Slaan oor na inhoud

ART 170 2022-05-12: Sinn Fein se oorwinning in Noord-Ierland as deel van ‘n tydlyn tot Siener se oorlog.

2022/05/12

http://www.sienervanrensburg.com
F.H. Pretorius,
Swartruggens,
Noordwes Provinsie.

[Hierdie artikel verskyn ook op die FB blad van Elsa Muller – NIKLAAS SIENER VAN RENSBURG- BOODSKAPPER VAN GOD. https://www.facebook.com/groups/427103870673448/

Sluit gerus hier aan en kom help om die Waarheid in Siener se visioene te laat seëvier! Alle verdere besprekings van my artikels en ook Siener se visioene vind met my medewerking plaas op daardie blad as u daarin sou belangstel.]

——————————————————————————————————

‘n Ou vriendin stuur vir my die onderstaande vraag en ek het besluit om dit hier te antwoord.

Ek het nou net op Maroela media gelees dat Sinn Fein ‘n oorwinning in Noord Ierland gehad het en wil ‘n referendum hê om Ierland te hereenig. As ek reg onthou verwys Siener op ‘n stadium na ons as ‘n klein kind en ‘n ‘Jong rooikop dogter’ (Ierland) in een vd visioene. (Dis by die ‘Verenigde Nasies’ waar ons gaan hulp (droogte hulp?) vra).

Ek het altyd gevoel dat een vd eerste aanduidings is dat sy visioenêre verhaal ‘begin’, die samesmelting van Ierland is en die ‘geboorte’ vd rooikop meisie. Tydsgewys sal dit seker so 10-15 jaar voor die ‘VN’ vision afspeel. Wat beteken dis so 5-10 jaar voor ons ‘gebore’ word.

Is my aanname reg of kan die Sinn Fein oorwinning geen invloed op die visioenêre verhaal hê nie.

Groete,

R

——————————————————————————————————

Goeiedag,

Weet jy, ons kan nie regtig sê nie, want as ‘meegaande inligting’ is dit te min om enige afleidings te kan ondersteun.  Kom ons kyk eerder wat gebeur in die visioenêre oorlog en werk daarvandaan terug tot waar ons nou is.

Maar voor ek verder gaan wil ek net eers daarop wys dat die visioene bloot na Ierland verwys as ‘n dogtertjie met bruin oë, maar wat uiteindelik óók blou word soos sy eie kinders en die Duitsers s’n.  Die kleur van die oë verwys na my mening na ‘n spesifieke geestelike toestand wat ‘n soort vernuwing ondergaan wat tot ‘n nuwe reinheid en onskuld lei. Daar is nie visioene wat aandui dat haar hare rooi is nie.

Ons gaan verder ook nie droogtehulp by die VVO vra nie.  Daardie ‘leier’ is ‘n bang en verskrikte Boer wat daar inkruip om die Engelse op sy knieë te gaan smeek vir vrede!  En, soos ek hiervan in my boek sê:

Die eerste is dat ‘n “bang” vredesdeputasie van Suid-Afrika af op hul knieë voor die VVO gaan rondkruip in ‘n poging om die vrede hier te herstel. Die leier van hierdie deputasie word dan ook met die nodige minagting by die voordeur uitgegooi.

Nou goed, die Engelse gebruik die Turk om ‘n  onverwagse aanval op Duitsland (en die EU) te loods.  Dit lei uiteindelik tot Siener se oorlog tussen Duitsland en Engeland. 

In die verhaal vind daar dan op ‘n stadium vredesgesprekke plaas in die VVO se HK (in Geneve).  Hierdie onderhandelinge vind plaas tussen Duitsland en Engeland en dit blyk dat Ierland se vryheid en onafhanklikheid die enigste resultaat is hiervan.  Die verhaal dui egter nie aan of dit nét die huidige Republiek van Ierland is nie en of Noord-Ierland (Ulster) daarby ingereken moet word nie.

Op hierdie punt moet ons sekerlik in ag neem dat Sinn Fein bloot die ‘sagter’ weergawe is van die ekstremistiese IRA.  Die verskil tussen die twee is dat Sinn Fein die samesmelting van al vier die provinsies by die stembus wil bewerkstellig en nie soos die IRA deur oorlog nie.  Hierdie nasionalistiese groep het die huidige Ierse republiek in die jare 1919 tot 1922 deur ‘n oorlog losgemaak van die beheer van Engeland.  Ierland bestaan uit vier provinsies, waarvan die grootse deel van een van hulle, dié van Ulster, destyds verkies het om deel van die VK te bly. Dit was op sigselwers ‘n gekookte storie, maar nou goed, dit het gebeur en is tot vandag toe steeds so.  Die res van Ierland het mettertyd deel geword van die EU.

Die argument wat nou ontstaan is dat die Ierse dogtertjie in die visoenêre verhaal nie die Ierse Republiek kán wees nie, want hulle vorm per definisie dan reeds deel van die EU, en Duitsland word aanvanklik ook as deel van die EU by die oorlog ingetrek.  Ulster sal dus tot op daardie stadium nog steeds nie deel van ‘Ierland’ kan wees nie, want dit is iets wat eers gebeur as deel van die toekomstige onderhandelinge tussen Duitsland en Engeland.  Ek dink ons moet dus dalk in ag neem dat Sinn Fein se aandrang op Ierse staatkundige eenheid by daardie vergadering aanvaar sal word.  Wanneer dit dan ookal gaan plaasvind.  Hulle is die meerderheidsparty nou en hul mosie sal dus maklik kan slaag.

Jou tydlyn van 10 tot 15 jaar is natuurlik enige tyd nét so geldig soos myne, want ons weet nie presies wanneer hierdie dinge gebeur nie.  Die gebeure van ons tyd sê egter vir my dat dit dalk baie gouer kan wees as ‘n paar jaar.  Die basis vir my redes, vir wat dit werd is, is kortliks soos volg:

Die groot vyand vir vrede en vryheid op hierdie stadium is die NWO. Niemand kan egter regtig sê presies wie die NWO is nie, want daar is nie ‘n enkele liggaam wat ons in hierdie opsig kan uitwys nie.  Dit is belangrik om hier te verstaan dat organisasies soos die Illuminati, EU en die sosialistiese Demokrate van die VSA bloot frontorganisasies is waaragter hierdie NWO wegkruip.  Die openbare leiers van veral die EU praat byvoorbeeld namens die NWO, maar ons weet nie of hulle ook die leiers van die NWO is nie.

Daar is geluide dat hierdie mense se HK in Kazakstan wegkruip, en dat die Oekraïne ‘n soort deurgang (‘voordeur’) tussen die weste en Kazakstan vir hulle was.  Dit is die werklike rede waarom Putin sy aanval op die Oekraïne uitgevoer het.  Die doel was om hierdie vastrapplek van die NWO voortydig te vernietig, want mense soos Trump en Putin weet presies wat die NWO beoog. Hulle vorm deel van die sogenaamde ‘white hats’ wat teen die NWO optree.

Ek dink die sleutel tot die antwoorde op ons vrae en ‘n tydlyn koppel dalk eerder met die middel-termyn verkiesings wat in November in die VSA sal plaasvind.  Die fisiese bewyse begin nou uit te kom dat Biden se mense die verkiesing van 2020 gesteel het.  Die doel daarmee was egter nie net om van Trump ontslae te raak nie, maar ook van Putin. Dit is hoekom hierdie twee leiers so naarstigtelik en ywerig deur die Demokrate ‘gekanselleer’ moét word!  Ek kan om die dood nie verstaan waarom Putin so erg deur veral die kerke met klippe gegooi word nie, want hy is ‘n uitgesproke teenstaander van die satanies bose NWO! Dit is bekend dat hy ‘n belydende Christen is, maar kyk hoe sleg word hy behandel!  Hy staan in hul pad, hy is die gelowiges se laaste menslike bastion teen die satan, en die veldtog teen hom vorm deel van die boosheid se plan om hom (en Trump) te vernietig en te ‘kanselleer’!

Obama het die voorbereidings begin tref om ‘n NAVO-oorlog teen Rusland te ontketen en Hillary Clinton sou dit afgerond het. Hulle het egter nie rekening gehou daarmee dat Trump die verkiesing kon wen nie.  Sy oorwinning in 2016 het hul planne stopgesit, en daarom moes die Demokrate die verkiesing van 2020 ten alle koste inpalm om Biden in beheer van die VSA te kry.  Hy het Clinton se poging in die grootste spoed moontlik begin voortsit en dit het op hierdie stadium reeds gelei tot Rusland se aanslag op die Oekraïne.  Dit het natuurlik ook Amerika se eens magtige ekonomie op sy knieë gebring.  Dit is só erg dat ons selfs kan begin sê dat Amerika sy status as ‘n supermoondheid finaal verloor het, want hulle gaan hul posisie in die wêreldekonomie baie moeilik herstel.

Intussen sien ons al meer dat die bewyse na vore kom van hoe die verkiesing in die VSA gesteel is.  Dit het selfs ‘n punt bereik dat van die Demokrate se voorste (patrioties gesinde) leiers sê dat Trump en die Republikeinse party ‘n ‘landslide victory’ in November gaan aanteken as gevolg daarvan. 

Soos dit is loop die Republikeine reeds sowat 10% voor teenoor Biden en sy groep.  Hierdie voorsprong gaan net groter word omdat die propaganda waarde van die Hoofstroom Media in die VSA geblok word deur platforms soos die duisternis klein patriotiese radiostasies en nuusbriewe wat sedert 2020 opgeskiet het. Hierdie ‘klein mensies’ se gesamentlike gehoor het maande gelede reeds baie groter geword as die Groot Media s’n.  Elon Musk se onlangse aankoop van Twitter sal uit die aard van die saak ook ‘n geweldige impak op hierdie proses hê, want hy het reeds gesê dat hy vryheid van spraak daarop wil bevorder. Die demokrate sal hierdie vryheid dus nie meer kan inperk nie.  

Wat ek met hierdie relaas probeer sê is dat die Demokrate in die VSA dit op geen manier kan bekostig dat die Republikeine weer die politieke beheer oor Amerika in November kan verkry nie.  Enige poging deur hulle om die verkiesing wéér te steel sal uit die aard van die saak tot ‘n baie groot interne konflik in die VSA lei en dit kan hulle óók nie bekostig nie.  Maar nie net hulle nie, die groep wie se planne vir wêreldoorheersing in so ‘n geval die seerste sal kry is die Britse vorstehuis, en dan baie bepaald die Rothschilds, want hulle is die werklike mag agter die Britse troon en die Europa elite!  Hierdie spesifieke koppeling sal hieronder duidelik word.

Ek dink die enigste hoop wat vir die NWO oorbly is om ‘n internasionale oorlog teen Rusland aan die brand te steek vóór die verkiesings in November in die VSA plaasvind, so ek verwag dat hierdie vuur baie hoog aangeblaas gaan word nou.  Maak uself maar gereed vir ‘n rowwe tydjie!  En, soos ek in ‘n vorige artikel gesê het, die verwarring en aggressie word net groter en die kanse vir Charles om ‘n onverwagse blitsaanval teen Duitsland te loods word daardeur dus óók dramaties groter.  Hierdie is basies die enigste uitweg wat vir die Britte oorgebly het en hulle sal die vure na alle kante toe stook om die inisiatief te probeer gryp.

Siener het aan Boy Mussmann verduidelik dat daar ‘n baie groot konflik in die VSA gaan plaasvind.  Hy het aan hom op die kaart agter in sy Bybel gewys dat die vyand ‘oor die noordpool’ na Amerika sal beweeg.  Die visioenêre verhaal dui aan dat dit sal gebeur direk nadat die Britse Ryk tot ‘n val kom in die suid-oostelike deel van Europa.  Hulle vlug daarvandaan noordwaarts na Pole se kant toe en trek dan deur Rusland en Siberië na die oostekant toe. 

Daar is ‘n baie goeie rede waarom hulle juis in daardie rigting vlug.  Hulle gaan nie soseer om die ‘veiligheid’ van die Demokrate in die VSA op te soek nie, maar dalk eerder om in Kanada uit te kom.  Daardie land is ‘n (voormalige) kolonie van Engeland en die vyand sal daar nes kan gaan skop om later weer terug te kan kom.  Ek dink egter dit is net logies dat die Demokrate in die VSA met hulle sal wil saamsmelt om ‘n baie sterk militêre mag te kan vorm om die Republikeine finaal te kan onderwerp.  En dit sal natuurlik die vonk wees wat die finale been van Siener se oorlog in die VSA aan die brand sal steek.  Maar dit is waar die vyand se mag finaal gebreek gaan word.  (En hier by ons gaan dit om die beheer oor die Kaapse seeroete tussen die weste en die ooste.)

Die grootste probleem wat ek op hierdie stadium ondervind met ‘n moontlike tydlyn van gebeure is Frankryk se posisie in terme van wêreldgebeure.  Macron het die onlangse presidentsverkiesing gewen, maar hy kan self nog steeds om die een of ander rede as ‘n vennoot by die VK aansluit. Ek sal in ‘n volgende artikel weer hierna terugkom, maar hier is dit belangrik om in gedagte te hou dat prins Charles duidelik planne het om die Britse Ryk uit te brei om die enigste Wêreldryk te word.  Dit het lankal terug duidelik geword dat hy ambisies en planne het om die onbetwiste koning van so ‘n Britse Wêreldryk te word. Dit behoort nie moeilik vir hom te wees om ‘n totale en absolute egoïs soos Macron om te praat om saam met hom te werk nie.  Ek meen, as Macron prins Charles kan help om koning van die wêreld te word sal hy Macron baie maklik kan verhef tot die adelstand!  Macron is ‘n tipiese korrupte politikus en hy sal waarskynlik nie nee kan sê vir so iets nie.

Dit sal die EU natuurlik tot in sy fondamente skud en verswak, want hulle kan dit nie bekostig dat een van die sterkste lande in Europa ook die skip verlaat nie!  Frankryk se skuiwe, saam met die Turk se verskyning, is dus na my mening nog steeds die barometer van wat om in Europa te verwag.  Die Turk se aanvanklike verskyning sal in elk geval hier by ons saamval met die boom wat pluiens en die Britte wat die regering by die ANC oorneem.

Niks hiervan is natuurlik in klip uitgekap nie, maar ek dink tog daar gaan baie dinge baie duideliker vir ons word van nou af tot by die verkiesing in die VSA in November 2022.

Groete en sterkte,

Frik Pretorius.

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: