Slaan oor na inhoud

ART 155: 2021-05-28 Nederland – Ons ou Moederland.

2021/05/28

http://www.sienervanrensburg.com

F.H. Pretorius,
Swartruggens,
Noordwes Provinsie.

[Hierdie artikel verskyn ook op die FB blad van Elsa Muller – NIKLAAS SIENER VAN RENSBURG- BOODSKAPPER VAN GOD. https://www.facebook.com/groups/427103870673448/ Sluit gerus hier aan en kom help om die Waarheid in Siener se visioene te laat seëvier! Alle verdere besprekings van my artikels en ook Siener se visioene vind met my medewerking op daardie blad plaas as u daarin sou belangstel.]

——————————————————————————————————–

Goeiedag,

Ek het in vorige artikels gesê dat ek beplan om uit te brei oor ons stamlande, en dan baie bepaald Nederland en die aangrensende Franse vasaalstaat Vlaandere.  My fokuspunt in alle gevalle is die vroegtydige voorbereiding van die vlugtelinge wat Siener gesê het hierheen sal kom kort na die visioenêre oorlog begin het.  Dit was van meet af aan ook my fokuspunt met my eie volk hier in Suid-Afrika, want die roeping wat ek ontvang het behels in die eerste plek om soveel van ons mense moontlik te help om lewendig by Prieska uit te kom.

Die algemene publiek in Europa moet egter óók daarop attent gemaak word dat daar ‘n veilige hawe op hulle wag by die Boervolk van Suid-Afrika.  As ons gaan toelaat dat onnodige kleingeestige historiese argwaan ons keer om dit te doen gaan baie, baie van hulle onnodig seerkry of selfs te sterwe kom.  En dit gaan op ons rekening kom, hóór!  My roeping laat dit in elk geval nie toe nie en ek sal daarom uit my pad gaan om dit te probeer verhoed.  Hierdie mense is per slot van sake bloed van ons bloed, en bloed is dikker as water omdat die genes tussen ons presies dieselfde is!  Die belangrike punt hier is dat hulle ook ons Vader se afhanklike kinders is en dat ons dus inderdaad ook veronderstel is om hul hoeders te wees, soos en waar ons behulpsaam kan wees!  Die baie bekende woorde van Rut kom onwillekeurig hier by my op: [want] U God is my God en U volk is my volk….

Ek weet nie op hierdie stadium hoe so iets kan werk nie, my jare het aangestap en ons sit net hierdie COVID reisbeperkings, maar ek is selfs bereid om vir ‘n ruk in Europa te gaan woon en werk om die mense daar beter met hierdie boodskap te kan bedien.

Ek het ook in die vorige artikel, (ART 154), aangedui dat ek veral wil uitbrei oor ‘n droom wat my Nederlandse penvriendin in 2012 gehad het.  Daardie droom sluit direk aan by my vreemde en ontstellende droom van 26 Februarie 2012 (ART 065) en dit bevat inligting wat ek as kritiek-belangrik beskou.  Ek sal dit so gou moontlik probeer doen, maar dit gaan ‘n moeilike stuk wees om te skryf.

Die titel van vandag se artikel moes in elk geval eintlik gelees het: Die nederlande – ons volk se gesamentlike baarmoeder, want die naam Nederland beskryf bloot ‘n sekere kleiner deel daarvan.  Die groter gebied bestaan uit die laagliggende state en streke van Nederland, Schleswig Holstein, Neder-Sakse en Vlaandere.

Maar nou goed, dit gaan vir my hier spesifiek oor Nederland en die aangrensende Nederlandssprekende Vlaandere. Ruim 50% van Nederland lê slegs sowat 1.0 meter bokant seespieël, en ek het verstaan dat sowat 17% van daardie land in werklikheid laer as seevlak lê.  Neder-Sakse, Schleswig Holstein en ook die noordelike deel van Vlaandere is, behalwe miskien vir hul kusgebiede, lê skynbaar hoër as dit, maar Nederland word heeltemal oorspoel met water wat vanuit Wes-Europa afvloei see toe.  Die geskiedenis van hierdie land weerspieël ‘n eeuelange stryd om genoeg grond bo water te kry om ‘n bestaan te kan maak!  En vandag is dit die derde kleinste land in die EU, maar tog het hulle die derde grootste ekonomie in Europa!

Maar hier is die ding wat vir my persoonlik so baie, baie belangrik is:  Ons kan nie regtig hierdie algemene gebied in Wes-Europa so summier wil opdeel in “lande” nie.  Daar is ‘n onsigbare band van streektale en genetiese materiaal teenwoordig wat die groepe daar baie direk aanmekaar verbind.  Ek wil niemand te na kom nie, maar dit lyk eerder vir my na een groot familie en nie regtig afsonderlike nasionaliteite en/of “lande” nie.  Groepe soos in “stamme”, ja, maar na my mening nie regtig “volke” nie.  Die punt is dat almal van daardie groepe oorwegend uit Friese bestaan en nie Nederlanders, Duitsers of Franse nie.  Dit beteken dat ons oorsprong in hierdie groepe Friese gesetel is en dat ons nie bloot op ‘n vae en algemene manier beskryf kan word as “nasate van Hollanders en Duitsers” nie.  Dit is ‘n mondvol om te sê, en ek gaan nie hieroor argumenteeer nie, maar ek begin hier op my eentjie te wonder of ons nie hier dalk selfs van ou-Israel praat nie, want die Friese verskil nogal opsigtelik op allerhande maniere van die res van Europa en die Britte van die VK.

Daar het in die verlede ook groepe Friese na Skotland, Nieu- Zeeland en die VSA verhuis, maar hulle het almal “deel van” geword, want hulle het in alle opsigte ten volle in die plaaslike bevolkings opgegaan.  Ons is die enigste soortgelyke groep wat afgesonderd van ons omgewing gebly het, en wat selfs ook die oorspronklike taal as ons eie behou het.  Ek is nie ‘n Nederlander of ‘n Duitser nie, ek is trots Boer, maar ek dink ons is as ‘n volk steeds volledig deel van daardie algemene groep mense in Wes-Europa.  En soos ek vantevore gesê het, alles wat ek tot dusver beleef het in terme van my roeping rondom die visoenêre verhaal dui vir my daarop dat die Boervolk die moderne Juda is.  Kyk dan hoe ons tussen die basisgroepe uitgesoek is, as volk gevestig en gebrei is, en veral hoe ons tussen al hierdie teenslae deur behoue gebly het.  En dit is nie ons wat so wonderlik is nie, want alles daarvan het met die fynskrif in die Gelofte te doen, en DIT is deur ons Vader daar ingeskryf.

Ek het in vorige artikels gesê dat ek ‘n paar artikels oor Nederland as ons stammoeder wil doen.  Hierdie is die eerste daarvan, en dit volg dan ook (soos belowe) op my vorige ART 154, en ek hoop om dit te kan uitbrei na selfs nog meer.  Ek gaan een so ‘n moontlike onderwerp hieronder aanvoor, en dit handel oor ‘n baie interessante akademiese siening van waar Afrikaans regtig vandaan kom.  Die strekking hiervan raak definitief die hele Nederland, Vlaandere en ook die kusstreke van Duitsland, Denemarke en Swede.  Dit verduidelik dalk ook hoekom Afrikaans en Vlaams so styf langsmekaar lê.

Ek het verneem dat hierdie uitgangspunt deel van die fokuspunt was van die doktorale proefskrif van ‘n Amerikaanse student.  Die korrespondent wat my hieraan voorgestel het se besonderhede het ongelukkig verlore geraak as gevolg van probleme met ‘n hardeskyf, en ek hoop ook maar hy lees hierdie artikel raak en kontak my weer.  Die feit dat hierdie teorie die fokuspunt was van ‘n doktorale student se aandag beteken egter nie dat dit “onfeilbaar” is nie, en juis daarom voel ek dat hierdie onderwerp beslis deeglik opgevolg moet word!

Ek het egter wél gevind dat daar op akademiese vlak ‘n baie sterk en direkte ooreenkoms is tussen Nederlands en Afrikaans.  Die blote feit dat elke Afrikaanse Departement van ons voormalige Afrikaanse Universiteite nog steeds ook ‘n Nederlandse afdeling bestuur onderstreep dit ten volle.  Vanuit ‘n meer alledaagse oogpunt beskou het my Nederlandse penvriendin op ‘n keer aan my gesê dat baie van die woorde wat ons gebruik in werklikheid “ou” Nederlands is.  Hulle gebruik dit nie meer so algemeen nie, maar hulle verstaan dit nog ten volle.  En as ons eers gewoond is aan die geweldige klem wat hulle op die g-klank plaas, saam met die manier waarop hulle die r-klank kan bry, is hulle ook heeltemal verstaanbaar vir ons.  En, he-he-he, miskien is dit maar net die ouderdom wat maak dat ek al stadiger hoor óók, maar hulle, soos ons ook maar, moet dalk leer om darem bietjie stadiger te praat ook!

Maar om terug te keer na die onderwerp wil ek dit baie kortliks stel dat hierdie teorie sê dat Afrikaans oorspronklik begin het as ‘n “koningstaal”, waar dit as ‘n diplomatieke taal ontwikkel het tussen die koningshuise van die Germaanse en Skandinawiese kusstreke.  Ek is nie ‘n taalkundige nie, maar ek kon uitsorteer dat dit inderdaad so kon gewees het, want die wortels van ons taal, en veral ook ons volksliedjies lê darem baie diep ingebed in die (Germaanse) tale wat hier ter sprake is.

Hierdie diplomatieke taal het volgens my bron veral vanaf deelgebiede soos Limburg, Gelderland en Brabant deur die HOIK na die Kaap gekom.  Hier is dit belangrik om te verstaan dat Vlaandere oorspronklik deel was van die Hapsburgse sewentien provinsies, en dat dit ‘n baie groot belastingbron van daardie staatkundige organisasie was. Die HOIK (of VOIK) is deur hierdie sewentien provinsies gevorm, vanwaar die begrip “die here sewentien van die VOIK” gekom het.  

Die embrio-taal het uit die aard van die saak onmiddellik sy voete in die Kaap gevind, maar het ook as gevolg van die afgesonderdheid hier heel gou in ‘n onafhanklike taal ontwikkel.  Ons kan nie die invloed van die sogenaamde Duitse kleinboere hierin onderspeel nie, want hulle was glad nie “Duits” nie, hulle was Oos-Friese wat in die Duitssprekende gebied Neder-Sakse gewoon het.  (My eie familienaam, Pretorius, het sy oorsprong gevind as Schulte in ‘n Neder-Saksiese dorpie met die naam Schüttorf.  Daardie stamvader het na Nederland verhuis om weg te kom van die Spaanse Rooms Katolisisme, waar sy van verNederlands is na Schoute, en later verLatyns is na Praetorius.  En weet u, my van is glad nie ‘n uitsondering hierin nie!  Ons volk is deurtrek van ander voorbeelde hiervan.)

Die tweede belangrike deel van hierdie teorie is dat die taal weer terug beweeg het en in Vlaandere hervestig het as die algemene omgangstaal.  Dit is die rede waarom Afrikaans en Vlaams so maklik verstaanbaar vir mekaar is: die Vlaams van vandag is volgens hierdie teorie die “basiese” oer-Afrikaans van die 1800’s.  Ek persoonlik is ‘n groot, groot voorstaander daarvan dat Vlaandere weer deel moet word van ‘n groter Nederland. 

Nou, mense wat my lank terug geken het kan dalk nou wil vra waar hierdie skielike nuwe respek en liefde vir Nederland by my ontstaan het.  Ek was vir ‘n baie groot deel van my lewe bitter gekant teen alles wat “Hollands” is. Hierdie verandering is uiteindelik deur die stille invloed van ‘n jong Nederlandse penvrendin in my lewe ingebring.

Ek het in Julie 2011 ‘n bestelling vir my twee boeke van haar ontvang.  Dit is eintlik ‘n bietjie lagwekkend, maar ons moes uiteindelik groot en uitgerekte logistieke probleme oorkom om die boeke by haar te kry én ook haar betaling in my bankrekening.  Die gesukkel met e-posse het egter later verander in ‘n klompie verduidelikings oor Siener en ons volk se huidige situasie, en het uiteindelik ontwikkel in ‘n mooi en sterk vriendskap. En so het die stille invloed van my penvriendin daartoe gelei dat ek al meer begin kyk het na Nederland se kultuur en geskiedenis.  Ek is geen akademikus nie, en ek beroep my geensins op enige sodanige meerdere kennis nie, maar daar hét nogtans geweldige interessante inligting oor Nederland vir my oopgegaan en ek voel dit is belangrik dat ons dit sal verstaan.  Minstens verklaar dit sekere karaktereienskappe van ons volk, soos byvoorbeeld ons legendariese deursettingsvermoë. Water is vir hulle ‘n verskriklike groot probleem, en u sal in die video hierby kan sien wat hulle alles moes doen, en nog steeds doen, om hierdie probleem te kon oorbrug.  Maar hulle het dit gedoen, want hul fisiese voortbestaan hang daarvan af, né! 

Ons het op skool geleer dat Nederland een van die Boervolk se stammoeders is, maar ons is ongelukkig geneig om met ‘n baie donker oog na hierdie volk te kyk.  Die rede hiervoor gaan veral terug na die 1970’s toe die Nederlandse regering van Joop den Uyl met ‘n NWO-poging begin het om ons staatkundig onder te ploeg.  Hy was dan ook een van die mense wat ywerig meegewerk het om die huidige Europa Unie ‘n werklikheid te maak.

Ek wil egter vandag ‘n lansie breek vir die “ander” stille deel van Nederland, want hierdie sage het ook ‘n ander kant waaroor nooit meer gepraat word nie.  Hierdie groep Nederlanders loop nie noodwendig oor van liefde vir ons nie, maar minstens is hulle ons nie vyandiggesind nie.  Dit is dalk meer ‘n kwessie van onbekend maak onbemind as enigiets anders, want ons ken mekaar maar net nie meer nie.  Ons staan afsydig teenoor mekaar, want die tydgees van die NWO-beheer oor Nederland, saam met die NWO se onderduimse gekonkel teen ons, het politieke vooroordele opgebou wat soos ‘n muur tussen ons kom staan het. 

Daar het egter lig in die voor in die donker tonnel begin skyn, want die deursnee Nederlander is baie vinnig besig om uit te sorteer dat die bose doelstellings van die NWO hulle reeds begin insluk en verteer het.  Ek het selfs baie onlangs ‘n artikel hieraan gewy waarin ek aangedui het dat die weerstand in veral Nederland vinnig besig is om in ‘n ernstige en gevaarlike situasie te ontwikkel.  Ek kan maar net hoop en bid dat hierdie artikels sal help om die pad terug na mekaar oop te maak.  As daar dus lesers is wat bande met Nederlanders het kan u hierdie artikel(s) en ook my twee boeke gerus onder hul aandag bring.  Vertel asseblief aan hulle dat daar ‘n mooi toekoms op ons almal wag, en sê vir hulle daar is iets mooi besig om weer van ons kant af wakker te word na hulle toe!

Maar dit is ongelukkig die prys wat ons én die Nederlanders vir mense soos Den Uyl en sy liberale tydgenote se skewe politieke idees moes betaal.  Ons moet maar net aanhou glo dat die breekspul weer omgekeer kan word.  Al wat dit vra is volwasse geduld en ‘n sinvolle en gebalanseede gesprek met mekaar.  Die leser sal trouens in die bronverwysing hieronder sien dat dit destyds juis die klagte was van sekere invloedryke skrywers en mense van daardie tyd, hier en ook in Nederland.  Hul  argument was dat verandering in Suid-Afrika beter bevorder kon gewees het deur sinvolle gesprek eerder as om ons summier uit te wou skop.  Een van hierdie mense was nogal Andre P Brink gewees, ‘n skrywer en liberale politieke en NWO agitator vir wie ek sedert my skooldae absoluut geen respek gehad het nie, en nog steeds nie het nie.  Wat egter wel waar kan wees van mense soos hierdie Brink, Rabie, Breytenbach, en andere, is dat hul “goeie” idees nooit in hul tyd vir ons gewerk het nie, maar dit het wel ‘n grondslag gelê wat dalk nou vrug vir ons en ons Nederlandse familie kan begin oplewer. Hierdie “sestigers” se skewe idees het uiteindelik uitgeloop op die verraad van die De Klerk NP-bende teenoor ons volk.  Die “goed” daarvan lê daarin dat al ons vyande hulself nou geïdentifiseer het en ons sal met hulle kan handel sodra die tyd daarvoor gekom het.  Ons gaan almal vry word, maar NIE op die manier wat hulle wou gehad het nie.  Die NWO gaan heeltemal verdwyn, want nasionalisme gaan weer in Europa opstaan en oor die globalisme seëvier!

My geslag, en ook die geslagte rondom dit, was erg getraumatiseer deur hierdie gebeure, want dit het uiteindelik kosbare vriendskapsbande afgebreek en tot niet gemaak.  Hierdie skrywer het byvoorbeeld in 1966 gematrikuleer en ons het toe nog Afrikaans-Nederlands as verpligte skoolvak gehad.  Vir my was dit baie lekker en ek het dit werklik baie geniet! En ja, een van my weeklikse hoogtepunte in die jare daarna was om op ‘n Saterdagmiddag na die uitsendings van Radio Hilversum te luister, direk vóór die Curriebeker rugby uitsendings begin het.  Die program se naam was “Uitspan op ‘n Hollandse Werf” (*) en die bekende Verna Vels van Liewe Heksie faam het op ‘n stadium in haar loopbaan direk hiermee te doen gehad. Hierdie kosbare kultuurkontak met Nederland is in 1981 finaal doodgesmoor deur die anti-apartheidsbeweging in Nederland.(**)  Kan dit dan nie weer op ‘n manier herleef nie?

Die vak op skool het hoofsaaklik die vorm aangeneem van die lees en ontleding van ‘n paar voorgeskrewe Nederlandse gedigte en kortverhale, asook die meer opsigtelike taalkundige kontakpunte tussen Afrikaans en Nederlands.  Wie van my tydgenote sal byvoorbeeld ooit Orpheus in de Dessa van Augusta de Wit kan vergeet? 

En weet u, selfs die eerste helfte van Siener se visioene is destyds in Hoog Hollands gedikteer en aangeteken!  Die lekker vir my hierin was dat ek die taal ten volle kon verstaan!  Maar ja, ek dink ons kan aanvaar dat daar toe reeds verskille tussen die twee tale begin ontstaan het.  Ons kan byvoorbeeld die oorgang van die Hoog Hollands van die laat 1800’s na moderne Afrikaans baie duidelik raaksien in die verskil tussen die aantekeninge van Siener se dogter Anna en sy vriend kaptein Kerneels Nieuwenhuizen. Hy was ‘n tydgenoot van Siener gewees en het die visoene in opdrag van genl. de La Rey vanaf Oktober 1913 tot 7 Julie 1916 in die Hoog Hollands van die tyd aangeteken.  Siener se dogter Anna het die visoene aangeteken vanaf 15 Augustus tot en met sy afsterwe op 11 Maart 1926.  Ons kan die oorgang na Afrikaans duidelik raaksien in die verskil tussen wat sy aangeteken het en die eerste 248 visioene wat kaptein Kerneels Nieuwenhuizen aangeteken het. Ons sien hierdie verskil ook baie duidelik raak tussen die Hollandse State Bybel en die 1933 Afrikaanse vertaling.

Ek kan nie verklaar hoe en hoekom nie, die kundiges het dalk al daarna gekyk, maar dit was iets wat nogal baie vinnig gebeur het ook.  Ons sukkel miskien om mekaar te volg en te verstaan as ons praat, maar dit is as gevolg van aksent en die spoed waarteen dit gebeur.  Ons sal Nederlands dalk ervaar as ‘n effe lomp en omslagtige taal, Afrikaans is baie meer direk en op die man af, maar dit is nogtans ‘n baie mooi en ryk taal. Al wat my verskriklik pla, tong in die kies gesê, is dat hulle glad nie kan spel nie, hulle spel sowaar al die woorde wat hul gebruik verkeerd!

Maar ja, die blootstelling op skool het my geleer om aan te hou om Nederlands te lees, en ek is vandag ‘n baie ryker mens as gevolg daarvan. Dit het ‘n nuuskierige soort liefde vir Nederlands by my gekweek, wat op ‘n stadium as gevolg van die politieke situasie stil geword het, maar wat ‘n klompie jare gelede weer wakker gemaak is.  Hierdie keer nogal in die Nederlandse taal vanaf ‘n Nederlander self!  En, soos ek hierbo gesê het was my Nederlandse penvriendin die vonk wat uiteindelik weer lewe in die sterwende kole van die 1970’s geblaas het.  Sy het in Julie 2011 my twee boeke oor Siener bestel, en dit het uiteindelik in ‘n gesprek en ‘n sterk vriendskap ontwikkel. Sy wil nie haar naam genoem hê nie, sy wil nie in die kalklig wees nie, maar dit is dieselfde vriendin na wie ek in my Artikel 065 van 2012-08-19 verwys het.

Die punt wat ek wil maak is dat hier dalk ‘n Groter Krag agter die hervatting van die vriendskapbande tussen ons twee volke is as wat ons nou dadelik kan raaksien.  En ja, ek dink die manier waarop haar vreemde droom en myne so kort opmekaar só direk met mekaar kombineer om iets baie belangrik oor te dra, bewys dit.  Sommige mense sal dalk weier om dit raak te WIL sien, veral diegene wat maar net nie die politieke geskille kan vergewe nie, maar dit is hul probleem.  Ek is miskien ‘n bietjie subjektief in my gevolgtrekking, maar die manier waarop hierdie vriendin en my paaie gekruis en begin saamloop het is heeltemal bonatuurlik van aard. Ek gaan nie uitbrei hierop nie, daar is in elk geval niks “snaaks” aan die gang hier nie, maar dit was regtig, om die minste daarvan te sê, baie vreemd gewees. Maar ja, ek glo dit is juis deel van die werking van die Gees wat ons volke nou weer na mekaar toe begin trek, en dit is juis waar die oorsprong van (ook) hierdie artikel gesoek moet word. 

Ek weet daar heers ‘n persepsie onder ‘n groot deel van ons volk dat die Nederlanders uiters liberaal en dekadent is met weinig, indien enige morele waardes, maar dit is net eenvoudig nie algemeen waar nie.  Daar is slegte en swak mense onder hulle, net soos by ons, maar dit is darem nie waar van die geheel nie. Dit wat ek kon aflei uit my pengesprek dui op die absolute teendeel daarvan, want dit het aan my getoon dat die gemiddelde gematigde Nederlander dieselfde hoë morele waardes nastreef as ons.  Hulle is nie anders as ons nie, hóór!

Soos dit is, is ‘n sekere deel van die Nederlandse volk se oë is stadig maar seker besig om oop te gaan vir die werklike donker betekenis van juis die dinge wat hul koppe in die 1970’s so radikaal teen ons gedraai het.  Wat meer is, die getalle van die konserwatiewe groep Nederlanders wat die onwettige en Godlose Europa Regering uit hul land weg wil hê is besig om te groei, en ek kan maar net hoop dat ons gebede en ondersteuning hierdie proses sal aanhelp.  Ek dink nie ons moet ons blindstaar teen nét die BREXIT poging in Groot Brittanje nie, want ek glo dat dit juis die stukrag van die anti-EU beweging in Europa sélf is wat die knoop vir wêrelvrede gaan deurhaak.  BREXIT is eintlik maar net ‘n wegbreek aksie van ‘n uitgediende koninkrykie, maar die anti-EU beweging in Europa kom van binne ‘n groot massa mense, en is as sulks dus ‘n interne gedrewe  revolusie in wording.  En die NEXIT poging van Thierry Baudet en sy FVD, saam met Geert Wilders se Partij voor de Vrijheid (PVV), sal hopelik die beginpunt daarvan wees.

Die fout wat ons maak is om die Nederlandse volk summier te wil onderskat en te demoniseer as sleg en dekadent, maar dit was juis hierdie volk wat die magtige Spanje in die 1500’s tot 1600’s na ‘n oorlog van tagtig jaar lank verdryf het om hul vryheid te verwerf!  As dit nie vir hierdie inherente sterk geestelike krag was nie sou die Here XVII se VOIK (***) ook nooit tot stand gekom het nie en sou Jan van Riebeeck ook nie hierheen kon gekom het nie.  En sou daar natuurik ook nie uiteindelik ‘n Boervolk hier kon ontstaan het nie.

Niks gaan gebeur voor ons hande van vriendskap na mekaar begin uitsteek nie, en saam kan ons mos baie ver kom in ‘n stryd teen ‘n gesamentlike vyand!  Kom ons probeer hierdie proses uit te bou in liefde en sonder enige politieke oogmerke van ons kant af.  Dit het regtig tyd geword om die strydbyle te begrawe, want dit het berus op die persepsies wat uiters bose mense suksesvol geplant het.  Ons kan dit deur samewerking nog vinniger laat verdwyn as wat reeds gebeur, maar dan moet ons darem ook nou daarmee begin.

Maar ja, daar is ook ‘n ander prentjie van die Nederlanders wat ek van die gesprek met my vriendin sedert 2011 oorgehou het, en ook dit is een van absolute respek en agting.  Hierdie mense is ook praktiese planmakers van die eerste water, en ja, (no pun intended) daar is nogal vreeslik verskriklik baie water in Nederland, hóór!  Kyk gerus na die videos wat ek hierby aanheg, want dit versterk nie net wat ek sê nie, dit laat ‘n mens ook verwonderd staan oor soveel vindingrykheid, maar dan verál ook die deursettingsvermoë wat oorwinnings soos hierdie bring!  Dit is per slot van sake waar die staal in ons murg oorspronklik vandaan gekom het, sien!

Daaaaag, hou je haaks, né!

Frik Pretorius.

============================================================

Interessante videos om na te kyk:

https://www.youtube.com/watch?v=imjq5yQzNiI (The Netherlands: Beyond Amsterdam – Hawestede van Nederland)

en hier is die jongste hoofstuk in hierdie storie:

en ook hierdie een:

============================================================

(*) “Uitspan op Hollandse Werf” (met erkenning aan https://www.litnet.co.za/verna-vels-1933/)

“… Een van die hoogtepunte in Verna se uitsaailoopbaan was toe sy in 1968 by Radio Nederland Wêreldomroep in Hilversum, Nederland gewerk het. “Ons het elke middag ’n Afrikaanse program op kortgolf uitgesaai.” Hulle het ook vanuit Nederland vir “Uitspan op ’n Hollandse werf” bydraes gestuur wat ’n radioprogram was wat op Saterdae hier in Suid-Afrika uitgesaai is. Sy moes ook verskeie onderhoude in Nederland op versoek doen – en niemand het geweier omdat sy ’n Suid-Afrikaner was nie. Só het sy onder meer met die Nederlandse digter Adriaan Roland-Holst ’n onderhoud gevoer.

In haar jaar in Nederland moes Verna subtiele en openlike diskriminasie teen apartheid-Suid-Afrika trotseer. Eindelik was sy op die vergadering waar Suid-Afrika uitgeskop is uit die organisasie Universitè Radio Television International (Urti), waarvan die land ’n stigterslid was.

Terug in Suid-Afrika was kinder- en jeugprogramme haar voorland en het sy Jongspan-ateljee, sowel as kunsprogramme behartig. …”

============================================================

(**)  “… Die Nederlandse kulturele boikot teen Suid-Afrika…” deur Otto Terblanche, vroeër van die Departement Geskiedenis, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth. 

http://www.scielo.org.za/pdf/tvg/v54n1/03.pdf

Dit is te lank om volledig hier aan te haal, maar dit is nogtans baie interessante leesstof hierdie.  Ek wil so ver gaan om te sê dat die nabetragting van wat gebeur het, en die nou se insig wat oor die jare daarna ontwikkel het, lê ‘n fondasie vas wat ons kan help om ‘n totale herwinning van ons vroeëre vriendskapsbande moontlik te maak.  Ek hoop baie ernstig dat dit sal gebeur.  Maar dit help nie net een of twee ouens doen dit so “half toevallig” nie, ons almal moet konsekwent van albei kante af werk daarvan maak, eers dán kan dit vrugte oplewer.  En ja, ek dink daar is reeds meer mense van weerskante af besig hiermee as wat ons dink! 

En dit bring die bydrae van ‘n baie gewaardeerde internetvriendin na vore.  Haar naam is Helena Liebenberg en sy bedryf ‘n artikelblad met die titel “Taaloord”.  Sy hou haarself onder andere besig met die vertaling van sekere belangrike dokumente van die voormalige Nederlandse VOIK.  Gaan kyk gerus, daar kom interessante dinge na vore daarin, soos onder andere die herkoms van Afrikaanse begrippe en woorde soos “kombuis”, “biltong”, en so meer.  Die verskil tussen ons “kombuis” en die Nederlandse “keuken” het juis tydens my pengesprek na vore gekom, en ek kon Helena Liebenberg se Taaloord gebruik om dit vir my vriendin op te klaar.   Die Nederlandse huis het ‘n “keuken” en nie ‘n kombuis nie; dit is nog steeds ‘n woord wat streng tot skepe beperk is.

http://www.taaloord.co.za/ (Junie 2018)  

“… 4.2.1 Die Vierpuntfort Tussen 1652 en 1679 is die dokumente geskryf in die Fort de Goede Hoop, aangevul deur dokumentasie uit Stellenbosch en enkele buiteposte. Op Maandag, 8 April 1652 stap Jan van Riebeeck met die Fort se plan aan wal, vergesel van die mans op die Reijger, Drommedaris en Goede Hoop om die fondament te begin grawe – “100 coppen, behalven d’ officieren, adsistenten, opperbarbiers & a.” (C. 1). Die seemanswoord combuijs klim saam van die skip af, want dit was reeds op die grondplan ingeskryf …”

En saam met dit ook:

‘… 5.1.1 Seemanswoorde Op die skepe moes die combaars, kooigoed en combuijs sorg dat die ontberings van geharde matrose tot jong hooplopers minder fel/hel was; by die “rheede” het hierdie items en hulle benamings saam met die seemanne aan wal gegaan en is by die Kaapse strooidakhuisies en ander plekke ingedra. So beland selfs kok en koksmaat naderhand in die combuijsen (1709) van die “hospitaal” en “slavenlogie”…’

Wat ons woorde biltong en bokkems betref wys sy ook op die volgende:

“… 5.1.2 Bokkems en biltong: In Afrikaans leef Nederlandse woorde soos pannekoek en bokkems, naas biltong (1769)23 wat ’n vroeë Afrikaanse eieskepping was, waar bil- “boud” (boudvleis gesny dat dit soos ’n beestong lyk). Die Nederlandse meervoudsvorm billen is dikwels gebruik: In 1693 is ʼn burger wat die jaarlikse militêre diensplig probeer ontduik het, “met een voetschop onder sijn billen van ’t vaandel gejaagd” – dié soort straf is gereeld toegedien. …”

Pannekoek spreek vanself, maar sy sê ongelukkig nie hoe die woord “bokkems” ontstaan het nie.

======================================================

(***) VOIK. (Verenigde Oos Indiese Kompanjie)

Vir ‘n kort oorsig van hierdie Nederlandse sakeonderneming gaan na:

https://af.wikipedia.org/wiki/Verenigde_Oos-Indiese_Kompanjie

======================================================

Hierdie is ‘n “moet-kyk” ene!  Dit is ‘n ongelooflike eenvoudige en praktiese oplossing vir ‘n aanhoudende morserige probleem.

============================================================

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: