit moet ongelukkig so gebeur om hul oë oop te kry sodat minstens sommige van hulle kan terugkom na die volk toe.

Die laagliggende lande van Wes-Europa huisves natuurlik die verskillende groepe Friese waaruit ons volk ontstaan het.  Daardie mense het nie intussen maar net vêrlangse familie geword nie, want ons is letterlik nog steeds dieselfde direkte bloedfamilie.  Al wat verander het is dat daar ‘n bietjie Keltiese bloed by ons bygekom het en dat ons natuurlik ons eie taal en volksidentiteit ontwikkel het.  Op hierdie stadium het ons nie veel met mekaar te doen nie, want ons word van mekaar weggehou deur kunsmatige negatiewe houdinge.  Die enigste manier hoe dit gaan verander is as ons dit van ons kant af begin verander en regstel.  Ek het rede om te glo dat die tyd nou begin ryp word het om na mekaar uit te reik om mekaar weer te kan vind en ou-ou vriendskapbande te herstel.  

Maar hier kan ons duidelik sien dat Nederland minstens by ‘n skeidingspunt begin kom het wat die godsdiensbelewenis in daardie land bedreig, want sekere kerklike gemeentes weier prontuit om gehoor te gee aan die Rutte-regering se drakoniese COVID19 regulasies.  En hier moet die leser asseblief geen fout maak nie, want die verskille is nie regtig so groot as wat ons dink nie.  Die gemiddelde Nederlander sien die lewe dalk ‘n bietjie anders as ons, want die omstandighede verskil heeltemal, maar as ‘n groep is hulle enige tyd nét so behoudend as ons.  En iets wat u dalk nie weet nie is dat die kerklike lewe baie, baie belangrik is vir ‘n baie groot deel van daardie volk. 

Rutte moet miskien versigtig raak hier, want dit is iets wat baie maklik kan uitkring om die soort nagmerrie te word wat hy en sy EU-base nie wou gehad het nie.  Die meerderheid konserwatiewes in Nederland is miskien minder militant as sekere kerkgroepe, maar die situasie daar (en eintlik die hele Europa) het net ‘n klein vonkie nodig om te ontplof.  In Duitsland en Frankryk is die onlustepolisie geruime tyd reeds feitlik permanent op diens, en dieselfde is nou skynbaar besig om vinnig in Nederland te gebeur ook.

Ons hier het nie ‘n idee hoe  dik die spanning werklik daar loop nie, en ek glo al meer dat Engeland se Charles net sit en wag vir die regte oomblik om toe te kan slaan!  Duitsland se militêre vermoë is glad nie ‘n probleem vir hom nie, want die huidige grootbaas van die EU, Dr. Von der Leyen, was voor haar huidige aanstelling die Duitse Minister van Verdediging gewees en sy het haar land se militêre vermoë baie doelbewus tot in die grond afgebreek.  Ek het onlangs gesien dat Duitsland se elite artillerie afdelings, wat direk deel is van die NAVO magte wat verantwoordelik is vir die beskerming van Europa, met besemstokke oefen in die plek van die kanonne wat hulle veronderstel is om te hê.  Hulle het nie [meer] hierdie toerusting nie omdat Von der Leyen die aankope daarvan gestop het.  Ek verstaan minstens nou waarom ons hulle sal moet gaan help in Europa, want hulle kan dit nie self doen nie!     

Maar dit bring ook Siener van Rensburg se visioenêre vooruitskouing in die prentjie van wat op die gelowige blanke Europeër en inwoners van die VK lê en wag. Daar gáán oorlogsprobleme kom wat hulle gaan dwing om in massas na veiligheid te vlug, en daar is maar net een gebied waarheen hulle sal kán vlug, en dit is hierheen. 

Siener se visioene gaan nie nét daaroor om ons teen ‘n komende militêre aanslag te waarsku nie, maar ook om aan ons medegelowiges oorsee te sê dat daar ‘n veilige toevlug vir hulle wag by die Boervolk van Suid-Afrika.  Ons sal in daardie dae reg moet staan om hulle te ontvang en te versorg soos wat Vader ons deur Siener se visioene aangestel het om te doen!  Ons mag nie vergeet dat baie van die mense wat ons tans nog deur siniese en donker oë beskou óók Sy kinders is nie, en dat ons hulle namens Hom sal moet uithelp as die tyd daarvoor gekom het!

Dié van u wat kontak het met mense in Wes-Europa (en die VK) moet dit asseblief dringend onder hul aandag begin bring sodat dit kan begin versprei en insink!  Ek het heelwat hieroor geskryf in die tyd van my vreemde en ontstellende droom van 26 Februarie 2012, naamlik ART 065 en die paar artikels wat daaruit voortgevloei het. Daardie waarskuwing aan ons vriende en medegelowiges het intussen nie net meer dringend geword nie, maar die oproep om na hulle uit te reik natuurlik óók!  En ja, die basiese omstandighede en uitgangspunte ten opsigte van gebeure en tydskale is nog steeds presies dieselfde.  Al verskil is dat dit nie meer 2012 is nie, maar dat dit intussen 2021 geword het. 

Maar ja, wat die basis van vandag se artikel betref het ek onderstaande spotprent in ‘n Nederlandse dagblad raakgesien, en ek plaas dit hier vir die Suid-Afrikaanse leser se aandag.  Hierdie spotprent moet egter saamgelees word met ‘n pos wat ek vroeër ook op my FB blad geplaas het.

Die spotprent hou verband met sekere kerklike gemeentes in Nederland wat in opstand gekom het teen die regering se drakoniese regulasies rondom die sogenaamde Covid19 pandemie.  Hierdie gemeente(s) se argument is dat God se Woord sterker en belangriker is as die Rutte-regering s’n en daarom nie onderhewig is aan enige sekulêre voorskrifte nie.  Rutte probeer God in werklikheid inperk en wie kan dit tog suksesvol doen? 

Die algemene konserwatiewe argument in Nederland is dat Covid19 maar net nóg ‘n soort griep is en glad nie so dodelik is as wat die EU globaliste dit probeer maak nie.  En ja, die werklike statistieke wys dat hulle reg kan wees, want die sterfgevalle kom beslis konstant af!

Wat ek óók hiermee bedoel is dat ‘n afgestorwene tipies op sy of haar doodsertifikaat as ‘n Covid19 geval “uitgeboek” word, al het hy homself met ‘n valskerm doodgeval.  Dit gebeur hier by ons maar presies net so.  Die algemene publiek het dit egter begin raaksien en die owerhede het agtergekom hulle maak hulself belaglik met hierdie vals “geskepte” statistieke.  Hulle gebruik nou vrees om mense in te perk en te beheer, want hulle sê daar is ‘n nuwe derde plaag op pad wat “dodelik” gaan wees as mense nie die staat se voorskrifte volg nie.  En intussen stort die wêreldekonomie ineen en kan die globaliste se “great reset” suksesvol deurgevoer word. Dit klink al meer of Openbaring se merk van die dier besig is om in plek te kom, nie waar nie?

Hier is die spotprent waarvan ek praat:

Met erkenning aan die kunstenaars Looks & Peerd in Luncheditie Groninger Internet Courant van Woensdag, 31 Maart 2021.

Ek het in aansluiting hierby onderstaande pos op 21 Maart 2021 op my FB blad geplaas.  Die inligting in die video wat ek daarby geplaas het plaas bostaande deel van vandag se artikel in sy regte perspektief.  My vraag daarby was gewees:

Sien ons ‘n hervatting van die tagtigjarige oorlog in Nederland? En ja, die Vatikaan lê nog steeds aan die basis daarvan, né!

Die video was in werklikheid aanmoediging om in opstand te kom teen die Rutte-regering se onderdanige oorgawe aan die EU rondom Covid19, naamlik die streng verbod op sosiale verkeer en die verpligte dra van “mondkapjes”.  Dit vorm na my mening ‘n belangrike deel van die betrokke kerkgemeentes se houding en optrede.  

Hier is ‘n bietjie raad vir die lesers wat hierdie Nederlandse videos wil opvolg.  Stel die terugspeelspoed van die video op minstens 0.8 en luister fyn na wat hulle sê. Ons verstaan hulle nie, want hulle praat te vinnig vir ons om by te bly. Die aksente is ook baie dik en baie gutteraal vir ons gehoor, maar hulle raak wel verstaanbaar as ons hulle stadiger kan laat praat.  My Nederlandse penvriendin het dieselfde vir my van my Afrikaans op skype gesê en ons het gou geleer om stadig en duidelik met mekaar te praat.

Dit blyk egter dat die meegaande YouTube video intussen van die internet verwyder is. Die boodskap daarby sê dit is deur die mense verwyder wat dit geplaas het.  Ek vind dit baie vreemd, want ek kan dit nie dink nie.  Mense wat sulke inligting publiseer is nie geneig om weg te hardloop as hulle onder druk kom oor die waarheid daarin nie.  Dit is dan juis waarom hulle dit gepubliseer het.

Die opskrif by die video het in elk geval gelees: Ode aan alle Vrijheidstrijders van Nederland en die internetadres wat nou daarby verskyn is:  https://www.youtube.com/watch?v=PB6PrbG75WA

As ‘n mens op hierdie stadium ‘n Google-soek doen na die opskrif Ode aan alle Vrijheidstrijders van Nederland kom jy te lande by ‘n klomp videos wat dieselfde basiese boodskap uitdra as die Nazi “wreedhede” gepleeg teenoor die Jodedom tydens die WOII.  Dit gaan hier oor die Nederlandse “wreedhede” teenoor die inwoners van Indonesië gepleeg tydens WOII.  Dit wys jou maar net weer om sulke belangrike videos af te laai en te stoor vir latere verwysing en gebruik.  Die vyand gáán dit afhaal, want hulle wil nét hul eie “waarhede” onder algemene aandag bring.

Alles hiervan, soos ook in Duitsland, is daarop gemik om ‘n skuld- en minderwaardigheidskompleks te kweek en die blanke Nederlandse volk onder die indruk te bring dat almal van hulle sleg en doemwaardig is.  Dit alleen sê vir my dat die betrokke video in werklikheid deur vyande van die Nederlanders verwyder is deur die adres daarvan na hierdie tipe propaganda te herlei.  Dit vra tegniese programmering op ‘n vlak wat net as “hacking” deur die staat se veiligheidsagente beskou kan word.  Dit is ook baie interessant, én leersaam, om daarop te let hoe hierdie agente die woorde “against Jews” intussen verglobaliseer het na “against humanity”.  Dit sluit natuurlik direk aan by die nuwe aandrang in die VSA dat blankes daar verskoning moet vra dat hulle so gebore is! 

Vir ons is al hierdie dinge natuurlik déja vue, nie so nie?  As ek dit reg het, het die Indiër, Mahatma Gandhi, reeds in die vroeë 1900’s met so ‘n haatveldtog teen ons begin.  Ons word van allerhande vergrype beskuldig en as misdadigers verklaar in terme van “apartheid” en hulle gebruik dit baie handig vir eie doeleindes.  Die haatveldtog teen ons kom al van die laat 1700’s af, so is dit daarom so moeilik om te verstaan waarom die mense oorsee so sleg van ons dink? Dit is al wat hulle hoor van ons, tot ons rugby Springbokspan word baie maklik voorgestel as ‘n kragtige oerdier wat moeilik getem kan word! Maar Gandhi, soos byvoorbeeld ook Peter Hain in die 1970’s, het die staatsbestel en situasie hier op ‘n siniese wyse as ‘n basis gebruik om ‘n suksesvolle politieke loopbaan vir homself oop te trap.

Hou moed, daar sal ‘n dag kom wat al hierdie leuens en bedrog sal verdwyn, en waar daar wel ongeregtigheid was sal dit ook gekorrigeer word. 

Groete,

Frik Pretorius.

————————————————————————————–

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: