Slaan oor na inhoud

ART 174 2022-07-11: Die ewige gestoei oor leierskap op grond van Siener se visioene (en my spesifieke plekkie daarin).

2022/07/11

http://www.sienervanrensburg.com
F.H. Pretorius,
Swartruggens,
Noordwes Provinsie.

[Hierdie artikel verskyn ook op die FB bladsye van Elsa Muller – NIKLAAS SIENER VAN RENSBURG- BOODSKAPPER VAN GOD by https://www.facebook.com/groups/427103870673448/

asook op die blad van Riaan Nigrini – POLITIEK – ALGEMEEN – SIENER VAN RENSBURG by https://www.facebook.com/groups/336778181055958

Ondersteun gerus hierdie twee medewerkers en hul kosbare poging om die waarheid in Siener se visioene te laat seëvier.  Dit is God Almagtig se Waarheid hierdie en Hy verduidelik daarin hoe ons volk se fisiese oorlewing vorentoe sal plaasvind.  Al die baie politieke duimsuigstories en agteraf geskinder oor hierdie visoene, na links en na regs, poog om God se gesag oor die toekoms te ondergrawe en ons volk te vernietig.]

———————————————————————-

Goeiedag,

Ek wil begin deur dit te stel dat daar ‘n geweldige wedloop om leierskap oor ons volk aan die gang is, en dat alles daarvan op die rug van Siener van Rensburg se visioene plaasvind.  (En dan op myne óók, saam met dit!) 

Ons sal daarom hierdie voorkoms van nader beskou in hierdie artikel asook die een ná dit.  Vandag se artikel is eintlik dan ook ‘n inleiding tot die onderwerp, want ek moet eers die nodige agtergrond vestig voor ons by leierskap kan kom soos dit in die visioene na vore kom.  Die visioenêre verhaal is inderdaad ons enigste Godgegewe kompas om uit ‘n uiters haglike situasie te kan ontsnap, maar ons gaan nog steeds ‘n leier nodig hê om ons op menslike vlak voor te gaan.Dit is veral waar ten opsigte van die toekoms nadat die oorlog verby gegaan het, want ons gaan letterlik van voor af moet begin bou daaraan.   

Nou, dit sal sekerlik in sommige kringe as baie voorbarig en vermetel van my beskou word, maar hierdie artikel is in ‘n sekere sin ook spesifiek daarop gemik om aan die leser ‘n idee te gee van die plekkie waar die uwe inpas in hierdie resies om leierskap.  Ek meen, ek praat so baie en wyd oor “my roeping”, dat dit sekerlik mag lyk asof die mantel van leierskap eintlik om my skouers gehang is. En wie kan my kwalik neem hiervoor, want die optrede en reaksie van my teenstaanders bewys juis dit!  Wel, miskien né, maar dan miskien dalk ook nié, so kom ons kyk dan maar eers hoe hierdie situasie regtig uiteen val.

U mag my nou wil vra waarom ek so sê.  Oppervlakkig gesien lê die sigbare rede hiervoor in die bombastiese en brutale maniere waarop my persoon en reputasie aangeval word om my as ontleder en dié voorste kenner van die visioene te probeer diskrediteer.  Ek toon twee van die jongste pogings in hierdie verband aan hieronder en ek sal my onmiddellike kommentaar hierop bêre tot ons daar kom.   Hierdie is in elk geval die laaste keer wat ek oor hierdie onderwerp sal praat.

Maar ja, ek doen dit so omdat dit wil lyk asof sekere mense elkeen probeer om my teen alle koste uit die pad te kry om hulself as die ware en enigste leier van ons volk te vestig.  Nou, as ‘n voorkoms is hierdie poging om my af te breek natuurlik baie interessant, maar tegelykertyd ook baie insiggewend.  Maar ek moet uit die aard van die saak darem ook beswaar aanteken teen dit, want die manier hoe dit gedoen word is nie net uiters onbillik nie, soos die leser teen die einde van die artikel sal sien is dit ook totaal en al onnodig en onvanpas.  En eintlik baie kinderagtig!

Ek wil die leser vra om asseblief reeds hier al te verstaan dat my idee van ware leierskap altyd die belang en welsyn van die groep en die individue daarin voorop stel, en dat dit NIE bestaan uit die verkryging van mag oor mense deur die een of ander baasspelerige en magshonger ou Napoleontjie nie.  Daar was genoeg sulke skynheilige diktators in ons volk se verlede en dit gaan net ophou as óns dit stop!  Ek wys net een van hulle uit hieronder, maar u moet aanvaar dat daar op hierdie stadium al meer van hulle werksaam word onder ons.

Maar goed, hier is die jongste twee berigte wat ek van ‘n vriend ontvang het oor hoe sleg en onbetroubaar ek skynbaar is.  Albei die briewe hieronder het op Riaan Nigrini se FB blad verskyn onder die naam van ene Rudie Rousseau, en albei koppel direk aan prof. AWG Raath.  Hierdie Rousseau-kêrel was ook betrokke op Elsa Muller se blad, om CD’s te bemark van Raath se navorsing oor die ABO en die konsentrasiekampe.  Sy het hom uitgedaag om op my antwoord te antwoord, maar getrou aan hierdie mense se “manlike” soort aard het hy verkies om stil te bly.  Sy het hom daarop weggejaag, want formidabele vegter wat sy is het sy nie tyd of respek vir soveel papbroekigheid nie.  Maar let asseblief veral daarop dat daar geen motivering vir enige van die beweringe in hierdie twee briewe is nie.  Daar is net ‘n donker en giftige soort uitbraaksel uit die dieptes van Raath se siel teenoor my.

Die fout wat hier ingesluip het was dat Rousseau skynbaar ‘n brief van Raath aan hom bloot gekopieër en onder sy eie naam gepubliseer het.  Daar was dus baie duidelik ‘n geskinder oor my aan die gang tussen die twee.  Dit wil voorkom asof die publikasie van die briefie dalk in ‘n verwarde bewalmde oomblik kon gebeur het, maar dit sê ook alweer heelwat van die soort mens wat so baie oor my te sê het.  Ek sal nie weet nie of dit in vloeistofvorm was en of dit deur die longe ingegaan het nie, maar dit was Dutch Courage wat hierdie keer nie so goed vir hom (en Raath) gewerk het nie.  Of so nie is hy nie regtig so slim as wat hy voorgee om te wees nie.  Dit is seker ook moontlik?

Maar ja, ek maak nie soseer kapsie teen die dinge wat hier van my gesê word nie, u weet mos: “Sticks and stones may break my bones, but the words of a fool can never hurt me”, maar ek protesteer wel teen die agteraf manier waarop hierdie dinge gedoen word.  Hierdie (soort) mense het hulself ook aangestel as dié beskermhere van ons volk se sogenaamde Calvinistiese beginsels, ons historiese tradisies en ons morele waardes.  Maar kyk hoe maklik besmeer hulle daardie hoër dinge met die manier waarop hulle ander mense beskinder en probeer ondergrawe! Ek glo nie ek hoef uit te spel wat ek hiervan dink nie!

Hier is die eerste brief wat uit die bloute op Riaan Nigrini se FB blad verskyn het.

En hier is die antwoord wat ek aan Elsa Muller gestuur het na aanleiding van hierdie aanval van Raath en Rousseau se kant af.

Is dit nie interessant dat almal, letterlik almal en elkeen wat sy hand aan Siener wil waag begin deur Frik Pretorius se persoon aan te val en hom te probeer diskrediteer nie?  Daar was nog nie een enkele poging om my WERK aan te val en te diskrediteer sedert my eerste boek in 2004 verskyn het nie!  Kan daar ‘n beter erkenning as juis dit wees dat my bevindinge oor Siener korrek is nie?! 

Die feit dat hierdie soort gif juis van prof AWG Raath af kom, van alle mense, bevestig dit in absolute terme.  Die feit dat hulle dit doen sê duidelik dat hulle nie antwoorde het op wat ek sê nie en dat al hul argumente en pogings heeltemal leeg en waardeloos is.  Hulle moet my dus noodwendig telkens probeer “cancel” om hul duimsuigstories ‘n gehoor te kan gee!  Al wat Raath bereik is om te bewys dat hy nie vrede kan maak daarmee dat iemand anders as hy die visioene suksesvol kon ontleed nie.  Ek dink hy is só jaloers op my dat hy iets kan oorkom! 

Hierdie skrywe van Rouseau is op 28 Junie opgevolg deur ‘n soortgelyke een, en ek gee dit soos ek dit van ‘n vriend ontvang het. 
Rudie Rousseau
Vra vir FH Pretorius om ook die toer in Sept in Ottosdal by te woon waar Prof Raath hom al jare terug gewaarsku het om nie onwaarhede oor Siener kweit te raak nie.Lyk my hy lees snyman se boeke en snyman syne

Nou, hierdie laat my met ‘n vraag of twee.  Hoekom sê hierdie kêrel byvoorbeeld nie hierdie dinge direk aan my nie?  Raath het my e-posadres al van minstens 2005 af en my adres lê in elk geval die hele internet vol, om nie eers te praat van (minstens) op Elsa se blad ook nie.  Jislaaik kêrels, en julle streef in die glorieryke dapperheid wat julle hier vertoon so wragtag daarna om ons volk tot ‘n oorwinning in ‘n oorlog te lei?  Wat sal ‘n mens hiervan sê: Sies, of Siestog?

Wat Raath se “waarskuwings” betref kan ek ook maar net sê dat ek nie daarvan geweet het nie, maar as dit so is weet hy wat hy daarmee kan doen.  Ek hoef my nie aan leë dreigemente te steur nie.

Wat ek wel wil sê is dat hy groot asseblief tog moet aanhou om my harde en eerlike werk en my reputasie te wil gebruik om vir homself ‘n ou staanplekkie oop te probeer trap.  Ek weet sommer nou al hy gaan dit nie regtig verstaan nie, hy is duidelik té selfvoldaan daarvoor, maar hy wil dalk nie regtig weet hoe groot die guns is wat hy my daardeur bewys nie.   Ek wil dan ook dankie sê vir sy professorale bevestiging dat ek reg is met my ontleding van Siener se visioene, want waarom anders sal hy, en andere soos hy, soveel moeite en nydigheid spandeer in ‘n poging om die teendeel te bewys?  Elke keer wat hulle die mond uitspoel oor my persoon bevestig hulle dat my werk en ontleding van die visioene dié grootste enkele faktor is wat in hul  pad staan om hulself as die enigste en ware kenners van Siener se visioene te kan vestig.  Dit geld natuurlik nét so vir ‘n paar ander manne ook, maar dankie vir die vry advertensie kêrels!  Ons Vader het ‘n groot verantwoordelikheid op my skouers geplaas met hierdie roeping oor Siener se visioene en julle help my baie mooi om dit uit te voer!  

Hoekom praat ek so openlik oor hierdie dinge en vat ek veral hierdie kêrel aan in die openbaar?  Ek sal hieronder weer terugkom hierna en uitbrei daarop, maar die algemene publiek moet darem ook weet hoe die harte van die selfaangestelde leiers oor hulle werklik lyk.

Ek wil hier herhaal wat ek op 26 Desember 2013 oor Radio Orania van Raath se “bydrae” gesê het (sien my ART 073 van 26 April 2014 vir ‘n meer volledige relaas).  E-pos my by fhpretorius@gmail.com om die volledige uitsending aan te stuur as u daarin sou belangstel.  Ek praat hier met die dame wat die onderhoud gevoer het:

Nou kyk, hierdie saak werk so: Die groot groep gematigdes in ons volk is my spesifieke teikengehoor, en waarskynlik ook professor Raath s’n.  Mnr. Snyman tel glad nie meer by hierdie groep nie.  My groot hartseer hiervan is dat ‘n baie groot deel van hulle Siener saam met hom verwerp.  Die saak met prof. Raath werk so ‘n bietjie anders, en DIT maak my baie hartseer hóór!  Hierdie ding is baie meer verfynd en baie meer subtiel van aard, maar juis daarom is dit baie gevaarliker.  

Hy het ‘n groot en gevestigde status as ‘n navorser oor ons geskiedenis, en dit verleen baie stukrag aan wat hy ookal te sê het.  En dit is waar, en hy verdien dit, hóór!  Maar nou het hy hierdie akademiese gewig gebruik om my vanuit ‘n onaantasbare ivoortoring as ‘n waarsêer te brandmerk.  In praktiese terme beteken dit dat die volk nou ook effektief afgesny word van die enigste ander skrywer wat homself op hierdie stadium nog met Siener besig hou.  En dit laat die volk met net een enkele moontlikheid, en dit is om die inligting wat hulle oor die toekoms wil hê by professor Raath te gaan soek.

Maar nou is daar ‘n (baie ernstige) probleem.  Jy sien, professor Raath mag dalk ‘n absolute kenner van Siener as persoon wees, maar hy weet van die betekenis van hierdie visioene net mooi niks nie.  Hy het nog nooit iets daaroor gepubliseer nie (soos in uniek, eie werk) en hy het nog nooit een enkele visioen probeer ontleed en uitlê nie. 

Nou, ek het ‘n bepaalde argument in hierdie opsig wat baie bekend is en reeds in my eerste boek (in 2004) opgehaal is en waarin ek sê: Hoe kan enige mens my bevindinge wil omstoot sonder dat daar eers ‘n grondige ondersoek na my werk gedoen is ook.  En dit het hy nie gedoen nie, en ek vra hom nog steeds vandag dieselfde vraag.

En Celesté, regtig, dit gaan nie (vir my) om Frik Pretorius nie, dit gaan om die Boervolk se belange.  Dit is wat vir my belangrik is hierso.  (En) die punt wat ek wil maak is dat sy jongste boek oor Siener se lewe dalk ‘n baie goeie boek mag wees, maar dit kan nooit meer as net nóg ‘n geskiedenisboek oor Siener van Rensburg wees nie.  Die volk soek inligting oor die toekoms en nie soseer oor Siener as historiese figuur nie.  Die kennis wat hulle soek vorm die praktiese basis van ons volk se oorlewing in die toekoms, en dit is nét in die visioene te vinde.

Van my kant af gesien is Siener se lewe bloot geskiedenis, en daar is niks verder (vir ons daarin) nie.  Ons mense het inligting nodig om die probleme in die (komende) oorlog betyds te kan ontwyk.  Die oorlog is nog ‘n entjie vorentoe, maar dit kom, en die enigste moontlikheid om dit te vermy (die probleme en lokvalle binne die oorlog) lê in daardie kennis opgesluit.

Die leser sou in die vorige artikel (ART 173) gesien het dat ek die “filosofiese verkenningstogte” van sekere mense as niks meer sien as blote subjektiewe duimsuig nie.  En u moet geen fout maak nie, hierdie prof Raath is na my mening nogal een van die voorste eksponente hiervan. 

Daar is net een verskil tussen hom en Snyman se manier van duimsuig, en dit is die mate waarin verbeelding na vore kom daarin en wat dit meebring.   Mnr Snyman is beslis die meer verbeeldingryke een, want hy dink allerhande ekstra storietjies uit wat hy by die visioene bylas.  Die probleem, en groot gevaar hiervan is natuurlik dat hy woorde in God se mond lê en God dus gebruik om namens hom te buikspreek om sy eie bose agenda te bevoordeel.   Ek gaan nie nou weer daaroor praat nie, maar dit is uiters boos en vorm deel van Davos se NWO. 

Raath is in hierdie opsig heeltemal verbeeldingloos en een-dimensioneel, want vir hom draai alles rondom Siener se persoon, Siener se rotsvaste nasionalisme, die krag van sy Calvinistiese beginsels, die wonder van sy teenwoordigheid in ons volkslewe, en Siener se dit en Siener se dat …. maar nooit enigiets oor die inhoud van die Goddelike Boodskap wat die Outeur van die visioene deur Siener aan ons gegee het nie.  

Die probleem met Raath se beheptheid met Siener se gewaande belangrikheid lê in die feit dat hy (Raath) God se Stem in werklikheid doodswyg en ek weet nie watter een van sy of Snyman se manier die ergste kan wees nie.  Siener van Rensburg is hierdie jaar reeds iets soos 96 jaar gelede oorlede en begrawe, en die kanse dat hy daar sal opstaan en ons sal kom help skiet moet maar redelik skraal wees.  Hy kan ons regtig nie meer help nie, maar die Godspraak wat deur hom gekom het kan wel, want dit verduidelik aan ons wat om te verwag en wat om te doen daaromtrent. Waarom dit dus probeer ignoreer en selfs doodpraat?

Raath het my op ‘n keer (met ‘n draai) daarvan beskuldig dat ek ‘n soort Nostradamus van Siener probeer maak met die manier waarop ek die visioene ontleed en ontsyfer het.  Dit hou nogal verband met die ander probleem wat Raath vir homself skep, en dit is dat hy dalk eerder besig is om ‘n soort Nostradamus van God self te maak.  Dit is per slot van sake God se visioene hierdie en nie Siener s’n nie!  En die feit dat hy doelbewus inligting oor Siener en sy tydgenote terughou, en dit krummeltjie vir krummeltjie uitdeel soos dit hom die beste pas, sê dat hy dalk ook besig is om homself tot ‘n soort god te probeer verhef!  Jy maak nie mense afhanklik van jou op hierdie manier nie, jy frustreer hulle en stoot hulle eerder af!

Luister, ons is nié van die inligting afhanklik waarop Raath so breed en stewig sit nie, want die werklike belangrike inligting wat ons volk nodig het om te kan oorleef lê in die visioene opgesluit, en dit het reeds in 2004 in boekvorm verskyn. 

Ek wil hierdie artikel afsluit met ‘n ou en ‘n ietwat flou grappie, maar ek dink dit se alles van my spesifieke plekkie in hierdie resies om leierskap oor ons volk, soos dit deur Siener se visioene ondersteun (kan) word.  Soos ek hierbo gesê het probeer al hierdie “wanna be” leiertjies om my van my troon af te stoot en ek moet dus ook aantoon hoe my ou plekkie in hierdie resies om die leierskap regtig lyk.  En ek wil in alle opregte eerlikheid vir u sê ek sit eintlik lekker in my baard en lag vir hierdie kwaadwillige kêrels se lafhartige agteraf pogings. Ek wil beklemtoon dat daar nie ‘n manier is hoe dit gedoen kan word nie.

Maar nietemin, daar was hierdie kleinerige dorpie iewers in die verre platteland.  Daar was nie veel besighede nie, maar soos dit was, was daar twee groot winkels in die dorp gewees.  Aan die een kant van die hoofstraat was ‘n algemene handelaar wat aan ou Fred behoort het.  Regoor hom, aan die anderkant van die straat, was ‘n kruideniersware winkel wat aan ou Anneries behoort het.

En so plaas Anneries eendag ‘n advertensie in sy winkel se venster wat lees: Rys op Special vandag: R5.00 per kg.   Maar net daarna kom sê ‘n kliënt vir hom dat ou Fred sy rys ‘n bietjie goedkoper verkoop vandag, want die advertensie in sy venster sê:  Rys R4.00 per kg.   Ou Anneries het bietjie kop gekrap hieroor, want rys se kosprys is R3.00 per kg en hy sal definitief moét verbeter op ou Fred se prys, maar op so ‘n manier dat hy darem nog ‘n winsie maak ook.  Hy trek toe ‘n dramatiese dik rooi streep deur die R5.00 en verander dit na R3.50 per kg.  En jou wrintiewaar, daar kom toe iemand anders en sê vir hom: Jislaaik ou Anneries, ek sien nou net ou Fred adverteer sy rys teen R2.50 per kg.  En net daar ruk ou Anneries homself op, en storm hy op sy tipiese bakarm manier by ou Fred se winkel in en gooi hy ‘n tipiese ooremosionele Anneries-vloermoer daar in ou Fred se winkel.  Wat dink jy doen jy? brul hy op sy tipiese brutale, bombastiese en egoïstiese manier.  Hoe de dinges kan jy rys onder kosprys verkoop?  Het jy dan gek geword?     O, sê ou Fred, as jy nie rys verkoop nie is dit mos maklik …  

Ek wil dan ook afsluit deur te sê dat ek sekerlik óók aanspraak kan maak op leierskap op grond van my kennis van die visoenêre verhaal en veral my insig daarin.  Maar ek doen dit nie, en ek het dit ook nog nooit gedoen nie.  En ek sal ook nie, want daar is nie ‘n manier hoe ek kan nie.  Ek sal in die volgende artikel uitbrei hierop, maar ek mag in elk geval ook nie.  Niemand van ons mag enigsins so iets probeer doen nie, want ek verstaan óók baie goed dat God Almagtig die leier van Sy keuse sal aanstel.  Hy sal hieroor besluit en nie jy of ek nie! 

Soos dit is het Hy dit in elk geval reeds gedoen en het Hy deur Siener aan ons verduidelik wat die visioenêre tipe vir die leier se naam is, iets van sy persoonlikheid, karakter en geloofsoortuigings, en selfs na wie hy min of meer lyk.  Wat meer is, die Gees het ‘n paar mense oor ‘n tydperk van jare gebruik om aan hierdie skrywer te sê dat ons komende leier iemand soos Prins Serubbabel van Hag 2:20-23 sal wees.   U kan gerus terugblaai na my ART 165 om meer hiervan te lees.

Ek sien dalk nog kans vir Siener se beskrywing van die komende leier, maar as dit by Serubbabel kom skiet almal van ons heeltemal te kort.  Los dus nou maar die onnodige gestoei om almal te wil oortuig dat jy die leier moet wees.  Ek moet sulke mense waarsku, as deel van my roeping, dat hulle baie, baie sleg hiervan gaan afkom!  En natuurlik ook die mense wat so blindelings en klakkeloos agter hulle aan verdwaal. Om te verstaan waarom ek so sê wil ek u vra om vir ‘n oomblik saam met my na die werklike opdrag in my roeping te kyk.

Die roeping het in 1994 vanuit Esegiël 33:7 tot my gekom en ek het nie woorde om die ondervinding as sulks te kan beskryf nie.  Die enigste mense wat sal verstaan wat ek hiermee probeer sê is diegene wat ook so iets beleef het.  Dit is nie so maklik en lekker as wat mense dalk mag dink nie, want dit skok geweldig en dit het ‘n manier om jou hele lewe om te keer!  Daar was twee sulke geleenthede, hierdie een en toe later wéér een in die eerste week van Januarie 2004 (wat ek binnekort in ‘n ander artikel sal beskryf.)  Maar ja, God het ‘n baie direkte opdrag aan my in vers 7 gegee, en daardie opdrag lui só:

En jy, o mensekind, Ek het jou  as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.

Dit is baie belangrik om te verstaan dat ek die opdrag ontvang het om eerstens te LUISTER na wat God aan my sê om oor te dra, en om dit dan IN ALLE GEHOORSAAMHEID aan my volk bekend te maak.  (En of u dit so wil aanvaar of nie, hierdie “my volk” is eintlik baie groter as wat ons amptelike getalle wys. Ons en die verskillende groepe Friese van Noordwes-Europa is eintlik maar een volk wat uit verskillende dele bestaan, elkeen met sy eie spesifieke groepstaal.)

Die punt wat ek wil maak is dat daar absoluut niks van enige moontlike idee van leierskap in God se opdrag aan my in hierdie vers staan nie, en dit is dan ook waarom ek nog nooit probeer het om die leier te wil wees nie.   Daar is ook niks hierin wat my selfs net as ‘n profeet aanstel nie.  Alles in my roeping draai bloot om die bekendmaking van wat in ‘n reeds gevestigde profeet se woorde opgesluit lê, en niks meer as net dit nie.

Ek sal help voorloop met my kennis en insig totdat Jan Pretorius kom, maar dan wil ek aftree en rustig onder my eie vyeboompie gaan sit!  Intussen wil ek Hom gehoorsaam wees en my roeping uitleef soos dit vir my gegee is.  As God dan enige sodanige verantwoordelikheid aan my wil toesê sal ek dit met blymoedigheid doen, maar dit sal Sy besluit wees en nie myne nie.  Ek sal dan ook eers van daardie punt af werk begin maak van so ‘n “aanstelling”. Ek gaan nie krap waar dit nie jeuk nie, want ek het al ‘n keer of wat so ‘n klein-klein bietjie van die gewig van Sy krag op my beleef en dit is nie iets om ligsinnig mee om te gaan nie!

Groete,

Frik Pretorius.

———————————————————————-

From → Uncategorized

Kommentaar is gesluit.

%d bloggers like this: